Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoor die innerlike stem

Hoor die innerlike stem

Hoor die innerlike stem

“Mense van die nasies, wat [nie God se] wet het nie, [doen] van nature die dinge van die wet.”—ROMEINE 2:14.

1, 2. (a) Hoe het talle mense al in belang van ander opgetree? (b) Watter skriftuurlike voorbeelde lig belangstelling in ander toe?

 ’N 20-JARIGE man het op die platform van ’n moltreinstasie ’n epileptiese aanval gehad en op die spoor geval. ’n Bystander wat dit gesien het, het sy dogters se hande gelos en van die platform afgespring. Hy het die epilepsielyer tot in ’n sloot tussen die spoorlyne gesleep en die man probeer beskerm teen die trein wat knersend bo hulle tot stilstand gekom het. Party sal die redder ’n held noem, maar hy het gesê: “’n Mens moet doen wat reg is. Ek het dit uit goedhartigheid gedoen. Nie omdat ek erkenning of roem wou hê nie.”

2 Jy ken dalk iemand wat hom aan gevaar blootgestel het om ander te help. Baie het dit gedurende die Tweede Wêreldoorlog gedoen deur vreemdelinge te versteek. Dink ook aan die ondervinding van die apostel Paulus en die 275 ander wat by Malta, naby Sisilië, skipbreuk gely het. Die plaaslike mense het hierdie vreemdelinge te hulp gekom en “buitengewone mensliewendheid” aan hulle betoon (Handelinge 27:27–28:2). Of wat van die Israelitiese meisie wat, hoewel sy nie haar lewe gewaag het nie, vriendelike besorgdheid getoon het oor die welsyn van een van haar Siriese gevangenemers? (2 Konings 5:1-4). En dink aan Jesus se bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan. ’n Priester en ’n Leviet het ’n mede-Jood wat halfdood langs die pad gelê het, geïgnoreer, maar ’n Samaritaan het uit sy pad gegaan om hom te help. Hierdie gelykenis het deur die eeue heen die harte van mense in baie kulture geraak.—Lukas 10:29-37.

3, 4. Kan die algemeenheid van altruïstiese gevoelens met die evolusieteorie vereenselwig word?

3 Ons lewe weliswaar in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”; baie mense is “wreedaardig” en “sonder liefde vir die goeie” (2 Timoteus 3:1-3). Maar het ons nie al weldade gesien, miskien persoonlik daarby baat gevind nie? Die neiging om ander te help, selfs al verg dit opofferings, is so algemeen dat party dit “menslikheid” noem.

4 Hierdie bereidwilligheid om te help, selfs al verg dit opofferings, word in alle rasse en kulture gesien, en dit weerlê die bewering dat die mens geëvolueer het volgens die wet van die oerwoud, “die oorlewing van die sterkste”. Francis S. Collins, ’n genetikus wat aan die hoof gestaan het van die Amerikaanse regering se poging om die menslike genoom (DNS) te ontsyfer, het gesê: “Onselfsugtige altruïsme bied die evolusionis ’n groot uitdaging. . . . Dit kan nie verklaar word deur die drang van individuele selfsugtige gene om hulle voortbestaan te verseker nie.” Hy het ook gesê: “Party mense gee op selfopofferende wyse van hulleself aan dié wat buite hulle groep is en met wie hulle absoluut niks in gemeen het nie. . . . Dit lyk nie of dít deur ’n Darwinistiese teorie verklaar kan word nie.”

“Die stem van die gewete”

5. Wat is al dikwels in mense opgemerk?

5 Dr. Collins wys op een aspek van ons altruïsme: “Die stem van die gewete wat ons aanspoor om ander te help al hou dit geen persoonlike voordeel in nie.” a Sy vermelding van “die gewete” laat ons moontlik dink aan ’n feit wat die apostel Paulus beklemtoon het: “Wanneer mense van die nasies, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is juis hulle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle eie gedagtes hulle onderling beskuldig of selfs verontskuldig.”—Romeine 2:14, 15.

6. Waarom is alle mense aanspreeklik teenoor die Skepper?

6 In sy brief aan die Romeine het Paulus getoon dat die mens aanspreeklik is teenoor God omdat Sy bestaan en eienskappe duidelik in die sigbare dinge gesien kan word. Dit is “van die wêreld se skepping af” die geval (Romeine 1:18-20; Psalm 19:1-4). Baie mense ignoreer weliswaar hulle Skepper en volg ’n losbandige weg. Maar God se wil is dat mense sy regverdigheid moet erken en berou moet toon oor slegte gebruike (Romeine 1:22–2:6). Die Jode het ’n dwingende rede gehad om dit te doen—hulle het God se Wet deur Moses ontvang. Maar selfs volke wat nie “die heilige verklarings van God” gehad het nie, moes eintlik besef het dat God bestaan.—Romeine 2:8-13; 3:2.

7, 8. Hoe algemeen is die sin vir regverdigheid, en waarop dui dit?

7 ’n Grondige rede waarom almal God moet erken en dienooreenkomstig moet optree, is hulle innerlike sin vir reg en verkeerd. Ons sin vir regverdigheid is ’n aanduiding dat ons ’n gewete het. Stel jou die volgende toneel voor: ’n Paar kindertjies wag hulle beurt af om op ’n swaai te ry. Dan druk een van die kinders voor in en ignoreer dié wat wag. Baie sê: ‘Dis nie regverdig nie!’ Vra jou nou af: ‘Waarom toon selfs baie kinders spontaan dat hulle ’n sin vir regverdigheid het?’ Die feit dat hulle dit doen, weerspieël hulle innerlike sedelikheidsgevoel. Paulus het geskryf: “Wanneer mense van die nasies, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen.” Hy het nie gesê: ‘As mense ooit’, asof dit iets is wat selde gebeur nie. Hy het gesê “wanneer”, wat aandui dat dit dikwels gebeur. Dit wil sê, mense “[doen] van nature die dinge van die wet”, wat beteken dat hulle deur hulle innerlike sedelikheidsgevoel beweeg word om op te tree in ooreenstemming met wat ons in God se geskrewe wet lees.

8 Hierdie sedelike neiging is al in baie lande opgemerk. ’n Professor van die Universiteit van Cambridge het gesê dat die standaarde van die Babiloniërs, Egiptenare en Grieke sowel as die Australiese Aborigines en die Indiane “onderdrukking, moord, verraad en leuens veroordeel het en dieselfde gebooie oor goedhartigheid teenoor die bejaardes, jonges en swakkes” bevat het. En dr. Collins het geskryf: “Daar is blykbaar ’n universele begrip van reg en verkeerd onder alle lede van die menseras.” Laat dit jou nie aan Romeine 2:14 dink nie?

Jou gewete—Hoe werk dit?

9. Wat is die gewete, en hoe kan dit jou help voordat jy optree?

9 Die Bybel toon dat die gewete ’n innerlike vermoë is om na jou dade te kyk en dit te beoordeel. Dit is asof ’n innerlike stem vir jou sê of ’n weg reg of verkeerd is. Paulus het hierdie stem in hom gemeld: “My gewete [getuig] saam met my . . . in heilige gees” (Romeine 9:1). Byvoorbeeld, hierdie stem praat dalk vooraf terwyl jy dit nog oorweeg of jy iets gaan doen wat sedelike implikasies inhou. Jou gewete kan jou help om iets wat jy in die toekoms wil doen, te beoordeel en kan jou ’n aanduiding gee van hoe jy sal voel nadat jy dit gedoen het.

10. Hoe speel die gewete dikwels ’n rol?

10 Jou gewete speel meer dikwels ’n rol nadat jy iets gedoen het. Toe Dawid vir koning Saul gevlug het, het hy die geleentheid gekry om iets oneerbiedigs teenoor God se gesalfde koning te doen, en hy het dit gedoen. Agterna “het Dawid se hart hom bly slaan” (1 Samuel 24:1-5; Psalm 32:3, 5). Die woord “gewete” word nie in hierdie verslag gebruik nie; maar dit is wat Dawid ervaar het—die reaksie van sy gewete. Ons almal het al sulke gewetenswroeging gehad. Ons het iets gedoen, en toe het ons ongemaklik gevoel, ontsteld oor wat ons gedoen het. Party mense wat nie hulle belasting betaal het nie, is in so ’n mate deur hulle gewete gepla dat hulle later hulle skuld betaal het. Ander is beweeg om aan hulle huweliksmaat te erken dat hulle gesondig het deur egbreuk te pleeg (Hebreërs 13:4). Wanneer ’n mens in ooreenstemming met die gewete optree, kan dit egter ’n gevoel van tevredenheid asook gemoedsrus tot gevolg hê.

11. Waarom kan dit gevaarlik wees om jou maar net ‘deur jou gewete te laat lei’? Lig toe.

11 Kan ons ons dan maar net ‘deur ons gewete laat lei’? Wel, dit is goed dat ons na ons gewete luister, maar die boodskap wat dit oordra, kan ons grootliks mislei. Ja, die stem van “die mens wat ons innerlik is”, kan ons die verkeerde leiding gee (2 Korintiërs 4:16). Beskou ’n voorbeeld. Die Bybel praat van Stefanus, ’n vroom volgeling van Christus wat “vol guns en krag” was. ’n Groep Jode het Stefanus buite Jerusalem uitgewerp en hom gestenig. Saulus (wat later die apostel Paulus geword het) het daar naby gestaan en “die moord op [Stefanus] goedgekeur”. Daardie Jode was blykbaar so oortuig daarvan dat hulle reg optree dat hulle gewete hulle nie gepla het nie. Dit was ongetwyfeld ook die geval met Saulus, want daarna het hy “nog steeds dreiging en moord teen die dissipels van die Here geblaas”. Dit is duidelik dat sy gewete nie toe met ’n akkurate stem gespreek het nie.—Handelinge 6:8; 7:57–8:1; 9:1.

12. Wat is een manier waarop ons gewete beïnvloed kan word?

12 Wat kon Saulus se gewete beïnvloed het? Een faktor kon sy noue omgang met ander gewees het. Baie van ons het al oor die telefoon met ’n man gepraat wie se stem baie soos sy pa s’n klink. Die klankkleur van die seun se stem is moontlik in sekere mate oorgeërf, maar hy is dalk ook deur sy pa se spraakpatrone beïnvloed. Net so is Saulus miskien ook beïnvloed deur noue omgang met Jode wat Jesus gehaat en sy leringe teëgestaan het (Johannes 11:47-50; 18:14; Handelinge 5:27, 28, 33). Ja, Saulus se metgeselle het moontlik ’n invloed gehad op die stem wat hy binne hom gehoor het, sy gewete.

13. Hoe kan iemand se milieu sy gewete beïnvloed?

13 Die gewete kan ook gevorm word deur die algemene kultuur of milieu waarin ’n mens lewe, net soos iemand se omgewing kan veroorsaak dat hy met ’n aksent of ’n sekere dialek praat (Matteus 26:73). Dit het ongetwyfeld met die eertydse Assiriërs gebeur. Hulle was bekend vir hulle militarisme, en hulle reliëfs beeld uit hoe hulle gevangenes gemartel het (Nahum 2:11, 12; 3:1). Die Nineviete van Jona se dag word beskryf as mense wat nie “die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand” geken het nie. Dit wil sê, hulle het nie ’n juiste standaard gehad om te bepaal wat reg of verkeerd vanuit God se standpunt is nie. Dink net watter invloed daardie milieu kon gehad het op die gewete van iemand wat in Nineve grootgeword het! (Jona 3:4, 5; 4:11). Net so kan ’n persoon se gewete vandag beïnvloed word deur die gesindheid van die mense om hom.

Verbeter die innerlike stem

14. Hoe weerspieël ons gewete wat Genesis 1:27 sê?

14 Jehovah het Adam en Eva die gawe van die gewete gegee, en ons het ons gewete van hulle geërf. Genesis 1:27 sê vir ons dat mense na God se beeld gemaak is. Dit beteken nie dat ons na God se fisiese gedaante gemaak is nie, want hy is ’n gees en ons is vlees. Ons is na God se beeld gemaak in die sin dat ons sy eienskappe het, insluitende ’n sedelikheidsgevoel met ’n werkende gewete. Hierdie feit bied ’n leidraad tot een van die maniere waarop ons ons gewete kan versterk en sodoende betroubaarder kan maak. Dit is om meer van die Skepper te leer en nader aan hom te kom.

15. Wat is een manier waarop ons daarby kan baat vind om ons Vader te leer ken?

15 Die Bybel toon dat Jehovah in sekere sin ’n Vader vir ons almal is (Jesaja 64:8). Getroue Christene, hetsy hulle die hoop koester om in die hemel te wees of om op ’n aardse paradys te lewe, mag God as Vader aanspreek (Matteus 6:9). Ons moet altyd die begeerte hê om nader aan ons Vader te kom en sodoende sy beskouings en standaarde ons eie te maak (Jakobus 4:8). Baie stel glad nie daarin belang om dit te doen nie. Hulle is soos die Jode vir wie Jesus gesê het: “Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie; en sy woord bly nie in julle nie” (Johannes 5:37, 38). Ons het nie God se stem as sodanig gehoor nie, maar ons kan sy woord in ons hê en sodoende soos hy word en soos hy voel.

16. Wat lig die verslag oor Josef toe omtrent hoe ons ons gewete moet oplei en daarop moet reageer?

16 Die verslag oor Josef in Potifar se huis lig dit toe. Potifar se vrou het Josef probeer verlei. Hoewel hy in ’n tyd gelewe het toe nog geen Bybelboek geskryf is nie en die Tien Gebooie nog nie gegee is nie, het Josef gereageer deur te sê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” (Genesis 39:9). Hy het nie so gereageer net om sy familie gelukkig te maak nie; hulle het ver weg gewoon. Hy wou hoofsaaklik God behaag. Josef het geweet wat God se standaard vir die huwelik is—een man vir een vrou en dat die twee “een vlees” moet wees. En hy het waarskynlik gehoor hoe Abimeleg gevoel het toe hy uitgevind het dat Rebekka getroud is—dat dit verkeerd sou wees om haar te neem en dat dit sonde oor sy volk sou bring. En, ja, Jehovah het die uiteinde van daardie situasie geseën, wat toon hoe hy oor egbreuk voel. Josef se kennis van al hierdie gebeure het waarskynlik die prikkels van sy oorgeërfde gewete versterk en hom beweeg om onsedelikheid te verwerp.—Genesis 2:24; 12:17-19; 20:1-18; 26:7-14.

17. Waarom is ons in ’n beter posisie as Josef om soos ons Vader te wees?

17 Ons is vandag natuurlik in ’n beter posisie. Ons het die hele Bybel waaruit ons ons Vader se denke en gevoelens kan leer, onder andere wat hy goedkeur en wat hy verbied. Hoe meer ons ons in die Skrif verdiep, hoe nader kan ons aan God kom en hoe meer kan ons soos hy wees. Wanneer ons dit doen, sal die prikkels van ons gewete waarskynlik al hoe nader aan ons Vader se denke kom. Dit sal al hoe meer met sy wil ooreenstem.—Efesiërs 5:1-5.

18. Wat kan ons doen om ons gewete betroubaarder te maak, ondanks moontlike invloede van die verlede?

18 Wat van die invloed van ons milieu op ons gewete? Ons is moontlik beïnvloed deur die denke en dade van ons familielede en die algemene milieu waarin ons grootgeword het. Gevolglik was die boodskap van ons gewete dalk onduidelik of verdraaid. Dit het met die “aksent” van ander om ons gepraat. Ons kan weliswaar nie ons verlede verander nie; maar ons kan vasbeslote wees om metgeselle en ’n milieu te kies wat ons gewete ten goede sal beïnvloed. ’n Belangrike stap is om gereeld te assosieer met toegewyde Christene wat al ’n geruime tyd probeer om soos hulle Vader te wees. Gemeentelike vergaderinge, sowel as assosiasie voor en ná die vergaderinge, bied uitstekende geleenthede hiervoor. Ons kan let op die Bybelse denke en reaksies van mede-Christene, onder andere hulle bereidwilligheid om te luister wanneer die stem van hulle gewete met God se beskouing en weë ooreenstem. Met verloop van tyd kan dit ons help om ons gewete in ooreenstemming met Bybelbeginsels te bring, wat ons nader aan God se beeld sal laat kom. Wanneer ons ons innerlike stem op ons Vader se beginsels instel en die goeie invloed van mede-Christene op ons laat inwerk, sal ons gewete betroubaarder wees en sal ons meer geneig wees om te luister na wat dit sê.—Jesaja 30:21.

19. Watter aspekte van die gewete verdien nog aandag?

19 Party sukkel nietemin om elke dag na hulle gewete te luister. Die volgende artikel sal ’n paar situasies bespreek waarvoor Christene al te staan gekom het. Deur hierdie situasies te beskou, kan ons ’n duideliker beeld kry van watter rol die gewete speel, waarom gewetens verskil en hoe ons al hoe meer na die stem van ons gewete kan luister.—Hebreërs 6:11, 12.

[Voetnoot]

a Owen Gingerich, ’n navorsingsprofessor in astronomie aan die Harvard-universiteit, het eweneens geskryf: “Altruïsme skep inderdaad ’n vraag sonder . . . ’n wetenskaplike antwoord wat deur waarneming van die diereryk verkry kan word. Heel moontlik lê die oortuigender antwoord in ’n ander arena en het dit te doen met daardie godgegewe eienskappe van menslikheid wat die gewete insluit.”

Wat het jy geleer?

• Waarom is daar ’n sin vir reg en verkeerd, of ’n gewete, in alle kulture gevind?

• Waarom moet ons versigtig wees om ons maar net deur ons gewete te laat lei?

• Wat is ’n paar maniere waarop ons die stem wat ons binne ons hoor, kan verbeter?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23]

Dawid se gewete het hom gepla . . . 

maar dit was nie die geval met Saulus van Tarsus nie

[Prent op bladsy 24]

Ons kan ons gewete oplei