Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Skepe van Kittim” bevaar die see

“Skepe van Kittim” bevaar die see

“Skepe van Kittim” bevaar die see

TALLE seegevegte het hulle al in die oostelike Middellandse See afgespeel. Probeer jou so ’n geveg voorstel wat vyf eeue voor Christus plaasgevind het. ’n Hoogs beweeglike skip wat ’n trireem genoem word, seil in volle vaart. Ongeveer 170 roeiers in drie rye bo mekaar aan weerskante van die vaartuig span hulle kragtige spiere in om te roei, terwyl hulle vorentoe en agtertoe gly op leerkussings wat aan hulle sitvlak vasgemaak is.

Die skip klief teen ’n spoed van sewe tot nege knope deur die golwe in die rigting van ’n vyandelike vaartuig. Die teikenskip probeer wegkom. Op ’n kritieke oomblik swenk hy dwars, en sy flank word blootgestel. Die trireem se stormram wat met brons oorgetrek is, breek deur die ligte romp van die ander skip. Die gekraak van brekende planke en die geluid van seewater wat by die gapende gat instroom, maak die vyandelike roeiers paniekbevange. Op die trireem storm ’n groepie swaar gewapende krygsmanne oor die lengte van die skip na die beskadigde vaartuig. Ja, party antieke skepe was voorwaar gedugte vaartuie!

Bybelstudente stel baie belang in verwysings, waarvan party profeties is, na “Kittim” en “die skepe van Kittim” (Numeri 24:24; Daniël 11:30; Jesaja 23:1). Presies waar was Kittim? Wat weet ons van sy skepe? En waarom moet die antwoorde jou interesseer?

Die Joodse geskiedskrywer Josefus het na Kittim as “Chethimos” verwys en dit met die eiland Siprus verbind. Die stad Kition (of Citium) op die suidoostelike deel van die eiland verbind Kittim ook met Siprus. Siprus, wat by die kruising van eertydse handelsroetes gelê het, was in ’n ideale posisie om baat te vind by die nabygeleë hawens aan die ooskus van die Middellandse See. Aangesien Siprus weens sy geopolitiese posisie gedwing is om kant te kies tussen strydende nasies, het dit ook ’n magtige bondgenoot of ’n lastige hindernis geword.

Die Sipriote en die see

Argeologiese bewyse uit ondersese opgrawings en grafte, asook antieke geskrifte en ontwerpe wat op erdewerk geverf is, help ons om ons die skepe van Siprus voor te stel. Die vroeë Sipriote was vaardige skeepsbouers. Hulle eiland was digbebos, en beskutte inhamme het natuurlike hawens gevorm. Bome is afgekap nie net om skepe te bou nie, maar ook vir gebruik in die smelt van koper—’n natuurlike hulpbron waarvoor Siprus in die antieke wêreld welbekend was.

Siprus se lewendige uitvoerbedryf het nie onopgemerk gebly by die Fenisiërs nie, wat kolonies al langs hulle handelsroetes gestig het. Een so ’n nedersetting was Kition, op Siprus.—Jesaja 23:10-12.

Ná die val van Tirus het van sy inwoners blykbaar na Kittim gevlug. Fenisiese koloniseerders met seevaartondervinding het waarskynlik grootliks tot die Sipriote se skeepstegnologie bygedra. Kition se strategiese ligging het ook uitstekende beskerming vir Fenisiese skepe gebied.

Lewendige internasionale handel

Eertydse handelsbedrywighede in die oostelike Middellandse See was gedurende hierdie tydperk uitgebreid. Waardevolle verbruiksartikels van Siprus is per skip na Kreta, Sardinië en Sisilië vervoer, asook na die eilande in die Egeïese See. Kruike en vase van Siprus is op hierdie plekke ontdek, en Miceense (Griekse) erdewerk van hoë gehalte is in groot hoeveelhede op Siprus gevind. Ná ’n ontleding van koperstawe wat op Sardinië ontdek is, is sommige geleerdes van mening dat dit van Siprus afkomstig was.

In 1982 is ’n skeepswrak uit die laat 14de eeu v.G.J. naby die kus van suidelike Turkye gevind. In ondersese opgrawings is ’n waardevolle vonds gemaak wat uit ’n verskeidenheid artikels bestaan het—koperstawe wat vermoedelik van Siprus afkomstig was, amber, Kanaänitiese kruike, ebbehout, olifanttande, ’n versameling Kanaänitiese juweliersware van goud en silwer, sowel as skarabeë en ander voorwerpe uit Egipte. Nadat die klei van die erdewerk aan boord ontleed is, was sommige bronne van mening dat die skip waarskynlik van Sipriese oorsprong was.

Dit is interessant dat Bileam, ongeveer die tyd dat hierdie skipbreuk vermoedelik plaasgevind het, in sy “spreuk” na skepe van Kittim verwys het (Numeri 24:15, 24). Sipriese skepe was klaarblyklik welbekend in die Midde-Ooste. Hoe het hierdie skepe gelyk?

Handelskepe

Baie kleimodelle van skepe en bote is in grafkelders in die eertydse stad Amatus op Siprus ontdek. Hulle bevat waardevolle aanduidings van hoe die verskillende Sipriese vaartuie gelyk het, en van hulle word in museums uitgestal.

Die modelle toon dat vroeë skepe klaarblyklik vir vreedsame handel gebruik is. Die kleiner bote het gewoonlik 20 roeiers gehad. Die breë, diep rompe is ontwerp om goedere en passasiers op kort reise al met die kus van Siprus langs te vervoer. Plinius die Ouere meld dat die Sipriote ’n klein, ligte skip ontwerp het wat met roeispane aangedryf is en tot 90 ton kon dra.

Dan was daar die groter handelskepe soos die een wat naby die kus van Turkye gevind is. Party kon ’n vrag van tot 450 ton op die oop see dra. Groot skepe kon tot 50 roeiers hê, 25 aan elke kant, en kon 30 meter lank wees, met ’n mas van oor die 10 meter.

Oorlogskepe van “Kittim” in Bybelprofesie

Die gees van Jehovah was verantwoordelik vir hierdie uitspraak: “Daar sal skepe van die kus van Kittim af wees, en hulle sal Assirië beslis teister” (Numeri 24:2, 24). Is hierdie voorspelling bewaarheid? Hoe was vaartuie van Siprus by die vervulling betrokke? Daardie “skepe van die kus van Kittim af” was nie vreedsame handelskepe wat die Middellandse See bevaar het nie. Hulle was oorlogskepe wat teistering tot gevolg gehad het.

Namate oorlogsbehoeftes verander het, is die basiese ontwerpe aangepas om vinniger en kragtiger vaartuie te bou. ’n Skildery wat in Amatus ontdek is, beeld waarskynlik die vroegste Sipriese oorlogskepe uit. Daarin word ’n lang, smal skip gesien waarvan die agterstewe opwaarts en na binne buig, soortgelyk aan ’n Fenisiese oorlogskip. Dit het ’n stormram en ronde skilde aan weerskante naby die agterstewe en boeg.

In die agtste eeu v.G.J. het die eerste bireme (skepe met twee rye roeiers bo mekaar) in Griekeland verskyn. Hierdie skepe was ongeveer 24 meter lank en 3 meter breed. Aanvanklik is die skepe gebruik om krygsmanne te vervoer, hoewel die geveg self op die land plaasgevind het. Kort voor lank is die voordele van ’n derde ry roeiers besef, en ’n stormram wat met brons oorgetrek is, is aan die boeg aangebring. Die nuwe skip het bekend geword as ’n trireem, soos aan die begin van hierdie artikel gemeld is. Hierdie soort skip het bekendheid verwerf gedurende die slag van Salamis (480 v.G.J.) toe die Grieke die Persiese vloot verslaan het.

Later het Aleksander die Grote, in sy strewe na oorheersing, sy vloot trireme ooswaarts gestuur. Hierdie skepe is ontwerp vir oorlogvoering, nie vir lang reise op die oop see nie, aangesien daar min ruimte vir voorraad was. Dit het beteken dat die skepe by eilande in die Egeïese See moes aandoen vir proviand en herstelwerk. Aleksander se doelwit was om die Persiese vloot te vernietig. Maar om dit te doen, moes hy eers die gedugte eilandvesting Tirus oorwin. Siprus was ’n stopplek op pad daarheen.

Die Sipriote het Aleksander die Grote tydens die beleëring van Tirus (332 v.G.J.) ondersteun en het ’n vloot van 120 skepe voorsien. Drie konings van Siprus het vlote aangevoer wat by Aleksander aangesluit het. Hulle het aan ’n beleëring van Tirus deelgeneem wat sewe maande geduur het. Tirus het geval, en Bybelprofesie is vervul (Esegiël 26:3, 4; Sagaria 9:3, 4). Om sy waardering te toon, het Aleksander spesiale gesag aan die Sipriese konings verleen.

’n Merkwaardige vervulling

Die eerste-eeuse geskiedskrywer Strabo vertel dat Aleksander skepe van Siprus en Fenisië ontbied het vir sy veldtog in Arabië. Hierdie skepe was lig en maklik om af te takel, en daarom het hulle Tapsakus (Tifsag) in noordelike Sirië binne net sewe dae bereik (1 Konings 4:24). Van daar was dit moontlik om rivieraf na Babilon te vaar.

Gevolglik het ’n skynbaar duistere stelling in die Bybel ongeveer tien eeue later ’n merkwaardige vervulling gehad! In ooreenstemming met die woorde van Numeri 24:24 het die militêre masjien van Aleksander die Grote meedoënloos van Masedonië af ooswaarts beweeg en die land Assirië verower en uiteindelik die magtige Medo-Persiese Ryk verslaan.

Selfs die beperkte inligting wat ons oor “die skepe van Kittim” het, wys onmiskenbaar op ’n fassinerende vervulling van Bybelprofesie. Sulke geskiedkundige getuienis versterk ons oortuiging dat voorspellings in die Bybel vertrou kan word. Baie van hierdie profesieë het betrekking op ons toekoms, en daarom sal ons verstandig wees as ons dit ernstig opneem.

[Kaart op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ITALIË

Sardinië

Sisilië

Egeïese See

GRIEKELAND

Kreta

LIBIË

TURKYE

SIPRUS

Kition

Tirus

EGIPTE

[Prent op bladsy 16]

Model van ’n Griekse oorlogskip, ’n trireem

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 17]

Model van ’n eertydse Fenisiese oorlogskip, ’n bireem

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 17]

’n Vaas waarop ’n Sipriese skip uitgebeeld word

[Erkenning]

Published by permission of the Director of Antiquities and the Cyprus Museum

[Prent op bladsy 18]

Eertydse vragskepe, soos dié wat in Jesaja 60:9 gemeld word