Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Christelike godsdiens bereik Klein-Asië

Die Christelike godsdiens bereik Klein-Asië

Die Christelike godsdiens bereik Klein-Asië

IN DIE eerste eeu G.J. het baie Christengemeentes gefloreer in Klein-Asië (hoofsaaklik die hedendaagse Turkye). Groot getalle Jode en nie-Jode het gunstig op die Christelike boodskap gereageer. ’n Bybelwoordeboek sê: “Met die uitsondering van Sirië-Palestina, was dit hier in Klein-Asië dat die Christelike beweging sy vroegste en grootste vooruitgang gemaak het.”

Ons kan ’n vollediger prentjie van die verspreiding van die Christelike godsdiens in hierdie streek kry deur inligting uit verskillende bronne saam te voeg. Kom ons kyk hoe ons kan baat vind by ’n ondersoek van die beskikbare inligting.

Die eerste Christene in Klein-Asië

Die eerste betekenisvolle gebeurtenis in die verspreiding van die Christelike godsdiens in Klein-Asië het op Pinkster 33 G.J. plaasgevind toe ’n veeltalige skare, wat Diaspora-Jode (Jode wat buite Palestina gewoon het) en Joodse proseliete ingesluit het, in Jerusalem vergader het. Jesus se apostels het die goeie nuus aan hierdie besoekers verkondig. Die geskiedenisverslag sê dat verskeie mense uit Kappadosië, Pontus, die landstreek Asië, a Frigië en Pamfilië gekom het—gebiede wat ’n groot deel van Klein-Asië uitgemaak het. Omtrent 3 000 wat die Christelike boodskap gehoor het, het dit aangeneem en is gedoop. Toe hulle teruggekeer het huis toe, het hulle hulle nuwe geloof met hulle saamgeneem.—Handelinge 2:5-11, 41.

Ons vind ons volgende brokkie inligting in die Bybelverslag van die apostel Paulus se sendingreise in Klein-Asië. Gedurende sy eerste reis, omstreeks 47/48 G.J., het Paulus saam met sy metgeselle van Siprus na Klein-Asië gevaar en by Perge in Pamfilië aangekom. In die binnelandse stad Antiogië in Pisidië het hulle sukses in die predikingswerk jaloesie en teenstand onder die Jode verwek. Toe Paulus in ’n suidoostelike rigting na Ikonium gegaan het, het ander Jode planne beraam om die sendelinge minagtend te behandel. Emosionele plaaslike mense in die nabygeleë Listra het aanvanklik verklaar dat Paulus ’n god is. Maar nadat vyandige Jode uit Antiogië en Ikonium daar aangekom het, het die plaaslike skare Paulus gestenig en hom vir dood agtergelaat! Ná hierdie ondervinding het Paulus en Barnabas hulle reis na Derbe in die Romeinse staatkundige provinsie Galasië uitgebrei, ’n gebied waar mense Likaonies gepraat het. Gemeentes is georganiseer, en ouer manne is aangestel. Dit is dus duidelik dat die Christelike godsdiens sowat 15 jaar ná Pinkster 33 G.J. goed gevestig was in Klein-Asië.—Handelinge 13:13–14:26.

Gedurende sy tweede sendingreis, omstreeks 49 tot 52 G.J., het Paulus se groep eers oor land na Listra gereis, waarskynlik verby sy tuisgebied Tarsus in Silisië. Nadat Paulus die broers in Listra weer besoek het en in ’n noordelike rigting gereis het, het hy ’n poging aangewend om ‘die woord te spreek’ in die provinsies Bitinië en Asië. Maar die heilige gees het dit verbied. Die evangelisasiewerk sou later in daardie gebiede gedoen word. God het Paulus gerig om eerder deur die noordwestelike dele van Klein-Asië na Troas aan die kus te gaan. Daarna is Paulus in ’n visioen gerig om die goeie nuus in Europa bekend te maak.—Handelinge 16:1-12; 22:3.

Gedurende Paulus se derde sendingreis, omstreeks 52 tot 56 G.J., het hy weer deur Klein-Asië gereis en Efese bereik, ’n belangrike hawestad van Asië. Hy het voorheen daar aangedoen toe hy van sy tweede reis af teruggekeer het. ’n Groep Christene was bedrywig in daardie stad, en Paulus en sy metgeselle het vir sowat drie jaar by hulle aangesluit. Hierdie tydperk is gekenmerk deur verskeie moeilikhede en gevare, waarvan een die opskudding was wat Efesiese silwersmede veroorsaak het om hulle winsgewende handel in godsdiensvoorwerpe te beskerm.—Handelinge 18:19-26; 19:1, 8-41; 20:31.

Die sendingwerk wat van Efese af gedoen is, het klaarblyklik verreikende resultate opgelewer. Handelinge 19:10 sê dat “almal wat in die landstreek Asië gewoon het, die woord van die Here gehoor het, Jode sowel as Grieke”.

Verwikkelinge in Klein-Asië

Kort voor die einde van sy verblyf in Efese het Paulus aan die Korintiërs geskryf: “Die gemeentes van Asië stuur vir julle groete” (1 Korintiërs 16:19). Watter gemeentes het Paulus in gedagte gehad? Waarskynlik ook dié in Kolosse, Laodisea en Hiërapolis (Kolossense 4:12-16). Die boek Paul—His Story sê: “Dit lyk logies om die stigting van gemeenskappe in Smirna, Pergamum, Sardis en Filadelfia toe te skryf aan die sendingwerk wat van Efese af gedoen is. . . . Almal was binne ’n radius van 120 myl (192 km) van Efese en was deur uitstekende paaie verbind.”

Sowat 20 jaar ná Pinkster 33 G.J. was daar dus etlike Christengemeentes in die suide en weste van Klein-Asië. Wat van ander dele van die streek?

Diegene wat Petrus se briewe ontvang het

Die apostel Petrus het sy eerste geïnspireerde brief ’n hele paar jaar later geskryf, omstreeks 62 tot 64 G.J. Hy het dit aan die Christene in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië gerig. Petrus se brief dui daarop dat daar waarskynlik Christengemeentes in hierdie gebiede was, aangesien die ouer manne daar aangespoor is om “as herders toesig [te hou] oor die kudde”. Wanneer is hierdie gemeentes gestig?—1 Petrus 1:1; 5:1-3.

Party van die gebiede waarin diegene gewoon het wat Petrus se briewe ontvang het, soos Asië en Galasië, het die evangelie by Paulus gehoor. Maar hy het nie Kappadosië of Bitinië bereik nie. Die Bybel sê nie vir ons hoe die Christelike godsdiens na hierdie gebiede versprei het nie, maar dit was moontlik deur middel van Jode of proseliete wat op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem was en later teruggekeer het huis toe. Hoe dit ook al sy, toe Petrus omtrent 30 jaar ná Pinkster sy briewe geskryf het, was gemeentes blykbaar “oor die hele Klein-Asië versprei”, soos een geleerde dit stel.

Die sewe gemeentes van Openbaring

Die Joodse opstand teen die Romeine het tot die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. gelei. Moontlik het party Judese Christene uiteindelik in Klein-Asië beland. b

Teen die einde van die eerste eeu G.J. het Jesus Christus, deur middel van die apostel Johannes, briewe aan sewe gemeentes in Klein-Asië gerig. Hierdie briewe, aan gemeentes in Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea, toon dat Christene destyds in hierdie deel van Klein-Asië met verskeie gevare te kampe gehad het, soos onsedelikheid, ’n sektegees en afvalligheid.—Openbaring 1:9, 11; 2:14, 15, 20.

Beskeie, heelhartige diens

Daar was ongetwyfeld meer betrokke by die verspreiding van die eerste-eeuse Christelike godsdiens as waarvan ons in Handelinge van die Apostels lees. Die welbekende apostels Petrus en Paulus was betrokke by gebeure wat in Handelinge beskryf word, maar ’n onbekende aantal ander mense het die predikingswerk elders gedoen. Verwikkelinge in Klein-Asië bevestig dat die vroeë Christene Jesus se bevel ter harte geneem het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matteus 28:19, 20.

Die internasionale broederskap weet vandag eweneens van betreklik min van die getroue handelinge van Jehovah se Getuies regoor die wêreld. Soos in die geval van die meeste van die getroue evangeliedienaars in die eerste-eeuse Klein-Asië, is die meerderheid van die hedendaagse verkondigers van die goeie nuus as ’t ware anoniem. Hulle lei egter ook besige, sinvolle lewens, en hulle put diepe tevredenheid uit die wete dat hulle gehoorsaam van hulleself gee om ander te red.—1 Timoteus 2:3-6.

[Voetnote]

a In die Christelike Griekse Geskrifte en in hierdie artikel verwys “Asië” na die Romeinse provinsie wat die westelike deel van Klein-Asië uitgemaak het, nie na die vasteland Asië nie.

b Die geskiedskrywer Eusebius (260-340 G.J.) meld dat die “apostels, wat voortdurend in gevaar verkeer het weens moorddadige komplotte, [’n ruk voor 66 G.J.] uit Judea gedryf is. Maar om hulle boodskap te verkondig, het hulle in die krag van Christus in elke land ingegaan.”

[Venster op bladsy 11]

DIE VROEË CHRISTELIKE GODSDIENS IN BITINIË EN PONTUS

Bitinië en Pontus, wat saam ’n provinsie uitgemaak het, was geleë aan die kus van die Swart See in Klein-Asië. Daar is heelwat bekend oor die daaglikse lewe in hierdie provinsie as gevolg van Plinius die Jongere, een van die amptenare daar, se briewe aan die Romeinse keiser Trajanus.

Sowat 50 jaar nadat Petrus se briewe onder die gemeentes in hierdie gebied versprei is, het Plinius vir Trajanus raad gevra oor hoe om met die Christene te handel. “Ek was nog nooit teenwoordig wanneer Christene verhoor is nie. Gevolglik weet ek nie in watter mate hulle gewoonlik gestraf word nie”, het Plinius geskryf. “’n Groot aantal individue van alle ouderdomme en stande, mans sowel as vroue, word verhoor, en dit sal waarskynlik so voortgaan. Dit is nie net die stede nie, maar ook dorpies en landelike gebiede wat besmet word weens kontak met hierdie veragtelike kultus.”

[Diagram/Kaart op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

PAULUS SE REISE

Eerste sendingreis

SIPRUS

PAMFILIË

Perge

Antiogië (van Pisidië)

Ikonium

Listra

Derbe

Tweede sendingreis

SILISIË

Tarsus

Derbe

Listra

Ikonium

Antiogië (van Pisidië)

FRIGIË

GALASIË

Troas

Derde sendingreis

SILISIË

Tarsus

Derbe

Listra

Ikonium

Antiogië (van Pisidië)

Efese

ASIË

Troas

[Seven congregations]

Pergamum

Tiatira

Sardis

Smirna

Efese

Filadelfia

Laodisea

[Ander plekke]

Hiërapolis

Kolosse

LISIË

BITINIË

PONTUS

KAPPADOSIË

[Prent op bladsy 9]

Antiogië

[Prent op bladsy 9]

Troas

[Erkenning]

© 2003 BiblePlaces.com

[Prent op bladsy 10]

Teater in Efese.—Handelinge 19:29

[Prent op bladsy 10]

Basis van die altaar van Zeus in Pergamum. Christene in die stad het gewoon “waar die troon van Satan” is.—Openbaring 2:13

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.