Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die silwer is myne en die goud is myne”

“Die silwer is myne en die goud is myne”

“Die silwer is myne en die goud is myne”

IN DIE sesde eeu v.G.J. het koning Kores van Persië God se volk uit gevangenskap in Babilon vrygelaat. Duisende van hulle het na Jerusalem teruggekeer om Jehovah se tempel te herbou, wat in puin gelê het. Die teruggekeerdes se finansiële situasie was benard, en vyandige buurnasies het die herbouwerk teëgestaan. Gevolglik het party van die bouers gewonder of hulle ooit hierdie belangrike projek sou voltooi.

Jehovah het die bouers deur sy profeet Haggai verseker dat Hy met hulle is. “Ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul”, het God gesê. Wat die bouers se finansiële bekommernisse betref, het Haggai hierdie boodskap oorgedra: “‘Die silwer is myne en die goud is myne’, is die woord van Jehovah van die leërs” (Haggai 2:7-9). Binne vyf jaar nadat Haggai hierdie besielende woorde gespreek het, is die projek voltooi.—Esra 6:13-15.

Haggai se woorde was ook in onlangser tye vir God se knegte ’n aansporing tydens groot projekte wat met Jehovah se aanbidding verband hou. In 1879, toe “die getroue en verstandige slaaf”-klas hierdie tydskrif begin uitgee het, wat destyds Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence genoem is, het dit die volgende stelling bevat: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van ‘Zion’s Watch Tower’ is, en solank dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Aan My behoort die silwer en aan My die goud’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om die publikasie te staak.”

Die publisering daarvan is nooit gestaak nie. Die eerste nommer het ’n oplaag van 6 000 eksemplare gehad en was slegs in Engels beskikbaar. Vandag is die gemiddelde oplaag van elke nommer 28 578 000 eksemplare, in 161 tale. a Die Ontwaak!, die medetydskrif van Die Wagtoring, het ’n gemiddelde oplaag van 34 267 000 eksemplare, in 81 tale.

Jehovah se Getuies onderneem baie projekte wat dieselfde oogmerk het as Die Wagtoring—naamlik om Jehovah as die Soewereine Heer van die heelal te verheerlik en die goeie nuus van sy Koninkryk aan te kondig (Matteus 24:14; Openbaring 4:11). Die Getuies is dit vandag nog eens met die oortuiging wat in 1879 deur hierdie tydskrif uitgespreek is. Hulle glo dat God hulle werk steun en dat fondse beskikbaar sal wees vir projekte wat sy seën geniet. Maar hoe word die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die praktyk gefinansier? En watter soort projekte onderneem hulle om die goeie nuus regoor die wêreld te verkondig?

Hoe word die werk gefinansier?

Wanneer Jehovah se Getuies hulle predikingswerk in die openbaar doen, word hulle dikwels gevra: “Word julle betaal om dit te doen?” Die antwoord is nee, hulle word nie betaal nie. Hulle gee vrywilliglik van hulle tyd. Hierdie evangeliedienaars bestee baie ure daaraan om met ander oor Jehovah en die Bybel se belofte van ’n beter toekoms te gesels omdat hulle deur dankbaarheid beweeg word. Hulle waardeer wat God vir hulle gedoen het en hoeveel die boodskap van goeie nuus hulle eie lewe en uitkyk verbeter het. Daarom wil hulle ander van hierdie goeie dinge vertel. Sodoende volg hulle die beginsel wat Jesus gemeld het: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Ja, hulle begeerte om getuies van Jehovah en Jesus te wees, beweeg hulle om uit hulle eie sak te betaal om ander van hulle oortuigings te vertel, selfs dié wat ver van hulle af woon.—Jesaja 43:10; Handelinge 1:8.

Die skaal waarop hierdie predikingswerk gedoen word en die middele wat gebruik word om dit te verrig—drukkerye, kantore, Byeenkomssale, sendinghuise, ensovoorts—het groot uitgawes tot gevolg. Waar kom die geld vandaan? Vrywillige bydraes word gebruik om dit alles te finansier. Jehovah se Getuies vereis nie van gemeentelede om geld te gee om organisatoriese bedrywighede te ondersteun nie en hulle vra ook nie dat mense betaal vir die publikasies wat hulle versprei nie. As enigiemand ’n bydrae wil gee om hulle opvoedkundige bedrywighede te ondersteun, aanvaar die Getuies dit met graagte. Kom ons kyk wat betrokke is by net een aspek van die pogings om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig—vertaling.

Publikasies in 437 tale

Die publikasies van Jehovah se Getuies is al dekades lank van die mees vertaalde publikasies ter wêreld. Traktate, brosjures, tydskrifte en boeke is al in 437 tale vertaal. Vertaling, soos die ander bedrywighede wat met die verkondiging van die goeie nuus verband hou, vereis natuurlik heelwat middele. Presies wat is by die vertaalproses betrokke?

Wanneer die redigeerders van die publikasies van Jehovah se Getuies die inhoud van ’n Engelse artikel gefinaliseer het, word die teks elektronies beskikbaar gestel aan opgeleide vertaalspanne regoor die wêreld. Elke vertaalspan is verantwoordelik vir een van die tale waarin die publikasies uitgegee word. Na gelang van die aantal projekte waaraan hulle werk en die ingewikkeldheid van die taal waarin hulle vertaal—die doeltaal—kan hierdie spanne uit 5 tot 25 lede bestaan.

Die vertaalde teks word nagesien en geproeflees. Die doel is om die gedagtes van die oorspronklike teks so akkuraat en so duidelik as moontlik oor te dra. Dit gaan met verskeie uitdagings gepaard. Wanneer vertalers met teks werk wat vakterme gebruik, moet hulle soms uitvoerige navorsing doen in die brontaal (Engels of ’n sekondêre brontaal, soos Frans, Russies of Spaans) sowel as die doeltaal om te verseker dat hulle vertaling akkuraat is. Wanneer ’n artikel in die Ontwaak! byvoorbeeld ’n tegniese of geskiedkundige onderwerp bespreek, moet baie navorsing gedoen word.

Baie vertalers werk voltyds of deeltyds by takkantore van Jehovah se Getuies. Ander werk in die gebied waar die doeltaal gepraat word. Vertalers kry nie betaling vir wat hulle doen nie. Voltydse vertalers word bloot voorsien van kos en blyplek en ’n klein toelaag om basiese persoonlike uitgawes te dek. Wêreldwyd is daar sowat 2 800 Getuies wat as vertalers dien. Daar is tans 98 takkantore van Jehovah se Getuies wat vertaalspanne het of toesig hou oor spanne op ander plekke. Om net een voorbeeld te noem, die tak in Rusland hou toesig oor meer as 230 voltydse of deeltydse vertalers wat in meer as 30 tale vertaal, waarvan party nie so bekend is buite die gebied nie, soos Osseties, Tsjoewasj en Uighur.

Die gehalte van vertaling word verbeter

Enigiemand wat al ooit ’n ander taal probeer leer het, sal weet dat dit nie maklik is om ingewikkelde gedagtes akkuraat te vertaal nie. Die doel is om die feite en gedagtes van die bronteks akkuraat oor te dra en die vertaling terselfdertyd natuurlik te laat klink, asof dit oorspronklik in die doeltaal geskryf is. Om dit te kan doen, is ’n kuns. Dit neem nuwe vertalers jare om vertaling behoorlik onder die knie te kry, en Jehovah se Getuies voorsien hulle voortdurend van opleiding. Instrukteurs besoek die spanne soms om hulle te help om hulle vertaalvermoë te verbeter en rekenaarsagteware te gebruik.

Hierdie opleidingsprogram werp goeie vrugte af. Die Nicaragua-tak van Jehovah se Getuies vertel byvoorbeeld: “Ons Miskito-vertalers het vir die eerste keer opleiding in prosedures en tegnieke ontvang van ’n instrukteur van die Mexiko-tak. Dit het ’n geweldige verskil gemaak in die manier waarop ons vertalers hulle toewysings uitvoer. Die gehalte van die vertaling het merkwaardig verbeter.”

Woorde wat die hart raak

Pogings word aangewend om die Bybel en Bybellektuur te voorsien in mense se moedertaal sodat dit hulle hart kan raak, en dit is presies wat gebeur. In 2006 was Jehovah se Getuies in Bulgarye verheug toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Bulgaars vrygestel is. Die tak in Bulgarye berig dat baie hulle waardering hiervoor uitgespreek het. Gemeentelede sê dat “die Bybel nou werklik hulle hart raak, nie net hulle verstand nie”. ’n Bejaarde man van Sofia het gesê: “Ek lees die Bybel al jare lank, maar hierdie vertaling is die mees verstaanbare wat ek nog gelees het en gaan reguit na ’n mens se hart toe.” Nadat ’n plaaslike Getuie in Albanië haar eksemplaar van die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Albanees ontvang het, het sy eweneens gesê: “Hoe pragtig klink God se Woord tog in Albanees! Wat ’n voorreg is dit dat Jehovah in ons eie taal met ons praat!”

Dit kan ’n vertaalspan etlike jare neem om die hele Bybel te vertaal. Maar as dit daartoe lei dat miljoene mense God se Woord vir die eerste keer werklik kan verstaan, sal jy sekerlik saamstem dat dit al die inspanning werd is.

“Ons is God se medewerkers”

Vertaling is natuurlik net een van die talle bedrywighede wat nodig is om die goeie nuus doeltreffend te verkondig. Die skryf, druk en versending van Bybelpublikasies en die vele ander verwante bedrywighede van takke, kringe en gemeentes van Jehovah se Getuies verg ’n aansienlike hoeveelheid werk en geld. Maar God se volk ‘bied hulle gewillig aan’ om hierdie werk te doen (Psalm 110:3). Hulle ag dit ’n voorreg om hulle bydrae te lewer, en dit is vir hulle ’n eer dat Jehovah hulle as gevolg hiervan as sy “medewerkers” beskou.—1 Korintiërs 3:5-9.

Dit is waar dat hy wat sê “die silwer is myne en die goud is myne”, nie van ons geldelike hulp afhanklik is om sy werk uit te voer nie. Nogtans het Jehovah sy knegte vereer met die voorreg om ’n aandeel te hê aan die heiliging van sy naam deur die bydraes wat hulle gee sodat lewensreddende waarhede aan “al die nasies” verkondig kan word (Matteus 24:14; 28:19, 20). Voel jy nie aangespoor om alles in jou vermoë te doen om hierdie werk te ondersteun wat nooit weer gedoen sal word nie?

[Voetnoot]

a Vir ’n lys van die tale, sien bladsy 2 van hierdie tydskrif.

[Venster op bladsy 18]

‘DIT LAAT ONS ERNSTIG DINK’

’n Veertienjarige meisie het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kameroen geskryf: “Nadat ek my skoolbenodigdhede vir die jaar gekoop het, het ek twee van verlede jaar se handboeke vir 2 500 frank [R37] verkoop. Ek gee dit sowel as nog 910 frank [R13,50] van my spaargeld as ’n bydrae. Ek wil julle aanspoor om voort te gaan met die goeie werk wat julle doen. Dankie vir Die Wagtoring en Ontwaak! Dit is tydskrifte wat ons ernstig laat dink.”

[Venster/Prent op bladsy 18]

’N UNIEKE BYDRAE

Die Mexiko-takkantoor van Jehovah se Getuies het die volgende brief ontvang van Manuel, ’n dankbare sesjarige wat in die staat Chiapas woon. Omdat hy nog nie kan skryf nie, het ’n vriend namens hom geskryf. Manuel sê: “My ouma het vir my ’n ma-vark gegee. Toe sy kleintjies gehad het, het ek die mooiste een uitgekies, en die broers het my gehelp om hom groot te maak. Ek het hom verkoop en stuur met baie liefde die geld wat ek vir hom gekry het as ’n bydrae. Hy het 220 pond geweeg [100 kg], en ek het 1 250 peso’s [R830] vir hom gekry. Gebruik die geld asseblief vir Jehovah.”

[Venster op bladsy 19]

‘GEBRUIK DIT OM DIE BYBEL TE VERTAAL’

By die 2005-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in die Oekraïne is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Oekraïns vrygestel. Die volgende dag is hierdie boodskap in ’n bydraebussie by die streekbyeenkoms gevind: “Ek is nege jaar oud. Baie dankie vir die Griekse Geskrifte. My ma het vir my en my boetie hierdie geld gegee om met die bus skool toe te ry. Maar wanneer dit nie gereën het nie, het ons skool toe geloop en hierdie 50 hriwna [R73] gespaar. Ek en my boetie wil graag hê dat julle dit moet gebruik om die hele Bybel in Oekraïns te vertaal.”

[Venster op bladsy 20, 21]

MANIERE WAAROP PARTY GEE

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies gooi wat gemerk is “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”.

Gemeentes stuur hierdie bydraes elke maand na die takkantoor van Jehovah se Getuies in hulle land. Vrywillige geldelike bydraes kan ook direk gestuur word aan die Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa, Aandag: Rekeningafdeling, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou. Tjeks wat na die bogenoemde adres gestuur word, moet uitgemaak word aan “Watch Tower”. Tree asseblief in verbinding met die Takkantoor as jy juwele of ander kosbare artikels wil skenk. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

BEPLANDE SKENKINGS

Benewens regstreekse geldskenkings is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit sluit in:

Versekering: Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa geskenk word as ’n regstreekse skenking.

Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks geskenk word of dit kan, in die geval van residensiële eiendom, geskenk word op voorwaarde dat die skenker lewensreg daarop het. Tree in verbinding met die takkantoor in die land waar jy woon voordat enige vaste eiendom oorgedra word.

Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa bemaak word.

As jy meer inligting wil hê, tree asseblief skriftelik of per telefoon in verbinding met die Rekeningafdeling by die adres hieronder of by die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou.

Rekeningafdeling

Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa

Privaatsak X2067

Krugersdorp, 1740

Suid-Afrika

Telefoon: 011 761 1000

[Prente op bladsy 19]

Miskito-vertalers, Nicaragua-takkantoor