Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om liefde vir God in jou kind se hart te kweek

Hoe om liefde vir God in jou kind se hart te kweek

Hoe om liefde vir God in jou kind se hart te kweek

VANDAG is dit werklik ’n uitdaging vir ’n persoon om ’n hegte verhouding met Jehovah God op te bou (Psalm 16:8). Soos voorspel is, lewe ons in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”. Die meeste mense is “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-5). Ja, ware liefde vir God is werklik seldsaam in vandag se wêreld.

Dit sal nie reg wees om die ontwikkeling van liefde vir God in ’n kind se hart aan die toeval oor te laat nie. Liefde vir Jehovah God moet in die harte van ons kinders gekweek word. Hoe kan ons dit doen?

Openhartige kommunikasie

Ons kan liefde vir God in ons kinders se harte kweek as ons eie hart vol liefde vir hom is (Lukas 6:40). Die Bybel toon dat dit die geval is wanneer dit sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp.”—Deuteronomium 6:4-7.

Hoe kan ons liefde vir God in ons kind se hart kweek? Eerstens moet ons onderskei wat in ons kind se hart is. Tweedens moet ons openbaar wat in ons eie hart is.

Toe Jesus Christus saam met twee van sy dissipels op die pad na Emmaus was, het hy die dissipels eers aangemoedig om te praat oor hulle verwagtinge en vrese. Eers nadat Jesus vir ’n ruk na hulle geluister het, het hy hulle denke reggestel deur die Skrif aan hulle te verduidelik. Later het hulle gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het . . . nie?” Daardie gesprek is ’n voorbeeld van openhartige kommunikasie (Lukas 24:15-32). Hoe kan ons ons kind se gevoelens onderskei?

’n Paar ouers wie se kinders nou volwassenes is of byna volwassenheid bereik het en wat voorbeelde van geloof is, is onlangs gevra om kommentaar te lewer oor openhartige kommunikasie. Een voorbeeld is dié van Glen, wat in Mexiko woon en vier volwasse kinders het. a Hy sê: “Gemaklike kommunikasie tussen ouers en kinders gebeur nie sommer vanself nie. Ek en my vrou het minder belangrike dinge opsygeskuif om tyd saam met die kinders deur te bring. Toe hulle in hulle tienerjare was, het ons soms die hele aand saam met hulle gesit en gesels oor enigiets wat hulle op die hart gehad het. Ook met etenstye het ons, deur na hulle gesprekke te luister, bewus geword van probleme en het ons verkeerde neigings sagkens reggestel, dikwels sonder dat hulle dit eers agtergekom het.”

Openhartige kommunikasie behels ook dat ons openbaar wat in ons eie hart is. Jesus het gesê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, . . . want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Tosjiki, wie se drie kinders voltydse bedienaars in Japan is, sê: “Ek het dikwels vir hulle vertel waarom ek geloof in Jehovah begin stel het—hoe ek met my hele hart aan sy bestaan begin glo het en hoe my eie lewensondervinding my oortuig het dat die Bybel waar is en die beste gids vir die lewe is.” Cindy, in Mexiko, sê: “My man het altyd saam met die kinders gebid. Wanneer hulle na sy opregte gebede geluister het, het hulle geweet dat Jehovah werklik bestaan.”

Die kragtige invloed van ons voorbeeld

Iets wat ’n selfs groter uitwerking as ons woorde kan hê, is ons lewenswyse, want dit wys vir ons kinders hoe lief ons vir God is. Deur Jesus Christus se gehoorsaamheid aan Jehovah waar te neem, kon mense die diepte van sy liefde vir God sien. “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet”, het Jesus gesê, “doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen.”—Johannes 14:31.

Gareth, een van Jehovah se Getuies in Wallis, sê: “Ons kinders moet sien dat ons Jehovah liefhet en dat ons dinge op sy manier probeer doen. My kinders sien byvoorbeeld dat ek uit gehoorsaamheid aan wat God vir ons sê, my foute erken. Nou probeer my kinders om so op te tree.”

Greg, ’n Australiër, sê: “Ons wou hê ons kinders moet sien dat ons lewe om die waarheid draai. Wanneer ons besluite oor werk of ontspanning neem, oorweeg ons eers hoe ons Christelike pligte daardeur geraak sal word. Ons is bly om te sien dat ons 19-jarige dogter hierdie gesindheid in haar hulppionierdiens aangeneem het.”

Hoe ons ons kinders kan help om God te verstaan

Ons kan iemand nie liefhê of vertrou as ons hom nie verstaan nie. Toe die apostel Paulus wou hê dat Christene in Filippi moes groei in hulle liefde vir Jehovah, het hy geskryf: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” (Filippense 1:9). Falconerio, wat vier kinders in Peru grootmaak, sê: “Wanneer ek die Bybel gereeld saam met hulle lees en studeer, bou dit hulle geloof op. Soms het ek nagelaat om met hulle te studeer, en ek het gesien dat hulle liefde vir God verswak.” Gary, wat in Australië woon, sê: “Ek vestig dikwels my kinders se aandag op bewyse dat Bybelprofesieë vervul word. Ek wys ook vir hulle watter voordele dit inhou om Bybelbeginsels toe te pas. Die gereeldheid van ons gesinsbybelstudie het ’n sleutelrol daarin gespeel om hulle geloof op te bou.”

Kennis sal ’n kind se hart die beste bereik in ’n ontspanne maar respekvolle atmosfeer waarin dit aangenaam is om te leer (Jakobus 3:18). “Ons het probeer om ons kinders nie gedurende die gesinsbybelstudie te berispe nie, selfs wanneer hulle ’n bietjie woelig geraak het”, sê Shawn en Pauline, wat in Brittanje woon en vier kinders het. “Ons het die studie op verskillende maniere gehou. Soms het ons die kinders die onderwerp laat kies. Ons het die video’s gebruik wat Jehovah se organisasie vervaardig het. Soms het ons ’n deel weer gespeel of die video gestop sodat ons dit kon bespreek.” ’n Moeder genaamd Kim, wat ook in Brittanje woon, sê: “Ek berei goed voor vir die gesinstudie sodat ek vrae kan vra wat my kinders laat dink. Ons geniet dit om te studeer. Ons lag baie.”

Keuse van vriende

Ons kinders se liefde vir Jehovah en waardering vir ware aanbidding floreer op die beste as hulle omring word deur mense wat vriende is van God. Dit sal dalk moeite verg om te reël dat ons kinders heilsame maats het met wie hulle kan gesels en speel. Maar dit is die moeite werd! Dit is ook goed om geleenthede vir ons kinders te skep om Getuies van Jehovah te ontmoet wat die voltydse bediening hulle loopbaan gemaak het. Baie wat hierdie weg gekies het, het dit gedoen omdat hulle met ywerige knegte van God geassosieer het. ’n Suster wat ’n sendeling geword het, sê: “My ouers het dikwels pioniers vir ete oorgenooi. Ek kon duidelik sien dat hulle baie gelukkig is in hulle bediening, en daarom wou ek God op dieselfde manier dien.”

Ons kinders se gesindhede kan natuurlik ten goede of ten kwade beïnvloed word. Die gevare van slegte omgang toets dus ons vaardighede as ouers (1 Korintiërs 15:33). Dit is ’n kuns om jongmense te leer om assosiasie te vermy met dié wat Jehovah nie liefhet of ken nie (Spreuke 13:20). Shawn, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ons het ons kinders geleer om ’n vriendskaplike verhouding met skoolmaats te hê, maar om daardie verhoudings daar te laat—by die skool. Ons kinders het verstaan waarom hulle nie aan skoolsport of ander buitemuurse bedrywighede moet deelneem nie.”

Die waarde van opleiding

Deur ons kinders op te lei om hulle oortuigings te verduidelik, help ons hulle om dit te geniet om hulle liefde vir God uit te druk. Mark, wat in die Verenigde State woon, sê: “Ons wou hê ons seuns moes voel dat hulle dit kon geniet om te eniger tyd met ander oor hulle geloof te praat, nie net wanneer hulle met ’n boektas in die hand aan die formele openbare bediening deelneem nie. Wanneer ons iewers heen gaan om te ontspan, soos na ’n park, die strand of ’n woud, neem ons dus Bybels en Bybellektuur saam met ons en praat ons met die mense daar oor die dinge wat ons glo. Die seuns geniet dit werklik om op hierdie manier saam met ons informeel te getuig. Hulle neem aan die besprekings deel en praat oor hulle geloof.”

Die bejaarde apostel Johannes het baie mense gehelp om te groei in hulle liefde vir God. Hy het van hulle geskryf: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my [geestelike] kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). As ons liefde vir God in ons kinders se harte kweek, sal ons sekerlik dieselfde vreugde ervaar.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prente op bladsy 9]

Openhartige gesprekke oor geloofsake vind nie per toeval plaas nie

[Prent op bladsy 10]

Lei jou kinders op om hulle liefe vir God uit te druk

[Erkenning]

Courtesy of Green Chimneys Farm