Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Was dit nie verkeerd van Jakob om hom as Esau voor te doen nie, soos opgeteken in Genesis 27:18, 19?

Jy ken miskien hierdie verslag. Op sy oudag het Isak vir Esau gesê om vir hom ’n stuk wild te jag: “Laat my tog eet, sodat my siel jou kan seën voordat ek sterf.” Toe Rebekka hoor wat haar man sê, het sy ’n smaaklike gereg voorberei en Jakob beveel: “Jy [moet die kos] na jou vader toe neem en hy moet dit eet, sodat hy jou voor sy dood kan seën.” Jakob het toe, in Esau se klere en met die velle van boklammers op sy nek en hande, met die smaaklike gereg na sy vader toe gegaan. Toe Isak hom vra: “Wie is jy, my seun?” het Jakob geantwoord: “Ek is Esau, u eersgeborene.” Isak het hom geglo en hom geseën.—Genesis 27:1-29.

Die Bybel verstrek nie al die besonderhede oor waarom Rebekka en Jakob so opgetree het nie, maar dit dui wel aan dat die situasie skielik ontstaan het. Ons moet daarop let dat God se Woord nie Rebekka en Jakob se optrede regverdig of veroordeel nie en dus geen presedent stel vir leuens en bedrog nie. Die Bybel werp egter wel lig op die situasie.

Eerstens toon die verslag duidelik dat Jakob geregtig was op sy vader se seën; Esau was nie. Jakob het vroeër die geboortereg wetlik gekoop by sy tweelingbroer, wat ’n gebrek aan waardering getoon het en dit verkoop het vir ’n ete om sy honger te stil. Esau het “die geboortereg verag” (Genesis 25:29-34). Toe Jakob na sy vader toe gegaan het, was dit dus om ’n seën te verkry wat tereg aan hom behoort het.

Tweedens het Isak, toe hy besef het dat hy Jakob geseën het, nie probeer verander wat hy gedoen het nie. Miskien het hy onthou wat Jehovah voor die geboorte van die tweeling vir Rebekka gesê het: “Die oudste sal die jongste dien” (Genesis 25:23). Dit is ook opmerkenswaardig dat Isak, toe Jakob op die punt gestaan het om na Haran te vertrek, uitgebrei het op die seën wat hy vroeër gegee het.—Genesis 28:1-4.

Laastens moet ons onthou dat Jehovah bewus was van alles wat gebeur het en ook daarin belanggestel het. Die seën wat Isak uitgespreek het, het verband gehou met God se belofte aan Abraham (Genesis 12:2, 3). As God nie wou gehad het dat Jakob die seën moet ontvang nie, kon hy op die een of ander manier ingegryp het. Maar Jehovah het eerder die saak teenoor Jakob bevestig en gesê: “Deur middel van jou saad sal al die families van die aarde hulleself beslis seën.”—Genesis 28:10-15.