Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Beklee julle met ootmoed’

‘Beklee julle met ootmoed’

‘Beklee julle met ootmoed’

DIE man was van ’n vername stad. As ’n gebore Romeinse burger het hy aansien geniet, en hy het waarskynlik uit ’n vooraanstaande familie gekom. Hierdie man, Saulus, het van die beste opvoeding ontvang wat in die eerste eeu G.J. beskikbaar was. Hy kon ten minste twee tale praat en was lid van ’n welbekende Joodse godsdiensgroep—die Fariseërs.

Saulus het ongetwyfeld geleer om op gewone mense neer te sien en trots te wees op sy eie regverdigheid (Lukas 18:11, 12; Handelinge 26:5). Saulus se mede-Fariseërs het ’n meerderwaardige houding aangeneem en daarvan gehou om vernaam te wees en met vleiende titels aangespreek te word (Matteus 23:6, 7; Lukas 11:43). Omgang met sulke mense het Saulus waarskynlik verwaand gemaak. Ons weet dat hy ’n ywerige vervolger van die Christene was. Jare later het hy, as die apostel Paulus, gesê dat hy in sy jonger dae “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man” was.—1 Timoteus 1:13.

Ja, Saulus het ’n Christen, die apostel Paulus, geword, en sy persoonlikheid het heeltemal verander. As ’n Christenapostel het hy nederig na homself verwys as “iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges” (Efesiërs 3:8). Hy was ’n suksesvolle evangeliedienaar, maar hy het hom geen eer hiervoor toegeëien nie. Hy het eerder al die eer aan God gegee (1 Korintiërs 3:5-9; 2 Korintiërs 11:7). Dit was Paulus wat mede-Christene gemaan het: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.

Is hierdie raad van toepassing in ons 21ste eeu? Betaal dit om nederig te wees? Kan nederigheid werklik ’n teken van krag wees?

Is die almagtige Skepper nederig?

Enige bespreking van nederigheid moet God se beskouing in ag neem. Waarom? Omdat hy ons Soewerein en ons Skepper is. In teenstelling met hom moet ons ons eie beperkings erken. Ons is afhanklik van hom. “Wat die Almagtige betref, ons het hom nie deurgrond nie; hy is verhewe in krag”, het ’n wyse man van die ou tyd met die naam Elihu gesê (Job 37:23). Ja, as ons net dink aan die ontsaglike heelal om ons, laat dit ons nederig voel! “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk”, nooi die profeet Jesaja. “Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26.

Jehovah God is nie net almagtig nie; hy is ook nederig. Koning Dawid het tot hom gebid: “U sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Samuel 22:36). God is nederig in die sin dat hy besorgdheid toon oor nietige mense wat hom probeer behaag en barmhartigheid aan hulle bewys. Jehovah buig as ’t ware vanuit die hemel neer om liefdevol met godvresende mense te handel.—Psalm 113:5-7.

Jehovah waardeer ook nederigheid in sy knegte. Die apostel Petrus het geskryf: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). ’n Bybelskrywer het oor God se beskouing van trots gesê: “Elkeen wat trots van hart is, is vir Jehovah verfoeilik” (Spreuke 16:5). Maar hoe kan nederigheid ’n teken van krag wees?

Wat nederigheid nie is nie

Nederigheid is nie dieselfde as vernedering nie. In party ou kulture was ’n tipiese nederige persoon ’n slaaf—’n oordrewe onderdanige, ellendige, jammerlike persoon. In teenstelling hiermee beklemtoon die Bybel dat ootmoed tot eer lei. Die wyse man het byvoorbeeld geskryf: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe” (Spreuke 22:4). En in Psalm 138:6 lees ons: “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af.”

Om nederig te wees, beteken nie dat ’n mens geen vermoëns het of niks bereik het nie. Jesus Christus het byvoorbeeld nooit ontken dat hy Jehovah se enigverwekte Seun is nie, en hy het nooit te kenne gegee dat sy bediening op die aarde onbelangrik is nie (Markus 14:61, 62; Johannes 6:51). Jesus het nietemin nederigheid getoon deur die eer vir sy werke aan sy Vader te gee en deur sy krag te gebruik om ander eerder te dien en te help as om oor hulle baas te speel of hulle te onderdruk.

’n Teken van krag

Jesus Christus het beslis “deur middel van kragtige werke” onder sy tydgenote bekend geword (Handelinge 2:22). Tog was hy in die oë van party “die geringste van die mensdom” (Daniël 4:17). Hy het nie net ’n beskeie lewe gelei nie, maar het ook herhaaldelik in sy onderrigting op die belangrikheid van nederigheid gewys (Lukas 9:48; Johannes 13:2-16). Sy nederigheid het hom egter nie ’n swakkeling gemaak nie. Hy het onbevrees sy Vader se naam verdedig en sy bediening volbring (Filippense 2:6-8). In die Bybel word Jesus as ’n moedige leeu uitgebeeld (Openbaring 5:5). Jesus se voorbeeld toon dat nederigheid verenigbaar is met sedelike krag en karaktervastheid.

Terwyl ons daarna streef om ware nederigheid aan te kweek, besef ons dat dit groot inspanning verg om ootmoed ’n lewenswyse te maak. Dit behels dat ons ons altyd aan God se wil moet onderwerp in plaas van die maklikste uitweg te kies of aan vleeslike neigings toe te gee. Om nederigheid aan te kweek, verg sedelike krag, want ons moet persoonlike belange opsyskuif om Jehovah en die belange van ander onselfsugtig te dien.

Die voordele van nederigheid

Nederigheid behels vryheid van trots of verwaandheid. Die Skrif gebruik die woord “ootmoed” (letterlik, “nederigheid van verstand”) om dit te beskryf (Efesiërs 4:2). ’n Nederige gesindheid spruit voort uit ’n realistiese beoordeling van onsself—ons sterk en swak punte, ons suksesse en mislukkings. Paulus het goeie raad in hierdie verband gegee toe hy geskryf het: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het” (Romeine 12:3). Almal wat hierdie raad volg, toon nederigheid.

Nederigheid word ook geopenbaar wanneer ons werklik ander se belange voor ons eie stel. Paulus het Christene onder inspirasie gemaan: “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag” (Filippense 2:3). Dit was in ooreenstemming met Jesus se bevel aan sy volgelinge: “Die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word.”—Matteus 23:11, 12.

Ja, as iemand ootmoedig is, verhef dit hom in God se oë. Die dissipel Jakobus het hierdie feit beklemtoon toe hy geskryf het: “Verneder julle in die oë van Jehovah, en hy sal julle verhef” (Jakobus 4:10). Wie wil nie deur God verhef word nie?

’n Gebrek aan nederigheid het al groot chaos en onenigheid tussen groepe mense en tussen individue veroorsaak. Daarenteen lewer nederigheid positiewe resultate op. Ons kan God se goedkeuring geniet (Miga 6:8). Ons kan gemoedsrus hê, want ’n nederige persoon is meer geneig om gelukkig en tevrede te wees as ’n hoogmoedige persoon (Psalm 101:5). Ons verhoudinge met gesinslede, vriende, werksmaats en ander sal beter en aangenamer wees. Nederige mense raak nie moeilik of veeleisend nie, gedrag wat maklik tot woede, vervreemding, gegriefdheid en bitterheid aanleiding kan gee.—Jakobus 3:14-16.

Ja, om ootmoed aan te kweek, is ’n uitstekende manier om goeie verhoudinge met ander te behou. Dit kan ons help om die uitdagings van ’n selfsugtige, mededingende wêreld die hoof te bied. Met God se hulp kon die apostel Paulus sy verwaandheid en trots van vroeër te bowe kom. Dit sal ook verstandig van ons wees om enige neiging tot hoogmoed of ’n gevoel van meerderwaardigheid te bedwing. “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling”, waarsku die Bybel (Spreuke 16:18). As ons Paulus se voorbeeld en raad volg, sal ons sien hoe wys dit is om ‘ons met ootmoed te beklee’.—Kolossense 3:12.

[Prent op bladsy 4]

Paulus kon verwaandheid en trots te bowe kom

[Prent op bladsy 7]

As ons ootmoedig is, help dit ons om goeie verhoudinge met ander te behou

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Anglo-Australian Observatory/David Malin Images