Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uitdagings word oorkom om goeie nuus te bring

Uitdagings word oorkom om goeie nuus te bring

Uitdagings word oorkom om goeie nuus te bring

ONS vragmotor nader ’n kontrolepunt wat deur omtrent 60 gewapende mans, vroue en tieners beman word. Party is in uniform; ander in gewone klere. Baie het masjiengewere. Dit lyk of hulle ons inwag. Daar heers tans burgerlike onrus.

Ons reis al vier dae lank met ’n vrag van tien ton Bybellektuur. Ons wonder of hulle ons sal deurlaat. Sal hulle geld wil hê? Hoe lank sal dit neem om hulle te oortuig dat ons op ’n vreedsame sending is?

’n Skietlustige man vuur ’n skoot in die lug af om ons te herinner aan wie nou eintlik in beheer is. Sy oog val op ons selfone, en hy dring daarop aan dat ons dit vir hom gee. Wanneer ons aarsel, maak hy ’n dreigende gebaar by sy keel wat geen twyfel laat oor wat die gevolge sal wees as ons weier om dit te doen nie. Ons oorhandig maar die selfone.

Skielik gryp ’n vrou in uniform haar geweer en kom na ons toe aangestap. Sy is die “sekretaresse” en wil hê dat ons ook vir haar iets moet gee. Die lewe is moeilik, en ’n “geskenkie” sal heel goed te pas kom. Dan maak ’n ander soldaat ons brandstoftenk oop om sy petrolkan vol te maak. Hy steur hom nie aan ons besware nie en sê dat hy maar net bevele uitvoer. Daar is niks wat ons kan doen nie. Ons hoop maar net dat ander nie dieselfde idee sal kry nie.

Uiteindelik word die sperboom gelig en kan ons verder ry. Ek en my medebestuurder slaak ’n sug van verligting. Dit was ’n spanningsvolle situasie, maar ons het al gewoond geraak aan hierdie senutergende oomblikke by kontrolepunte. Tussen April 2002 en Januarie 2004 het ons al 18 keer vanaf die hawestad Douala, in Kameroen, gery na Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Die rit van 1 600 kilometer is altyd vol gevare en verrassings. a

“Ons het baie lesse tydens dié ritte geleer”, verduidelik Joseph en Emmanuel, bestuurders wat hierdie rit al menigmaal onderneem het. “Dit is verstandig om dikwels ’n stille gebed te doen en dan kalm te bly. ‘In God het ek my vertroue gestel. Ek sal nie bang wees nie’, het die psalmis geskryf. ‘Wat kan die mens aan my doen?’ Ons probeer om dieselfde gesindheid te hê. Ons weet dat Jehovah bewus is van die doel van ons reis, naamlik om ’n broodnodige boodskap van hoop te bring.”—Psalm 56:11.

’n Internasionale poging om geestelike voedsel te voorsien

Baie mense in hierdie deel van Afrika hou daarvan om die goeie nuus van God se Koninkryk te hoor. Die lektuur wat ons vervoer, word gepubliseer om hulle geestelike behoefte te help bevredig (Matteus 5:3; 24:14). Die Kameroense takkantoor van Jehovah se Getuies in Douala voorsien gereeld lektuur aan meer as 30 000 Koninkryksverkondigers en belangstellendes in Kameroen en vier van sy buurlande.

Hierdie lektuur het reeds ’n ver pad gekom. Die meeste daarvan is in Duitsland, Engeland, Finland, Italië en Spanje gedruk. Toe is dit van Frankryk af verskeep. Gewoonlik kom daar elke twee weke ’n houer met Bybellektuur by die Douala-hawe aan.

Die houer word op ’n vragmotor gelaai wat dit na die takkantoor toe neem. Werkers in die Versendingsafdeling sorteer die lektuur volgens bestemming. Om die publikasies na afgeleë binnelandse gebiede te vervoer, is nie maklik nie. Maar dit is deel van die taak om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te versprei (Handelinge 1:8). Die takkantoor maak staat op selfopofferende vrywilligers wat bereid is om die gevaarlike ritte per vragmotor te onderneem. ’n Gereelde voorraad Bybellektuur bereik dus miljoene mense in die sentrale deel van Afrika.

’n Tipiese rit

Lektuur word per vragmotor vervoer na Ekwatoriaal-Guinee, Gaboen, Kameroen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Tsjad. Kom ons vergesel ’n vragmotor en sy bestuurders. Stel jou voor dat jy by die bestuurders sit en maak jou gereed vir ’n avontuurlike rit van tien dae of langer.

Daar is ses bestuurders wat vir hierdie rit gebruik word. Hulle moet sterk, bekwaam, geduldig en goed geklee wees. Hulle dra tradisionele klere of ’n hemp en das. In die verlede het die doeanebeamptes gesê: “Kyk net na hierdie skoon vragmotor en die goed geklede bestuurders, net soos hulle op die foto’s van hulle publikasies lyk.” Iets wat selfs belangriker is as die bestuurders se voorkoms, is hulle gewilligheid om te gaan waar dit ook al nodig is om ander te dien.—Psalm 110:3.

Omstreeks sesuur in die oggend, net ná sonsopkoms, vertrek ons van Douala af om die swaar verkeer in hierdie groeiende stad te vermy. Ons ry eers oor ’n brug naby die takkantoor en dan deur die besige stad, voordat ons in ’n oostelike rigting na ons eerste bestemming reis—Yaoundé, die hoofstad van Kameroen.

Enigeen van die ses bestuurders sal vir jou sê hoe moeilik dit is om ’n vragmotor met ’n vrag van tien ton boeke te bestuur. Die eerste drie dae op teerpaaie lewer nie veel probleme op nie, nogtans verg dit die volle aandag en konsentrasie van die bestuurder. Dan sak die reën skielik uit. Van hier af is dit grondpad. Dit raak moeilik om voor ons te sien, die pad is glad, en ons moet stadig ry weens die ongelyke oppervlak. Dit is amper skemer. Dit is tyd om te stop, te eet en te probeer slaap met ons voete op die instrumentpaneel. So gaan dit maar op hierdie ritte!

Vroeg die volgende oggend val ons weer in die pad. Een van die bestuurders help deur die toestand van die pad dop te hou. Hy waarsku onmiddellik as ons te naby aan die sloot langs die pad kom. Die bestuurders weet maar alte goed dat dit dae kan neem om uit ’n sloot te kom as hulle gly en daarin beland. Die paaie raak nie veel beter wanneer ons die grens na die Sentraal-Afrikaanse Republiek oorsteek nie. Die volgende 650 kilometer ry ons deur ’n pragtige, groen, heuwelagtige landskap. Kinders, bejaardes en ma’s met babas op die rug waai almal vir ons terwyl ons stadig deur hulle dorpies ry. Weens die burgerlike onrus is daar deesdae min motors op die paaie; gevolglik staar die mense ons nuuskierig aan.

Bemoedigende ondervindinge

Janvier, een van ons bestuurders, vertel vir ons dat hulle, ten spyte van hulle vol program, dikwels in klein dorpies stop om ’n bietjie te rus en Bybellektuur te versprei. Hy vertel: “In Baboua het ons altyd probeer om met ’n hospitaalwerker te praat wat groot belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het, en ons het ’n kort Bybelstudie met hom gehou. Eendag het ons selfs vir hom en sy gesin die video oor Noag gewys. Vriende en bure het daar aangekom, en sy huis was gou vol opgewonde kykers. Almal het al van Noag gehoor, en nou kon hulle sy verhaal op die tv-skerm volg. Dit was hartroerend om hulle waardering te sien. Agterna het hulle ’n spesiale ete gereël om dankie te sê, en hulle wou hê dat ons daar moes oornag. Ons moes dadelik vertrek en ons lang reis voortsit, maar ons was bly dat ons hierdie nederige mense van die goeie nuus kon vertel.”

Nog ’n bestuurder, Israel, vertel wat op ’n ander rit na Bangui, ons bestemming, gebeur het. “Hoe nader ons aan Bangui gekom het”, sê hy, “hoe meer padversperrings het ons teëgekom. Gelukkig was baie van die soldate vriendelik en het hulle die vragmotor van vorige ritte onthou. Hulle het ons genooi om by hulle te kom sit, en hulle het Bybellektuur met graagte geneem. ’n Boek is vir hulle baie waardevol, en daarom skryf hulle hulle naam daarin en dan die datum en die naam van die persoon wat dit vir hulle gegee het. Party soldate het familielede wat Getuies is, en dit was nog ’n rede waarom hulle vriendelik was.”

Joseph, die mees ervare bestuurder, vertel wat hy as die hoogtepunt van so ’n rit beskou—hulle aankoms by hulle bestemming. Hy vertel van een rit in die besonder: “Net ’n paar myl van Bangui af het ons ons broers gebel om te sê dat ons binnekort daar sal wees. Hulle het ons deur die stad vergesel en ons gehelp met die laaste formaliteite. Toe ons stilhou, het almal in die takkantoor uitgekom en ons hartlik gegroet en omhels. Helpers van nabygeleë gemeentes het opgedaag, en binne ure is honderde bokse Bybels, boeke, boekies en tydskrifte afgelaai en in die depot gepak.”

“Soms”, voeg Joseph by, “het ons vrag ook geskenkte klere, skoene en items vir kinders ingesluit wat na die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo moes gaan. Hoe wonderlik was dit tog om die glimlaggende gesigte van dankbare broers te sien!”

Nadat ons ’n dag gerus het, kry ons ons vragmotor gereed en keer ons met dieselfde pad terug. Daar lê probleme vir ons voor, maar die bemoedigende ondervinding wat ons gehad het, vergoed deur en deur vir enige moeilikhede wat kan opduik.

Lang afstande, stortreën, slegte paaie, pap bande en meganiese probleme kan frustrerend wees. Ongedissiplineerde soldate is altyd ’n probleem. Maar niks verskaf hierdie bestuurders groter voldoening as om die goeie nuus van die Koninkryk na afgeleë dele van Afrika te bring en te sien watter uitwerking dit het op die lewe van die mense wat dit ontvang nie.

Byvoorbeeld, danksy hierdie aflewerings kan ’n man wat in ’n afgeleë deel van die Sentraal-Afrikaanse Republiek in ’n dorpie naby die grens van Soedan woon, nou ’n moderne vertaling van die Bybel lees. Sy vrou bestudeer onlangse eksemplare van Die Wagtoring, en hulle kinders vind baat by die boek Leer by die Groot Onderwyser. b Soos hulle Christenbroers in talle groot stede, ontvang hulle en baie ander in hierdie landelike gemeenskappe geestelike voedsel. Dit is beslis iets wat groot voldoening verskaf!

[Voetnote]

a Sedertdien is baie gedoen om die roete tussen Douala en Bangui veiliger te maak.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaarte/Prent op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KAMEROEN

Douala

SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

Bangui

[Prent op bladsy 9]

Joseph

[Prent op bladsy 9]

Emmanuel

[Prent op bladsy 10]

Tak van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, in Bangui

[Prent op bladsy 10]

Die vragmotor word in Bangui afgelaai