Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Luister na jou gewete

Luister na jou gewete

Luister na jou gewete

“Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie.”—TITUS 1:15.

1. Hoe was Paulus betrokke by die gemeentes op Kreta?

 NADAT die apostel Paulus drie sendingreise voltooi het, is hy in hegtenis geneem en uiteindelik na Rome gestuur, waar hy twee jaar lank in aanhouding was. Wat het hy gedoen toe hy vrygelaat is? Op die een of ander stadium het hy die eiland Kreta saam met Titus besoek, aan wie Paulus geskryf het: “Ek [het] jou in Kreta agtergelaat, dat jy die dinge wat gebrekkig was, sou regstel en . . . ouer manne sou aanstel” (Titus 1:5). Mense se gewetens was betrokke by hierdie toewysing wat Titus moes uitvoer.

2. Met watter probleem het Titus op die eiland Kreta te kampe gehad?

2 Paulus het Titus ingelig oor die vereistes vir gemeentelike ouer manne en het toe daarop gewys dat daar “talle weerbarstiges, onsinpraters en bedrieërs van die verstand” was. Hulle het “hele huisgesinne . . . ondermyn deur . . . dinge te leer wat hulle nie behoort te leer nie”. Titus moes ‘aanhou om hulle tereg te wys’ (Titus 1:10-14; 1 Timoteus 4:7). Paulus het gesê dat hulle verstand en gewete “verontreinig” was, en hy het ’n woord gebruik wat gevlek beteken, soos wanneer ’n mooi kledingstuk deur kleurstof gevlek is (Titus 1:15). Party van daardie mense het moontlik ’n Joodse agtergrond gehad, want hulle ‘het aan die besnydenis vasgehou’. Gemeentes word nie vandag ondermyn deur mense met dié spesifieke beskouing nie; ons kan nietemin baie oor die gewete leer uit die raad wat Paulus aan Titus gegee het.

Dié met ’n verontreinigde gewete

3. Wat het Paulus oor die gewete aan Titus geskryf?

3 Let op die agtergrond waarteen Paulus die gewete gemeld het. “Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is verontreinig. Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.” Dit is duidelik dat party mense van daardie tyd veranderinge moes maak sodat hulle “gesond in die geloof” kon wees (Titus 1:13, 15, 16). Hulle het gesukkel om te onderskei tussen wat rein en wat onrein was, en dit het verband gehou met hulle gewete.

4, 5. Watter tekortkoming het party in die gemeentes gehad, en watter uitwerking het dit op hulle gehad?

4 Meer as tien jaar vroeër het die Christenbestuursliggaam beslis dat besnydenis nie meer ’n vereiste was om ’n ware aanbidder te word nie, en hulle het die gemeentes dienooreenkomstig ingelig (Handelinge 15:1, 2, 19-29). Maar party op Kreta het nog ‘aan die besnydenis vasgehou’. Hulle het openlik van die bestuursliggaam verskil en ‘dinge geleer wat hulle nie behoort te geleer het nie’ (Titus 1:10, 11). As gevolg van verdraaide denke het hulle moontlik voorskrifte van die Wet oor voedsel en rituele reinheid voorgestaan. Hulle het dalk selfs verder gegaan as wat die Wet gesê het, net soos hulle voorgangers in Jesus se dag gedoen het, asook Joodse fabels en gebooie van mense voorgestaan.—Markus 7:2, 3, 5, 15; 1 Timoteus 4:3.

5 Hierdie denke het ’n negatiewe invloed gehad op hulle oordeel en sedelikheidsgevoel, hulle gewete. Paulus het geskryf: “Vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie.” Hulle gewete is in so ’n mate aangetas dat dit nie meer betroubare leiding vir hulle dade en menings voorsien het nie. Daarbenewens het hulle mede-Christene in verband met persoonlike sake geoordeel, sake waaroor Christene dalk verskillende besluite sal neem. In hierdie opsig het hierdie Kretensers dinge wat in werklikheid nie onrein was nie, as onrein beskou (Romeine 14:17; Kolossense 2:16). Terwyl hulle verkondig het dat hulle God ken, het hulle deur hulle werke die teenoorgestelde bewys.—Titus 1:16.

“Rein vir die reines”

6. Watter twee soorte mense het Paulus gemeld?

6 Hoe kan ons baat vind by wat Paulus aan Titus geskryf het? Wel, let op die teenstelling in hierdie verklaring: “Alles is rein vir die reines. Maar vir die verontreinigdes en ongelowiges is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is verontreinig” (Titus 1:15). Paulus het beslis nie gesê dat absoluut alles rein en toelaatbaar is vir ’n sedelik rein Christen nie. Ons kan seker wees hiervan, want in ’n ander brief het Paulus dit duidelik gestel dat iemand wat hoerery, afgodediens, spiritisme, ensovoorts beoefen, “God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom dat Paulus ’n algemene waarheid oor twee soorte mense genoem het, dié wat sedelik en geestelik rein is en dié wat dit nie is nie.

7. Wat word in Hebreërs 13:4 verbied, maar watter vraag kan ontstaan?

7 Die dinge wat ’n opregte Christen moet vermy, is nie beperk tot die dinge wat die Bybel uitdruklik verbied nie. Beskou byvoorbeeld hierdie reguit verklaring: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Selfs nie-Christene en mense wat niks van die Bybel weet nie, sal tereg tot die slotsom kom dat hierdie vers egbreuk verbied. Dit is duidelik uit hierdie en ander Bybelgedeeltes dat God geslagsomgang tussen ’n getroude man of vrou en iemand anders as die persoon se wettige man of vrou veroordeel. Maar wat van twee ongetroude mense wat hulle aan orale seks skuldig maak? Baie tieners beweer dat hierdie gebruik onskadelik is omdat dit nie geslagsomgang is nie. Kan ’n Christen orale seks as rein beskou?

8. Hoe verskil Christene van baie wêreldse mense wat hulle beskouing van orale seks betref?

8 Hebreërs 13:4 en 1 Korintiërs 6:9 bevestig dat God egbreuk sowel as hoerery (Grieks, por·neiʹa) afkeur. Wat sluit laasgenoemde in? Die Griekse woord behels die gebruik van die geslagsorgane op ’n natuurlike of perverse manier, met onkuise bedoelings. Dit sluit alle vorme van ongeoorloofde geslagsomgang buite ’n skriftuurlike huwelik in. Dit sluit dus orale seks in, ondanks die feit dat baie tieners regoor die wêreld vertel is of tot die slotsom gekom het dat orale seks aanvaarbaar is. Ware Christene rig nie hulle denke en dade volgens die menings van “onsinpraters en bedrieërs van die verstand” nie (Titus 1:10). Hulle hou vas aan die hoër standaard van die Heilige Skrif. Hulle probeer orale seks nie regverdig nie, maar verstaan eerder dat dit volgens die Skrif hoerery, por·neiʹa, is, en hulle lei hulle gewete dienooreenkomstig op. aHandelinge 21:25; 1 Korintiërs 6:18; Efesiërs 5:3.

Verskillende stemme, verskillende besluite

9. Wat is die rol van die gewete as ‘alles rein is’?

9 Maar wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “Alles is rein vir die reines”? Paulus het verwys na Christene wat hulle denke en sedelikheidsgevoel in ooreenstemming gebring het met God se standaarde, wat ons in sy geïnspireerde Woord vind. Hierdie Christene besef dat daar oor baie sake wat nie regstreeks veroordeel word nie, verskillende beskouings onder gelowiges kan wees. Hulle veroordeel ander nie, maar erken eerder dinge wat God nie veroordeel nie, as “rein”. Hulle verwag nie dat almal presies soos hulle sal dink oor aspekte van die lewe waaroor die Bybel nie spesifieke riglyne gee nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

10. Hoe kan ’n troue (of ’n begrafnis) ’n uitdaging bied?

10 Daar is baie gesinne waar een huweliksmaat ’n Christen geword het en die ander nie (1 Petrus 3:1; 4:3). Dit kan verskeie uitdagings bied, soos wanneer daar ’n troue of ’n begrafnis van ’n familielid is. Stel jou die situasie voor van ’n Christenvrou wie se man nog nie soos sy glo nie. Een van sy familielede gaan trou, en die plegtigheid sal in ’n kerk van die Christendom plaasvind. (Of ’n familielid, miskien ’n ouer, het gesterf, en die begrafnis sal in ’n kerk gehou word.) Die egpaar word genooi, en hy wil hê dat sy vrou saam met hom moet gaan. Wat sê haar gewete oor die bywoning van die geleentheid? Wat sal sy doen? Stel jou hierdie twee moontlikhede voor.

11. Beskryf hoe ’n Christenvrou kan redeneer oor die vraag of sy ’n kerktroue moet bywoon, en tot watter gevolgtrekking kom sy?

11 Lois dink na oor die ernstige Bybelgebod: ‘Gaan uit Babilon die Grote uit’, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:2, 4). Sy was voorheen ’n lidmaat van die kerk waar die huwelik voltrek sal word en weet dat almal gedurende die plegtigheid gevra sal word om deel te neem aan godsdienstige dade, soos gebed, sang of godsdienstige gebare. Sy is vasbeslote om geen aandeel daaraan te hê nie en wil nie eens daar wees en onder druk geplaas word om haar onkreukbaarheid prys te gee nie. Lois respekteer haar man en wil hom, haar skriftuurlike hoof, ondersteun; maar sy wil nie haar skriftuurlike beginsels prysgee nie (Handelinge 5:29). Sy verduidelik dus taktvol aan haar man dat sy nie kan gaan nie, al besluit hy om te gaan. Sy meld dalk dat dit hom in die verleentheid kan bring as sy gaan en weier om aan die een of ander daad deel te neem; in dié opsig sal dit dus vir hom beter wees as sy nie gaan nie. Haar besluit laat haar ’n rein gewete behou.

12. Hoe kan iemand oor ’n uitnodiging na ’n kerktroue redeneer en daarop reageer?

12 Ruth bevind haar feitlik in dieselfde dilemma. Sy respekteer haar man, is vasbeslote om lojaal aan God te wees en luister na haar Bybelopgeleide gewete. Nadat Ruth nagedink het oor gedagtes soos dié wat Lois in ag geneem het, raadpleeg sy biddend die “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2002. Sy onthou dat die drie Hebreërs ’n bevel gehoorsaam het om te wees waar afgodediens sou plaasvind, en tog het hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf deur nie aan ’n daad van afgodediens deel te neem nie (Daniël 3:15-18). Sy besluit om saam met haar man te gaan, maar om nie aan enige godsdienstige dade deel te neem nie, en sy tree in ooreenstemming met haar gewete op. Sy vertel haar man taktvol maar duidelik wat haar gewete haar sal toelaat om te doen en wat sy nie kan doen nie. Ruth hoop dat hy die verskil tussen ware en valse aanbidding sal sien.—Handelinge 24:16.

13. Waarom hoef dit nie verontrustend te wees as twee Christene tot verskillende gevolgtrekkings kom nie?

13 Toon die feit dat twee Christene tot verskillende gevolgtrekkings kan kom, dat dit nie saak maak wat ’n mens doen nie of dat een van hierdie twee ’n swak gewete het? Nee. As gevolg van haar vorige ondervinding met die musiek en gebruike tydens kerkseremonies voel Lois dalk dat dit vir haar besonder gevaarlik sal wees om daar teenwoordig te wees. En haar vorige ondervindings met haar man in verband met godsdienskwessies kan haar gewete beïnvloed. Sy is dus daarvan oortuig dat haar besluit die beste vir haar is.

14. Wat moet Christene in gedagte hou met betrekking tot kwessies waaroor elkeen self moet besluit?

14 Maar sal Ruth se besluit onverstandig wees? Ander kan nie oordeel nie. Hulle moet haar nie oordeel of kritiseer omdat sy besluit om die geleentheid by te woon maar geen godsdienstige daad te verrig nie. Dink aan Paulus se raad oor persoonlike besluite om sekere kos te eet of nie te eet nie: “Laat die een wat eet, nie neersien op die een wat nie eet nie, en laat die een wat nie eet nie, die een wat eet, nie oordeel nie . . . Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer. Trouens, hy sal staande gehou word, want Jehovah kan hom staande hou” (Romeine 14:3, 4). Geen ware Christen sal ooit iemand wil aanspoor om die leiding van ’n opgeleide gewete te ignoreer nie, want om dit te doen, sal wees soos om ’n stem te ignoreer wat heel waarskynlik ’n lewensreddende boodskap oordra.

15. Waarom moet dit vir ons ’n saak van erns wees om ander se gewete en gevoelens in ag te neem?

15 Laat ons voortgaan met hierdie scenario: Albei Christene moet bykomende faktore in ag neem, waarvan een die uitwerking is wat dit op ander kan hê. Paulus het ons gemaan: “Neem . . . hierdie besluit: om ’n broer nie ’n struikelblok of iets wat hom kan laat val, in die weg te lê nie” (Romeine 14:13). Lois weet dalk dat soortgelyke situasies groot ontsteltenis in die gemeente of in haar gesin veroorsaak het, en wat sy doen, kan ’n groot uitwerking op haar kinders hê. Ruth daarenteen weet miskien dat soortgelyke keuses geen ontsteltenis in die gemeente of in die gemeenskap veroorsaak het nie. Albei vroue—en ons almal—moet besef dat ’n behoorlik opgeleide gewete in ag neem watter uitwerking besluite op ander het. Jesus het gesê: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat geloof in my stel, laat struikel, dit is vir hom voordeliger dat ’n meulsteen, soos wat deur ’n esel gedraai word, om sy nek gehang en hy in die wye, oop see gesink word” (Matteus 18:6). As ’n persoon die moontlikheid ignoreer dat hy ander kan laat struikel, kan hy sy gewete verontreinig, soos party Christene op Kreta gedoen het.

16. Watter veranderinge kan ons met verloop van tyd in ’n Christen verwag?

16 ’n Christen se geestelike ontwikkeling moet ’n volgehoue proses wees, en so ook die vooruitgang wat hy daarin maak om sy gewete te hoor en daarna te luister. Kom ons stel ons ’n pasgedoopte man voor, wat ons Mark sal noem. Sy gewete sê vir hom om onskriftuurlike gebruike te verwerp wat hy voorheen beoefen het, miskien in verband met afgode of bloed (Handelinge 21:25). Trouens, hy gaan nou uit sy pad om dinge te vermy wat selfs vaagweg ooreenkom met dinge wat God verbied. Aan die ander kant kan hy nie verstaan waarom party mense dinge verwerp wat vir hom aanvaarbaar is nie, soos sekere televisieprogramme.

17. Lig toe hoe tyd en geestelike ontwikkeling ’n Christen se gewete en besluite kan beïnvloed.

17 Mark se kennis neem mettertyd toe en hy kom nader aan God (Kolossense 1:9, 10). Met watter gevolg? Die stem in hom ontvang baie opleiding. Mark is nou meer geneig om na sy gewete te luister en om skriftuurlike beginsels te oorweeg. Trouens, hy besef dat party van die dinge wat “vaagweg ooreenkom” en wat hy verwerp het, in werklikheid nie met God se denke bots nie. En omdat hy meer ingestel is op Bybelbeginsels en bereid is om na sy goed opgeleide gewete te luister, beweeg Mark se gewete hom nou om programme te vermy wat hy vroeër gedink het aanvaarbaar is. Ja, sy gewete is verfyn.—Psalm 37:31.

18. Watter rede tot vreugde het ons?

18 In die meeste gemeentes is daar individue op al die verskillende stadiums van Christelike ontwikkeling. Party is nuut in die geloof. Hulle gewete is miskien amper heeltemal stil oor sekere kwessies, terwyl die innerlike stem hard praat oor ander. Hierdie persone het moontlik tyd en hulp nodig om ingestel te raak op Jehovah se leiding en na hulle eie opgeleide gewete te begin luister (Efesiërs 4:14, 15). Gelukkig is daar in dieselfde gemeentes waarskynlik baie wat diepgaande kennis het, asook ervaring in die toepassing van Bybelbeginsels en ’n gewete wat in noue ooreenstemming met God se denke is. Wat ’n vreugde is dit tog om te assosieer met sulke “reines” wat die dinge wat vir die Here aanneemlik is, as sedelik en geestelik “rein” beskou! (Efesiërs 5:10). Mag dit ons almal se doelwit wees om tot hierdie stadium te ontwikkel en so ’n gewete te behou in ooreenstemming met die juiste kennis van die waarheid en godvrugtige toegewydheid.—Titus 1:1.

[Voetnoot]

a Die Wagtoring van 1 Junie 1983, bladsye 28-9, bevat kommentare vir oorweging met betrekking tot egpare.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het party Christene op Kreta ’n verontreinigde gewete gehad?

• Waarom kan twee Christene met sensitiewe gewetens verskillende besluite neem?

• Wat moet met verloop van tyd met ons gewete gebeur?

[Studievrae]

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Sisilië

GRIEKELAND

Kreta

KLEIN-ASIË

Siprus

MIDDELLANDSE SEE

[Prent op bladsy 28]

Twee Christene wat in ’n soortgelyke situasie verkeer, neem moontlik verskillende besluite