Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jonatan—‘Hy het saam met God gewerk’

Jonatan—‘Hy het saam met God gewerk’

Jonatan‘Hy het saam met God gewerk’

DIE seun van Israel se eerste koning besoek ’n voortvlugtige wat wegkruip. “Moenie bang wees nie”, sê hy vir die voortvlugtige, “want die hand van my vader Saul sal jou nie vind nie, en jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees.”—1 Samuel 23:17.

Die besoeker is Jonatan; die voortvlugtige, Dawid. As Jonatan nie kort daarna gesterf het nie, sou hy moontlik in die toekoms Dawid se regterhand gewees het.

Jonatan se vriendskap met Dawid was merkwaardig. Trouens, Jonatan was ’n merkwaardige man. Sy tydgenote het ook so gedink, want hulle het die volgende oor hom gesê: “Hy het . . . saam met God gewerk” (1 Samuel 14:45). Waarom het hulle dit gesê? Watter eienskappe het Jonatan gehad? En wat kan jy uit sy lewensverhaal leer?

Die Israeliete verkeer “in groot nood”

Wanneer die Bybel die eerste keer van Jonatan praat, verkeer die Israeliete “in groot nood”. Die Filistyne het hulle land geplunder en seker gemaak dat die Israeliete hulleself nie kon verdedig nie.—1 Samuel 13:5, 6, 17-19.

Jehovah het egter gesê dat hy nie sy volk sou verlaat nie, en Jonatan het vas daarin geglo. God het van sy vader, Saul, gesê: “Hy sal my volk uit die hand van die Filistyne red.” Jonatan het vertroue in daardie woorde gehad. Hy het self reeds met 1 000 lig gewapende Israeliete ’n oorwinning oor die Filistyne behaal. Nou wou hy die Filistynse bedreiging heeltemal verwyder.—1 Samuel 9:16; 12:22; 13:2, 3, 22.

’n Gewaagde inval

Jonatan het beplan om ’n Filistynse voorpos naby die kloofpas van Migmas aan te val (1 Samuel 13:23). Om dit te bereik, sou hy met “sy hande en voete” moes klim. Dit het hom nie afgeskrik nie. Jonatan het besluit om die aanval met net sy wapendraer uit te voer, en vir hom gesê: “Miskien sal Jehovah vir ons optree, want daar is geen hindernis vir Jehovah om deur baie of deur min te red nie.”—1 Samuel 14:6, 13.

Die twee Israeliete wou ’n teken van Jehovah hê. Hulle sou hulle aan die manne vertoon. As die Filistyne gesê het: “Staan stil totdat ons by julle kom!” sou Jonatan en sy wapendraer nie na hulle toe opgaan nie. Maar as die vyand gesê het: “Kom teen ons op!” sou dit beteken dat Jehovah vir Jonatan en sy wapendraer die oorhand sou gee. As Jonatan seker was van God se steun, sou hy na die voorpos opgaan om daarteen te veg.—1 Samuel 14:8-10.

Wat kon twee manne teen al die soldate van die voorpos doen? Wel, het Jehovah dan nie die rigter Ehud gehelp toe hy Israel teen Moab gelei het nie? Was God nie met Samgar nie, en het Hy hom nie in staat gestel om 600 Filistyne met ’n veedrywerstok dood te maak nie? En het Jehovah nie Simson die krag gegee om heldedade manalleen teen die Filistyne te verrig nie? Jonatan was seker dat God hom ook sou help.—Rigters 3:12-31; 15:6-8, 15; 16:29, 30.

Toe die Filistyne die twee Israeliete sien, het hulle geskree: “Kom na ons toe op, en ons sal julle iets wys!” Jonatan en sy wapendraer het opgegaan. Hulle het moedig aangeval en omtrent 20 vyandelike soldate doodgemaak, wat paniek in die voorpos laat losbreek het. Dalk het die Filistyne gedink dat baie Israelitiese soldate die eerste twee volg. Daarna het “’n bewing . . . onder al die manskappe van die voorpos ontstaan”, sê die verslag, “en die aarde het begin skud, en dit het ’n bewing geword wat van God kom”. Weens die aardbewing wat deur God gestuur is, het verwarring onder die Filistyne versprei, sodat “elkeen se swaard . . . teen sy medemens” was. Toe Israel se troepe dit sien, het hulle moed geskep. Die Israeliete wat weggekruip het, sowel as dié wat hulle by die Filistyne geskaar het, het by die troepe aangesluit en “hulle [het] die Filistyne van Migmas af tot by Ajalon bly verslaan”.—1 Samuel 14:11-23, 31.

Bevry deur die volk

Koning Saul het onverstandig opgetree deur ’n vloek uit te spreek oor enige van sy soldate wat geëet het voordat die stryd gewen is. Om die een of ander rede was Jonatan onbewus hiervan. Jonatan het geëet. Hy het sy staf in ’n heuningkoek gedoop en van die heuning geëet. Dit het hom blykbaar nuwe krag gegee om die geveg te voltooi.—1 Samuel 14:24-27.

Toe Saul uitvind dat Jonatan geëet het, het Saul beveel dat hy moet sterf. Jonatan was nie bang om dood te gaan nie. “Hier is ek! Laat ek sterf!” het hy gesê. “Maar die manskappe het vir Saul gesê: ‘Moet Jonatan sterf, wat hierdie groot redding in Israel bewerk het? Dit is ondenkbaar! So waar as Jehovah lewe, nie eens ’n enkele haar van sy kop sal op die aarde val nie; want hy het vandag saam met God gewerk.’ Daarop het die manskappe Jonatan losgekoop, en hy het nie gesterf nie.”—1 Samuel 14:38-45.

’n Hedendaagse kneg van God veg nie in letterlike oorloë nie, maar daar is dalk tye in jou lewe wanneer jy ook geloof en moed nodig het. Dit is dalk moeilik om te doen wat reg is wanneer almal om jou die verkeerde ding doen. Maar Jehovah sal jou versterk en jou begeerte seën om sy regverdige standaarde te handhaaf. Jy het dalk moed nodig om ’n sekere diensvoorreg in Jehovah se organisasie aan te pak, soos om jou bediening uit te brei, nuwe voorregte te aanvaar of te verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Jy wonder dalk of jy opgewasse is vir die uitdaging. Maar wees verseker dat dit prysenswaardig is as jy jou beskikbaar stel sodat Jehovah jou kan gebruik op watter manier hy ook al goeddink. Dink aan Jonatan! ‘Hy het saam met God gewerk.’

Jonatan en Dawid

Omtrent 20 jaar later het die Filistynse baasvegter Goliat die Israelitiese leër uitgetart, maar Dawid het hom om die lewe gebring. Hoewel Jonatan heel moontlik 30 jaar ouer as Dawid was, het die twee baie in gemeen gehad. a Die moed wat Jonatan by Migmas aan die dag gelê het, kon ook in Dawid gesien word. Dawid het bowenal dieselfde geloof in Jehovah se reddende krag gehad, en dit het hom in staat gestel om vreesloos voor Goliat te staan toe al die ander Israeliete te bang was om die uitdaging te aanvaar. Toe het “die siel van Jonatan aan die siel van Dawid verkleef geraak, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel”.—1 Samuel 17:1–18:4.

Hoewel Dawid se vaardighede daartoe gelei het dat koning Saul hom as ’n mededinger beskou het, was daar geen sweempie van jaloesie in Jonatan te bespeur nie. Hy en Dawid het baie hegte vriende geword, en dit is moontlik dat Jonatan tydens hulle vertroulike gesprekke uitgevind het dat Dawid as Israel se volgende koning gesalf is. Jonatan het God se besluit gerespekteer.

Toe koning Saul vir sy seun en knegte gesê het dat Dawid doodgemaak moet word, het Jonatan Dawid gewaarsku. Jonatan het Saul oortuig dat hy Dawid glad nie hoef te vrees nie. Trouens, Dawid het glad nie eers teen die koning gesondig nie! Het Dawid dan nie sy lewe gewaag om teen Goliat te veg nie? Jonatan se vurige smeking ten behoewe van sy veronregte vriend het Saul laat bedaar. Maar kort voor lank het die koning weer moordplanne bedink en verdere pogings aangewend om Dawid dood te maak, en hy moes noodgedwonge vlug.—1 Samuel 19:1-18.

Jonatan het Dawid getrou ondersteun. Die twee vriende het bymekaargekom om te beplan wat gedoen moet word. Jonatan was lojaal teenoor sy vriend en wou terselfdertyd lojaal teenoor sy vader bly, en hy het dus vir Dawid gesê: “Dit is ondenkbaar! Jy sal nie sterf nie.” Maar Dawid het vir Jonatan gesê: “Daar is . . . maar net ’n tree tussen my en die dood!”—1 Samuel 20:1-3.

Jonatan en Dawid het ’n plan uitgedink om Saul se bedoelinge vas te stel. As Dawid se afwesigheid van die koning se tafel opgemerk word, sou Jonatan vir sy vader sê dat Dawid gevra het om verskoon te word sodat hy aan ’n familieofferande kan deelneem. As Saul woedend gereageer het, sou dit ’n teken wees van kwaadwilligheid teenoor Dawid. Jonatan het sy vriend geseën en het by implikasie sy toekomstige heerskappy erken deur te sê: “Mag Jehovah met jou wees, net soos hy met my vader was.” Die twee het gesweer om lojaal teenoor mekaar te wees en het besluit hoe Jonatan Dawid in kennis sou stel van die uitkoms van die toets.—1 Samuel 20:5-24.

Toe Saul sien dat Dawid afwesig is, het Jonatan verduidelik dat Dawid hom gesmeek het: “As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my asseblief wegglip sodat ek my broers kan sien.” Jonatan het nie geskroom om te erken dat Dawid sy guns geniet het nie. Die koning was briesend! Hy het Jonatan beledig en woedend gesê dat Dawid ’n bedreiging inhou vir sy seun as die troonopvolger. Saul het daarop aangedring dat Jonatan Dawid na hom toe bring as iemand wat vir die dood bestem is. Jonatan het geantwoord: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?” In ’n woedeuitbarsting het Saul sy seun met sy spies gegooi. Jonatan het ongedeerd daarvan afgekom, maar was diep seergemaak weens Dawid.—1 Samuel 20:25-34.

Watter lojaliteit het Jonatan tog aan die dag gelê! Uit ’n suiwer menslike oogpunt kon hy min wen en baie verloor as gevolg van sy vriendskap met Dawid. Tog het Jehovah beveel dat Dawid Saul as koning opvolg, en wat God voorgeneem het, was vir Jonatan en ander se eie beswil.

’n Hartseer afskeid

Jonatan het Dawid in die geheim ontmoet om die nuus aan hom oor te dra. Dit was duidelik dat Dawid nooit weer sy voet in Saul se hof kon sit nie. Die twee mans het gehuil en mekaar omhels. Toe het Dawid gaan wegkruip.—1 Samuel 20:35-42.

Jonatan het die voortvlugtige nog een keer gesien toe Dawid “in die wildernis van Sif in Hores” weggekruip het vir Saul. Dit was toe dat Jonatan Dawid aangemoedig het met die woorde: “Moenie bang wees nie; want die hand van my vader Saul sal jou nie vind nie, en jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook” (1 Samuel 23:15-18). Kort daarna het Jonatan en Saul in ’n geveg teen die Filistyne omgekom.—1 Samuel 31:1-4.

Dit sal goed wees as almal wat God liefhet, peins oor die weg wat Jonatan ingeslaan het. Is daar botsende lojaliteite in jou lewe? Onthou dan dat Saul Jonatan aangespoor het om sy eie belange te soek. Maar Jonatan het Jehovah vereer met opregte onderdanigheid en eerbied, en hy het hom verbly dat die een wat God gekies het, Israel se volgende koning sou word. Ja, Jonatan het Dawid ondersteun en was lojaal teenoor Jehovah.

Jonatan het bewonderenswaardige eienskappe gehad. Kweek hierdie eienskappe aan! Mense sal dan van jou kan sê net soos daar van Jonatan gesê is: ‘Hy het saam met God gewerk.’—1 Samuel 14:45.

[Voetnoot]

a Jonatan was ten minste 20 jaar oud toe hy vir die eerste keer as bevelvoerder vroeg in Saul se 40 jaar lange heerskappy gemeld word (Numeri 1:3; 1 Samuel 13:2). Jonatan moes dus byna 60 gewees het toe hy omstreeks 1078 v.G.J. gesterf het. Aangesien Dawid op daardie tydstip 30 was, was Jonatan blykbaar sowat 30 jaar ouer as Dawid.—1 Samuel 31:2; 2 Samuel 5:4.

[Prent op bladsy 19]

Jonatan was nie jaloers op Dawid nie