Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom goddeloosheid voortduur

Waarom goddeloosheid voortduur

Waarom goddeloosheid voortduur

“JEHOVAH [GOD] is regverdig in al sy weë”, sê die Bybel (Psalm 145:17; Openbaring 15:3). Aangaande hom het die profeet Moses gesê: “Volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). “Jehovah [is] baie teer in geneentheid en barmhartig”, sê Jakobus 5:11. God kan nie en sal nie goddeloosheid veroorsaak nie.

Die dissipel Jakobus het geskryf: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Jehovah God versoek mense nie met goddelose dinge nie, en hy probeer hulle ook nie verlok om slegte dinge te doen nie. By wie lê die skuld dan vir goddeloosheid en die lyding wat dit veroorsaak?

Wie se skuld is dit?

Die Bybelskrywer Jakobus sê dat mense gedeeltelik vir goddeloosheid verantwoordelik is. Hy sê: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:14, 15). Individue kan in ooreenstemming met hulle verkeerde begeertes optree. Dink ook aan die mens se oorgeërfde sonde. Die krag van sonde kan verkeerde begeertes vergroot en kan uiters slegte gevolge meebring (Romeine 7:21-23). Oorgeërfde sonde het werklik “as koning geheers” oor die mensdom, en het mense slawe gemaak van goddelose dade wat groot lyding veroorsaak (Romeine 5:21). Wat meer is, goddelose mense kan ander beïnvloed om verdorwe te raak.—Spreuke 1:10-16.

Die hoofoorsaak van goddeloosheid is egter Satan die Duiwel. Hy het goddeloosheid in die wêreld ingebring. Jesus Christus het Satan “die bose” en “die heerser van die wêreld”, of die onregverdige mensegemeenskap, genoem. Die mensdom oor die algemeen gehoorsaam Satan deur toe te gee aan sy invloed en die goeie weë van Jehovah God te verontagsaam (Matteus 6:13; Johannes 14:30; 1 Johannes 2:15-17). “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê 1 Johannes 5:19. Trouens, Satan en sy engele ‘mislei die hele bewoonde aarde’ en veroorsaak niks behalwe “wee” nie (Openbaring 12:9, 12). Satan die Duiwel dra dus hoofsaaklik die skuld vir goddeloosheid.

Prediker 9:11 openbaar nog ’n oorsaak van smart en lyding en sê: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref [ons] almal.” Jesus Christus het gepraat van ’n sekere ramp waarin 18 mense omgekom het toe ’n toring op hulle geval het (Lukas 13:4). Hulle het gely omdat hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Soortgelyke dinge gebeur vandag. ’n Baksteen kan byvoorbeeld van ’n hoë gebou losraak en ’n voetganger tref. Is dit God se skuld? Nee. Dit was ’n onbeplande en onvoorsiene gebeurtenis. Dieselfde kan dikwels gesê word wanneer ’n huishouding deur siekte getref word of iemand wat skielik sterf, weeskinders en ’n weduwee agterlaat.

Dit is dus duidelik dat God nie verantwoordelik is vir goddeloosheid nie; hy veroorsaak ook nie lyding nie. Inteendeel, dit is Jehovah se voorneme om goddeloosheid en dié wat dit veroorsaak, uit die weg te ruim (Spreuke 2:22). Trouens, hy sal meer as dit doen. Die Skrif sê dat dit God se voorneme is om deur Christus “die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8). Die teenswoordige stelsel van dinge—wat op gierigheid, haat en goddelose dade gebaseer is—sal dan iets van die verlede wees. God sal selfs “elke traan van [alle] oë afvee” en sodoende ’n einde aan lyding maak (Openbaring 21:4). Maar jy vra dalk: ‘Waarom het God dit nie reeds gedoen nie? Waarom het hy toegelaat dat goddeloosheid en lyding tot in ons dag voortduur?’ ’n Sleutel tot die antwoord word gevind in die Bybelverslag oor Adam en Eva.

’n Belangrike geskil word geopper

Die rede waarom God toegelaat het dat goddeloosheid tot in ons dag voortduur, hou verband met gebeure wat vroeg in die mensegeskiedenis plaasgevind het. Iets wat destyds gebeur het, het ’n belangrike geskil geopper aangaande die Skepper self—’n geskil wat nie vinnig of maklik besleg kon word nie. Kom ons ondersoek van naderby wat gebeur het.

Jehovah God het die eerste man en vrou volmaak geskep en hulle in die Paradys geplaas. Hulle is ’n gawe gegee wat hulle van diere onderskei het—die gawe van wilsvryheid (Genesis 1:28; 2:15, 19). Omdat hulle wilsvryheid gehad het, kon Adam en Eva hulle intellek gebruik om te kies om hulle Skepper lief te hê, te dien en te gehoorsaam. Of hulle kon ’n weg van onafhanklikheid van God kies en doelbewus ongehoorsaam aan hom wees.

Om Adam en Eva ’n geleentheid te gee om hulle liefde vir hom te bewys, het God een beperking op hulle geplaas. Hy het Adam beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Om in God se guns te bly, tot hulle eie voordeel en dié van hulle toekomstige gesin, moes Adam en Eva hulle daarvan weerhou om die vrugte van daardie een spesifieke boom te eet. Sou hulle?

Die Bybel vertel vir ons wat gebeur het. Deur ’n slang as sy mondstuk te gebruik, het Satan die Duiwel Eva genader en gesê: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Toe Eva God se bevel herhaal, het Satan vir haar gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.” Gevolglik het die boom so begeerlik vir Eva gelyk dat “sy van sy vrugte begin neem en dit geëet” het. Die verslag sê voorts: “Daarna het sy ook vir haar man daarvan gegee toe hy by haar was, en hy het dit begin eet” (Genesis 3:1-6). Adam sowel as Eva het sodoende hulle wilsvryheid misbruik en gesondig deur ongehoorsaam aan God te wees.

Besef jy die erns van wat gebeur het? Die Duiwel het God se woorde aan Adam weerspreek. Satan se woorde het geïmpliseer dat Adam en Eva Jehovah nie sou nodig hê om te besluit wat goed en wat sleg is vir hulle nie. Satan se aantyging het dus Jehovah se reg om oor die mens te regeer, asook die geldigheid van Sy heerskappy, in twyfel getrek. Die allerbelangrikste geskil wat Satan geopper het, het dus die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit behels. Hoe het die ware God daardie geskil besleg?

Genoeg tyd moet verloop

Jehovah het die mag gehad om die drie rebelle—Satan, Adam en Eva—te vernietig. God was ongetwyfeld sterker as hulle. Maar Satan het nie God se krag bevraagteken nie. Hy het eerder Jehovah se reg om te regeer, bevraagteken. Die geskil het alle skepsele geraak wat wilsvryheid het. Hulle moes besef dat die gawe van wilsvryheid reg gebruik moet word—binne die perke van die fisiese, sedelike en geestelike riglyne van God. Anders bring dit slegte gevolge mee, net so seker as wat ’n man wat die wet van swaartekrag verontagsaam en van die dak van ’n hoë gebou afspring, beserings sal opdoen (Galasiërs 6:7, 8). Alle intelligente skepsele kon baat vind deur self die slegte gevolge te sien wat ’n weg van onafhanklikheid van God meebring. Dit sou tyd verg.

Die feit dat dit tyd verg om sommige geskille te besleg, kan so toegelig word: Gestel die vader van een gesin daag die vader van ’n ander gesin uit tot ’n wedstryd wat sal bewys watter man die sterkste is. Daardie geskil kan vinnig beslis word. Krag kan gemeet word deurdat die mans rotse optel. Die vader wat die swaarste rots optel, is die sterkste man. Maar gestel die uitdaging het gegaan oor watter vader werklik lief is vir sy seuns en dogters en of hulle hom ook liefhet. Of gestel die uitdaging gaan oor watter vader die beste leiding aan sy gesin voorsien. Nóg ’n vertoon van krag nóg blote woorde sou genoeg wees. Genoeg tyd sou moes verloop, die situasie sou versigtig dopgehou moes word en die regte gevolgtrekkings sou gemaak moes word om die geskil te besleg.

Wat die verloop van tyd getoon het

Sowat 6 000 jaar het verloop sedert Satan God se reg om te regeer, bevraagteken het. Wat het die geskiedenis bewys? Kyk na twee aspekte van Satan se aantyging teen God. Satan het selfversekerd vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie” (Genesis 3:4). Deur te sê dat Adam en Eva nie sou sterf as hulle van die verbode vrug eet nie, het Satan eintlik gesê dat Jehovah ’n leuenaar is. Dit was inderdaad ’n ernstige aantyging! As God nie eerlik was wat hierdie saak betref nie, hoe kon hy in verband met enige ander saak vertrou word? Maar wat het die verloop van tyd getoon?

Adam en Eva het siek en oud geword, pyn ervaar en uiteindelik gesterf. “Al die dae van Adam wat hy gelewe het, was negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterf”, sê die Bybel (Genesis 3:19; 5:5). En hierdie droewige erfenis is van Adam aan die hele mensdom oorgedra (Romeine 5:12). Die verloop van tyd het bewys dat Satan “’n leuenaar en die vader van die leuen” is en het getoon dat Jehovah “die God van waarheid” is.—Johannes 8:44; Psalm 31:5.

Satan het ook vir Eva gesê: “God weet dat die dag as julle [van die verbode boom] eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle [Eva sowel as Adam] sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:5). Met daardie slinkse woorde het Satan mense ’n skyngeleentheid gebied om oor hulleself te heers. Satan het op bedrieglike wyse geïmpliseer dat mense beter af sou wees as hulle onafhanklik van God is. Was dit die waarheid?

Deur die geskiedenis heen het ryke gekom en gegaan. Elke denkbare vorm van menseregering is al probeer. Maar keer op keer het verskriklike dinge met die mensegesin gebeur. ’n Bybelskrywer het ongeveer 3 000 jaar gelede tot hierdie wyse slotsom gekom: “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie”, het die profeet Jeremia geskryf (Jeremia 10:23). Selfs wetenskaplike en tegnologiese prestasies in onlangse jare het nie die teendeel bewys nie. Die verloop van tyd het hierdie opmerkings net bevestig.

Wat sal jy doen?

Die tyd wat God laat verloop het, het Satan verkeerd bewys wanneer dit kom by die geskil oor die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit. Jehovah God is die absolute Soewerein van die heelal. Hy het die reg om oor sy skepping te regeer, en sy manier van regeer, is die beste. Hemelse skepsele wat self ondervind het hoe dit is om onder God se heerskappy te lewe, erken hierdie feit en sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Openbaring 4:11.

Waar staan jy ten opsigte van die geskil oor God se heerskappy? Stem jy saam dat God waardig is om oor jou te regeer? Indien wel, moet jy Jehovah se soewereiniteit erken. Jy kan dit doen deur die wonderlike waarhede en raad in sy Woord, die Bybel, in elke aspek van jou lewe toe te pas. “God is liefde”, en sy wette en gebooie spruit voort uit sy liefde vir sy skepsele (1 Johannes 4:8). Jehovah ontsê geeneen van ons enigiets voordeligs nie. Jy kan die Bybel se vermaning dus ter harte neem: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.

[Prent op bladsy 7]

Jy kan God se heerskappy kies deur die Bybel te bestudeer en wat dit sê, in jou lewe toe te pas

[Foto-erkenning op bladsy 4]

© Jeroen Oerlemans/Panos Pictures