Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ondersoek “die diep dinge van God”

Ondersoek “die diep dinge van God”

Ondersoek “die diep dinge van God”

“Die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God.”—1 KORINTIËRS 2:10.

1. Wat is van die Bybelwaarhede wat nuwe Bybelstudente vreugdevol maak?

 DIE meeste van ons in die Christengemeente kan die vreugde onthou wat ons ervaar het toe ons aanvanklik die waarheid geleer het. Ons het uitgevind waarom Jehovah se naam belangrik is, waarom hy lyding toelaat, waarom party mense hemel toe gaan en wat die toekoms inhou vir getroue mense in die algemeen. Dalk het ons die Bybel vantevore ondersoek, maar hierdie dinge was vir ons verborge, soos vir die meeste van die mensdom. Ons was soos ’n man wat deur die water na ’n koraalrif probeer kyk. Met die blote oog sien hy nie juis veel van die pragtige dinge onder die oppervlak nie. Maar met behulp van ’n duikbril of ’n boot met ’n glasbodem sien hy tot sy vreugde vir die eerste keer helderkleurige korale, visse, seeanemone en ander fassinerende diere. Net so het ons ons eerste kykie in “die diep dinge van God” gekry toe iemand ons begin help het om die Skrif te verstaan.—1 Korintiërs 2:8-10.

2. Waarom kan die vreugde om uit God se Woord te leer, eindeloos wees?

2 Moet ons tevrede wees met net ’n kykie in Bybelwaarheid? Die uitdrukking “die diep dinge van God” behels ’n begrip van God se wysheid wat deur heilige gees aan Christene geopenbaar word, maar vir ander verborge is (1 Korintiërs 2:7). Wat ’n onbeperkte navorsingsveld bied die wysheid van God tog tot ons genot! Ons sal nooit alles weet van die wysheid van God se weë nie. Die vreugde wat ons gesmaak het toe ons aanvanklik die basiese Bybelleerstellings geleer het, kan tot onbepaalde tyd ons s’n wees as ons sonder ophou voortgaan om “die diep dinge van God” te ondersoek.

3. Waarom moet ons ’n deeglike begrip van die redes vir ons oortuiging hê?

3 Waarom moet ons hierdie “diep dinge” verstaan? As ons nie net verstaan wat ons glo nie, maar ook waarom ons dit glo—die onderliggende redes vir ons oortuiging—versterk dit ons geloof en vertroue. Die Skrif sê vir ons om ons “denkvermoë” te gebruik sodat ons self kan “seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:1, 2). As ons verstaan waarom Jehovah ons vra om op ’n sekere manier te lewe, maak dit ons meer vasbeslote om hom te gehoorsaam. Kennis van “die diep dinge” kan ons dus die krag gee om die versoeking te weerstaan om wettelose dinge te doen en kan ons beweeg om “ywerig vir goeie werke” te wees.—Titus 2:14.

4. Wat behels Bybelstudie?

4 Om diep dinge te verstaan, verg studie. Maar om te studeer, is nie dieselfde as om iets net oppervlakkig te lees nie. Dit behels dat ons inligting noukeurig moet ondersoek om te sien hoe dit inpas by die patroon van wat ons reeds weet (2 Timoteus 1:13). Dit beteken dat ons die redes vir wat gesê word, moet begryp. Bybelstudie moet bepeinsing insluit oor hoe ons die dinge wat ons leer, kan gebruik om verstandige besluite te maak en ander te help. En aangesien ‘die hele Skrif deur God geïnspireer en nuttig is’, moet ons studie “elke woord wat uit Jehovah se mond kom”, insluit (2 Timoteus 3:16, 17; Matteus 4:4). Bybelstudie kan harde werk wees! Maar dit kan ook genotvol wees, en dit is nie te moeilik om “die diep dinge van God” te verstaan nie.

Jehovah help die sagmoediges om te verstaan

5. Wie kan “die diep dinge van God” verstaan?

5 Selfs as jy nie op skool uitgeblink het nie en nie gewoond is om te studeer nie, moet jy nie dink dat “die diep dinge van God” bo jou vuurmaakplek is nie. Gedurende Jesus se aardse bediening was dit nie vir wyse en intellektuele mense dat Jehovah dit moontlik gemaak het om Sy voorneme te verstaan nie, maar vir ongeleerde en gewone mense wat nederig genoeg was om deur God se kneg geleer te word. Hulle was soos klein kindertjies in vergelyking met diegene wat in die skole opgevoed is (Matteus 11:25; Handelinge 4:13). Aangaande “die dinge wat God berei het vir dié wat hom liefhet”, het die apostel Paulus vir sy medegelowiges geskryf: “Aan ons het God dit deur sy gees geopenbaar, want die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God.”—1 Korintiërs 2:9, 10.

6. Wat beteken 1 Korintiërs 2:10?

6 Hoe ondersoek God se gees “alle dinge, selfs die diep dinge van God”? Pleks van elke Christen ’n afsonderlike openbaring te gee, gebruik Jehovah sy gees om sy organisasie te rig, wat aan God se verenigde volk ’n begrip van die Bybel voorsien (Handelinge 20:28; Efesiërs 4:3-6). Wêreldwyd geniet alle gemeentes ’n soortgelyke Bybelstudieprogram. Oor ’n tydperk van jare dek hulle die hele spektrum van Bybelleerstellings. Heilige gees werk deur die gemeente om mense te help om die gesindheid aan te kweek wat nodig is om “die diep dinge van God” te verstaan.—Handelinge 5:32.

Wat “die diep dinge van God” insluit

7. Waarom verstaan baie mense nie “die diep dinge van God” nie?

7 Ons moenie dink dat “diep dinge” noodwendig moeilike dinge is nie. Kennis van “die diep dinge van God” is vir die meeste mense verborge, nie omdat die wysheid van God te moeilik is om te verkry nie, maar omdat Satan mense bedrieg sodat hulle die hulp verwerp wat Jehovah deur Sy organisasie voorsien.—2 Korintiërs 4:3, 4.

8. Na watter diep dinge het Paulus verwys in die derde hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs?

8 Die derde hoofstuk van Paulus se brief aan die Efesiërs toon dat “die diep dinge van God” baie waarhede insluit wat die meeste van Jehovah se knegte redelik goed verstaan, soos die identiteit van die beloofde Saad, die verkiesing uit die mensdom van individue met ’n hemelse hoop en die Messiaanse Koninkryk. Paulus het geskryf: “In ander geslagte is hierdie geheim nie aan die mensekinders bekend gemaak soos dit nou deur gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat mense van die nasies mede-erfgename moet wees en medelede van die liggaam en deelgenote met ons van die belofte in eenheid met Christus Jesus.” Paulus het gesê dat hy die toewysing ontvang het om “mense [te] laat sien hoe die heilige geheim uitgevoer word, wat van die onbepaalde verlede af verborge was in God”.—Efesiërs 3:5-9.

9. Waarom is dit ’n voorreg om “die diep dinge van God” te verstaan?

9 Paulus het daarna verduidelik dat dit ook God se wil is dat “die uiters veelsydige wysheid van God . . . deur middel van die gemeente . . . in die hemelse plekke bekend gemaak kan word” (Efesiërs 3:10). Engele vind baat daarby wanneer hulle die wysheid van Jehovah se handelinge met die Christengemeente sien en verstaan. Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om dinge te verstaan waarin selfs engele belangstel! (1 Petrus 1:10-12). Vervolgens sê Paulus dat ons daarna moet strewe om “saam met al die heiliges verstandelik te begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte is” van die Christelike geloof (Efesiërs 3:11, 18). Kom ons kyk nou na ’n paar voorbeelde van diep dinge wat ons begrip kan vergroot.

Voorbeelde van diep dinge

10, 11. Wanneer het Jesus, volgens die Skrif, die primêre deel van die “saad” van God se hemelse “vrou” geword?

10 Ons weet dat Jesus die primêre deel van die “saad” van God se hemelse “vrou” is na wie daar in Genesis 3:15 verwys word. Om ons begrip te verbreed, kan ons vra: ‘Wanneer het Jesus die Saad geword wat belowe is? Was dit die een of ander tyd gedurende sy voormenslike bestaan, by sy geboorte as ’n mens, by sy doop of toe hy opgewek is?’

11 God het belowe dat die hemelse deel van sy organisasie, waarna daar in profesieë verwys word as sy “vrou”, ’n saad sou voortbring wat die slang se kop sou vermorsel. Maar duisende jare het verbygegaan en God se vrou het geen saad voortgebring wat Satan en sy werke kon vernietig nie. Gevolglik noem Jesaja se profesie haar “onvrugbaar” en “gekrenk in gees” (Jesaja 54:1, 5, 6). Uiteindelik is Jesus in Betlehem gebore. Maar dit was eers ná sy doop, toe hy deur die gees verwek is om ’n geestelike seun van God te word, dat Jehovah aangekondig het: “Dit is my Seun” (Matteus 3:17; Johannes 3:3). Die primêre deel van die “saad” van die vrou het uiteindelik verskyn. Later is volgelinge van Jesus ook deur heilige gees gesalf en verwek. Jehovah se “vrou”, wat so lank gevoel het soos ’n “vrou wat nie geboorte gegee het nie”, kon uiteindelik “met vreugde [uitroep]”.—Jesaja 54:1; Galasiërs 3:29.

12, 13. Watter tekste toon dat alle gesalfde Christene op aarde “die getroue en verstandige slaaf” uitmaak?

12 ’n Tweede voorbeeld van diep dinge wat aan ons geopenbaar is, hou verband met God se voorneme om 144 000 mense uit die mensdom te kies (Openbaring 14:1, 4). Ons aanvaar die lering dat al die gesalfdes wat op enige gegewe tyd op die aarde lewe, “die getroue en verstandige slaaf” uitmaak, wat volgens Jesus tydige “voedsel” aan sy huisknegte sou voorsien (Matteus 24:45). Watter Bybeltekste bewys dat hierdie begrip reg is? Het Jesus dalk in ’n algemene sin verwys na enige Christen wat sy broers met geestelike voedsel opbou?

13 God het vir die nasie Israel gesê: “Julle is my getuies . . . ja, my kneg wat ek uitverkies het” (Jesaja 43:10). Maar op 11 Nisan 33 G.J. het Jesus vir die leiers van Israel gesê dat God hulle nasie as Sy kneg verwerp het. Hy het gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.” Jesus het vir die skares gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 21:43; 23:38). As Jehovah se slaaf was die huis van Israel nie getrou of verstandig nie (Jesaja 29:13, 14). Later daardie selfde dag, toe Jesus gevra het: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” het hy in werklikheid gevra: ‘Watter verstandige nasie sal Israel as God se getroue slaaf vervang?’ Die apostel Petrus het die antwoord verstrek toe hy vir die gemeente van gesalfde Christene gesê het: “Julle is . . . ’’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit’” (1 Petrus 1:4; 2:9). Daardie geestelike nasie, “die Israel van God”, het Jehovah se nuwe slaaf geword (Galasiërs 6:16). Net soos alle lede van eertydse Israel een “kneg” uitgemaak het, so maak ook alle gesalfde Christene wat op enige gegewe tyd op die aarde is, een “getroue en verstandige slaaf” uit. Wat ’n voorreg is dit tog om deur middel van God se slaaf “voedsel” te ontvang!

Persoonlike studie kan genotvol wees

14. Waarom verskaf Bybelstudie, in groter mate as net Bybellees, vreugde?

14 Is ons nie bly oor die manier waarop ons geloof versterk word wanneer ’n vars begrip van die Skrif aan ons geopenbaar word nie? Dit is waarom Bybelstudie, in groter mate as net Bybellees, soveel vreugde kan verskaf. Wanneer jy Christelike publikasies lees, moet jy jou dus afvra: ‘Hoe vergelyk hierdie verduideliking met wat ek voorheen van die onderwerp verstaan het? Aan watter bykomende Bybeltekste of argumente kan ek dink wat verdere steun sal verleen aan die gevolgtrekkings wat in hierdie artikel gemaak word?’ As verdere navorsing nodig is, kan jy die vraag neerskryf waarop jy ’n antwoord wil hê en dit die onderwerp van ’n toekomstige studieprojek maak.

15. Watter studieprojekte kan genotvol wees, en hoe kan dit jou en ander tot blywende voordeel strek?

15 Watter studieprojekte kan jou die vreugde van nuwe insig verskaf? Projekte soos ’n diepgaande ontleding van die verskillende verbonde wat God gesluit het tot voordeel van die mensdom, is insiggewend. Jy kan jou geloof versterk deur ’n studie te maak van die profesieë in verband met Jesus Christus of ’n vers-vir-vers-uiteensetting van een van die profetiese boeke van die Bybel. Dit is ook geloofversterkend om die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies te hersien met behulp van die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, as hierdie publikasie in jou taal beskikbaar is. a En ’n hersiening van vorige “Vrae van lesers” wat in Die Wagtoring gepubliseer is, sal jou beslis ’n vars begrip van sekere tekste gee. Let veral op die skriftuurlike redenasie wat gebruik word om die gevolgtrekkings te maak. Dit sal jou help om jou “waarnemingsvermoëns” te oefen en om onderskeidingsvermoë te ontwikkel (Hebreërs 5:14). Wanneer jy studeer, kan jy aantekeninge in jou persoonlike eksemplaar van die Bybel of op ’n stuk papier maak sodat jou studie jou en diegene wat jy help, tot blywende voordeel sal strek.

Help jongmense om Bybelstudie te geniet

16. Hoe kan julle jongmense help om Bybelstudie te geniet?

16 Ouers kan baie doen om hulle kinders se geestelike aptyt te wek. Moenie jongmense se vermoë om diep dinge te verstaan, onderskat nie. As jy vir kinders ’n onderwerp gee om vir die gesinsbybelstudie na te vors, kan jy hulle uitvra oor wat hulle geleer het. Die gesinstudie kan ook oefensessies insluit waarin jongmense gehelp kan word om te leer hoe om hulle geloof te verdedig en te bewys dat wat hulle geleer is, waar is. Verder kan jy die brosjure ‘Sien die goeie land’ b gebruik om hulle Bybelgeografie te leer en ’n beter begrip te gee van wat julle in julle weeklikse Bybellees dek.

17. Waarom moet ons gebalanseerd wees wat persoonlike Bybelstudieprojekte betref?

17 Persoonlike Bybelstudieprojekte kan fassinerend en geloofversterkend wees, maar moenie toelaat dat dit jou voorbereiding vir Christelike vergaderinge oorskadu nie. Die vergaderinge is nog ’n manier waarop Jehovah ons deur “die getroue en verstandige slaaf” onderrig. Bykomende navorsing kan jou egter help om betekenisvolle kommentare by vergaderinge te lewer—byvoorbeeld by die Gemeentelike Boekstudie of gedurende die glanspunte van die weeklikse Bybelleesgedeelte vir die Teokratiese Bedieningskool.

18. Waarom is die inspanning wat nodig is om “die diep dinge van God” te bestudeer, die moeite werd?

18 Diep persoonlike studie van God se Woord kan jou help om nader aan Jehovah te kom. Die Bybel toon hoe waardevol sulke studie is en sê: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou” (Prediker 7:12). Die inspanning wat nodig is om jou begrip van geestelike dinge te vergroot, is dus die moeite werd. Die Bybel belowe diegene wat bly soek: “Jy sal die kennis van God vind.”—Spreuke 2:4, 5.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Wat is “die diep dinge van God”?

• Waarom moet ons studie van die diep dinge nooit ophou nie?

• Waarom kan alle Christene die vreugde smaak om “die diep dinge van God” te verstaan?

• Hoe kan jy in ’n groter mate by “die diep dinge van God” baat vind?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Wanneer het Jesus die Saad geword wat belowe is?

[Prent op bladsy 31]

Ouers kan hulle kinders onderwerpe gee om vir die gesinstudie na te vors