Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Moeder se geloof seëvier oor ’n tragedie

’n Moeder se geloof seëvier oor ’n tragedie

’n Moeder se geloof seëvier oor ’n tragedie

“As julle hierdie brief lees, beteken dit dat ek nie die operasie oorleef het nie en dat ek nie meer by julle is nie.”

DIT is die inleidingswoorde van ’n brief wat Carmen, ’n Christenmoeder, aan haar drie dogters, 25, 19 en 16 jaar oud, geskryf het. Die operasie was toe nie ’n sukses nie, en Carmen is ongelukkig dood.

Om drie dogters onder sulke smartvolle omstandighede agter te laat, is genoeg om enigiemand se hart te breek. Maar dit is duidelik dat hierdie moeder se sterk geloof in Jehovah en sy beloftes geseëvier het oor die tragedie, aangesien dit vir haar die gemoedsrus gegee het wat so opvallend in haar roerende brief is. Let op wat sy vir haar dogters gesê het.

“Eerstens wil ek vir julle sê dat ek julle innig liefhet. . . . Julle is die beste dogters wat ’n ma kan hê, en ek is baie trots op julle.

“Ek sou graag saam met julle wou gewees het totdat God se beloofde nuwe wêreld kom . . . , maar aangesien dit nie moontlik is nie, het ek hom gevra om julle te help om getrou te bly, soos julle nog altyd was. Ons het baie beproewinge saam deurgemaak, en Jehovah het ons nooit verlaat nie. . . . Hou dus aan om te vertrou op die leiding wat hy deur sy organisasie voorsien, en gaan voort om die gemeente en die ouer manne te ondersteun. Neem so dikwels as wat julle kan aan die predikingswerk deel, en wees lief vir al die broers.

“Ons skeiding is net tydelik. . . . Vergewe my asseblief vir al die foute wat ek gemaak het en vir al die kere wat ek julle nie verstaan het of nie vir julle gesê het hoe lief ek vir julle is nie. . . . Ek weet elkeen van julle het unieke behoeftes. Jehovah weet dit beter as julle, en hy sal alles voorsien wat julle nodig het en sal julle beloon vir alles wat julle verduur het.

“Moenie julle doelwit—lewe in die nuwe wêreld—uit die oog verloor nie, en streef altyd daarna om dit te bereik. Mag Jehovah julle seën en julle versterk sodat julle tot die einde toe getrou sal bly. . . . Moenie hartseer wees nie, my dierbare dogters. Ek het julle lief!”

’n Tragedie kan enigiemand te enige tyd tref. “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal”, het koning Salomo van ouds geskryf (Prediker 9:11). Diegene wat sterk geloof in God het, kan egter dieselfde versekering as die apostel Paulus hê, wat gesê het: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe . . . of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”—Romeine 8:38, 39; Hebreërs 6:10.