Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bewonder die ontwerp; leer omtrent die Ontwerper

Bewonder die ontwerp; leer omtrent die Ontwerper

Bewonder die ontwerp; leer omtrent die Ontwerper

JY HET waarskynlik al gehoor van die Italiaanse skilder en beeldhouer Michelangelo. Hoewel jy moontlik nog nooit enige van sy oorspronklike meesterstukke gesien het nie, stem jy heel waarskynlik saam met die kunshistorikus wat die Italiaanse genie ’n “wonderlike kunstenaar sonder gelyke” genoem het. Michelangelo se talent kan nie ontken word nie. Wie sou Michelangelo se kuns waardeer, maar ontken dat hierdie uitsonderlike kunstenaar bestaan het?

Dink nou aan die verbysterende kompleksiteit en diversiteit van lewe wat om ons op die aarde floreer. The New York Times het heel gepas ’n professor van biologiese wetenskappe aangehaal wat gesê het: “Die fisiese bewyse van ontwerp kan gesien word in aspekte van biologie.” Hy het bygevoeg: “Lewe oorweldig ons met die teenwoordigheid van ontwerp.” Is dit redelik om die ontwerp te bewonder sonder om die ontwerper te erken?

Die apostel Paulus, ’n skerp waarnemer van dinge om hom, het gepraat van mense wat “die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” (Romeine 1:25, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Omdat hulle deur alomteenwoordige evolusionistiese idees beïnvloed word, weier of versuim party om te erken dat ontwerp beslis op ’n ontwerper dui. Maar verteenwoordig die evolusieteorie ware wetenskap op sy beste? Let op die gevolgtrekking wat Christoph Schönborn, die Katolieke aartsbiskop van Wene, in The New York Times voorgelê het: “Enige denkrigting wat die oorweldigende bewyse ten gunste van ontwerp in biologie ontken of probeer wegredeneer, is ideologie, nie wetenskap nie.”

Die einde van die wetenskap?

Daar is egter diegene wat meen dat “navorsing onderdruk” sal word as die standpunt aanvaar word dat daar wel bewyse van ’n Skepper is. ’n Artikel in die tydskrif New Scientist het hierdie vrese uitgedruk en beweer dat “die wetenskap as ’n onbegrensde studieveld tot ’n einde sou kom, gestuit deur ’n ondeurdringbare versperring waarop geskryf staan ‘die ontwerper het dit gedoen’”. Is dit ’n gegronde vrees? Glad nie. Trouens, die teenoorgestelde is waar. Waarom?

Om te aanvaar dat blinde toeval en die daaropvolgende evolusie die oorsaak is van ons heelal en lewe op die aarde, sou in werklikheid beteken dat ons enige poging laat vaar om ’n betekenisvolle verklaring te vind. Aan die ander kant, as ons aanvaar dat ’n intelligente Skepper verantwoordelik is vir wat ons om ons sien, kan dit ons beweeg om die aard en toepassing van sy intelligensie te ondersoek soos dit in die fisiese heelal geopenbaar word. Dink hieraan: Die wete dat Leonardo da Vinci die “Mona Lisa” geskilder het, het kunshistorici nie daarvan weerhou om sy tegnieke en die materiale wat hy gebruik het, te ondersoek nie. So ook behoort die feit dat ons aanvaar dat daar ’n Ontwerper is, ons nie te ontmoedig om die besonderhede en kompleksiteit van sy ontwerpe en skeppingswerke te ondersoek nie.

Die Bybel onderdruk nie verdere navorsing nie, maar moedig ons eerder aan om antwoorde op wetenskaplike sowel as geestelike vrae te soek. Eertydse koning Dawid het nagedink oor die fisiese samestelling van sy meesterlik gevormde liggaam. Gevolglik het hy gesê: “Ek [is] op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak . . . . U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet” (Psalm 139:14). Trouens, in die Bybelverslag het die Skepper die aartsvader Job gevra: “Het jy die wye ruimtes van die aarde met verstand beskou?” (Job 38:18). Dit gee beslis nie te kenne dat navorsing en ondersoek onderdruk word nie. Inteendeel, die Meesterontwerper het die mens hier genooi om sy handewerk te bestudeer. Dink ook aan die uitnodiging wat deur die profeet Jesaja opgeteken is, waarin ons aangemoedig word om ons begrip te vergroot van die Een wat verantwoordelik is vir die skepping om ons: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep?” Jesaja 40:26 noem dan ’n feit wat klop met Einstein se welbekende formule E=mc2. Dit is die feit dat die heelal voortgebring is deur ’n bron van dinamiese energie en krag.

Toegegee, dit is nie altyd maklik om antwoorde op vrae oor die skepping te vind nie. Dit is deels omdat ons begripsvermoë beperk is en ons kennis van die wêreld waarin ons woon, onvolledig is. Job het dit verstaan. Hy het die Skepper geloof wat dit moontlik maak dat ons aardbol aan niks sigbaars in die ruimte hang nie en waterdraende wolke bo die aarde hang (Job 26:7-9). Nogtans het Job besef dat sulke wonders slegs ‘die rande van die Skepper se weë’ is (Job 26:14). Job wou ongetwyfeld meer leer oor die wêreld om hom. En Dawid het sy beperkings erken toe hy geskryf het: “Sulke kennis is te wonderbaar vir my. Dit is so verhewe dat ek dit nie kan begryp nie.”—Psalm 139:6.

Die aanvaarding van die bestaan van ’n Skepper belemmer nie wetenskaplike vooruitgang nie. Die soeke na vollediger kennis in verband met fisiese en geestelike sake is voorwaar onbegrens en ewig. ’n Eertydse koning wat bekend was vir sy breë kennis, het nederig geskryf: “Hy het gedagtes van die ewigheid in die mens se verstand geplaas, en tog kan die mens die werk wat God gedoen het, nie van die begin tot die einde verstaan nie.”—Prediker 3:11, Holy Bible—New Life Version.

“God van die leemtes”?

Party opper die beswaar dat God eenvoudig “as ’n verklarings” ingedruk word wanneer daar ook al geen bewysbare wetenskaplike verklaring is nie. Daar word met ander woorde beweer dat hierdie goddelike Ontwerper die “God van die leemtes” word, asof “God” ’n towerwoord is wat gebruik kan word elke keer wanneer die mens dinge nie kan uitpluis nie. Maar wat is die leemtes waarna hier verwys word? Is dit bloot klein en onbelangrike leemtes in ons kennis? Nee, dit is in werklikheid klowe van geloofwaardigheid wat in Darwinistiese evolusie bestaan. Dit is fundamentele gapings in aspekte van biologie wat die evolusieteorie nie kon oorbrug nie. Om die waarheid te sê, evolusioniste wat op ongestaafde bewerings staatmaak, maak die Darwinistiese teorie in werklikheid hulle “God van die leemtes”.

Die Skepper waarvan die Bybel praat, is geen “God van die leemtes” nie. Sy bedrywighede omvat eerder al die stadiums, aspekte en besonderhede van die skepping. Die psalmis het die aandag gevestig op die allesomvattende skeppingsbedrywighede van Jehovah: “U is die bron van alle lewe, en danksy u lig sien ons die lig” (Psalm 36:9, Today’s English Version). Hy word tereg beskryf as die Een “wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het” (Handelinge 4:24; 14:15; 17:24). ’n Eerste-eeuse onderrigter het met goeie rede geskryf dat God “alles geskep het”.—Efesiërs 3:9.

Daarbenewens het God “die insettinge van die hemel” vasgestel, die natuurwette wat materie en energie beheer, wette wat wetenskaplikes nog steeds bestudeer (Job 38:33). Sy ontwerp is volledig en doelbewus, en hy het daardeur sy doel bereik om die aarde te maak sodat dit deur ’n verbysterende verskeidenheid lewende dinge bewoon kan word.

Ontwerp en gesonde verstand

Laastens moet ons kyk na waar gesonde verstand ons lei. In ’n algemene kommentaar oor die geldigheid van verskillende wetenskaplike teorieë het die wetenskapskrywer John Horgan gesê: “Wanneer daar onsekerheid oor die bewyse bestaan, moet ons nie skroom om ons deur gesonde verstand te laat lei nie.”

Maak dit werklik sin om te beweer dat lewe deur blote toeval of deur ’n blinde krag ontstaan het? Ten spyte van die feit dat die evolusieteorie baie gewild is, is talle intelligente mense, met inbegrip van wetenskaplikes, oortuig daarvan dat daar ’n intelligente Skepper is. ’n Wetenskapprofessor sê dat “verreweg die meeste mense wyslik dink dat lewe ontwerp is”. Waarom? Die meeste mense sal geredelik saamstem met wat die apostel Paulus gesê het: “Elke huis word . . . deur iemand gebou” (Hebreërs 3:4). Dan maak Paulus die logiese gevolgtrekking: “Hy wat alles gebou het, is God.” Vanuit die Bybel se oogpunt maak dit eenvoudig nie sin om te erken dat ’n huis ’n ontwerper en bouer moet hê en terselfdertyd te beweer dat ’n komplekse sel toevallig ontstaan het nie.

Die Bybel sê omtrent diegene wat die bestaan van ’n Ontwerper en Skepper verwerp: “Die verstandelose het in sy hart gesê: ‘Daar is geen Jehovah nie’” (Psalm 14:1). Hier wys die psalmis diegene tereg wat nog nie oortuig is nie. ’n Persoon word dalk deur persoonlike opinie eerder as deur suiwer objektiwiteit gelei. Iemand met onderskeidingsvermoë erken daarenteen nederig die bestaan van ’n Skepper.—Jesaja 45:18.

Vir baie denkende mense is die bewyse ter ondersteuning van ’n Opperontwerper onmiskenbaar.

Jy kan die Ontwerper ken

As ons ons as die produk van ontwerp beskou, waarvoor is ons dan ontwerp? Wat is die doel van ons lewe? Die wetenskap alleen kan nie bevredigende antwoorde op sulke vrae gee nie. Maar hierdie fundamentele vrae vereis oortuigende en bevredigende antwoorde. Die Bybel kan van groot waarde wees in hierdie verband. Dit identifiseer Jehovah nie net as die Skepper nie, maar ook as ’n Voornemer, iemand wat goeie redes het vir wat hy doen. Die Skrif openbaar God se voorneme met die mensdom en bied ons ’n toekoms en ’n hoop.

Maar wie is Jehovah? Watter soort God is hy? Jehovah se Getuies nooi jou om ons Meesterlike Ontwerper as ’n werklike persoon te leer ken. Jy kan oor sy naam en sy eienskappe sowel as sy handelinge met die mensdom leer. Met behulp van sy Woord, die Bybel, sal jy uiteindelik sien waarom ons nie net sy voortreflike ontwerp moet bewonder nie, maar hom ook as die Ontwerper moet verheerlik.—Psalm 86:12; Openbaring 4:11.

[Prent op bladsy 4]

Michelangelo

[Prente op bladsy 5]

Geloof in ’n Ontwerper is versoenbaar met ware wetenskap

[Prent op bladsy 6]

Diversiteit en aanpassing is bewys van verskeidenheid in ’n vindingryke ontwerp

[Prente op bladsy 7]

Ontwerp vereis ’n ontwerper