Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Julle Vader is barmhartig’

‘Julle Vader is barmhartig’

‘Julle Vader is barmhartig’

“Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is.”—LUKAS 6:36.

1, 2. Hoe toon Jesus se woorde aan die skrifgeleerdes en Fariseërs en aan sy volgelinge dat barmhartigheid ’n begeerlike eienskap is?

 DIE Wet wat deur middel van Moses gegee is, het ongeveer 600 vereistes en voorskrifte bevat. Hoewel die verpligtinge van die Mosaïese Wet nagekom moes word, was die betoning van barmhartigheid ook baie belangrik. Dink aan wat Jesus gesê het vir die Fariseërs, wat ’n onbarmhartige gesindheid aan die dag gelê het. By twee geleenthede het hy hulle bestraf en daarop gewys dat God gesê het: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie” (Matteus 9:10-13; 12:1-7; Hosea 6:6). Kort voor die einde van sy bediening het Jesus gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle gee die tiende van die kruisement en die dille en die komyn, maar julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid.”—Matteus 23:23.

2 Jesus het sonder twyfel groot waarde aan barmhartigheid geheg. Hy het vir sy volgelinge gesê: “Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is” (Lukas 6:36). Maar om in hierdie opsig “navolgers van God” te word, moet ons weet wat ware barmhartigheid is (Efesiërs 5:1). Wat meer is, as ons besef watter voordele barmhartigheid inhou, sal dit ons beweeg om hierdie eienskap in voller mate in ons lewe aan die dag te lê.

Barmhartigheid teenoor minderbevoorregtes

3. Waarom moet ons ons tot Jehovah wend om te leer wat ware barmhartigheid is?

3 Die psalmis het gesing: “Jehovah is genadig en barmhartig, word nie gou toornig nie en is groot in liefderyke goedhartigheid. Jehovah is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:8, 9). Jehovah is “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3). Ons bewys barmhartigheid wanneer ons iemand op ’n medelydende manier behandel. Dit is ’n vername aspek van God se persoonlikheid. Sy voorbeeld en die opdragte wat hy aan ons gee, kan ons leer wat ware barmhartigheid is.

4. Wat leer Jesaja 49:15 ons omtrent barmhartigheid?

4 Volgens Jesaja 49:15 sê Jehovah: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie?” Hebreeuse woorde wat naverwant is aan die een wat hier as “ontferm” vertaal word, word gebruik in verband met barmhartigheid in Psalm 145:8, 9, wat hierbo aangehaal word. Die emosie wat Jehovah beweeg om barmhartig te wees, word vergelyk met die hartlike gevoel wat ’n sogende moeder gewoonlik vir haar kind het. Miskien is die baba honger of het hy ’n ander behoefte. Die gevoelens van medelye of simpatie wat dit in die moeder wek, beweeg haar om in haar kind se behoeftes te voorsien. Jehovah het sulke tere gevoelens teenoor diegene aan wie hy barmhartigheid bewys.

5. Hoe het Jehovah getoon dat hy ‘ryk in barmhartigheid’ teenoor Israel was?

5 Dit is een ding om barmhartigheid te voel, maar iets heeltemal anders om daardeur beweeg te word om ten behoewe van minderbevoorregtes op te tree. Dink byvoorbeeld aan hoe Jehovah gereageer het toe sy aanbidders sowat 3 500 jaar gelede slawe in Egipte was. Hy het vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly. En ek daal neer om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en om hulle uit daardie land te laat optrek na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Eksodus 3:7, 8). Ongeveer 500 jaar nadat die Israeliete uit Egipte verlos is, het Jehovah hulle herinner: “Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle verlos uit die hand van Egipte en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het” (1 Samuel 10:18). Omdat hulle van God se regverdige standaarde afgewyk het, het die Israeliete dikwels in groot nood verkeer. Tog het Jehovah medelye met hulle gehad en hulle herhaaldelik gered (Rigters 2:11-16; 2 Kronieke 36:15). Dit illustreer hoe ons liefdevolle God optree teenoor dié wat hulp nodig het, wat in gevaar verkeer of wat hulle in ’n moeilike situasie bevind. Jehovah is ‘ryk in barmhartigheid’.—Efesiërs 2:4.

6. Hoe het Jesus Christus sy Vader nagevolg in die betoning van barmhartigheid?

6 Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy sy Vader volmaak nagevolg in die betoning van barmhartigheid. Hoe het Jesus gereageer toe twee blinde mans by hom gepleit het: “Here, wees ons barmhartig, Seun van Dawid”? Hulle het Jesus gesmeek om hulle sig wonderdadig te herstel. Jesus het dit gedoen, maar hy het nie die wonderwerk op ’n ongeërgde manier verrig nie. “Beweeg deur innige jammerte”, sê die Bybel, “het Jesus hulle oë aangeraak, en onmiddellik kon hulle sien” (Matteus 20:30-34). Innige jammerte het Jesus beweeg om baie wonderwerke te verrig wat verligting vir blindes, demoonbesetenes, melaatses en die ouers van siek kinders gebring het.—Matteus 9:27; 15:22; 17:15; Markus 5:18, 19; Lukas 17:12, 13.

7. Wat leer ons omtrent barmhartigheid uit Jehovah God en sy Seun se voorbeeld?

7 Jehovah God en Jesus Christus se voorbeeld toon dat barmhartigheid uit twee komponente bestaan—gevoelens van medelye, simpatie of jammerte vir minderbevoorregtes en optrede wat verligting bring vir die ontvangers daarvan. Om barmhartig te wees, vereis albei hierdie elemente. In die Skrif verwys barmhartigheid meestal na ’n goedhartige besorgdheid oor dié wat hulp nodig het, wat op ’n positiewe manier tot uiting kom. Maar hoe word barmhartigheid in ’n regterlike konteks bewys? Behels dit ook iets wat as ’n negatiewe optrede beskou kan word, soos om straf te weerhou?

Barmhartigheid teenoor oortreders

8, 9. Wat het die barmhartigheid behels wat aan Dawid bewys is ná sy sonde met Batseba?

8 Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het nadat die profeet Natan koning Dawid van eertydse Israel gekonfronteer het oor Dawid se owerspelige verhouding met Batseba. Die berouvolle Dawid het gebid: “Betoon guns aan my, o God, ooreenkomstig u liefderyke goedhartigheid. Wis my oortredings uit ooreenkomstig die oorvloed van u barmhartighede. Was my deeglik van my ongeregtigheid, en reinig my selfs van my sonde. Want my oortredings ken ek, en my sonde is voortdurend voor my. Teen u, u alleen, het ek gesondig, en wat sleg is in u oë, het ek gedoen.”—Psalm 51:1-4.

9 Dawid het baie spyt gevoel. Jehovah het sy sonde vergewe en het Hom daarvan weerhou om die volle oordeel aan Dawid en Batseba te voltrek. Volgens die Mosaïese Wet moes Dawid sowel as Batseba tereggestel gewees het (Deuteronomium 22:22). Hoewel hulle nie al die gevolge van hulle sonde vrygespring het nie, is hulle lewens gespaar (2 Samuel 12:13). God se betoning van barmhartigheid behels die vergifnis van sonde. Maar hy weerhou hom nie daarvan om gepaste straf toe te dien nie.

10. Waarom moet ons nie misbruik maak van Jehovah se barmhartigheid nie, al is hy barmhartig wanneer hy oordeel vel?

10 Aangesien ‘sonde deur een mens [Adam] in die wêreld ingekom het’ en ‘die loon wat die sonde betaal, die dood is’, verdien alle mense die dood (Romeine 5:12; 6:23). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah barmhartigheid bewys wanneer hy oordeel vel! Ons moet egter versigtig wees dat ons nie misbruik maak van God se barmhartigheid nie. “Al [Jehovah se] weë is geregtigheid”, sê Deuteronomium 32:4. Wanneer God barmhartigheid bewys, ignoreer hy nie sy volmaakte standaarde van geregtigheid nie.

11. Hoe het Jehovah gepaste agting vir geregtigheid getoon deur die manier waarop hy Dawid se sonde met Batseba hanteer het?

11 Voordat die doodstraf in die geval van Dawid en Batseba versag kon word, moes hulle sondes vergewe word. Die Israelitiese regters het nie die gesag gehad om dit te doen nie. As hulle toegelaat is om die saak te hanteer, sou hulle geen ander keuse gehad het as om die doodstraf op te lê nie. Dit is wat die Wet vereis het. Maar uit agting vir sy verbond met Dawid wou Jehovah vasstel of daar ’n grondslag was om Dawid se sonde te vergewe (2 Samuel 7:12-16). Daarom het Jehovah God, “die Regter van die hele aarde” wat “’n ondersoeker van die hart is”, besluit om die saak self te hanteer (Genesis 18:25; 1 Kronieke 29:17). God kon Dawid se hart akkuraat lees, die egtheid van sy berou evalueer en hom vergewe.

12. Hoe kan sondige mense voordeel trek uit God se barmhartigheid?

12 Die barmhartigheid wat Jehovah aan ons bewys deur dit vir ons moontlik te maak om van die straf van oorgeërfde sonde vrygestel te word, is in harmonie met sy geregtigheid. Om die vergifnis van sonde moontlik te maak sonder om geregtigheid te skend, het Jehovah die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus, voorsien—die grootste blyk van barmhartigheid wat ooit betoon is (Matteus 20:28; Romeine 6:22, 23). Om voordeel te trek uit God se barmhartigheid, wat kan voorkom dat ons die straf vir oorgeërfde sonde ontvang, moet ons “geloof in die Seun beoefen”.—Johannes 3:16, 36.

’n God van barmhartigheid en geregtigheid

13, 14. Word God se geregtigheid deur sy barmhartigheid getemper? Verduidelik.

13 Het Jehovah se barmhartigheid, hoewel dit nie sy standaard van geregtigheid skend nie, op die een of ander manier ’n uitwerking op sy geregtigheid? Verswak barmhartigheid die impak van goddelike geregtigheid deur dit te temper? Nee, dit is nie die geval nie.

14 Deur die profeet Hosea het Jehovah vir die Israeliete gesê: “Ek sal my aan jou verloof tot onbepaalde tyd, en ek sal my aan jou verloof in regverdigheid en in geregtigheid en in liefderyke goedhartigheid en in barmhartighede” (Hosea 2:19). Hierdie woorde toon duidelik dat Jehovah se betoning van barmhartigheid altyd in harmonie is met sy ander eienskappe, insluitende geregtigheid. Jehovah is “’n barmhartige en genadige God, . . . wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie” (Eksodus 34:6, 7). Jehovah is ’n God van barmhartigheid en geregtigheid. Die Bybel sê aangaande hom: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4). God se geregtigheid, asook sy barmhartigheid, is volmaak. Die een is nie verhewe bo die ander nie, en die een hoef nie die uitwerking van die ander te temper nie. Albei eienskappe werk eerder in volmaakte harmonie met mekaar.

15, 16. (a) Wat toon dat goddelike geregtigheid nie oordrewe streng is nie? (b) Waarvan kan aanbidders van Jehovah seker wees wanneer hy sy oordeel aan hierdie goddelose stelsel van dinge voltrek?

15 Jehovah se geregtigheid is nie oordrewe streng nie. Geregtigheid het amper altyd wetlike implikasies, en oordeel vereis gewoonlik die toediening van verdiende straf aan oortreders. Maar goddelike geregtigheid kan ook redding vir verdienstelikes behels. Byvoorbeeld, toe die goddeloses in die stede Sodom en Gomorra vernietig is, is die aartsvader Lot en sy twee dogters gered.—Genesis 19:12-26.

16 Ons kan seker wees dat wanneer Jehovah sy oordeel aan die huidige goddelose stelsel van dinge voltrek, die “groot menigte” ware aanbidders, wat “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”, gespaar sal word. Hulle sal dus “uit die groot verdrukking kom”.—Openbaring 7:9-14.

Waarom moet ons barmhartig wees?

17. Wat is ’n grondliggende rede waarom ons barmhartig moet wees?

17 Jehovah en Jesus Christus se voorbeeld leer ons inderdaad wat ware barmhartigheid is. Spreuke 19:17 noem ’n grondliggende rede waarom ons barmhartig moet wees en sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon.” Jehovah is bly wanneer ons hom en sy Seun navolg deur barmhartig te wees in ons handelinge met mekaar (1 Korintiërs 11:1). En ander word aangemoedig om barmhartig te wees, want barmhartigheid wek barmhartigheid.—Lukas 6:38.

18. Waarom moet ons daarna streef om barmhartig te wees?

18 Barmhartigheid is ’n kombinasie van talle goeie eienskappe. Welwillendheid, liefde, goedhartigheid en goedheid is daarby betrokke. Tere gevoelens van medelye of simpatie is die grondslag vir dade van barmhartigheid. Hoewel goddelike barmhartigheid nie geregtigheid afwater nie, word Jehovah nie gou toornig nie en gee hy oortreders weens sy geduld genoeg tyd om berou te toon (2 Petrus 3:9, 10). Barmhartigheid hou dus verband met geduld en lankmoedigheid. As ’n kombinasie van talle begeerlike eienskappe—insluitende verskeie aspekte van die vrug van God se gees—vorm barmhartigheid ’n raamwerk waarin hierdie eienskappe aangekweek kan word (Galasiërs 5:22, 23). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons daarna streef om barmhartig te wees!

“Gelukkig is die barmhartiges”

19, 20. Hoe verbly barmhartigheid hom oor die oordeel?

19 Die dissipel Jakobus sê vir ons waarom ons barmhartigheid ’n vername eienskap in ons lewe moet maak. Hy het geskryf: “Barmhartigheid verbly hom triomfantlik oor die oordeel” (Jakobus 2:13b). Jakobus het gepraat van die barmhartigheid wat ’n aanbidder van Jehovah aan ander bewys. Dit verbly hom triomfantlik oor die oordeel in die sin dat wanneer die tyd aanbreek vir iemand om “vir homself aan God rekenskap [te] gee”, Jehovah die persoon se barmhartige handelinge in ag neem en hom vergewe op grond van die losprysoffer van Sy Seun (Romeine 14:12). Een van die redes waarom barmhartigheid aan Dawid bewys is in verband met sy sonde met Batseba, is ongetwyfeld dat hy self ’n barmhartige man was (1 Samuel 24:4-7). Aan die ander kant sal iemand wat “nie barmhartigheid beoefen nie, . . . sy oordeel sonder barmhartigheid kry” (Jakobus 2:13a). Dit is geen wonder nie dat die ‘onbarmhartiges’ onder dié genoem word wat vanuit God se oogpunt “die dood verdien”!—Romeine 1:31, 32.

20 In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matteus 5:7). Hoe kragtig toon hierdie woorde tog dat diegene wat God se barmhartigheid wil geniet, self barmhartig moet wees! Die volgende artikel sal bespreek hoe ons barmhartigheid in ons daaglikse lewe kan beoefen.

Wat het jy geleer?

• Wat is barmhartigheid?

• Hoe word barmhartigheid aan die dag gelê?

• In watter opsig is Jehovah ’n God van barmhartigheid en geregtigheid?

• Waarom moet ons barmhartig wees?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Jehovah se tere gevoel vir dié wat hulp nodig het, is soos dié van ’n moeder vir haar baba

[Prent op bladsy 23]

Wat leer ons omtrent barmhartigheid uit Jesus se wonderwerke?

[Prent op bladsy 24]

Het Jehovah sy geregtigheid geskend deur barmhartigheid aan Dawid te bewys?

[Prent op bladsy 25]

God se barmhartigheid teenoor sondige mense is in harmonie met sy geregtigheid