Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die woord van Jehovah bly nooit onvervuld nie

Die woord van Jehovah bly nooit onvervuld nie

Die woord van Jehovah bly nooit onvervuld nie

“Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid.”—JOSUA 23:14.

1. Wie was Josua, en wat het hy teen die einde van sy lewe gedoen?

 HY WAS ’n dinamiese en vreeslose militêre bevelvoerder, ’n man van geloof en onkreukbaarheid. Hy het met Moses gewandel en is deur Jehovah self uitgekies om die nasie Israel uit ’n vreesinboesemende wildernis te lei tot in ’n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die einde van sy lewe het hierdie hoogs gerespekteerde man, Josua, ’n aangrypende afskeidstoespraak voor die ouer manne van Israel gelewer. Hierdie toespraak het ongetwyfeld die geloof versterk van diegene wat na hom geluister het. Dit kan ook jou geloof versterk.

2, 3. Wat was die situasie in Israel toe Josua die ouer manne van Israel toegespreek het, en wat het Josua gesê?

2 Stel jou die toneel voor, soos dit in die Bybel beskryf word: “Baie dae nadat Jehovah Israel rus gegee het van al hulle vyande rondom, toe Josua oud en gevorderd in dae was, het Josua die hele Israel, sy ouer manne en sy hoofde en sy regters en sy beamptes, geroep en vir hulle gesê: ‘Wat my betref, ek het oud geword, ek is gevorderd in dae.’”—Josua 23:1, 2.

3 Josua was amper 110 jaar oud en het gedurende een van die opwindendste tydperke in die geskiedenis van God se volk gelewe. Hy was ’n ooggetuie van magtige dade van God, en hy het die vervulling van baie van Jehovah se beloftes gesien. Dit was dus met die absolute oortuiging van iemand met eerstehandse ondervinding dat hy gesê het: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.

4. Watter versekerings het Jehovah die Israeliete gegee?

4 Watter woorde van Jehovah is in Josua se leeftyd bewaarheid? Ons gaan na drie versekerings kyk wat Jehovah die Israeliete gegee het. Eerstens, God sou hulle uit slawerny verlos. Tweedens, hy sou hulle beskerm. Derdens, hy sou vir hulle sorg. Jehovah het sy hedendaagse volk soortgelyke versekerings gegee, en ons het gesien hoe dit gedurende ons leeftyd bewaarheid word. Maar kom ons kyk eers na Jehovah se dade in Josua se dag voordat ons bespreek wat hy in hedendaagse tye gedoen het.

Jehovah verlos sy volk

5, 6. Hoe het Jehovah die Israeliete uit Egipte verlos, en wat het dit getoon?

5 Toe die Israeliete God aangeroep het weens hulle slawerny in Egipte, het Jehovah daarvan kennis geneem (Eksodus 2:23-25). By die brandende bos het Jehovah vir Moses gesê: “Ek daal neer om [my volk] uit die hand van die Egiptenaars te verlos en om hulle uit daardie land te laat optrek na ’n goeie en uitgestrekte land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Eksodus 3:8). Hoe opwindend moes dit tog gewees het om te sien hoe Jehovah dit doen! Toe Farao geweier het om Israel uit Egipte te laat trek, het Moses vir hom gesê dat God die water van die Nyl in bloed gaan verander. Jehovah se woord het nie onvervuld gebly nie. Die water in die Nylrivier is in bloed verander. Die visse het doodgegaan, en die rivier se water was ondrinkbaar (Eksodus 7:14-21). Farao het onversetlik gebly, en Jehovah het nog nege plae gestuur, wat hy elkeen vooraf beskryf het (Eksodus, hoofstukke 8-12). Nadat die eersgeborenes van Egipte deur die tiende plaag gedood is, het Farao die Israeliete beveel om te gaan—en dit is presies wat hulle gedoen het!—Eksodus 12:29-32.

6 Daardie verlossing het die weg gebaan vir Jehovah om Israel as sy uitverkore nasie aan te neem. Dit het Jehovah verheerlik as die Vervuller van beloftes, die een wie se woord nooit onvervuld bly nie. Dit het Jehovah se oppermag oor die gode van die nasies getoon. Wanneer ons van daardie verlossing lees, versterk dit ons geloof. Stel jou net voor hoe dit moes gewees het om dit te beleef! Josua het gesien dat Jehovah ongetwyfeld “die Allerhoogste oor die hele aarde” is.—Psalm 83:18.

Jehovah beskerm sy volk

7. Hoe het Jehovah die Israeliete teen Farao se leër beskerm?

7 Wat van die tweede versekering—Jehovah sou sy volk beskerm? Hierdie versekering was opgesluit in Jehovah se belofte dat hy hulle uit Egipte sou verlos en hulle die Beloofde Land sou laat binnegaan. Onthou dat die woedende Farao Israel agternagesit het met sy magtige leër, wat met honderde strydwaens toegerus was. Hoe vol vertroue moes daardie verwaande man tog gewees het, veral toe dit lyk of die Israeliete tussen die berge en die see vasgekeer is! Op dié stadium het God ingegryp om sy volk te beskerm deur ’n wolk tussen die twee kampe te plaas. Aan die Egiptenaars se kant was daar duisternis; aan die Israeliete se kant was daar lig. Terwyl die wolk die Egiptenaars se aantog gestuit het, het Moses sy staf gelig, en die waters van die Rooi See het verdeel, wat ’n ontsnappingsroete vir die Israeliete voorsien het, maar ’n lokval vir die Egiptenaars. Jehovah het Farao se magtige leër geheel en al vernietig en sodoende Sy volk teen ’n gewisse nederlaag beskerm.—Eksodus 14:19-28.

8. Watter beskerming het die Israeliete geniet (a) in die wildernis en (b) toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het?

8 Nadat die Israeliete deur die Rooi See getrek het, het hulle in ’n land rondgeswerf wat beskryf word as ’n ‘groot en vreesinboesemende wildernis, met giftige slange en skerpioene en met dorstige grond wat geen water het nie’ (Deuteronomium 8:15). Jehovah het ook daar sy volk beskerm. En wat van toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het? Magtige Kanaänitiese leërs het hulle teëgestaan. Tog het Jehovah vir Josua gesê: “Staan . . . op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat ek aan hulle, aan die kinders van Israel, gee. Niemand sal al die dae van jou lewe voor jou standhou nie. Net soos ek met Moses was, sal ek met jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie” (Josua 1:2, 5). Hierdie woorde van Jehovah het nie onvervuld gebly nie. Binne sowat ses jaar het Josua 31 konings verslaan en groot dele van die Beloofde Land onderwerp (Josua 12:7-24). Hierdie oorwinning sou onmoontlik gewees het sonder Jehovah se beskermende sorg.

Jehovah sorg vir sy volk

9, 10. Hoe het Jehovah vir sy volk in die wildernis gesorg?

9 Kyk nou na die derde versekering—Jehovah sou vir sy volk sorg. Kort ná hulle verlossing uit Egipte het God die Israeliete belowe: “Kyk, ek laat vir julle brood uit die hemel reën; en die volk moet uitgaan en dag na dag elkeen sy hoeveelheid optel.” En God het toe ook daardie “brood uit die hemel” voorsien. “Toe die kinders van Israel dit sien, het hulle vir mekaar begin sê: ‘Wat is dit?’” Dit was manna, die brood wat Jehovah hulle belowe het.—Eksodus 16:4, 13-15.

10 Jehovah het 40 jaar lank vir die Israeliete in die wildernis gesorg deur hulle van voedsel en water te voorsien. Hy het selfs toegesien dat hulle mantels nie verslyt nie en dat hulle voete nie swel nie (Deuteronomium 8:3, 4). Josua het dit alles gesien. Jehovah het sy volk verlos, hulle beskerm en vir hulle gesorg, net soos hy hulle belowe het.

Verlossing in hedendaagse tye

11. Wat het in 1914 in Brooklyn, New York, gebeur, en waarvoor het die tyd toe aangebreek?

11 Wat van ons tyd? Op Vrydagoggend 2 Oktober 1914 het Charles Taze Russell, wat destyds die leiding onder die Bybelstudente geneem het, by die Bethel-eetsaal in Brooklyn, New York, ingestap. “Goeie môre, almal”, het hy opgewek gesê. Toe het hy, voordat hy gaan sit het, vreugdevol aangekondig: “Die Heidense tye het geëindig; hulle konings se dae is verby.” Weer eens het die tyd aangebreek vir Jehovah, die Soewerein van die heelal, om ten behoewe van sy volk op te tree. En hy het beslis opgetree!

12. Watter verlossing het in 1919 plaasgevind, en waarvoor het dit die weg gebaan?

12 Net vyf jaar later het Jehovah sy volk verlos uit “Babilon die Grote”, die magtige wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:2). Min van ons is oud genoeg om daardie opwindende verlossing te kon gesien het. Tog kan ons die gevolge daarvan duidelik sien. Jehovah het rein aanbidding herstel en diegene verenig wat hom graag wou aanbid. Dit is deur die profeet Jesaja voorspel: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom.”—Jesaja 2:2.

13. Watter vermeerdering onder Jehovah se volk het jy gesien?

13 Jesaja se woorde het nie onvervuld gebly nie. In 1919 het die gesalfde oorblyfsel met ’n moedige wêreldwye getuieniskampanje begin wat die aanbidding van die ware God verhef het. In die 1930’s het dit duidelik geword dat die “ander skape” ingesamel word (Johannes 10:16). Eers het duisende gekom, toe honderdduisende, en nou neem miljoene hulle standpunt in vir ware aanbidding! In ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, word hulle beskryf as “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Wat het jy gedurende jou leeftyd gesien? Hoeveel Getuies van Jehovah was daar op die aarde toe jy aanvanklik die waarheid geleer het? Vandag is daar meer as 6 700 000 wat Jehovah dien. Deur sy volk uit Babilon die Grote te verlos, het Jehovah die opwindende vermeerdering moontlik gemaak wat ons nou op ’n wêreldwye skaal sien.

14. Watter verlossing moet nog plaasvind?

14 Daar is nog ’n verlossingsdaad wat moet plaasvind—een wat almal op die aarde sal raak. In ’n skouspelagtige vertoning van mag sal Jehovah almal wat hom teëstaan, wegvee, en hy sal sy volk verlos en hulle in ’n nuwe wêreld inbring waarin regverdigheid sal woon. Hoe wonderlik sal dit tog wees om die einde van goddeloosheid en die begin van die glorierykste era in die ganse mensegeskiedenis te sien!—Openbaring 21:1-4.

Jehovah se beskerming in ons dag

15. Waarom was Jehovah se beskerming in hedendaagse tye nodig?

15 Soos ons gesien het, het die Israeliete van Josua se dag Jehovah se beskerming nodig gehad. Is Jehovah se hedendaagse volk enigsins anders? Glad nie! Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Oor die jare heen het Jehovah se Getuies in baie lande bittere teenstand en wrede vervolging verduur. Tog was Jehovah met sy volk (Romeine 8:31). Sy Woord verseker ons dat niks—‘geen wapen wat teen ons gesmee word’—ons Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk sal stopsit nie.—Jesaja 54:17.

16. Watter bewyse het jy gesien dat Jehovah sy volk beskerm?

16 Jehovah se volk het ondanks die wêreld se haat vooruitgang gemaak. Jehovah se Getuies floreer in 236 lande—inderdaad oortuigende bewys dat Jehovah met ons is om ons te beskerm teen diegene wat ons wil vernietig of stilmaak. Kan jy aan die name van magtige politieke of godsdiensleiers dink wat gedurende jou leeftyd God se volk wreed onderdruk het? Wat het van hulle geword? Waar is hulle nou? Die meeste bestaan nie meer nie, net soos Farao van Moses en Josua se dag. En wat van God se hedendaagse knegte wat getrou gesterf het? Hulle is veilig in Jehovah se geheue. Daar is geen veiliger plek vir hulle nie. Wat beskerming betref, word Jehovah se woorde beslis bewaarheid.

Jehovah sorg vir sy volk van vandag

17. Watter versekering aangaande geestelike voedsel het Jehovah gegee?

17 Jehovah het in die wildernis vir sy volk gesorg, en hy sorg vandag vir hulle. Ons word geestelik gevoed deur “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45). Ons ontvang kennis van geestelike waarhede wat eeue lank geheim gehou is. Die engel het vir Daniël gesê: “Hou die woorde geheim en verseël die boek, tot die tyd van die einde toe. Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word.”—Daniël 12:4.

18. Waarom kan daar gesê word dat ware kennis vandag oorvloedig is?

18 Ons lewe nou in die tyd van die einde, en ware kennis is inderdaad oorvloedig. Regoor die wêreld het die heilige gees liefhebbers van waarheid tot ’n juiste kennis van die ware God en sy voornemens gelei. Vandag is daar ’n oorvloed Bybels op die aarde, asook publikasies wat mense help om die kosbare waarhede in die Bybel te verstaan. Neem byvoorbeeld die inhoudsopgawe van die studiepublikasie Wat leer die Bybel werklik? a Van die hoofstuktitels is: “Wat is die waarheid omtrent God?”, “Waar is die dooies?”, “Wat is God se Koninkryk?” en “Waarom laat God lyding toe?” Mense wonder al duisende jare lank oor hierdie vrae. Die antwoorde is nou geredelik beskikbaar. Selfs ná eeue van onkunde en ondanks die Christendom se afvallige leringe seëvier God se Woord en onderskraag dit almal wat Jehovah graag wil dien.

19. Watter beloftes het jy in vervulling sien gaan, en tot watter slotsom het jy gekom?

19 Ja, ná wat ons met ons eie oë gesien het, kan ons sê “dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Josua 23:14). Jehovah verlos, beskerm en sorg vir sy knegte. Kan jy enige van sy beloftes meld wat nie op sy vasgestelde tyd vervul is nie? Dit is onmoontlik om dit te doen. Ons vertrou wyslik op die betroubare Woord van God.

20. Waarom kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan?

20 Wat van die toekoms? Jehovah het vir ons gesê dat die meeste van ons die hoop kan koester om op ’n aarde te lewe wat in ’n pragtige paradys verander is. ’n Paar van ons het die hoop om saam met Christus in die hemel te regeer. Wat ons hoop ook al is, ons het alle rede om, soos Josua, getrou te bly. Die dag sal aanbreek wanneer ons hoop verwesenlik sal word. Dan sal ons terugkyk op al die beloftes wat Jehovah gemaak het, en ons sal ook sê: “Alles is . . . bewaarheid.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Die vervulling van watter versekerings van Jehovah het Josua gesien?

• Watter goddelike versekerings het jy in vervulling sien gaan?

• Waarvan kan ons seker wees in verband met die woord van God?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Jehovah het tussenbeide getree om sy volk te verlos

[Prent op bladsy 23]

Hoe het Jehovah sy volk by die Rooi See beskerm?

[Prent op bladsy 24]

Hoe het Jehovah in die wildernis vir sy volk gesorg?

[Prente op bladsy 25]

Jehovah sorg vir sy volk van vandag