Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sirakuse—Waar Paulus se reis onderbreek is

Sirakuse—Waar Paulus se reis onderbreek is

Sirakuse—Waar Paulus se reis onderbreek is

OMSTREEKS 59 G.J. het ’n skip van die Mediterreense eiland Malta af na Italië vertrek. Die vaartuig het die boegbeeld “Seuns van Zeus” gehad, die gode wat as die beskermers van seevaarders beskou is. Volgens die Bybelskrywer Lukas het die skip “die hawe van Sirakuse”, aan die suidoostelike kus van Sisilië, “binnegevaar en drie dae daar gebly” (Handelinge 28:11, 12). Aan boord saam met Lukas was Aristargus en die apostel Paulus, wat op pad was na Rome vir sy verhoor.—Handelinge 27:2.

Ons weet nie of Paulus toegelaat is om in Sirakuse aan wal te gaan nie. Indien wel, wat sou hy of sy reisgenote moontlik gesien het?

In Griekse en Romeinse tye was Sirakuse byna net so ’n vername stad soos Atene en Rome. Volgens oorlewering is dit in 734 v.G.J. deur die Korintiërs gestig. Sirakuse het glorieryke oomblikke beleef en was die geboorteplek van welbekende figure van die ou tyd, soos die toneelskrywer Epigarmos en die wiskundige Argimedes. In 212 v.G.J. het die Romeine Sirakuse verower.

’n Besoek aan die hedendaagse stad kan jou ’n idee gee van die Sirakuse van Paulus se dag. Die stad bestaan uit twee dele—een op die eilandjie Ortygia, waar Paulus se skip waarskynlik vasgemeer het, en die ander op die vasteland.

Op die eiland kan jy vandag die oorblyfsels vind van die oudste tempel in die Doriese styl in Sisilië—die tempel van Apollo, wat uit die sesde eeu v.G.J. dateer. Daar is ook pilare van ’n tempel wat aan Atena toegewy is, wat uit die vyfde eeu v.G.J. dateer, maar dit is nou deel van die katedraal.

Die hedendaagse middestad is op die vasteland, waar jy die Neapolis- argeologiese park kan besoek. Naby die ingang is die Griekse teater. Dit is een van die indrukwekkendste voorbeelde van Griekse teaterargitektuur wat behoue gebly het. Met sy uitsig oor die see het dit ’n pragtige agtergrond vir die opvoerings gebied. In die suidelikste deel van die park is die Romeinse amfiteater, wat uit die derde eeu G.J. dateer. Dit is ovaalvormig, 140 meter lank en 119 meter breed, en is die derde grootste in Italië.

As jy die geleentheid het om Sirakuse te besoek, kan jy op Ortygia op ’n bankie gaan sit wat oor die see uitkyk, jou Bybel by Handelinge 28:12 oopmaak en jou voorstel hoe die skip met die apostel Paulus aan boord die hawe hier binnegeseil het.

[Diagram/Kaart op bladsy 30]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Malta

Sisilië

Sirakuse

ITALIË

Regium

Puteoli

Rome

[Prent op bladsy 30]

Ruïnes van ’n Griekse teater in Sirakuse