Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streef ’n sinvolle doel in die lewe na

Streef ’n sinvolle doel in die lewe na

Streef ’n sinvolle doel in die lewe na

“Ja, laat alles wat asemhaal, Jah loof.”—PSALM 150:6.

1. Beskryf een jong man se soeke na ’n doel in die lewe.

 “EK HET in die geneeskunde gestudeer omdat ek my lewe wou gebruik om mense te help. Ek het ook gedink dat die aansien en finansiële voordele wat ’n dokter geniet, my gelukkig sou maak”, vertel Seoeng Djin, wat in Korea grootgeword het. a “Toe ek later besef hoe min ’n dokter eintlik kan doen om te help, was ek ontnugter. Ek het my toe op kuns toegelê, maar my kunswerke het ander nie juis tot voordeel gestrek nie, en dit het my selfsugtig laat voel. Ek het ’n onderwyser geword en gou gevind dat ek net feite kan oordra, maar geen leiding kan bied wat tot ware geluk lei nie.” Soos baie ander het Seoeng Djin ’n sinvolle doel in die lewe gesoek.

2. (a) Wat beteken dit om ’n doel in die lewe te hê? (b) Hoe weet ons dat die Skepper ons met ’n goeie voorneme hier geplaas het?

2 Om ’n ware doel in die lewe te hê, moet ons ’n rede hê om te lewe, asook ’n duidelike oogmerk en iets waarop ons ons pogings toespits. Kan mense werklik so ’n doel hê? Ja! Die feit dat ons met intelligensie, ’n gewete en denkvermoë begaaf is, gee te kenne dat die Skepper ons met ’n goeie voorneme hier geplaas het. Dit is derhalwe logies dat ons slegs ons ware doel kan vind en verwesenlik as ons in ooreenstemming met die Skepper se voorneme lewe.

3. Wat behels God se voorneme vir die mens?

3 Die Bybel openbaar dat God se voorneme vir ons baie dinge behels. Byvoorbeeld, die wonderlike manier waarop ons gemaak is, is waarlik ’n blyk van onselfsugtige liefde van God se kant (Psalm 40:5; 139:14). Om in ooreenstemming met God se voorneme te lewe, beteken dus dat ons, soos God, ander onselfsugtig moet liefhê (1 Johannes 4:7-11). Dit beteken ook dat ons gehoorsaam moet wees aan God se voorskrifte, wat ons help om in ooreenstemming met sy liefdevolle voorneme te lewe.—Prediker 12:13; 1 Johannes 5:3.

4. (a) Wat is nodig om ’n waarlik doelgerigte lewe te geniet? (b) Wat is die mees verhewe doel wat enigiemand kan nastreef?

4 Dit was ook God se voorneme dat mense in geluk en vrede met mekaar en met die res van die skepping moet lewe (Genesis 1:26; 2:15). Wat moet ons egter doen om geluk, veiligheid en gemoedsrus te geniet? Soos ’n kind wat slegs gelukkig en veilig kan voel as hy weet dat sy ouers in die nabyheid is, moet ons ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader hê as ons ’n waarlik sinvolle en doelgerigte lewe wil geniet (Hebreërs 12:9). God maak so ’n verhouding met hom moontlik deur ons toe te laat om nader aan hom te kom en deur ons gebede te verhoor (Jakobus 4:8; 1 Johannes 5:14, 15). As ons in geloof ‘met God wandel’ en sy vriende word, kan ons ons hemelse Vader bly maak en aan hom lof bring (Genesis 6:9; Spreuke 23:15, 16; Jakobus 2:23). Dit is die mees verhewe doel wat enigiemand kan nastreef. Die psalmis het geskryf: “Ja, laat alles wat asemhaal, Jah loof.”—Psalm 150:6.

Wat is jou doel in die lewe?

5. Waarom is dit onrealisties om materiële belange eerste te stel?

5 Deel van God se voorneme vir ons is dat ons goed na onsself en ons gesinne moet omsien. Dit sluit ons fisiese sowel as geestelike behoeftes in. Maar balans is in hierdie opsig nodig sodat sekulêre belange en aangeleenthede nie die belangriker geestelike sake oorskadu nie (Matteus 4:4; 6:33). Ongelukkig wy baie mense hulle lewe byna uitsluitlik aan die verkryging van materiële dinge. Maar om al ons behoeftes bloot met materiële dinge te probeer bevredig, is onrealisties. ’n Onlangse meningspeiling onder miljoenêrs in Asië toon dat baie van hulle “onseker voel en gespanne is, selfs al geniet hulle die sosiale status en gevoel van voldoening wat hulle rykdom meebring”.—Prediker 5:11.

6. Watter raad het Jesus gegee oor die najaging van rykdom?

6 Jesus het gepraat van “die bedrieglike krag van rykdom” (Markus 4:19). Hoe is rykdom bedrieglik? Dit lyk of dit ’n mens gelukkig maak, maar dit is nie die geval nie. “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie”, het die wyse koning Salomo gesê (Prediker 5:9, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Maar is dit moontlik om materialistiese doelwitte na te streef en God nog steeds heelhartig te dien? Nee, dit is nie. Jesus het verduidelik: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” Jesus het sy volgelinge aangespoor om nie materiële dinge op die aarde op te gaar nie, maar “skatte in die hemel”, dit wil sê om ’n goeie naam by God te verkry, wat “weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra”.—Matteus 6:8, 19-25.

7. Hoe kan ons “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry?

7 Toe die apostel Paulus aan sy medewerker Timoteus geskryf het, het hy streng raad in hierdie verband gegee. Hy het vir Timoteus gesê: “Beveel dié wat ryk is . . . om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf . . . , om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry.”—1 Timoteus 6:17-19.

Wat is “die werklike lewe”?

8. (a) Waarom jaag baie mense rykdom en status na? (b) Wat besef hierdie mense nie?

8 Die uitdrukking “die werklike lewe” skep by die meeste mense ’n beeld van weelde en plesier. ’n Asiatiese nuustydskrif sê: “Mense wat TV of na rolprente kyk, leer om te begeer wat hulle sien, om te droom van wat hulle kan hê.” Baie mense maak die verkryging van rykdom en status hulle doel in die lewe. Baie offer hulle jeug, gesondheid, gesinslewe en geestelike waardes op om hierdie dinge na te jaag. Min dink selfs ’n oomblik na oor die feit dat hierdie beelde in die media maar net ’n weerspieëling is van “die gees van die wêreld”—die oorheersende denkpatroon wat die meerderheid van die miljarde mense op aarde beïnvloed en hulle beweeg om in stryd met God se voorneme vir ons op te tree (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2). Geen wonder dat daar vandag soveel ongelukkige mense is nie!—Spreuke 18:11; 23:4, 5.

9. Wat kan mense nooit doen nie, en waarom nie?

9 Wat van diegene wat hulle op onbaatsugtige wyse vir die welsyn van ander beywer in ’n poging om honger, siekte en onreg uit die weg te ruim? Hulle edele en selfopofferende pogings werp dikwels goeie vrugte af. Maar al probeer hulle ook hoe hard, hulle sal nooit hierdie stelsel van dinge kan verander sodat dit regverdig en goed is nie. Waarom nie? Want in werklikheid “[lê] die hele wêreld . . . in die mag van die bose”—Satan—en hy wil nie hê dat dit moet verander nie.—1 Johannes 5:19.

10. Wanneer sal getroues “die werklike lewe” geniet?

10 Hoe droewig is dit tog as iemand se hoop nie verder strek as die lewe in hierdie teenswoordige wêreld nie! “As ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”, het Paulus geskryf. “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”, is die gesindheid van diegene wat glo dat hierdie lewe al is wat daar is (1 Korintiërs 15:19, 32). Maar daar is ’n toekoms, ’n “nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Dan sal Christene “die werklike lewe” kan geniet, dit wil sê “die ewige lewe” in volmaaktheid, óf in die hemel óf onder die liefdevolle heerskappy van God se Koninkryksregering!—1 Timoteus 6:12.

11. Waarom is dit ’n betekenisvolle oogmerk om die belange van God se Koninkryk daadwerklik te bevorder?

11 Slegs God se Koninkryk sal die mensdom se probleme heeltemal oplos. Die betekenisvolste oogmerk wat enigiemand dus kan nastreef, is om die belange van God se Koninkryk daadwerklik te bevorder (Johannes 4:34). Terwyl ons aan hierdie werk deelneem, geniet ons ’n geseënde verhouding met ons hemelse Vader. Ons smaak ook die vreugde om saam met miljoene geestelike broers en susters te dien, wat dieselfde doel in die lewe nastreef.

Maak die regte opofferings

12. Watter teenstelling is daar tussen die lewe in die teenswoordige stelsel en “die werklike lewe”?

12 Die teenswoordige wêreld “gaan verby en so ook sy begeerte”, sê die Bybel. Geen deel van Satan se wêreld, wat die roem en rykdom daarvan insluit, sal dít vryspring nie, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). In teenstelling met die onsekere rykdom, die verbygaande roem en die oppervlakkige plesier van hierdie teenswoordige stelsel is “die werklike lewe”—die ewige lewe onder God se Koninkryk—iets blywends wat ons opofferings werd is, mits ons die regte opofferings maak.

13. Hoe het een egpaar die regte opofferings gemaak?

13 Beskou die geval van Henry en Suzanne. Hulle het vaste geloof in God se belofte dat almal wat die Koninkryk eerste in hulle lewe stel, God se hulp sal ontvang (Matteus 6:33). Hulle het derhalwe besluit om in ’n goedkoop huis te woon sodat hulle nie albei sekulêr hoef te werk nie en hulle eerder meer tyd saam met hulle twee dogters aan geestelike strewes kon wy (Hebreërs 13:15, 16). ’n Welmenende vriendin kon nie hulle besluit verstaan nie. Sy het vir Suzanne gesê: “Jong, as julle ooit in ’n mooier plek wil bly, sal julle eenvoudig iets moet opoffer.” Henry en Suzanne het egter geweet dat wanneer ’n mens Jehovah eerste stel, dit “belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8; Titus 2:12). Hulle dogters het ywerige voltydse evangeliedienaars geword. As ’n gesin voel hulle nie dat hulle enigiets gemis het nie; hulle het eerder grootliks daarby baat gevind om “die werklike lewe” as hulle doel na te streef.—Filippense 3:8; 1 Timoteus 6:6-8.

Moenie ‘die wêreld ten volle gebruik nie’

14. Watter tragiese gevolge kan dit hê as ons ons ware doel uit die oog verloor?

14 Dit hou egter ’n wesenlike gevaar in as ons ons ware doel uit die oog verloor en ons houvas op “die werklike lewe” verslap. Ons kan “deur sorge en rykdom en genietinge van hierdie lewe meegesleep word” (Lukas 8:14). Onbeheerste begeertes en “sorge oor lewensonderhoud” kan veroorsaak dat ons te betrokke raak by hierdie stelsel van dinge (Lukas 21:34, voetnoot in NW). Ongelukkig is party vasgevang in vandag se dolle gejaag na geld en is hulle “van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor”, en hulle het selfs hulle kosbare verhouding met Jehovah verloor. Wat ’n verskriklike prys om te betaal omdat hulle nie “’n stewige houvas op die ewige lewe” behou het nie!—1 Timoteus 6:9, 10, 12; Spreuke 28:20.

15. Hoe het een gesin daarby baat gevind om ‘die wêreld nie ten volle te gebruik nie’?

15 Paulus het “dié wat van die wêreld gebruik maak”, aangeraai om te wees “soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie” (1 Korintiërs 7:31). Keith en Bonnie het dit ter harte geneem. “Ek het een van Jehovah se Getuies geword net voordat ek my studie in die tandheelkunde voltooi het”, vertel Keith. “Ek het ’n keuse gehad. Ek kon baie pasiënte hê en ’n klomp geld maak, maar dit sou inbreuk maak op ons geestelike lewe. Ek het verkies om my praktyk klein te hou sodat ek meer tyd sou hê om na die geestelike en emosionele welsyn van ons gesin om te sien, wat uiteindelik vyf dogters ingesluit het. Hoewel ons selde ekstra geld gehad het, het ons geleer om spaarsaam te werk te gaan, en ons het altyd die nodige gehad. Ons het ’n hegte, hartlike en vreugdevolle gesinslewe gehad. Uiteindelik het ons almal die voltydse bediening betree. Nou is ons dogters gelukkig getroud, en drie van hulle het self kinders. Hulle gesinne is ook gelukkig, aangesien hulle Jehovah se voorneme voortdurend eerste in hulle lewe stel.”

Stel God se voorneme eerste in jou lewe

16, 17. Watter voorbeelde van talentvolle mense bevat die Bybel, en hoe word hulle onthou?

16 Die Bybel bevat voorbeelde van dié wat in ooreenstemming met God se voorneme gelewe het en dié wat dit nie gedoen het nie. Die lesse wat hierdie voorbeelde voorsien, is van toepassing op mense van alle ouderdomme en kulture en in alle omstandighede (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:6, 11). Nimrod het groot stede gebou, maar hy het dit in verset teen Jehovah gedoen (Genesis 10:8, 9). Baie ander was egter navolgenswaardige persone. Byvoorbeeld, Moses het dit nie sy doel in die lewe gemaak om sy status as lid van die Egiptiese adel te behou nie. Hy het eerder sy geestelike voorregte as “groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte” (Hebreërs 11:26). Die geneesheer Lukas het Paulus en ander waarskynlik gehelp met hulle kwale. Maar Lukas het sy grootste bydrae gelewer as ’n evangeliedienaar en ’n Bybelskrywer. En Paulus is nie bekend as ’n kenner van die Wet nie, maar as ’n sendeling, “’n apostel vir die nasies”.—Romeine 11:13.

17 Dawid word hoofsaaklik onthou as “’n man na [God se] hart” en nie as ’n militêre bevelvoerder of as ’n musikant en komponis nie (1 Samuel 13:14). Ons ken Daniël, nie weens sy werk as ’n Babiloniese regeringsamptenaar nie, maar weens sy diens as Jehovah se lojale profeet; Ester, nie as die koningin van Persië nie, maar as ’n voorbeeld van moed en geloof; Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes, nie as suksesvolle vissermanne nie, maar as apostels van Jesus. En die grootste voorbeeld, Jesus, is nie vir ons “die timmerman” nie, maar “die Christus” (Markus 6:3; Matteus 16:16). Hulle het almal goed geweet dat hulle lewe, ongeag watter talente, besittings of status hulle gehad het, nie om hulle sekulêre loopbane moet draai nie, maar om hulle diens aan God. Hulle het besef dat die edelste en lonendste doel wat hulle kan hê, is om ’n man of ’n vrou van God te wees.

18. Hoe het ’n jong Christen besluit om sy lewe te gebruik, en tot watter besef het hy gekom?

18 Seoeng Djin, wat aan die begin gemeld is, het ook tot hierdie besef gekom. “Pleks van al my energie aan die geneeskunde, kuns of onderwys te wy, het ek my voorgeneem om my lewe in ooreenstemming met my toewyding aan God te gebruik”, verduidelik hy. “Ek dien nou waar daar ’n groot behoefte aan Bybelonderrigters is en help mense om op die weg na die ewige lewe te kom. Ek het altyd gedink dat dit nie ’n groot genoeg uitdaging sou bied om ’n voltydse bedienaar te wees nie. Nou het ek ’n groter uitdaging in die lewe as ooit tevore, aangesien ek my persoonlikheid probeer verbeter sowel as my vermoë om met mense van verskillende kulture te werk. Ek besef dat ons slegs ’n sinvolle lewe kan hê as ons doelwitte met Jehovah se voorneme ooreenstem.”

19. Hoe kan ons ’n ware doel in die lewe vind?

19 As Christene is ons geseën met lewensreddende kennis en die hoop op redding (Johannes 17:3). Laat ons dan nie ‘die onverdiende goedhartigheid van God aanneem en die doel daarvan mis nie’ (2 Korintiërs 6:1). Laat ons eerder ons kosbare lewensdae en -jare gebruik om Jehovah te loof. Laat ons die kennis versprei wat nou ware geluk bring en tot die ewige lewe lei. Sodoende sal ons die waarheid van Jesus se woorde ervaar: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Ook sal ons ’n ware doel in die lewe gevind het.

[Voetnoot]

a Van die name is verander

Kan jy verduidelik?

• Wat is die mees verhewe doel wat ons in die lewe kan hê?

• Waarom is dit onrealisties om vir materiële dinge te lewe?

• Wat is “die werklike lewe” wat God belowe?

• Hoe kan ons ons lewe in ooreenstemming met God se voorneme gebruik?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 18]

Christene moet die regte opofferings maak