Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers—Lei julle kinders op met liefde

Ouers—Lei julle kinders op met liefde

Ouers—Lei julle kinders op met liefde

“Laat al julle aangeleenthede in liefde geskied.”—1 KORINTIËRS 16:14.

1. Watter gevoelens ervaar ouers by die geboorte van ’n kind?

 DIE meeste mense sal saamstem dat die geboorte van ’n kind een van die vreugdevolste gebeure in die lewe kan wees. “Toe ek die eerste keer na my pasgebore dogtertjie gekyk het, was dit ’n wonderlike gevoel”, sê ’n ma met die naam Aleah. “Ek het gedink sy is die mooiste kind wat ek nog gesien het.” Maar hierdie vreugdevolle geleentheid kan ook vir ouers kommer besorg. “Ek was bekommerd”, sê Aleah se man, “dat ek my dogter nie behoorlik sou kon voorberei vir die beproewinge van die lewe nie.” Baie ouers het soortgelyke kwellinge en besef hoe belangrik dit is om hulle kinders met liefde op te lei. Maar Christenouers wat graag sulke liefdevolle opleiding wil gee, kom voor uitdagings te staan. Wat is van hierdie uitdagings?

2. Voor watter uitdagings kom ouers te staan?

2 Ons lewe nou diep in die laaste dae van hierdie stelsel. Soos voorspel is, heers ’n liefdelose gesindheid in die samelewing. Selfs onder gesinslede toon mense geen “natuurlike geneentheid” nie en het hulle “ondankbaar, dislojaal, . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig” geword (2 Timoteus 3:1-5). Daaglikse kontak met mense wat hierdie eienskappe openbaar, kan die manier beïnvloed waarop Christengesinslede mekaar behandel. Daarbenewens voer ouers ’n stryd teen hulle eie oorgeërfde neiging om hulle selfbeheersing te verloor, dinge te sê wat hulle nie bedoel nie en op ander maniere swak oordeel aan die dag te lê.—Romeine 3:23; Jakobus 3:2, 8, 9.

3. Hoe kan ouers gelukkige kinders grootmaak?

3 Ondanks hierdie uitdagings kan ouers gelukkige, geestelik gesonde kinders grootmaak. Hoe? Deur die Bybel se raad te volg: “Laat al julle aangeleenthede in liefde geskied” (1 Korintiërs 16:14). Ja, liefde is “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Kom ons ondersoek drie aspekte van liefde wat die apostel Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs beskryf het en bespreek ’n paar spesifieke maniere waarop ouers hierdie eienskap aan die dag kan lê terwyl hulle hulle kinders oplei.—1 Korintiërs 13:4-8.

Die belangrikheid van lankmoedigheid

4. Waarom moet ouers lankmoedig wees?

4 Paulus het geskryf: “Die liefde is lankmoedig” (1 Korintiërs 13:4). Die Griekse uitdrukking wat met “lankmoedig” vertaal word, bevat die gedagte van geduldig te wees en nie gou kwaad te word nie. Waarom moet ouers lankmoedig wees? Die meeste ouers kan ongetwyfeld aan baie redes dink. Beskou net ’n paar. Kinders vra selde net een keer vir iets wat hulle wil hê. Selfs as ’n ouer ferm nee sê, sal die kind dalk weer en weer vra, in die hoop dat hy ’n ander antwoord sal kry. Tieners wil moontlik lang redenasies voer oor waarom hulle toegelaat moet word om iets te doen wat die ouer weet dwaas is (Spreuke 22:15). En soos ons almal is kinders geneig om party van hulle foute te herhaal.—Psalm 130:3.

5. Wat kan ouers help om lankmoedig te wees?

5 Wat kan ouers help om lankmoedig en geduldig met hulle kinders te wees? Koning Salomo het geskryf: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn” (Spreuke 19:11). Ouers kry insig in hulle kinders se gedrag deur te onthou dat hulle ook eens op ’n tyd “soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer” het (1 Korintiërs 13:11). Ouers, kan julle onthou hoe julle by julle ma of pa geneul het om ’n kinderagtige versoek toe te staan? Het julle as tieners ooit gedink dat julle ouers julle gevoelens of probleme eenvoudig nie verstaan nie? Indien wel, verstaan julle waarskynlik waarom julle kinders op ’n sekere manier optree en waarom dit nodig is om hulle voortdurend geduldig te herinner aan julle besluite (Kolossense 4:6). Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah vir Israelitiese ouers gesê het dat hulle sy wette by hulle kinders moet “inskerp” (Deuteronomium 6:6, 7). Die Hebreeuse woord vir “inskerp” beteken “om te herhaal”, “om weer en weer te sê”, “om op die hart te druk”. Dit gee te kenne dat ouers hulle dalk baie keer moet herhaal voordat ’n kind leer om God se wette toe te pas. Soortgelyke herhaling is dikwels nodig om hulle ander lesse in die lewe te leer.

6. Waarom is ’n lankmoedige ouer nie ’n ouer wat te toegeeflik is nie?

6 ’n Lankmoedige ouer is egter nie ’n ouer wat te toegeeflik is nie. God se Woord waarsku: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek.” Om te voorkom dat dit gebeur, sê dieselfde spreuk: “Die roede en teregwysing gee wysheid” (Spreuke 29:15). Kinders bevraagteken soms hulle ouers se reg om hulle tereg te wys. Maar Christengesinne moenie as ’n demokrasie bestuur word nie, asof die ouers se reg om reëls af te dwing as ’t ware van die kinders se goedkeuring afhang nie. Jehovah, as die eintlike Hoof van die gesin, gee aan ouers die gesag om hulle kinders liefdevol op te lei en te dissiplineer (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 3:15; 6:1-4). Trouens, dissipline hou ten nouste verband met die volgende aspek van liefde wat deur Paulus gemeld word.

Hoe om in liefde te dissiplineer

7. Waarom sal goedhartige ouers hulle kinders dissiplineer, en wat sluit hierdie dissipline in?

7 Paulus het geskryf: “Die liefde is . . . goedhartig” (1 Korintiërs 13:4). Ouers wat werklik goedhartig is, sal konsekwent wees in die dissiplinering van hulle kinders. Sodoende volg hulle Jehovah na. “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet”, het Paulus geskryf. Let asseblief daarop dat die soort dissipline waarna die Bybel verwys, nie net straf beteken nie. Dit bevat die gedagte van opleiding en opvoeding. Wat is die doel van sulke dissipline? “Vir dié wat daardeur geoefen is”, sê Paulus, “[lewer dit] vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:6, 11). Wanneer ouers hulle kinders op ’n goedhartige manier volgens God se wil opvoed, gee hulle hulle die geleentheid om vreedsame, regskape volwassenes te word. As kinders “die dissipline van Jehovah” aanvaar, verkry hulle wysheid, kennis en onderskeidingsvermoë—eienskappe wat baie waardevoller is as silwer of goud.—Spreuke 3:11-18.

8. Wat is gewoonlik die gevolg wanneer ouers versuim om hulle kinders te dissiplineer?

8 Aan die ander kant is dit nie ’n blyk van goedhartigheid wanneer ouers versuim om hulle kinders te dissiplineer nie. Jehovah het Salomo geïnspireer om te skryf: “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat hom liefhet, gee ag op hom met dissipline” (Spreuke 13:24). Kinders wat sonder konsekwente dissipline grootgemaak word, sal waarskynlik egosentries en ongelukkig wees. Daarenteen is daar gevind dat kinders wie se ouers simpatiek is maar streng perke handhaaf, beter vaar op skool, beter sosiale vaardighede het en oor die algemeen gelukkig is. Ouers wat hulle kinders dissiplineer, bewys dus beslis goedhartigheid teenoor hulle.

9. Wat leer Christenouers hulle kinders, en hoe moet hierdie vereistes beskou word?

9 Wat behels dit om kinders op ’n goedhartige en liefdevolle manier te dissiplineer? Ouers moet met hulle kinders bespreek presies wat van hulle verwag word. Van kleins af word kinders van Christenouers byvoorbeeld basiese Bybelbeginsels geleer, asook dat dit belangrik is om aan die verskillende aspekte van ware aanbidding deel te neem (Eksodus 20:12-17; Matteus 22:37-40; 28:19; Hebreërs 10:24, 25). Kinders moet weet dat hierdie vereistes nie onderhandelbaar is nie.

10, 11. Waarom kan ouers hulle kinders se wense in aanmerking neem wanneer huisreëls vasgestel word?

10 Soms kan ouers egter besluit om hulle kinders by die bespreking te betrek wanneer huisreëls vasgestel word. As jongmense aan besprekings oor daardie reëls kan deelneem, sal hulle dalk meer geneig wees om dit te gehoorsaam. As ouers byvoorbeeld besluit om ’n inkomtyd vas te stel, kan hulle op ’n spesifieke tyd besluit wanneer die kinders by die huis moet wees. Of anders kan hulle hulle kinders die geleentheid gee om ’n tyd voor te stel en redes vir hulle voorkeur te verstrek. Dan kan die ouers sê watter tyd hulle verkies en verduidelik waarom hulle meen dit gepas is. Gestel daar is ’n verskil in mening, soos daar waarskynlik sal wees, wat dan? In sekere gevalle kan die ouers besluit dat hulle hulle kinders se wense in ag kan neem as dit nie Bybelbeginsels skend nie. Beteken dit dat die ouers van hulle gesag afstand doen?

11 Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons kyk na die liefdevolle manier waarop Jehovah sy gesag uitgeoefen het in sy handelinge met Lot en sy gesin. Nadat Lot, sy vrou en sy dogters uit Sodom uitgelei is, het die engele vir hulle gesê: “Vlug na die bergstreek, sodat jy nie weggevee word nie!” Maar Lot het geantwoord: “Asseblief tog nie dit nie, Jehovah!” Toe het Lot ’n alternatief voorgestel: “Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug en dit is klein. Mag ek asseblief daarheen vlug?” Hoe het Jehovah gereageer? “Kyk, ek neem jou ook hierin in aanmerking”, het hy gesê (Genesis 19:17-22). Het Jehovah van sy gesag afstand gedoen? Beslis nie! Hy het nietemin Lot se versoek oorweeg en besluit om verdere goedhartigheid in hierdie saak teenoor hom te bewys. Kan jy as ouer soms jou kinders se wense in aanmerking neem wanneer huisreëls vasgestel word?

12. Wat sal ’n kind help om veilig te voel?

12 Kinders moet natuurlik nie net die reëls ken nie, maar moet ook weet wat die straf is wanneer daardie reëls verbreek word. Nadat die straf bespreek is en begryp word, moet die reëls toegepas word. Ouers is nie goedhartig as hulle hulle kinders voortdurend met verdiende straf dreig maar versuim om dit toe te dien nie. “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen”, sê die Bybel (Prediker 8:11). Dit is so dat ’n ouer dalk nie ’n kind in die openbaar of voor sy maats sal straf nie om die kind verleentheid te spaar. Maar kinders voel veiliger en ontwikkel groter respek en liefde vir hulle ouers wanneer hulle weet dat hulle ouers se “Ja” ja beteken en hulle “Nee” nee—selfs al behels dit straf.—Matteus 5:37.

13, 14. Hoe kan ouers Jehovah navolg wanneer hulle hulle kinders oplei?

13 Goedhartigheid vereis dat die straf en die manier waarop dit toegedien word, by die kind aangepas word. “Ons twee kinders het verskillende behoeftes gehad wanneer dit by dissipline gekom het”, vertel Pam. “Wat vir die een kind gewerk het, het nie vir die ander een gewerk nie.” Haar man, Larry, verduidelik: “Ons oudste dogter het ’n sterk wil gehad en dit het gelyk of sy net op streng dissipline reageer. Ons jongste dogter het egter vinnig op streng woorde en selfs ’n afkeurende blik gereageer.” Ja, goedhartige ouers strewe daarna om te onderskei watter dissipline die doeltreffendste vir elkeen van hulle kinders is.

14 Jehovah stel die voorbeeld vir ouers deurdat hy die sterk punte en swakhede van elkeen van sy knegte ken (Hebreërs 4:13). Verder is Jehovah, wanneer hy straf uitdeel, nie onnodig streng of te toegeeflik nie. Hy dissiplineer eerder sy knegte altyd “in die regte mate” (Jeremia 30:11). Ouers, ken julle julle kinders se sterk punte en swakhede? Kan julle hierdie kennis op ’n positiewe, goedhartige manier gebruik om hulle op te lei? Indien wel, toon julle dat julle julle kinders liefhet.

Moedig eerlike kommunikasie aan

15, 16. Hoe kan ouers hulle kinders aanmoedig om hulle eerlik uit te spreek, en watter benadering het Christenouers doeltreffend gevind in hierdie verband?

15 Nog ’n faset van liefde is dat dit “nie bly [is] oor onregverdigheid nie, maar . . . bly [is] saam met die waarheid” (1 Korintiërs 13:6). Hoe kan ouers hulle kinders oplei om lief te wees vir wat reg en waar is? ’n Belangrike stap is om hulle kinders aan te moedig om hulle gevoelens eerlik uit te druk, selfs as die dinge wat die kinders sê, vir die ouers moeilik is om te aanvaar. Ouers is natuurlik verheug wanneer kinders gedagtes en gevoelens uitspreek wat met regverdige standaarde ooreenstem. Maar soms kan ’n kind se hartgrondige kommentare ’n neiging tot onregverdigheid openbaar (Genesis 8:21). Hoe moet ouers reageer? Hulle eerste reaksie is dalk om hulle kinders onmiddellik tereg te wys omdat hulle sulke gedagtes uitspreek. As ouers so reageer, sal die kinders moontlik gou leer om net te sê wat hulle dink die ouers wil hoor. Kinders moet natuurlik onmiddellik tereggewys word as hulle oneerbiedige spraak gebruik, maar om kinders te leer hoe om beleef te kommunikeer, beteken nie dat ’n mens hulle voorsê wat om te sê nie.

16 Hoe kan ouers eerlike kommunikasie aanmoedig? Aleah, wat vroeër gemeld is, sê: “Ons het ’n atmosfeer geskep wat openhartige kommunikasie aangemoedig het, deur te probeer om nie te oorreageer wanneer ons kinders ons dinge vertel wat ons ontstellend vind nie.” ’n Pa met die naam Tom sê: “Ons het ons dogter aangemoedig om vir ons te sê hoe sy voel, selfs wanneer sy nie saamstem met hoe ons dink nie. Ons het gevoel dat sy gefrustreerd sou raak en sou leer om nie vir ons te sê wat werklik in haar hart is, as ons haar altyd in die rede val en ons wil eenvoudig op haar afdwing nie. Omdat ons na haar geluister het, het dit haar aangemoedig om na ons te luister.” Kinders moet inderdaad hulle ouers gehoorsaam (Spreuke 6:20). Maar openhartige kommunikasie gee ouers die geleentheid om hulle kinders te help om hulle redeneervermoë te ontwikkel. Vincent, ’n pa van vier, sê: “Ons het dikwels die voor- en nadele van ’n situasie bespreek sodat ons kinders self kon sien wat op die ou end die beste sou wees. Dit het hulle gehelp om denkvermoë te ontwikkel.”—Spreuke 1:1-4.

17. Waarvan kan ouers seker wees?

17 Geen ouer sal natuurlik die Bybel se raad oor die opvoeding van kinders volmaak kan toepas nie. Julle kan nietemin seker wees dat julle kinders julle pogings grootliks sal waardeer om hulle op ’n lankmoedige, goedhartige en liefdevolle manier op te lei. Jehovah sal beslis julle pogings om dit te doen, seën (Spreuke 3:33). Alle Christenouers wil per slot van rekening hê dat hulle kinders Jehovah so lief moet kry soos hulle hom het. Hoe kan ouers hierdie edele doelwit bereik? Die volgende artikel sal ’n paar spesifieke maniere bespreek.

Onthou jy?

• Hoe kan insig ’n ouer help om lankmoedig te wees?

• Hoe hou goedhartigheid en dissipline met mekaar verband?

• Waarom is eerlike kommunikasie tussen ouers en kinders noodsaaklik?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23]

Ouers, kan julle onthou hoe dit gevoel het om ’n kind te wees?

[Prent op bladsy 24]

Moedig julle eerlike, openhartige kommunikasie met julle kinders aan?