Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verheug oor sy “oorwinning saam met die Lam”

Verheug oor sy “oorwinning saam met die Lam”

Verheug oor sy “oorwinning saam met die Lam”

IN ’N brief wat Carey W. Barber in 1971 geskryf het, het hy van sy eerste 50 jaar van diens aan die ware God gesê: “Die jare in Jehovah se diens was buitengewoon goed. Die omgang met sy volk; die beskerming teen die boosdoeners van Satan se wêreld; die vooruitsig op oorwinning saam met die Lam, Jesus Christus; en die bewyse van Jehovah se liefde is alles faktore wat daardie soete vrede en innerlike tevredenheid meebring wat die hart bewaak en ’n vaste hoop op die finale oorwinning gee.”

Ses jaar later het broer Barber, ’n geesgesalfde Christen, as lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies begin dien. In hierdie hoedanigheid het hy die volgende 30 jaar bly uitsien na sy “oorwinning saam met die Lam”. Hy het dit op Sondag 8 April 2007 behaal toe hy op 101-jarige leeftyd getrou gesterf het.—1 Korintiërs 15:57.

Carey Barber is in 1905 in Engeland gebore en is in 1921 in Winnipeg, Kanada, gedoop. Twee jaar later het hy en sy tweelingbroer, Norman, na Brooklyn, New York, verhuis om met ’n nuwe projek te help. Jehovah se volk sou toe hulle eie boeke begin druk om die goeie nuus van die Koninkryk “in die hele bewoonde aarde” bekend te maak (Matteus 24:14). Een van broer Barber se vroeë toewysings was om ’n klein drukpers te bedien. Hy het onder andere regsdokumente gedruk vir regsake wat voor die Verenigde State se Hooggeregshof gebring is. Later het broer Barber in die Diensafdeling gewerk, waar hy hoofsaaklik aandag aan gemeentelike sake en die landwye predikingswerk geskenk het.

Met hierdie agtergrond was broer Barber ten volle bevoeg vir sy toewysing toe hy in 1948 as ’n reisende bedienaar aangestel is en byeenkomste en gemeentes oral in die westelike deel van die Verenigde State bedien het. Hy het gesê dat hy dit veral geniet het om in die openbare predikingswerk buite in die vars lug te wees. Hierdie toewysing het baie broers en susters met broer Barber in aanraking laat kom. Sy flink verstand en ywer vir die bediening het baie goed te pas gekom toe hy later die 26ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon het. By die skool het hy ’n medestudent van Kanada, Sydney Lee Brewer, leer ken. Ná graduering is hulle getroud, en die kort reis na hulle toewysing in die omgewing van Chicago, Illinois, waar hulle die gemeentes moes bedien, was ook hulle wittebrood. Suster Barber was ’n waardevolle metgesel en ’n voortdurende bron van ondersteuning vir haar man gedurende hulle twee dekades in die reisende bediening.

Diegene wat broer Barber ontmoet en leer ken het gedurende die dekades waarin hy as ’n streek- en kringopsiener gedien het of gedurende die 30 jaar wat hy as lid van die Bestuursliggaam gewerk en gereis het, sal sy toesprake en lewendige kommentare nog lank onthou. Ons het alle rede om ons te verheug oor sy “oorwinning saam met die Lam”.