Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Keuses wat tot geluk lei

Keuses wat tot geluk lei

Keuses wat tot geluk lei

“EK WENS ek het dinge anders gedoen!” Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê nie? Ons almal wil keuses maak waaroor ons nie spyt sal wees nie, veral wanneer daardie keuses ’n uitwerking op ons lewensweg het. Maar hoe kan ons keuses maak wat tot geluk lei?

Ons het allereers standaarde nodig wat werklik betroubaar is. Is daar sulke standaarde? Baie mense dink nie so nie. Volgens ’n opname in die Verenigde State meen 75 persent van senior hoërskoolkinders dat daar nie iets soos reg en verkeerd is nie en dat konsepte van goed en kwaad wissel na gelang van “individuele waardes en kulturele verskille”.

Is dit werklik redelik om te dink dat sedelike standaarde bloot ’n saak van persoonlike of algemene opinie is? Nee, dit is nie. As dit mense vrystaan om te doen wat hulle wil, sal dit chaos tot gevolg hê. Wie sal in ’n plek wil lewe waar daar geen wette, geen howe en geen polisiemanne is nie? Buitendien is persoonlike opinie nie altyd ’n betroubare riglyn nie. Ons besluit dalk om iets te doen wat ons glo reg is, maar vind dan later uit dat ons verkeerd was. Trouens, die hele mensegeskiedenis getuig van hoe waar hierdie Bybelbeginsel is: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Waarheen kan ons ons dan wend vir leiding wanneer ons besluite neem oor belangrike kwessies in die lewe?

Die jong heerser wat in die vorige artikel gemeld is, het verstandig opgetree deur na Jesus toe te gaan. Soos ons gesien het, het Jesus na God se Wet verwys toe hy die jong man se vraag beantwoord het. Jesus het erken dat Jehovah God die hoogste Bron van kennis en wysheid is en dat Hy weet wat die beste vir Sy skepsele is. Jesus het derhalwe gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). God se Woord is waarlik ’n betroubare bron van leiding wat ons sal help om verstandige keuses in die lewe te maak. Kom ons kyk na ’n paar beginsels in God se Woord wat tot ons geluk sal bydra as ons dit toepas.

Die Gulde Reël

In sy beroemde Bergpredikasie het Jesus ’n basiese beginsel geleer wat ons kan help om wyse besluite te neem met betrekking tot ons verhoudinge met ander. Hy het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Hierdie gedragsreël word dikwels die Gulde Reël genoem.

Party het al ’n soortgelyke uitdrukking in ’n negatiewe vorm gebruik: “Moenie aan ander doen wat julle nie wil hê aan julle gedoen moet word nie.” Om die verskil te toon tussen die Gulde Reël en ’n negatiewe vorm daarvan, kan ons na Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan kyk. ’n Jood is geslaan en halfdood langs die pad gelaat. ’n Priester en ’n Leviet het hom gesien, maar het verbygeloop. Omdat hulle niks gedoen het wat die man se lyding vererger het nie, kan daar gesê word dat hulle in ooreenstemming met ’n negatiewe weergawe van die Gulde Reël opgetree het. In teenstelling hiermee het ’n Samaritaan wat daarlangs gereis het, gestop om die man te help. Hy het die man se wonde verbind en hom na ’n herberg geneem. Hy het vir die man gedoen wat hy sou wou hê ander vir hom moes doen. Hy het die Gulde Reël toegepas—en die regte keuse gemaak.—Lukas 10:30-37.

Daar is baie maniere waarop ons hierdie gedragsreël met vreugdevolle resultate kan toepas. Gestel ’n nuwe gesin trek in julle buurt in. Neem gerus die inisiatief om die gesinslede te ontmoet en te verwelkom. Jy kan hulle help om met die omgewing vertroud te raak en hulp verleen wanneer hulle iets wil weet of nodig het. Deur die inisiatief te neem om goeie buurmanskap te toon, sal jy goeie verhoudinge met jou nuwe bure bevorder. Jy sal ook bevrediging put uit die wete dat jy gedoen het wat God behaag. Is dit nie ’n wyse besluit nie?

Keuses gegrond op liefde vir ander

Buiten die Gulde Reël het Jesus ander riglyne gegee wat jou sal help om verstandige keuses te maak. Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod in die Mosaïese Wet is, het hy geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete.”—Matteus 22:36-40.

Jesus het sy dissipels die nag voor sy dood “’n nuwe gebod” gegee, om mekaar lief te hê (Johannes 13:34). Waarom het hy daardie gebod nuut genoem? Het hy dan nie reeds verduidelik dat naasteliefde een van die twee gebooie is waaraan die hele Wet hang nie? Onder die Mosaïese Wet is die Israeliete beveel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Nou het Jesus egter sy dissipels beveel om meer as dit te doen. Op daardie selfde nag het Jesus vir sy dissipels gesê dat hy weldra sy lewe vir hulle sou aflê. Toe het hy vir hulle gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:12, 13). Ja, hierdie gebod was nuut in die sin dat dit van ’n mens vereis het om ander se belange bo jou eie te stel.

Daar is baie maniere waarop ons onselfsugtige liefde kan betoon en meer kan doen as om net na ons eie belange om te sien. Gestel jy het in ’n woonstel gebly en jy het dit baie geniet om jou musiek hard te speel, maar dit het jou buurman ontstel. Sou jy bereid wees om van jou genot prys te gee sodat jou buurman ’n mate van vrede kan geniet? Met ander woorde, sal jy jou buurman se welsyn bo jou eie stel?

Beskou ’n ander situasie. Op ’n koue en sneeuerige winterdag in Kanada is ’n bejaarde man deur twee van Jehovah se Getuies besoek. In die loop van die gesprek het die man gemeld dat hy weens ’n hartprobleem nie die sneeu voor sy huis kan verwyder nie. Sowat ’n uur later het hy harde skraapgeluide gehoor. Die twee Getuies het teruggekeer om die paadjie en trappies wat na sy voordeur lei, skoon te maak. “Vandag het ek ware Christelike liefde in aksie gesien”, het hy in ’n brief aan die Kanadese takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf. “Dit was werklik aanmoedigend en het die pessimistiese beskouing wat ek oor die algemeen van vandag se wêreld het, verander. Dit het die groot respek wat ek reeds vir julle wêreldwye bedrywighede het, verder vergroot.” Ja, as ons besluit om aan ander hulp te verleen, al lyk dit ook hoe onbenullig, kan dit ’n positiewe uitwerking op hulle hê. Watter vreugde verskaf dit tog om sulke selfopofferende keuses te maak!

Keuses gegrond op liefde vir God

Nog ’n faktor wat ons moet oorweeg wanneer ons keuses maak, is wat Jesus beskryf het as die grootste gebod—dat ons God moet liefhê. Jesus se woorde was tot die Jode gerig, wat as ’n nasie reeds in ’n toegewyde verhouding met Jehovah was. Nogtans moes individuele Israeliete besluit of hulle hulle God sou dien en hom met hulle hele hart en hele siel sou liefhê.—Deuteronomium 30:15, 16.

Die keuses wat jy maak, weerspieël eweneens hoe jy oor God voel. Byvoorbeeld, wanneer jou waardering vir die praktiese waarde van die Bybel toeneem, kom jy ook voor ’n keuse te staan. Sal jy bereid wees om ’n stelselmatige studie van die Bybel te onderneem, met die doel om ’n volgeling van Jesus te word? As jy besluit om dit te doen, sal dit jou beslis gelukkig maak, want Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

Ons weet nie of die jong heerser spyt was oor sy besluit nie. Maar ons weet wel hoe die apostel Petrus gevoel het nadat hy jare lank ’n volgeling van Jesus Christus was. Omstreeks 64 G.J., toe Petrus die einde van sy lewe genader het, het hy sy medegelowiges aangespoor: “Julle [moet] julle uiterste bes doen om uiteindelik deur [God] vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word” (2 Petrus 1:14; 3:14). Dit is duidelik dat Petrus nie spyt was oor die keuse wat hy meer as 30 jaar vantevore gemaak het nie, en hy het ander aangespoor om te bly by die keuse wat hulle gemaak het.

Ons volg Petrus se raad as ons kies om die verantwoordelikhede te aanvaar wat daarmee gepaardgaan om ’n dissipel van Jesus te wees en om God se gebooie te gehoorsaam (Lukas 9:23; 1 Johannes 5:3). Dit lyk dalk moeilik, maar ons het Jesus se gerusstellende belofte: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.

Neem byvoorbeeld Arthur se ondervinding. Op tienjarige ouderdom het Arthur vioollesse begin neem, met ’n professionele loopbaan as sy doelwit. Teen die tyd dat hy 14 was, was hy reeds ’n konsertviolis. Hy was nogtans nie gelukkig nie. Sy pa het altyd vrae oor die sin van die lewe gehad en het godsdiensleraars na hulle huis genooi; tog was hy nooit tevrede met hulle antwoorde nie. As ’n gesin het hulle gewonder of God werklik bestaan en waarom hy boosheid toelaat. Toe het Arthur se pa met Jehovah se Getuies gesels. Die gesprek het sy pa se belangstelling gewek, wat tot ’n Bybelstudie vir die hele gesin gelei het.

Mettertyd het Arthur uit die Skrif begin verstaan waarom God lyding toelaat, en hy het duidelik gesien wat die doel van die lewe is. Saam met drie ander lede van sy gesin het Arthur ’n keuse gemaak waaroor hy nie spyt is nie. Hy het sy lewe aan Jehovah toegewy. “Ek is so bly dat Jehovah my geseën het met kennis van die waarheid en dat hy my bevry het van die wedywering wat so tipies is onder professionele musikante. Mense sal enigiets doen om sukses te behaal.”

Arthur geniet dit nog steeds om vir sy vriende viool te speel, maar dit is nie die middelpunt van sy lewe nie. Sy lewe draai eerder om sy diens aan God. Hy dien by een van die takkantore van Jehovah se Getuies. Soos Arthur en miljoene ander, en in teenstelling met die ryk jong heerser, kan ook jy die keuse maak wat jou die grootste geluk sal verskaf—naamlik om Jesus se uitnodiging te aanvaar om sy volgeling te wees.

[Prent op bladsy 6]

Jou besluit kan ’n verskil maak in ander mense se lewe

[Prent op bladsy 7]

Sal jy die Bybel bestudeer en ’n volgeling van Jesus word?