Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antieke potskerwe bevestig die Bybelverslag

Antieke potskerwe bevestig die Bybelverslag

Antieke potskerwe bevestig die Bybelverslag

DIE Bybel is die geïnspireerde Woord van God (2 Timoteus 3:16). Wat dit oor mense, plekke en die godsdiens- en politieke situasies van die ou tyd sê, is akkuraat. Die egtheid van die Skrif hang geensins af van argeologiese ontdekkings nie, hoewel sulke ontdekkings wel ons begrip van die Bybelverslag bevestig of verhelder.

Die algemeenste items wat argeoloë tydens opgrawings van eertydse terreine vind, is potskerwe, of stukke gebreekte erdewerk. Daar word ook na hierdie erdewerkfragmente verwys as ostraka, ’n woord afkomstig van die Griekse woord vir “skulp, potskerf”. Erdewerkfragmente het as goedkoop skryfmateriaal gedien op baie plekke in die eertydse Midde-Ooste, insluitende Egipte en Mesopotamië. Ostraka is gebruik om kontrakte, rekeninge, verkope, ensovoorts, op te teken, net soos notaboeke en velle papier vandag gebruik word. Die teks op ostraka, wat oor die algemeen in ink geskryf is, kon wissel van net een woord tot tientalle reëls of kolomme.

Argeologiese opgrawings in Israel het baie ostraka uit Bybeltye opgelewer. Drie versamelings wat uit die sewende en agtste eeue v.G.J. dateer, is van spesiale belang omdat dit verskeie besonderhede van geskiedkundige verslae in die Bybel bevestig. Die versamelings is die Samaria-ostraka, die Arad-ostraka en die Lagis-ostraka. Kom ons kyk van naderby na elkeen van hierdie versamelings.

Die Samaria-ostraka

Samaria was die hoofstad van die noordelike tienstammeryk van Israel totdat die stad in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower is. Eerste Konings 16:23, 24 sê die volgende oor die ontstaan van Samaria: “In die een-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda [947 v.G.J.], het Omri koning oor Israel geword . . . En hy het die berg Samaria vir twee talente silwer van Semer gekoop, en hy het op die berg begin bou en het die stad wat hy gebou het, Samaria genoem.” Die stad het deur die Romeinse era heen bestaan, toe dit tot Sebaste hernoem is. Dit het uiteindelik in die sesde eeu G.J. as ’n stad verdwyn.

Tydens ’n opgrawing wat in 1910 by eertydse Samaria gedoen is, het ’n span argeoloë ’n versameling ostraka gevind, wat volgens hulle uit die agtste eeu v.G.J. dateer. Die teks daarop was rekords van besendings olie en wyn wat uit verskeie plekke in die omgewing na Samaria gestuur is. Die boek Ancient Inscriptions—Voices From the Biblical World lewer kommentaar oor hierdie ontdekking en sê: “Die 63 ostraka wat in 1910 ontdek is . . . , [word] tereg beskou as een van die belangrikste versamelings epigrafiese [geskrewe] materiaal uit eertydse Israel wat behoue gebly het. Dit is nie die inhoud van die Samaria-ostraka wat dit belangrik maak nie . . . maar eerder die groot aantal Israelitiese persoonsname, familiename en geografiese benamings wat dit bevat.” Hoe bevestig hierdie name besonderhede in die Bybelverslag?

Toe die Israeliete die Beloofde Land verower het en dit onder die stamme verdeel het, was die plek waar Samaria later geleë was, in die stamgebied van Manasse. Volgens Josua 17:1-6 het tien families van Manasse, deur sy kleinseun Gilead, stukke land in hierdie gebied ontvang. Hulle was Abiëser, Helek, Asriël, Sigem en Semida. Die sesde manlike familielid, Hefer, het geen kleinseuns gehad nie maar wel vyf kleindogters—Magla, Noa, Hogla, Milka en Tirsa—en elkeen van hulle het ’n stuk land ontvang.—Numeri 27:1-7.

Sewe van hierdie familiename het op die Samaria-ostraka behoue gebly—al vyf name van Gilead se seuns en twee van Hefer se kleindogters, Hogla en Noa. “Die familiename wat op die Samaria-ostraka behoue gebly het, voorsien ’n nie-Bybelse skakel tussen die families van Manasse en die gebied waarin die Bybel sê hulle hulle gevestig het”, sê die NIV Archaeological Study Bible. Hierdie aspek van Israel se vroeë stamgeskiedenis soos dit in die Bybel beskryf word, word dus deur hierdie ostraka bevestig.

Dit wil ook voorkom of die Samaria-ostraka die godsdienssituasie van die Israeliete soos dit in die Bybel beskryf word, bevestig. In die tyd toe die Samaria-ostraka geskryf is, het die Israeliete die aanbidding van Jehovah met dié van die Kanaänitiese god Baäl vermeng. Hosea se profesie, wat ook gedurende die agtste eeu v.G.J. geskryf is, het ’n tyd voorspel wanneer Israel Jehovah berouvol “My man” sou noem en nie meer “My baäl”, of “My eienaar”, nie (Hosea 2:16, 17; voetnoot in NW). Party persoonsname wat op die Samaria-ostraka gevind word, het onder andere “Baäl is my vader”, “Baäl sing”, “Baäl is sterk” en “Baäl onthou” beteken. Vir elke 11 persoonsname wat ’n vorm van die naam Jehovah bevat, is daar 7 met die komponent “Baäl”.

Die Arad-ostraka

Arad was ’n eertydse stad wat geleë was in die halfdroë streek wat die Negeb genoem word, redelik ver suid van Jerusalem. Opgrawings by Arad het ses opeenvolgende Israelitiese vestings aan die lig gebring, van die tyd van Salomo se koningskap af (1037-998 v.G.J.) tot die tyd van die Babiloniese vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. By Arad het die argeoloë die grootste versameling ostraka uit Bybeltye opgegrawe. Dit sluit meer as 200 voorwerpe in met inskripsies in Hebreeus, Aramees en ander tale.

Party van die Arad-ostraka bevestig Bybelse inligting oor priesterlike families. Een potskerf meld byvoorbeeld “die seuns van Korag”, waarna daar in Eksodus 6:24 en Numeri 26:11 verwys word. In die opskrifte van Psalms 42, 44-49, 84, 85, 87 en 88 word hierdie psalms spesifiek aan “die seuns van Korag” toegeskryf. Ander priesterlike families wat op die Arad-ostraka genoem word, is dié van Pasgur en Meremot.—1 Kronieke 9:12; Esra 8:33.

Kyk na nog ’n voorbeeld. In die ruïnes van ’n vesting wat uit die tydperk net voor die Babiloniese vernietiging van Jerusalem dateer, het argeoloë ’n potskerf ontdek wat aan die bevelvoerder van die vesting gerig is. Volgens die publikasie The Context of Scripture sê dit gedeeltelik: “Aan my heer Eljasib. Mag Jahweh [Jehovah] in u welstand belangstel. . . . Aangaande die saak waaroor u my opdrag gegee het: alles gaan nou goed: hy bly tans in die tempel van Jahweh.” Baie geleerdes meen dat die tempel waarna hier verwys word, die tempel in Jerusalem is, wat oorspronklik in die tyd van Salomo gebou is.

Die Lagis-ostraka

Die eertydse vestingstad Lagis was 43 kilometer suidwes van Jerusalem geleë. Gedurende opgrawings in 1930 is ’n klomp ostraka gevind, en ten minste 12 stukke is briewe wat beskryf is as “uiters belangrik . . . omdat dit lig werp op die politieke situasie en die onrus wat oor die algemeen geheers het terwyl Juda voorberei het op die onafwendbare aanval deur [die Babiloniese koning] Nebukadnesar”.

Die belangrikste briewe is korrespondensie tussen ’n onderoffisier en Jaosj, waarskynlik die militêre bevelvoerder by Lagis. Die taal in die briewe is soortgelyk aan dié in die geskrifte van die profeet Jeremia, wat in dieselfde tyd gelewe het. Kyk hoe twee van hierdie briewe die Bybelse beskrywing van daardie kritieke tydperk bevestig.

In Jeremia 34:7 beskryf die profeet die tyd “toe die krygsmag van die koning van Babilon teen Jerusalem geveg het en teen al die stede van Juda wat oorgebly het, teen Lagis en teen Aseka; want hulle, die versterkte stede, het oorgebly onder die stede van Juda”. Dit wil voorkom asof die skrywer van een van die Lagis-briewe dieselfde gebeure beskryf. Hy skryf: “Ons is op die uitkyk na die [vuur]-seine van Lagis . . . , omdat ons Aseka nie kan sien nie.” Volgens baie geleerdes dui dit aan dat Aseka deur die Babiloniërs verower is en dat Lagis volgende sou wees. ’n Interessante besonderheid in hierdie teks is die verwysing na “vuurseine”. Jeremia 6:1 meld ook die gebruik van hierdie kommunikasiemiddel.

’n Ander Lagis-brief bevestig vermoedelik wat die profete Jeremia en Esegiël sê oor die pogings van die koning van Juda om ondersteuning van Egipte te kry in die opstand teen Babilon (Jeremia 37:5-8; 46:25, 26; Esegiël 17:15-17). Die Lagis-brief sê: “U kneg het nou die volgende inligting ontvang: Generaal Konjahu, die seun van Elnatan, het suidwaarts beweeg sodat hy Egipte kan binnegaan.” Oor die algemeen interpreteer geleerdes hierdie optrede as ’n poging om militêre hulp van Egipte te kry.

Die Lagis-ostraka meld ook ’n aantal name wat in die boek Jeremia gevind word. Hulle is Neria, Jaäsanja, Gemarja, Elnatan en Hosaja (Jeremia 32:12; 35:3; 36:10, 12; 42:1). Daar kan nie met sekerheid gesê word dat hierdie name na dieselfde persone verwys nie. Maar aangesien Jeremia gedurende daardie tydperk gelewe het, is die ooreenkoms opmerkenswaardig.

’n Gemeenskaplike kenmerk

Die versamelings ostraka van Samaria, Arad en Lagis bevestig ’n aantal besonderhede wat in die Bybel opgeteken is. Dit sluit familiename, geografiese benamings en aspekte van die godsdiens- en politieke klimaat van daardie tyd in. Daar is egter ’n belangrike kenmerk wat in al drie versamelings voorkom.

Die briewe in die Arad- en Lagis-versamelings bevat frases soos “Mag Jehovah om u vrede vra”. In sewe van die Lagis-boodskappe word God se naam altesaam 11 keer genoem. Wat meer is, baie van die Hebreeuse persoonsname in al drie versamelings bevat die afgekorte vorm van die naam Jehovah. Hierdie ostraka bevestig dus dat die goddelike naam in alledaagse gebruik was onder die Israeliete van daardie tyd.

[Prent op bladsy 13]

’n Potskerf uit die ruïnes van Arad wat aan ’n man genaamd Eljasib gerig is

[Erkenning]

Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority

[Prent op bladsy 14]

’n Lagis-brief met God se naam

[Erkenning]

Photograph taken by courtesy of the British Museum