Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe met môre in gedagte

Lewe met môre in gedagte

Lewe met môre in gedagte

“KWEL julle . . . nie oor môre nie”, het Jesus Christus in ’n beroemde toespraak teen ’n berghelling in Galilea gesê. Volgens die Ou Afrikaanse Bybelvertaling het Jesus verder gesê: “Môre sal hom oor sy eie dinge kwel.”—Matteus 6:34.

Wat dink jy word bedoel met hierdie woorde: “Môre sal hom oor sy eie dinge kwel”? Gee dit te kenne dat jy net vir vandag moet lewe en môre moet ignoreer? Strook dit werklik met wat Jesus en sy volgelinge geglo het?

“Hou op om julle te kwel”

Lees self Jesus se woorde in hulle geheel soos dit in Matteus 6:25-32 opgeteken is. Hy het onder andere gesê: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. . . . Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. . . . Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg? Ook wat klere betref, waarom kwel julle julle? Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie . . . Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”

Jesus sluit hierdie deel van sy toespraak af met die volgende raad. Eerstens: “Hou dan aan om eers [God se] koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” Tweedens: “Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”—Matteus 6:33, 34.

Julle Vader weet wat julle nodig het

Dink jy dat Jesus sy dissipels, insluitende boere, afgeraai het om ‘te saai, te oes of hulle opbrengs in voorraadskure bymekaar te maak’? Of om ‘te swoeg en te spin’ ten einde die klere te kry wat hulle nodig gehad het? (Spreuke 21:5; 24:30-34; Prediker 11:4). Beslis nie. As hulle ophou werk het, sou hulle tien teen een “in die oestyd [moes] bedel”, met niks om te eet of te dra nie.—Spreuke 20:4.

Wat van kwellinge? Het Jesus bedoel dat sy gehoor geen kwellinge sou hê nie? Dit sou onrealisties wees. Jesus self het groot angs ervaar die nag toe hy in hegtenis geneem is.—Lukas 22:44.

Jesus het bloot ’n grondwaarheid gemeld. Om jou oormatig te kwel, sal jou nooit help om jou probleme op te los nie. Dit sal jou byvoorbeeld nie help om langer te lewe nie. Dit sal nie “een el by [jou] lewensduur voeg” nie, het Jesus gesê (Matteus 6:27). Trouens, intense, langdurige kwellinge sal jou lewe eerder verkort.

Sy raad was uiters prakties. Baie van die dinge waaroor ons ons bekommer, gebeur in elk geval nooit nie. Die Britse staatsman Winston Churchill het dit besef aangaande die donker dae van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het oor party van die kwellinge wat hy destyds gehad het, geskryf: “Wanneer ek terugdink aan al daardie bekommernisse, onthou ek die verhaal van die ou man wat op sy sterfbed gesê het dat hy baie moeilikhede in sy lewe gehad het, waarvan die meeste nooit plaasgevind het nie.” Ja, dit is wys om elke dag te neem soos dit kom, veral wanneer die druk en probleme waarvoor ons te staan kom, maklik groot kwellinge by ons kan wek.

‘Hou aan om eers God se koninkryk te soek’

Jesus het in werklikheid veel meer as net sy toehoorders se fisiese en emosionele welsyn in gedagte gehad. Hy het geweet dat kwellinge oor die verkryging van lewensbenodigdhede, sowel as ’n oorweldigende begeerte na besittings en plesier, die belangriker dinge kan verdring (Filippense 1:10). ‘Wat kan belangriker wees as om lewensbenodigdhede te verkry?’ wonder jy dalk. Die antwoord is geestelike dinge wat verband hou met ons aanbidding van God. Jesus het beklemtoon dat die belangrikste saak in ons lewe moet wees om ‘aan te hou om eers God se koninkryk en sy regverdigheid te soek’.—Matteus 6:33.

In Jesus se dag het baie mense materiële dinge gretig nagejaag. Die belangrikste vir hulle was om rykdom te vergaar. Jesus het sy toehoorders egter aangespoor om ’n ander uitkyk te hê. As mense wat aan God toegewy was, was hulle “hele verpligting” om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou’.—Prediker 12:13.

Beheptheid met materiële dinge—“die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom”—kon sy toehoorders geestelik vernietig het (Matteus 13:22). “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees”, het die apostel Paulus geskryf, “val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort” (1 Timoteus 6:9). Om sy volgelinge te help om hierdie “strik” te vermy, het Jesus hulle daaraan herinner dat hulle hemelse Vader weet dat hulle al hierdie dinge nodig het. God sou vir hulle sorg net soos hy vir “die voëls van die hemel” sorg (Matteus 6:26, 32). In plaas van toe te laat dat kwellinge hulle oorweldig, moes hulle doen wat hulle kon en sake dan vol vertroue in Jehovah se hande laat.—Filippense 4:6, 7.

Toe Jesus gesê het “môre sal hom oor sy eie dinge kwel”, het hy eenvoudig bedoel dat ons nie moet toelaat dat oormatige kwellinge oor wat môre kan gebeur, bydra tot die probleme wat ons vandag het nie. ’n Ander Bybelvertaling stel sy woorde so: “Moenie bekommerd wees oor môre nie; dit sal genoeg van sy eie bekommernisse hê. Dit is nie nodig om by te voeg by die probleme wat elke dag bring nie.”—Matteus 6:34, Today’s English Version.

“Laat u koninkryk kom”

Om nie oormatig bekommerd te wees oor môre nie, beteken egter beslis nie dat ’n mens dit heeltemal moet ignoreer nie. Jesus het sy dissipels nooit aangespoor om môre te ignoreer nie. Inteendeel, hy het hulle aangemoedig om intens belang te stel in die toekoms. Hulle moes tereg bid vir hulle onmiddellike behoeftes—hulle daaglikse brood. Maar hulle moes eers bid vir dinge wat nog toekomstig was—vir God se Koninkryk om te kom en vir God se wil om op die aarde te geskied.—Matteus 6:9-11.

Ons moenie wees soos die mense van Noag se dag nie. “Hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee”, en hulle was so besig met hierdie dinge dat hulle “geen ag . . . geslaan” het op wat weldra sou gebeur nie. Met watter gevolg? “Die vloed [het] gekom en hulle almal weggesleur” (Matteus 24:36-42). Die apostel Petrus het hierdie geskiedkundige gebeurtenis gebruik om ons te herinner aan die belangrikheid daarvan om te lewe met môre in gedagte. “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word”, het hy geskryf, “watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!”—2 Petrus 3:5-7, 11, 12.

Gaar skatte in die hemel op

Ja, laat ons die dag van Jehovah “goed in gedagte hou”. Dit sal ’n groot invloed hê op hoe ons ons tyd, energie, talente, middele en vermoëns gebruik. Ons moenie so behep wees met die najaging van materiële dinge—hetsy lewensbenodigdhede of plesier in die lewe—dat ons min tyd oorhet vir dade wat “godvrugtige toegewydheid” weerspieël nie. Dit lyk miskien of dit onmiddellik resultate oplewer as ons net op vandag konsentreer, maar dit sal hoogstens korttermynvoordele wees. Jesus het gesê dat dit baie verstandiger is om eerder vir ons “skatte in die hemel op [te gaar]” as op die aarde.—Matteus 6:19, 20.

Jesus het hierdie punt beklemtoon in sy illustrasie van ’n man wat groot planne vir die toekoms gemaak het. Hierdie planne het God nie ingesluit nie. Die man se land het ’n goeie opbrengs gelewer. Hy het besluit om sy voorraadskure af te breek en groteres te bou sodat hy kon ontspan, eet, drink en vrolik wees. Wat was verkeerd daarmee? Hy het gesterf voordat hy die vrug van sy arbeid kon geniet. Maar nog erger, hy het nie ’n verhouding met God opgebou nie. Jesus het afgesluit: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:15-21; Spreuke 19:21.

Wat kan jy doen?

Moenie dieselfde fout maak as die man wat Jesus beskryf het nie. Vind uit wat God se voorneme vir môre is, en bou jou lewe daarop. God het mense nie in die duister gelaat oor wat hy sal doen nie. “Die Soewereine Heer Jehovah”, het die eertydse profeet Amos geskryf, “sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Wat Jehovah deur sy profete geopenbaar het, is nou vir jou beskikbaar in sy geïnspireerde Woord, die Bybel.—2 Timoteus 3:16, 17.

Die Bybel openbaar byvoorbeeld dat daar in die nabye toekoms iets gaan plaasvind wat die hele aarde op ’n ongeëwenaarde skaal gaan raak. Jesus het gesê: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie” (Matteus 24:21). Geen mens kan hierdie gebeurtenis keer nie. Daar is in werklikheid geen rede waarom ware aanbidders dit sou wou keer nie. Waarom nie? Omdat hierdie gebeurtenis die aarde van alle boosheid sal verlos, en dit sal “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” inlui, oftewel ’n nuwe hemelse regering en ’n nuwe aardse gemeenskap. In daardie nuwe wêreld sal God “elke traan van [mense se] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:1-4.

Maak dit dan nie sin om nou tyd in te ruim om te ondersoek wat die Bybel oor hierdie verwikkeling sê nie? Het jy hulp nodig om dit te doen? Vra Jehovah se Getuies gerus om jou te help. Of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif. Doen alles in jou vermoë om seker te maak dat jy nie net vir vandag lewe nie, maar ook vir ’n wonderlike môre.

[Prente op bladsy 7]

“Hou op om julle te kwel . . . Die volgende dag sal sy eie sorge hê”