Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beweeg na die lig

Beweeg na die lig

Beweeg na die lig

VUURTORINGS het al tallose lewens gered. ’n Lig in die verte waarsku ’n vermoeide reisiger egter nie net teen gevaarlike riwwe nie. Dit kondig ook aan dat sy bestemming naby is. Christene nader eweneens vandag die einde van ’n lang reis, een wat hulle deur ’n donker, geestelik gevaarlike wêreld geneem het. In die Bybel word die mensdom in die algemeen—die massas wat van God vervreemd is—vergelyk met “die onstuimige see, wanneer dit nie tot bedaring kan kom nie, waarvan die waters seegras en modder bly opgooi” (Jesaja 57:20). God se knegte lewe te midde van sulke mense. Tog het hulle ’n wonderlike vooruitsig op redding, wat vir hulle ’n figuurlike, betroubare lig is (Miga 7:8). Danksy Jehovah en sy geskrewe Woord het “lig . . . opgegaan vir die regverdige, en blydskap vir die opregtes van hart”.—Psalm 97:11. a

Party Christene het egter toegelaat dat afleidings hulle weglok van Jehovah se lig sodat hulle geloof skipbreuk gely het op dinge wat ons met gevaarlike rotse kan vergelyk—materialisme, onsedelikheid of selfs afvalligheid. Ja, soos in die eerste eeu het sommige vandag “skipbreuk gely . . . wat hulle geloof betref” (1 Timoteus 1:19; 2 Petrus 2:13-15, 20-22). Die nuwe wêreld kan vergelyk word met die tuishawe waarheen ons op pad is. Hoe tragies sal dit tog wees om nóú, so na aan ons bestemming, Jehovah se guns te verloor!

Keer dat ‘jou geloof skipbreuk ly’

In vorige eeue het ’n skip dalk veilig oor die wye see gevaar, maar dan naby die hawe skipbreuk gely. Die laaste deel van die reis, wanneer die skip die land nader, was dikwels die gevaarlikste. Net so is “die laaste dae” van hierdie teenswoordige stelsel van dinge vir baie die gevaarlikste tydperk in die mensegeskiedenis. Die Bybel beskryf dit tereg as ’n tyd wat “moeilik is om deur te kom”, veral vir toegewyde Christene.—2 Timoteus 3:1-5.

Waarom is hierdie laaste dae so moeilik? Wel, Satan weet dat hy net “’n kort tydjie” oor het om teen God se volk oorlog te voer. Gevolglik het hy sy bose veldtog om ons geloof te laat skipbreuk ly, verskerp (Openbaring 12:12, 17). Tog is ons nie sonder hulp en leiding nie. Jehovah is steeds ’n toevlug vir diegene wat op sy raad ag slaan (2 Samuel 22:31). Hy het ons van waarskuwende voorbeelde voorsien wat Satan se slim maar boosaardige planne blootlê. Kom ons kyk nou na twee van hierdie voorbeelde waarby die nasie Israel betrokke was toe hulle die Beloofde Land genader het.—1 Korintiërs 10:11; 2 Korintiërs 2:11.

Naby die Beloofde Land

Met Moses as hulle leier was die volk Israel in staat om uit Egipte te kom. Kort voor lank het hulle die suidelike grens van die Beloofde Land genader. Moses het toe 12 manne uitgestuur om die land te verken. Tien spioene, wat ’n gebrek aan geloof geopenbaar het, het ’n negatiewe verslag teruggebring en gesê dat Israel nie die Kanaäniete sal kan oorwin nie omdat hulle “buitengewoon groot” is en sterk leërs het. Watter uitwerking het dit op die Israeliete gehad? Volgens die verslag het hulle teen Moses en Aäron begin murmureer en gesê: “Waarom bring Jehovah ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vrouens en ons kindertjies sal roofgoed word. . . . Laat ons ’n hoof aanstel, en laat ons na Egipte terugkeer!”—Numeri 13:1, 2, 28-32; 14:1-4.

Stel jou dit voor! Hierdie einste volk het gesien hoe Jehovah die magtige Egipte—die destydse wêreldmoondheid—op sy knieë dwing deur middel van tien vernietigende plae en ’n ontsagwekkende wonderwerk by die Rooi See. En die Beloofde Land was reg voor hulle; hulle moes dus net daarheen beweeg soos ’n skip na ’n lig beweeg wat sy bestemming aandui. Tog het hulle geglo dat Jehovah nie in staat is om die nietige, verdeelde stadskoninkryke van Kanaän omver te werp nie. Hoe teleurstellend moes hulle gebrek aan geloof tog gewees het vir God en die twee dapper spioene, Josua en Kaleb, wat gemeen het dat Kanaän soos “brood vir [Israel]” was! Dié twee het eerstehandse inligting gehad, aangesien hulle Kanaän te voet deurkruis het. Toe die volk nie die Beloofde Land binnegegaan het nie, moes Josua en Kaleb dekades lank saam met hulle in die wildernis rondtrek, maar hulle het nie daar saam met die kleingelowiges gesterf nie. Trouens, Josua en Kaleb het gehelp om die volgende geslag uit die wildernis en na die Beloofde Land te lei (Numeri 14:9, 30). Met hierdie tweede probeerslag sou Israel voor ’n ander toets te staan kom. Hoe sou hulle vaar?

Die Moabitiese koning Balak het Israel deur middel van die valse profeet Bileam probeer vervloek. Jehovah het hierdie komplot egter verydel deur Bileam seëninge pleks van vervloekinge te laat uitspreek (Numeri 22:1-7; 24:10). Bileam is nie van stryk gebring nie en het ’n ander boosaardige plan gesmee, een wat bedoel was om God se volk ongeskik te maak om die land te ontvang. Hoe? Deur hulle tot onsedelikheid en Baälaanbidding te verlok. Hoewel hierdie strategie grotendeels ook misluk het, het dit tot gevolg gehad dat 24 000 Israeliete verlei is. Hulle het onsedelike gemeenskap met Moabitiese vroue gehad en hulle aan die Baäl van Peor verbind.—Numeri 25:1-9.

Dink net! Baie van daardie selfde Israeliete het gesien hoe Jehovah hulle veilig deur “daardie . . . groot en vreesinboesemende wildernis” gelei het (Deuteronomium 1:19). Nogtans het 24 000 van God se volk, op die drumpel van hulle erfenis, voor vleeslike begeertes geswig en is hulle deur Jehovah om die lewe gebring. Wat ’n waarskuwing is dit tog vir God se knegte van vandag wat ’n baie wonderliker erfenis nader!

In sy laaste verwoede poging om te keer dat Jehovah se hedendaagse knegte hulle beloning ontvang, het Satan nie nuwe strategieë nodig nie. Met ’n strategie wat ons herinner aan wat gebeur het toe Israel die Beloofde Land die eerste keer genader het, probeer Satan dikwels vrees en onsekerheid inboesem, hetsy deur dreigemente, vervolging of bespotting. Party Christene het voor sulke intimidasie geswig (Matteus 13:20, 21). Nog ’n beproefde strik is om mense sedelik te verderf. Met tye het sommige wat in die Christengemeente ingesluip het, diegene wat geestelik swak is en wat nie met vertroue in goddelike lig wandel nie, probeer verderf.—Judas 8, 12-16.

Wanneer persone wat geestelik volwasse en waaksaam is, sien hoe vinnig die wêreld sedelik agteruitgaan, is dit vir hulle ’n kragtige bewys van hoe desperaat Satan is. Ja, Satan weet dat God se lojale knegte binnekort buite sy bereik sal wees. Ons lewe dus beslis nou in ’n tyd waarin ons geestelik waaksaam moet bly wat Satan se pogings betref.

Hulpmiddele om geestelik waaksaam te bly

Die apostel Petrus het God se profetiese woord beskryf as “’n lamp wat in ’n donker plek skyn”, want dit help Christene om die vervulling van God se voorneme met insig te aanskou (2 Petrus 1:19-21). Diegene wat ’n liefde vir God se Woord opbou en deurgaans daardeur gelei word, vind dat Jehovah hulle paaie reguit sal maak (Spreuke 3:5, 6). Hierdie waarderende mense, wat met hoop vervul is, “[roep] met vreugde [uit] weens die goeie toestand van die hart”, terwyl diegene wat Jehovah nie ken nie of sy weg verlaat, uiteindelik “pyn in die hart” en “verbreking van gees” ervaar (Jesaja 65:13, 14). Deur ywerige Bybelstudie en die toepassing van wat ons leer, kan ons derhalwe ons oë gefokus hou op ons vaste hoop in plaas van op die vlietende genietinge van die teenswoordige stelsel van dinge.

Gebed is ook noodsaaklik as ons geestelik wakker wil bly. Toe Jesus oor die einde van die teenswoordige stelsel gepraat het, het hy gesê: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). Let op Jesus se gebruik van die woord “smeekbedes”, wat ’n intense vorm van gebed is. Jesus het geweet dat ewige lewe in hierdie kritieke tyd op die spel sou wees. Weerspieël jou gebede jou brandende begeerte om geestelik wawyd wakker te bly?

Ons moenie vergeet dat die laaste deel van die reis na ons erfenis die gevaarlikste deel kan wees nie. Dit is dus baie belangrik dat ons ons oog gevestig hou op die lig wat tot ons redding kan lei.

Wees op jou hoede vir valse ligte

In die dae van seilskepe het gewetenlose manne wat gewoonlik op maanlose nagte toegeslaan het wanneer dit vir matrose moeilik was om die strand te sien, ’n besondere gevaar ingehou. Hierdie manne het ligte langs gevaarlike dele van die kus geplaas om skeepskapteins te mislei sodat hulle van rigting sou verander. Die gevolge vir dié wat mislei is, was moontlik dat hulle skip op die rotse geloop het, dat hulle van hulle vrag beroof is en dat mense hulle lewe verloor het.

Net so wil Satan, die bedrieglike “engel van lig”, God se knegte van hulle verhouding met Hom beroof. Die Duiwel gebruik dalk “valse apostels” en afvallige “bedienaars van regverdigheid” om mense wat nie op hulle hoede is nie, te bedrieg (2 Korintiërs 11:13-15). Maar net soos ’n waaksame, ervare kaptein en sy bemanning nie maklik deur bedrieglike ligte mislei is nie, word Christene “wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”, nie mislei deur diegene wat valse leringe en skadelike filosofieë bevorder nie.—Hebreërs 5:14; Openbaring 2:2.

Seevaarders het ’n lys by hulle gehad van die vuurtorings wat hulle op hulle reis sou teëkom. Die lys het die kenmerke van elke vuurtoring uiteengesit, onder andere sy unieke sein. The World Book Encyclopedia sê: “Seevaarders stel vas watter vuurtoring hulle sien—en waar hulle hulle dus bevind—deur die kenmerke van ’n vuurtoring waar te neem en ’n vuurtoringlys na te gaan.” Net so help God se Woord opregtes van hart om ware aanbidding en diegene wat dit beoefen, uit te ken, veral gedurende hierdie laaste dae wanneer Jehovah dit ver bo valse godsdiens verhef het (Jesaja 2:2, 3; Maleagi 3:18). Jesaja 60:2, 3 tref ’n skerp teenstelling tussen ware en valse aanbidding en sê: “Duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe; maar oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word. En nasies sal beslis na jou lig kom, en konings na die glans van jou skynsel.”

Terwyl miljoene uit al die nasies voortgaan om deur Jehovah se lig gerig te word, sal hulle nie hulle geloof sien skipbreuk ly gedurende hierdie laaste deel van hulle reis nie. Hulle sal eerder hulle weg veilig deur die oorblywende dae van die teenswoordige stelsel van dinge vind, tot in die vreedsame hawe van die nuwe wêreld.

[Voetnoot]

a Die Skrif gebruik “lig” op verskeie simboliese of figuurlike maniere. Byvoorbeeld, die Bybel assosieer God met lig (Psalm 104:1, 2; 1 Johannes 1:5). Geestelike verligting uit God se Woord word vergelyk met lig (Jesaja 2:3-5; 2 Korintiërs 4:6). Gedurende sy bediening op aarde was Jesus ’n lig (Johannes 8:12; 9:5; 12:35). En Jesus se volgelinge is beveel om hulle lig te laat skyn.—Matteus 5:14, 16.

[Prent op bladsy 15]

Soos seevaarders is Christene versigtig om nie deur valse ligte mislei te word nie