Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

John Milton se verlore verhandeling

John Milton se verlore verhandeling

John Milton se verlore verhandeling

MIN skrywers het so ’n groot invloed op die wêreld gehad soos John Milton, skrywer van die Engelse epiese gedig Paradise Lost. Een biograaf het oor Milton geskryf: “Baie het hom liefgehad, party het hom gehaat, maar min het hom geïgnoreer.” Tot vandag toe het die Engelse literatuur en kultuur baie te danke aan sy werke.

Hoe het John Milton soveel invloed verkry? Wat het sy laaste werk—On Christian Doctrine—so omstrede gemaak dat dit 150 jaar lank ongepubliseerd gebly het?

Sy vroeë dae

John Milton is in 1608 as lid van ’n welgestelde Londense gesin gebore. “My vader het my van my vroeë kinderdae af voorberei vir die studie van literatuur, waarvoor ek so lief was dat ek van my twaalfde jaar af feitlik nooit voor middernag my boeke neergelê het om bed toe te gaan nie”, het Milton vertel. Hy het op akademiese gebied uitgeblink en het in 1632 ’n meestersgraad aan Cambridge verwerf. Daarna het hy voortgegaan om geskiedenis en klassieke literatuur te bestudeer.

Milton wou ’n digter wees, maar die Engeland van sy dag was in ’n revolusie gewikkel. Die parlement, wat hoofsaaklik deur Oliver Cromwell gelei is, het ’n hof aangestel wat koning Karel I in 1649 laat teregstel het. Milton het oorredende prosa gebruik om hierdie optrede te verdedig en het ’n woordvoerder vir die Cromwell-regering geword. Trouens, voordat John Milton beroemd geword het as ’n digter, was hy reeds welbekend vir sy traktate oor die politiek en sedes.

Ná die herstel van die monargie met die kroning van Karel II in 1660, was Milton se lewe in gevaar weens sy vroeëre ondersteuning van Cromwell. Milton het weggekruip, en hy het slegs met die hulp van invloedryke vriende die dood vrygespring. Deur alles heen het hy ’n sterk geestelike ingesteldheid behou.

“Die Bybel as maatstaf”

Milton het met verwysing na sy vroeë geestelike belangstelling geskryf: “Toe ek ’n seun was, het ek my op ’n ernstige studie van die Ou en Nuwe Testament in die oorspronklike tale begin toelê.” Milton het die Heilige Skrif uiteindelik as die enigste betroubare gids in sedelike en geestelike sake beskou. Maar sy ondersoek van die aanvaarde teologiese werke van sy dag het hom erg teleurgestel. “Ek het nie gedink dat dit reg sou wees om my geloof of my hoop op redding op sulke gidse te grond nie”, het hy later geskryf. Milton, wat vasbeslote was om sy oortuigings streng aan “die Bybel as maatstaf” te meet, het sleuteltekste onder algemene hofies geskryf en het Bybelverse wat op hierdie lyste verskyn het, aangehaal.

Vandag word John Milton die beste onthou vir sy werk Paradise Lost, ’n poëtiese vertelling van die Bybelverslag oor hoe die mens volmaaktheid verloor het (Genesis, hoofstuk 3). Milton het hoofsaaklik deur hierdie werk, wat vir die eerste keer in 1667 gepubliseer is, veral in die Engelssprekende wêreld literêre beroemdheid verwerf. Hy het later ’n vervolgwerk met die titel Paradise Regained gepubliseer. Hierdie gedigte sit God se oorspronklike voorneme met die mens uiteen—om volmaakte lewe in ’n aardse paradys te geniet—en noem dat God deur Christus die Paradys op aarde gaan herstel. Byvoorbeeld, in Paradise Lost voorspel Migael die aartsengel die tyd wanneer Christus die “getroues [sal] beloon, en hulle in ewige saligheid sal ontvang, hetsy in die hemel of op aarde, want dan sal die hele aarde ’n paradys wees, ’n baie gelukkiger plek as Eden, en baie gelukkiger dae”.

On Christian Doctrine

Milton wou jare lank ’n omvattende werk oor die Christelike lewe en leerstellings skryf. Al was hy teen 1652 heeltemal blind, het hy tot sy dood in 1674 met die hulp van sekretarisse aan hierdie projek gewerk. Milton het sy laaste werk A Treatise on Christian Doctrine Compiled From the Holy Scriptures Alone genoem. In die voorwoord het hy geskryf: “Die meeste skrywers wat al hierdie onderwerp behandel het . . . , het die Bybeltekste waarop hulle hele lering gegrond is, slegs in die kantruimtes aangedui, met kort verwysings na die hoofstukke en verse. Maar ek het my bladsye selfs tot oormaat toe probeer vul met aanhalings uit alle dele van die Bybel.” In ooreenstemming met Milton se woorde is daar meer as 9 000 verwysings na of aanhalings uit die Skrif in On Christian Doctrine.

Hoewel Milton vroeër nie gehuiwer het om sy menings uit te spreek nie, het hy nie hierdie verhandeling gepubliseer nie. Waarom nie? Om maar een ding te noem, hy het geweet dat die skriftuurlike verduidelikings daarin hemelsbreed verskil het van aanvaarde kerkleringe. Daarbenewens het hy, met die herstel van die monargie, die guns van die regering verloor. Hy het dus moontlik vir stiller tye gewag. Hoe dit ook al sy, ná Milton se dood het sy sekretaris die Latynse manuskrip na ’n uitgewer geneem, wat geweier het om dit te druk. Die Engelse staatsekretaris het toe die manuskrip gekonfiskeer en dit geliasseer. Een en ’n half eeu het verbygegaan voordat Milton se verhandeling gevind is.

In 1823 het ’n klerk op die toegedraaide manuskrip van die befaamde digter afgekom. Die destydse koning van Engeland, George IV, het beveel dat die werk uit Latyn vertaal en gepubliseer word. Toe dit twee jaar later in Engels gepubliseer is, het die manuskrip groot polemiek in teologiese en literêre kringe uitgelok. Een biskop het onmiddellik verklaar dat die manuskrip ’n vervalsing is en het geweier om te glo dat Milton—wat deur baie as Engeland se grootste godsdiensdigter beskou is—gekoesterde kerkleerstellings so onomwonde kon verwerp het. Die vertaler, wat hierdie reaksie verwag het en Milton se outeurskap wou bevestig, het die uitgawe van voetnote voorsien wat 500 parallelle tussen On Christian Doctrine en Paradise Lost aangegee het. a

Wat Milton geglo het

Teen Milton se tyd het Engeland die Protestantse Hervorming ondersteun en weggebreek van die Rooms-Katolieke Kerk. Protestante het oor die algemeen geglo dat die Heilige Skrif, nie die pous nie, die enigste gesag was in sake met betrekking tot geloof en sedes. In On Christian Doctrine het Milton egter getoon dat baie Protestantse leringe en gebruike ook strydig is met die Skrif. Hy het op Bybelse gronde die Calvinistiese leerstelling van voorbeskikking verwerp ten gunste van wilsvryheid. Hy het die eerbiedige gebruik van God se naam, Jehovah, voorgestaan en dit vryelik in sy geskrifte gebruik.

Milton het skriftuurlike redes gegee om te toon dat die mensesiel kan sterf. Hy het kommentaar gelewer oor Genesis 2:7 en geskryf: “Toe die mens op hierdie wyse geskep is, is daar ten slotte gesê: so het die mens ’n lewende siel geword. . . . Hy is nie tweeledig of skeibaar nie: nie, soos baie dink, uit twee verskillende en onderskeie elemente, siel en liggaam, gemaak en saamgestel nie. Inteendeel, die hele mens is die siel, en die siel die mens.” Milton het toe die vraag gevra: “Sterf die hele mens of slegs die liggaam?” Nadat hy etlike Bybeltekste aangegee het wat toon dat die hele mens sterf, het hy bygevoeg: “Maar die oortuigendste verduideliking wat ek in verband met die dood van die siel kan gee, is die een wat God self gee, Eseg[iël 18:]20: die siel wat sondig, dié sal sterf.” Milton het ook na tekste soos Lukas 20:37 en Johannes 11:25 verwys om te toon dat ’n toekomstige opstanding uit die dood die hoop vir die afgestorwe mensdom is.

Wat het die heftigste reaksie op On Christian Doctrine uitgelok? Dit was Milton se eenvoudige maar kragtige Bybelse bewyse dat Christus, die Seun van God, ondergeskik aan God, die Vader, is. Nadat Milton Johannes 17:3 en Johannes 20:17 aanhaal, vra hy: “As die Vader Christus se God en ons God is, en as daar slegs een God is, wie buiten die Vader kan dan God wees?”

Daarbenewens sê Milton: “Die Seun self en sy apostels erken in alles wat hulle sê en skryf dat die Vader in alle dinge groter is as die Seun” (Johannes 14:28). “Trouens, dit is Christus wat sê, Matt. xxvi. 39: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan; nogtans nie soos ek wil nie, maar soos u wil. . . . As hy self werklik God is, waarom bid hy slegs tot die Vader en nie tot homself nie? As hy self mens sowel as die allerhoogste God is, waarom bid hy hoegenaamd vir iets wat in sy eie mag lê? . . . Soos die Seun in alle omstandighede alleenlik die Vader aanbid en vereer, so leer hy ons om dieselfde te doen.”

Milton se tekortkominge

John Milton het na die waarheid gesoek. Maar hy het menslike tekortkominge gehad, en sommige van sy beskouings is moontlik deur slegte ondervindinge beïnvloed. Byvoorbeeld, kort nadat hy getrou het, het sy bruid, die jong dogter van ’n koningsgesinde landheer, hom verlaat en vir omtrent drie jaar na haar familie teruggekeer. Gedurende hierdie tyd het Milton traktate geskryf wat egskeiding geregverdig het, nie net op grond van huweliksontrou nie—die enigste gronde wat deur Jesus aangegee is—maar ook in gevalle van onversoenbaarheid (Matteus 19:9). Milton het dieselfde gedagte in On Christian Doctrine voorgestaan.

Ondanks Milton se tekortkominge sit On Christian Doctrine die Bybel se beskouing oor ’n hele aantal belangrike leringe op kragtige wyse uiteen. Tot vandag toe verplig sy verhandeling lesers om hulle eie oortuigings aan die Heilige Skrif as onfeilbare maatstaf te meet.

[Voetnoot]

a ’n Nuwe vertaling van On Christian Doctrine, wat in 1973 deur die Yale-universiteit gepubliseer is, bly selfs getrouer by Milton se oorspronklike Latynse manuskrip.

[Prent op bladsy 11]

Milton was ’n ywerige student van die Bybel

[Erkenning]

Courtesy of The Early Modern Web at Oxford

[Prent op bladsy 12]

Die gedig “Paradise Lost” het Milton beroemd gemaak

[Erkenning]

Courtesy of the Early Modern Web at Oxford

[Prent op bladsy 12]

Milton se laaste werk was 150 jaar lank verlore

[Erkenning]

Image courtesy of Rare Books and Special Collections, Thomas Cooper Library, University of South Carolina

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Image courtesy of Rare Books and Special Collections, Thomas Cooper Library, University of South Carolina