Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Ryk heerser maak ’n slegte keuse

’n Ryk heerser maak ’n slegte keuse

’n Ryk heerser maak ’n slegte keuse

DIE ryk jong heerser was pligsgetrou, wetsgehoorsaam en godsdienstig. Hy het na Jesus toe gekom, op sy knieë geval en gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

In sy antwoord het Jesus te kenne gegee dat die man God se gebooie moet hou as hy die lewe wil verkry. Toe Jesus gevra is om spesifiek te wees, het hy gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie, Jy mag nie egbreuk pleeg nie, Jy mag nie steel nie, Jy mag nie valse getuienis aflê nie, Eer jou vader en jou moeder, en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit was basiese gebooie, vervat in die Wet wat aan Moses gegee is. Die man het toe gesê: “Ek het dit alles nagekom; wat kom ek nog kort?”—Matteus 19:16-20.

Jesus ‘het hom liefgekry’ en gesê: “Een ding kom jy kort: Gaan, verkoop wat jy het en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling.”—Markus 10:17-21.

Die jong heerser het skielik voor ’n gewigtige besluit te staan gekom. Wat sou hy doen? Sou hy materiële rykdom gewillig prysgee en ’n volgeling van Jesus word, of sou hy vashou aan wat hy het? Sou hy skatte op die aarde soek, of sou hy skatte in die hemel soek? Dit moes vir hom ’n moeilike keuse gewees het. Dit is duidelik dat geestelike waardes vir hom belangrik was, want hy het die Wet onderhou en wou weet wat hy nog kon doen om God se guns te verkry. Sy besluit? Hy het “bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad”.—Markus 10:22.

Die jong heerser het nie ’n wyse besluit geneem nie. As hy ’n getroue volgeling van Jesus geword het, kon hy ontvang het waarna hy gesoek het—die ewige lewe. Ons word nie vertel wat met hierdie jong man gebeur het nie. Maar ons weet wel dat die Romeinse leër ongeveer vier dekades later Jerusalem en ’n groot deel van Judea verwoes het. Baie Jode het hulle rykdom sowel as hulle lewe verloor.

In teenstelling met die jong heerser het die apostel Petrus en ander dissipels ’n goeie keuse gemaak. Hulle “het alles verlaat” en Jesus gevolg. Hoe voordelig was daardie besluit tog vir hulle! Jesus het vir hulle gesê dat hulle baie meer sou ontvang as wat hulle agtergelaat het. Boonop sou hulle die ewige lewe beërf. Hulle sou nie later oor hulle besluit spyt wees nie.—Matteus 19:27-29.

Ons kom almal voor besluite in die lewe te staan—party klein, party groot. Wat het Jesus oor hierdie besluite gesê? Sal jy sy raad aanvaar? As jy besluit om dit te doen, sal jy ryklik beloon word. Kom ons kyk nou hoe ons Jesus kan volg en kan baat vind by wat hy gesê het.