Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘O Jehovah, stel my op die proef’

‘O Jehovah, stel my op die proef’

‘O Jehovah, stel my op die proef’

“JEHOVAH is die ondersoeker van harte” (Spreuke 17:3). Dít behoort vir ons almal uiters gerusstellend te wees. Waarom? Omdat ons hemelse Vader “sien wat die hart is”, in teenstelling met mense wat oordeel bloot volgens wat vir die oë sigbaar is.—1 Samuel 16:7.

Eintlik kan ons nie eens sélf ons diepste beweegredes en gevoelens behoorlik beoordeel nie. Waarom nie? Want ons “hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” Wel, God ken dit, want hy sê: “Ek, Jehovah, deursoek die hart, ondersoek die niere” (Jeremia 17:9, 10). Ja, Jehovah verstaan “die hart”—met inbegrip van ons innerlike beweegredes—sowel as “die niere”, ons diepste gedagtes en gevoelens.

Op die proef gestel—Waarom?

Dit is derhalwe nie verbasend nie dat koning Dawid van ouds vir God gesê het: “Ondersoek my, o Jehovah, en stel my op die proef; louter my niere en my hart” (Psalm 26:2). Was Dawid volkome rein in woord en daad, sodat hy niks te vrese gehad het as Jehovah hom op die proef sou stel nie? Natuurlik nie! Dawid was, soos ons almal, onvolmaak en kon nie volmaak aan God se standaarde voldoen nie. Weens sy swakhede het Dawid ’n aantal ernstige sondes gepleeg, maar hy het nietemin ‘met onkreukbaarheid van hart gewandel’ (1 Konings 9:4). Hoe? Deur teregwysing te aanvaar en sy weë reg te stel. Sodoende het hy getoon dat hy Jehovah opreg liefhet. Hy was volkome toegewyd aan God.

Wat van ons wat vandag lewe? Jehovah weet dat ons onvolmaak is en dat ons in woord en daad kan sondig. Hy beskik egter nie ons lewensweg deur sy vermoë te gebruik om ons toekoms vooruit te sien nie. Hy het ons met wilsvryheid geskep, en hy respekteer ons vryheid om te kies—’n gawe wat hy goedgunstiglik aan ons gegee het.

Nogtans stel Jehovah wel soms die mens wat ons innerlik is, met inbegrip van ons beweegredes, in sekere sin op die proef. Hy doen dit miskien deur ons geleenthede te gee om te wys wat ons hartstoestand is. Hy laat moontlik ook toe dat verskeie omstandighede of uitdagings ons diepste neigings aan die lig bring. Dit gee ons die geleentheid om vir Jehovah te wys hoe toegewyd en lojaal ons is. Hierdie toetse wat Jehovah toelaat om oor ons te kom, kan die gehalte van ons geloof openbaar, of ons “volkome en in alle opsigte sonder gebrek [is] en in niks kortkom nie”.—Jakobus 1:2-4.

’n Toets van geloof in die ou tyd

Toetse van geloof en beweegredes is nie iets nuuts vir Jehovah se knegte nie. Dink aan die aartsvader Abraham. “Die ware God [het] Abraham op die proef gestel” (Genesis 22:1). Toe hierdie woorde gespreek is, was Abraham se geloof in God reeds getoets. Jehovah het Abraham dekades vroeër gevra om met sy familie uit die florerende stad Ur na ’n onbekende land te trek (Genesis 11:31; Handelinge 7:2-4). Abraham, wat dalk ’n huiseienaar in Ur was, het nie ’n permanente blyplek in Kanaän gekoop, waar hy dekades lank gewoon het nie (Hebreërs 11:9). As ’n swerwer was Abraham en sy familie aan gevaar blootgestel weens hongersnood, gewapende bendes en heidense heersers in die gebied. Deur dit alles heen was Abraham se geloof van die hoogste gehalte.

Toe het Jehovah Abraham aan ’n groter toets onderwerp. “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en . . . offer hom . . . as ’n brandoffer” (Genesis 22:2). Vir Abraham was Isak nie maar net enige seun nie. Hy was die enigste seun van Abraham en sy vrou, Sara. Isak was die seun van die belofte, Abraham se enigste hoop dat sy “saad” die land Kanaän sou beërf en ’n seën vir baie sou wees, volgens God se belofte. Isak was immers die seun wat Abraham na verwagting sou hê en wat ná ’n wonderwerk van God gebore is!—Genesis 15:2-4, 7.

Jy kan jou voorstel hoe moeilik dit vir Abraham moes gewees het om hierdie bevel te verstaan. Sou Jehovah ’n menseoffer vereis? Waarom sou Jehovah Abraham die soete vreugde laat smaak om ’n seun in die najaar van sy lewe te hê en hom dan vra om hierdie selfde seun as offerande te bring? a

Abraham het God onmiddellik gehoorsaam, sonder dat hy duidelike antwoorde op hierdie vrae gehad het. Dit het hom drie dae geneem om die uitgekose berg te bereik. Daar het hy ’n altaar gebou en brandhout bo-op geplaas. Nou het die toets sy klimaks bereik. Abraham het die slagmes opgetel, maar toe hy op die punt was om sy seun dood te maak, het Jehovah hom deur middel van ’n engel gekeer en gesê: “Nou weet ek dat jy godvresend is, deurdat jy jou seun, jou enigste, nie van my teruggehou het nie” (Genesis 22:3, 11, 12). Dink net watter seën dit vir Abraham was om daardie woorde te hoor! Jehovah se vorige beoordeling van sy geloof was reg (Genesis 15:5, 6). Daarop het Abraham ’n ram in die plek van Isak geoffer. Toe het Jehovah die verbondsbeloftes aangaande Abraham se saad bevestig. Geen wonder dat Abraham as Jehovah se vriend bekend geword het nie.—Genesis 22:13-18; Jakobus 2:21-23.

Ons geloof word ook getoets

Ons almal besef dat God se hedendaagse knegte nie toetse kan vryspring nie. Maar in ons geval kan die toets dinge behels wat Jehovah toelaat om te gebeur en nie soseer dinge wat hy sê ons moet doen nie.

Die apostel Paulus het geskryf: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Hierdie vervolging kan kom van skoolmaats, vriende, familie, bure of van regeringsowerhede wat verkeerd ingelig is. Dit kan mondelinge en fisiese vervolging insluit sowel as inmenging wat dit vir ’n Christen moeilik maak om ’n bestaan te maak. Ware Christene ondervind ook die probleme wat eie is aan die mens—siekte, teleurstellings en onregte. Al hierdie beproewinge toets ’n mens se geloof.

Die apostel Petrus het die aandag gevestig op die voordele wat dit inhou wanneer ’n mens se geloof getoets word: “Julle [word] deur allerhande beproewinge bedroef . . . , sodat die beproefde hoedanigheid van julle geloof, wat van baie groter waarde is as goud wat vergaan al word dit deur vuur getoets, by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word” (1 Petrus 1:6, 7). Ja, die uitwerking van toetse word vergelyk met die loutering van goud deur vuur. Die louteringsproses bring na vore wat suiwer is en verwyder onsuiwerhede. Iets soortgelyks vind plaas in verband met ons geloof wanneer ons toetse ondervind.

’n Ongeluk of ’n natuurramp kan byvoorbeeld ontberinge tot gevolg hê. Maar dié met ware geloof word nie verswelg deur onnodige kommer nie. Hulle put vertroosting uit Jehovah se versekering: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Hebreërs 13:5). Hulle hou aan om geestelike dinge eerste te stel, vol vertroue dat Jehovah God hulle pogings sal seën om te verkry wat hulle werklik nodig het. Hulle geloof onderskraag hulle deur moeilike tye heen en voorkom dat hulle hulle situasie verder kompliseer deur hulle onnodig te bekommer.

Die feit dat toetse swakhede in ons geloof aan die lig kan bring, kan ook voordelig wees as dit ons help om te sien dat ons iets daaromtrent moet doen. ’n Mens kan jou gerus afvra: ‘Hoe kan ek my geloof versterk? Moet ek meer tyd daaraan bestee om God se Woord biddend te ondersoek en daaroor te peins? Maak ek ten volle gebruik van die voorsienings om vergaderinge saam met medegelowiges by te woon? Vertrou ek op myself wanneer ek in werklikheid my sorge biddend aan Jehovah God moet oorlaat?’ Hierdie soort selfondersoek is egter maar net die begin.

Om jou geloof te versterk, sal dalk vereis dat jy ’n beter geestelike aptyt moet ontwikkel en “’n verlange” moet toon “na die onvervalste melk wat tot die woord behoort” (1 Petrus 2:2; Hebreërs 5:12-14). Ons moet daarna streef om soos die man te wees wat die psalmis beskryf het: “Sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon.”—Psalm 1:2.

Dit behels meer as om net die Bybel te lees. Dit is belangrik dat ons nadink oor wat God se Woord vir ons sê en dat ons die vermanings daarin toepas (Jakobus 1:22-25). Gevolglik sal ons liefde vir God toeneem, sal ons gebede meer spesifiek en persoonlik wees en sal ons geloof in hom sterker word.

Die waarde van ’n beproefde geloof

Die wete dat geloof absoluut noodsaaklik is as ons God se goedkeuring wil verkry, is ’n kragtige aansporing om dit te versterk. Die Bybel herinner ons: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Ons moet dus voel soos die man wat Jesus gesmeek het: “Help my waar ek geloof kortkom!”—Markus 9:24.

Toetse van ons geloof kan ook ander help. Wanneer ’n Christen byvoorbeeld ’n geliefde aan die dood afstaan, word hy onderskraag deur sy sterk geloof in God se belofte van ’n opstanding. Hy is bedroef, maar hy “treur [nie] soos die res wat geen hoop het nie” (1 Tessalonisense 4:13, 14). Ander wat die onderskragende krag van ’n Christen se geloof sien, sal moontlik besef dat hy iets besit wat waarlik kosbaar is. Dit kan in hulle hart ’n begeerte wek om ook sulke geloof te hê, wat hulle sal beweeg om van God se Woord te leer en dissipels van Jesus Christus te word.

Jehovah weet dat ’n beproefde geloof van groot waarde is. Daarbenewens stel toetse van geloof ons in staat om te sien of ons geloof werklik die krag het om ons te onderskraag. Ons word gehelp om swakhede in ons geloof te bespeur, wat ons in ’n beter posisie plaas om sake reg te stel. Laastens, as ons toetse van geloof met welslae die hoof bied, kan dit ander help om Jesus se dissipels te word. Mag ons dus ons uiterste bes doen om sterk geloof te behou—geloof wat, nadat dit aan die een toets na die ander onderwerp is, “by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word”.—1 Petrus 1:7.

[Voetnoot]

a Vir inligting oor die simboliese betekenis van die “offerande” van Isak, sien Die Wagtoring van 1 Julie 1989, bladsy 22.

[Prent op bladsy 13]

Abraham se werke van geloof het hom Jehovah se vriend gemaak

[Prente op bladsy 15]

Toetse kan bewys dat ons geloof werklik die krag het om ons te onderskraag

[Foto-erkenning op bladsy 12]

From the Illustrated Edition of the Holy Scriptures, by Cassell, Petter, & Galpin