Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het geleer om ten volle op Jehovah te vertrou

Ek het geleer om ten volle op Jehovah te vertrou

Lewensverhaal

Ek het geleer om ten volle op Jehovah te vertrou

Soos vertel deur Aubrey Baxter

Een Saterdagaand in 1940 het twee mans my aangeval en my platgeslaan. Twee polisiemanne het daar naby gestaan, maar in plaas van my te help, het hulle my uitgeskel en die bullebakke geprys. Die gebeure in my lewe wat tot hierdie wrede behandeling gelei het, het vyf jaar vroeër begin, toe ek in ’n steenkoolmyn gewerk het. Kom ek verduidelik.

EK IS in 1913 in Swansea, ’n kusdorp in Nieu-Suid-Wallis, Australië, gebore en was die derde van vier seuns. Toe ek vyf jaar oud was, het ons hele gesin die gevreesde Spaanse griep gekry, wat wêreldwyd miljoene lewens geëis het. Gelukkig het ons almal dit oorleef. Maar in 1933 het ’n tragedie ons getref toe my ma op die ouderdom van 47 oorlede is. Sy was ’n godvrugtige vrou en het vroeër die twee bundels van die boek Lig bekom, Bybelstudiehulpe wat deur Jehovah se Getuies versprei is.

Ek het destyds in ’n steenkoolmyn gewerk. In my werk was daar kort besige tye gevolg deur stil tye, en daarom het ek die boeke saamgeneem werk toe en dit in die lig van die karbiedlamp voor aan my helm gelees. Ek het gou besef dat ek die waarheid gevind het. Ek het ook begin luister na Bybeltoesprake wat deur die Getuies oor die radio uitgesaai is. Tot my verdere vreugde het my pa en my broers almal in Bybelwaarheid begin belangstel.

In 1935 het nog ’n tragedie ons getref toe my jongste broer, Billy, longontsteking gekry en gesterf het. Hy was maar net 16 jaar oud. Hierdie keer is ons gesin egter deur die opstandingshoop vertroos (Handelinge 24:15). Ná verloop van tyd het my pa en my ouer broers, Verner en Harold, sowel as hulle vrouens, hulle lewe aan God toegewy. Ek is die enigste een van ons gesin wat nog lewe. Maar Verner se tweede vrou, Marjorie, en Harold se vrou, Elizabeth, is ook nog bedrywig in Jehovah se diens.

Ek leer om op Jehovah te vertrou

Ek het eers later in 1935 persoonlik met Jehovah se Getuies in aanraking gekom toe ’n Oekraïnse vrou op ’n fiets by ons huis besoek afgelê het. Die volgende Sondag het ek my eerste Christelike vergadering bygewoon, en ’n week later het ek saam met die groep in velddiens uitgegaan. Die Getuie wat die velddiensvergadering behartig het, het vir my ’n paar boekies gegee en my, tot my groot verbasing, alleen laat werk! By my eerste deur was ek so senuweeagtig dat ek gewens het die aarde wil my insluk! Maar die huisbewoner was vriendelik en het selfs lektuur geneem.

Tekste soos Prediker 12:1 en Matteus 28:19, 20 het ’n diep indruk op my gemaak, en ek wou ’n pionier, of voltydse bedienaar, word. My pa het my besluit ondersteun. Hoewel ek nog nie gedoop was nie, het ek besluit dat ek op 15 Julie 1936 sou begin pionier. Op daardie dag het ek na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Sydney gegaan, waar ek genooi is om saam met ’n groep van 12 pioniers in Sydney se voorstad Dulwich Hill te werk. Deur hulle het ek kennis gemaak met die koringhandmeul wat pioniers destyds gebruik het om meel te maak en sodoende voedselkoste te besnoei.

Pionierdiens in die bos

Ná my doop later daardie jaar is ek saam met twee ander pioniers—Aubrey Wills en Clive Shade—na die sentrale deel van Queensland gestuur. Ons toerusting het bestaan uit Aubrey se bakkie, ’n paar fietse, ’n draagbare grammofoon om Bybellesings op te speel, ’n tent wat die volgende drie jaar ons huis was, drie beddens, ’n tafel en ’n ysterkookpot. Een aand, toe dit my beurt was om te kook, het ek gedink dat ek ’n “spesiale” ete van groente en koringmeel sou voorberei. Maar nie een van ons kon dit eet nie. Daar was ’n perd daar naby, en ek het dit vir hom probeer gee. Hy het daaraan geruik, sy kop geskud en weggeloop! Dit was die einde van my kookeksperimente.

Later het ons besluit om ons gebied vinniger te dek deur dit in drie te verdeel en elkeen ’n deel te werk. Aan die einde van die dag was ek dikwels te ver van ons basiskamp af om huis toe te ry en het ek soms by gasvrye plattelandse mense oornag. By een geleentheid het ek in ’n groot, sagte bed in die gastekamer van ’n groot beesplaas geslaap, en die volgende nag het ek op die grondvloer van ’n kangaroejagter se hut gelê, omring deur hope stinkende velle. Ek het dikwels in die bos geslaap. Eenkeer het dingo’s (wildehonde) op ’n afstand om my gesirkel, terwyl hulle getjank die nag gevul het. Ná ’n slapelose nag het ek ontdek dat hulle nie in my belanggestel het nie, maar in die oorskiet van ’n dier wat daar naby weggegooi is.

Predikingswerk met ’n klankmotor

Ons het goed gebruik gemaak van ’n klankmotor om God se Koninkryk te verkondig. In die stad Townsville, in die noorde van Queensland, het die polisie ons toestemming gegee om in die middestad ’n opname van ’n lesing te speel. Maar die lesing het party lede van die Heilsleër kwaad gemaak, en hulle het vir ons gesê om pad te gee. Toe ons weier, het vyf van hulle ons voertuig met mening heen en weer geskud. Ek was op daardie stadium in die motor, besig met die klanktoerusting! Dit sou onverstandig gewees het om op ons regte aan te dring, en daarom het ons vertrek toe die mans opgehou het om die voertuig te skud.

In Bundaberg het ’n belangstellende vir ons ’n boot geleen sodat ons van die Burnettrivier af, wat deur die dorp loop, kon uitsaai. Aubrey en Clive is weg op die boot met die klanktoerusting terwyl ek agtergebly het by die saal wat ons gehuur het. Daardie aand het die dawerende stem van Joseph F. Rutherford, van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, oor Bundaberg gedreun en ’n kragtige Bybelboodskap verkondig. Dit was beslis opwindende tye wat moed en geloof van God se volk geverg het.

Oorlog bied verdere uitdagings

Kort nadat die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitgebreek het, het The Watchtower van 1 November Christelike neutraliteit ten opsigte van die politiek en oorlog bespreek. Ek was later bly dat ek hierdie tydige materiaal bestudeer het. Intussen het ek, Aubrey en Clive, nadat ons drie jaar saam gedien het, toewysings ontvang wat ons in verskillende rigtings gestuur het. Ek is as ’n reisende opsiener in die noorde van Queensland aangestel, ’n toewysing wat my vertroue in Jehovah dikwels op die proef sou stel.

In Augustus 1940 het ek die gemeente in Townsville bedien, waar daar vier pioniers was—Percy en Ilma Iszlaub a asook Norman en Beatrice Bellotti, wat broer en suster was. Beatrice sou ses jaar later my vrou word. Die aanval wat aan die begin gemeld is, het een Saterdagaand plaasgevind nadat ’n groep van ons straatgetuieniswerk gedoen het. Hierdie onreg het my egter net in Jehovah se diens aangespoor.

Twee pioniersusters, Una en Merle Kilpatrick, het goeie werk in die noorde gedoen. Nadat ek ’n aangename dag saam met hulle in die bediening deurgebring het, het hulle my gevra om hulle met ’n roeiboot oor ’n rivier te neem na die huis van ’n belangstellende gesin. Dit het beteken dat ek na ’n roeiboot moes swem wat aan die oorkant vasgemeer was, dit moes terugroei en die susters dan na die oorkant moes neem. Maar toe ek by die boot kom, was daar geen spane nie! Ons het later uitgevind dat ’n teenstander dit weggesteek het. Maar sy streek het ons nie gekeer nie. Ek was ’n aantal jare lank ’n lewensredder en was nog steeds ’n sterk swemmer. Ek het dus die ankertou om my middel vasgebind, die boot na die ander kant toe gesleep waar die susters was en hulle teruggesleep. Jehovah het ons pogings geseën, want die belangstellende gesin het later Getuies geword.

Onder die skaduwee van Jehovah se hand

Die leër het om veiligheidsredes ’n padversperring net buite die dorp Innisfail opgerig. Aangesien ek as ’n inwoner beskou is, kon ek ’n toegangspermit verkry, wat baie nuttig was wanneer verteenwoordigers van die takkantoor van Jehovah se Getuies besoek afgelê het. Om hulle deur die padversperring te kry, het ek hulle in ’n versteekte kompartement onder die agtersitplek van my motor laat wegkruip.

Brandstof is destyds gerantsoeneer, en baie voertuie was toegerus met ’n gasontwikkelaar. Hierdie toestel het brandbare gas uit verhitte houtskool verkry om die enjin van brandstof te voorsien. Ek het die ritte in die nag gedoen, met sakke houtskool op die kompartement waarin die broer weggekruip het. Wanneer ek by ’n padversperring gekom het, het ek die wagte se aandag afgelei deur die enjin vinnig te laat loop en seker te maak dat die houtskoolhouer gloeiend warm is. “As ek die motor afskakel”, het ek op een so ’n nag luid vir die wagte gesê, “sal ek die gas-lug-mengsel versteur, en dit sal moeilik wees om die motor weer aan die gang te kry.” Omdat die hitte, geraas en roet die wagte gehinder het, het hulle die motor net vlugtig deursoek en my laat gaan.

Ek is gedurende daardie tyd gevra om ’n streekbyeenkoms in Townsville vir die plaaslike Getuies te organiseer. Voedsel is gerantsoeneer, en ons moes toestemming van die plaaslike magistraat kry sodat ons die nodige voorraad kon aanskaf. Ons Christenbroers is destyds weens hulle neutraliteit in die tronk gegooi. Toe ek dus ’n afspraak maak om die magistraat te sien, het ek gewonder: ‘Is dit nou wys van my of trek ek aan die leeu se baard?’ Ek het nietemin voortgegaan, soos ek aangesê is om te doen.

Die magistraat, wat agter ’n indrukwekkende lessenaar gesit het, het my genooi om te sit. Toe ek vir hom die doel van my besoek verduidelik, het hy verstyf en my lank en strak aangekyk. Toe het hy ontspan en gesê: “Hoeveel kos het jy nodig?” Ek het hom ’n lys gegee met die absolute minimum van wat nodig was. Hy het dit bekyk en gesê: “Dit lyk nie vir my genoeg nie. Ons moet dit liewer verdubbel.” Ek het sy kantoor verlaat met innige dankbaarheid teenoor Jehovah, wat my weer eens ’n les in vertroue geleer het.

In Januarie 1941 is die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied. Baie mense het ons met agterdog begin bejeën en ons selfs daarvan beskuldig dat ons vir die Japannese spioeneer! By een geleentheid het twee voertuie vol polisiemanne en soldate aangejaag gekom by Kingdom Farm, ’n stuk grond op die Atherton-plato wat ons gekoop het om voedsel te verbou. Hulle het na ’n soeklig gesoek wat ons na bewering gebruik het om vir die vyand te sein. Ons is ook daarvan beskuldig dat ons mielies in ’n kode geplant het wat vanuit die lug gelees kon word! Al hierdie aantygings is natuurlik vals bewys.

As gevolg van die verbod moes ons versigtig—en vindingryk—wees wanneer ons lektuur afgelewer het. Toe die boek Kinders byvoorbeeld vrygestel is, het ek ’n boks daarvan in Brisbane gekry, per trein noordwaarts gereis en boeke by haltes gelos waar daar ’n gemeente was. Om polisie- en militêre inspekteurs te ontmoedig om die boks oop te maak, het ek ’n sirkelsaaglem saamgeneem en dit bo-op die boks vasgebind. ’n Eenvoudige plan, maar dit het altyd gewerk. Tot die groot verligting van Jehovah se volk is die verbod—wat deur ’n regter as “arbitrêr, ondeurdag en onderdrukkend” beskryf is—in Junie 1943 opgehef.

Opgeroep vir militêre diens

Ek, Aubrey Wills en Norman Bellotti is die vorige jaar vir militêre diens opgeroep. Aubrey en Norman is ’n week voor my ontbied en is tot ses maande tronkstraf gevonnis. Die poskantoor het destyds eksemplare van Die Wagtoring gekonfiskeer wat geadresseer was aan mense wat hulle geweet het Getuies is, maar nie dié wat aan ander intekenaars gestuur is nie. Dit was ons taak om een van hierdie mense te vind, afskrifte van die tydskrifte te maak en mede-Getuies van eksemplare te voorsien. Sodoende het ons gereeld geestelike voedsel ontvang.

Toe ek die verwagte vonnis van ses maande ontvang het, het ek onmiddellik daarteen geappelleer, soos die takkantoor in Sydney my aangeraai het om te doen. Ons oogmerk was om tyd te wen totdat iemand anders aangestel kon word om na die werk om te sien. Ek het my vryheid gebruik om party van die 21 Getuies wat in die noorde van Queensland in die tronk was, te besoek. Die meeste was in een tronk, en die bewaarder daar het ons gehaat. Toe ek hom daaraan herinner dat ander godsdiensleiers hulle lidmate kon besoek, het hy woedend geword. “As dit van my afgehang het”, het hy geskreeu, “sou ek al Jehovah se Getuies laat skiet het!” Die wagte het my vinnig uitgelei.

Toe my appèlsaak voorkom, het ek regshulp ontvang, soos voorgeskryf deur die wet. Maar in werklikheid het ek my saak self behartig, wat beteken het dat ek grootliks op Jehovah moes staatmaak. En hy het my nie in die steek gelaat nie (Lukas 12:11, 12; Filippense 4:6, 7). Die appèl was wonder bo wonder suksesvol, want daar is skryffoute op die klagstaat gevind!

In 1944 is ek na ’n groot kring gestuur wat die hele Suid-Australië, die noordelike deel van Victoria en die stad Sydney in Nieu-Suid-Wallis ingesluit het. Die volgende jaar is ’n wêreldwye openbaretoespraak-kampanje van stapel gestuur, en elke spreker moes sy eie toespraak voorberei, gebaseer op ’n bladsy lange skets wat voorsien is. Dit was ’n nuwe uitdaging om ’n uur lange toespraak te hou, maar ons het voortgegaan met volle vertroue in Jehovah, en hy het ons pogings geseën.

Die huwelik en nuwe verantwoordelikhede

Ek en Beatrice Bellotti is in Julie 1946 getroud, en ons het saam as pioniers gedien. Ons tuiste was ’n karavaan wat van laaghout gemaak was. Ons dogter en enigste kind, Jannyce (Jann), is in Desember 1950 gebore. Ons het op ’n aantal plekke gepionier, insluitende die dorp Kempsey, Nieu-Suid-Wallis, waar ons die enigste Getuies was. Ons het elke Sondag na ’n plaaslike gemeenskapsaal gegaan, en ek was voorbereid om ’n openbare toespraak te hou wat ons met strooibiljette geadverteer het. Beatrice en ons baba, Jann, was ’n paar maande lank my enigste gehoor. Maar kort voor lank het ander een vir een begin kom. Vandag is daar twee florerende gemeentes in Kempsey.

Toe Jann twee jaar oud was, het ons in Brisbane gaan woon. Toe sy haar skoolloopbaan voltooi het, het ons as ’n gesin vier jaar lank in Cessnock, ’n dorp in Nieu-Suid-Wallis, gepionier voordat ons teruggekeer het na Brisbane om Beatrice se ma te help, wat gesondheidsprobleme gehad het. Ek het tans die voorreg om as ’n ouer man in die Chermside-gemeente te dien.

Ek en Beatrice dank Jehovah vir sy tallose seëninge, onder andere die voorreg wat ons gehad het om 32 mense te help om hom te leer ken. Persoonlik dank ek Jehovah vir my dierbare vrou wat, hoewel sy ’n vriendelike en saggeaarde persoon is, nog altyd ’n onbevreesde stryder vir Bybelwaarheid was. Haar liefde vir God, haar vertroue in hom en haar ‘eenvoudige oog’ het haar ’n waarlik bekwame vrou en moeder gemaak (Matteus 6:22, 23; Spreuke 12:4). Saam met haar kan ek met my hele hart sê: “Geseënd is die man wat op Jehovah vertrou.”—Jeremia 17:7.

[Voetnoot]

a Percy Iszlaub se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 Augustus 1981 verskyn.

[Prent op bladsy 9]

Ons het hierdie klankmotor in die noorde van Queensland gebruik

[Prent op bladsy 10]

Ek help die Kilpatrick-susters met hulle voertuig gedurende die reënseisoen in die noorde van Queensland

[Prent op bladsy 12]

Op ons troudag