Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kweek eienskappe aan wat jou kan help om dissipels te maak

Kweek eienskappe aan wat jou kan help om dissipels te maak

Kweek eienskappe aan wat jou kan help om dissipels te maak

“Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies.”—MATTEUS 28:19.

1. Watter vaardighede en gesindhede het party van God se knegte in die verlede nodig gehad?

 JEHOVAH se knegte moet soms vaardighede en gesindhede ontwikkel wat hulle sal help om sy wil te doen. Op God se bevel het Abraham en Sara byvoorbeeld die welvarende stad Ur verlaat, en hulle moes uiteindelik die eienskappe en vermoëns aanleer wat tentbewoners nodig gehad het (Hebreërs 11:8, 9, 15). Om die Israeliete in die Beloofde Land in te lei, het vereis dat Josua moed, vertroue in Jehovah en kennis van sy Wet moes hê (Josua 1:7-9). En watter vaardighede Besaleël en Oholiab ook al reeds gehad het, dit is ongetwyfeld verbeter en verder ontwikkel deur God se gees, sodat daardie manne suksesvol kon deelneem aan en toesig hou oor die bou van die tabernakel en verwante werk.—Eksodus 31:1-11.

2. Watter vrae in verband met die dissipelmaakwerk gaan ons bespreek?

2 Eeue later het Jesus Christus vir sy volgelinge hierdie opdrag gegee: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Nog nooit tevore is mense die voorreg gegee om so iets te doen nie. Watter eienskappe is nodig vir die dissipelmaakwerk? Hoe kan ons hierdie eienskappe aankweek?

Openbaar innige liefde vir God

3. Wat gee die opdrag om dissipels te maak ons die geleentheid om te doen?

3 Om mense te nader en hulle te probeer oorreed om die ware God te aanbid, vereis dat ons innige liefde vir Jehovah moet hê. Die Israeliete kon hulle liefde vir God bewys deur sy gebooie heelhartig te gehoorsaam, aanvaarbare offerandes te bring en hom met sang te loof (Deuteronomium 10:12, 13; 30:19, 20; Psalm 21:13; 96:1, 2; 138:5). As dissipelmakers gehoorsaam ons eweneens God se wette, maar ons toon ook ons liefde vir Jehovah deur ander van hom en sy voornemens te vertel. Ons moet met oortuiging praat en die regte woorde kies om ons hartgrondige gevoelens oor ons godgegewe hoop uit te druk.—1 Tessalonisense 1:5; 1 Petrus 3:15.

4. Waarom het Jesus dit geniet om mense van Jehovah te leer?

4 Omdat Jesus innige liefde vir Jehovah gehad het, het dit hom groot vreugde verskaf om oor God se voornemens, die Koninkryk en ware aanbidding te praat (Lukas 8:1; Johannes 4:23, 24, 31). Trouens, Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Die volgende woorde van die psalmis is op Jesus van toepassing: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande. Ek het die goeie nuus van regverdigheid in die groot gemeente verkondig. Kyk! My lippe bedwing ek nie. O Jehovah, u weet dit goed.”—Psalm 40:8, 9; Hebreërs 10:7-10.

5, 6. Wat is die sleuteleienskap wat dissipelmakers nodig het?

5 Omdat nuwelinge wat onlangs Bybelwaarheid geleer het, deur liefde vir God gemotiveer word, praat hulle soms met sulke oortuiging oor Jehovah en die Koninkryk dat hulle redelik suksesvol daarin is om ander te oortuig om die Skrif te ondersoek (Johannes 1:41). Liefde vir God is die sleutelfaktor wat ons motiveer om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Laat ons daardie liefde dus lewendig hou deur gereeld sy Woord te lees en daaroor te peins.—1 Timoteus 4:6, 15; Openbaring 2:4.

6 Liefde vir Jehovah het Jesus Christus ongetwyfeld gehelp om ’n ywerige onderrigter te wees. Maar dit was nie die enigste rede vir sy doeltreffendheid as ’n Koninkryksverkondiger nie. Watter ander eienskap het Jesus dan ’n suksesvolle dissipelmaker gemaak?

Toon liefdevolle besorgdheid oor mense

7, 8. Hoe het Jesus mense beskou?

7 Jesus was besorg oor mense en het ’n lewendige belangstelling in hulle getoon. Selfs gedurende sy voormenslike bestaan as God se “meesterwerker” was hy lief vir die dinge in verband met die mens (Spreuke 8:30, 31). As ’n man op aarde het Jesus medelye met mense gehad en dié verkwik wat na hom toe gekom het (Matteus 11:28-30). Jesus het Jehovah se eie liefde en medelye weerspieël, en dit het mense na die aanbidding van die enigste ware God aangetrek. Allerhande soorte mense het na Jesus geluister omdat hy liefdevol besorg was oor hulle en hulle omstandighede.—Lukas 7:36-50; 18:15-17; 19:1-10.

8 Toe ’n sekere man gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te beërf, het “Jesus . . . hom aangekyk en hom liefgekry” (Markus 10:17-21). Aangaande sekere persone wat Jesus in Betanië onderrig het, lees ons: “Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” (Johannes 11:1, 5). Jesus het soveel vir mense omgegee dat hy hom nodige rus ontsê het sodat hy hulle kon leer (Markus 6:30-34). Hierdie diepe en liefdevolle besorgdheid oor sy medemens het Jesus suksesvoller as enigiemand anders gemaak om mense na ware aanbidding te trek.

9. Watter gesindheid het Paulus as ’n dissipelmaker gehad?

9 Die apostel Paulus was ook diep besorg oor die mense vir wie hy getuig het. Hy het byvoorbeeld vir diegene in Tessalonika wat Christene geword het, gesê: “Omdat ons . . . ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword.” Danksy Paulus se liefdevolle pogings het party in Tessalonika ‘hulle van hulle afgode afgekeer om die lewende God as slawe te dien’ (1 Tessalonisense 1:9; 2:8). As ons, soos Jesus en Paulus, opreg besorg is oor mense, sal ons dalk ook die vreugde smaak om te sien hoe die goeie nuus die harte bereik van dié wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het.—Handelinge 13:48.

Lê ’n selfopofferende gees aan die dag

10, 11. Waarom is ’n selfopofferende gees nodig wanneer ons dissipels probeer maak?

10 Suksesvolle dissipelmakers het ’n selfopofferende gees. Hulle dink beslis nie dat die verkryging van rykdom van die allergrootste belang is nie. Trouens, Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal dit tog vir dié met geld wees om in die koninkryk van God in te gaan!” Die dissipels was verbaas om dit te hoor, maar Jesus het bygevoeg: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Markus 10:23-25). Jesus het aanbeveel dat sy volgelinge ’n eenvoudige lewe lei sodat hulle hulle daarop kon toelê om dissipels te maak (Matteus 6:22-24, 33). Waarom help ’n selfopofferende gees ons om dissipels te maak?

11 Dit verg baie inspanning om ander al die dinge te leer wat Jesus beveel het. ’n Dissipelmaker probeer gewoonlik om elke week ’n Bybelstudie met ’n belangstellende te hou. Om meer geleenthede te skep om opregtes te vind, het sommige Koninkryksverkondigers wat voltyds gewerk het, deeltyds begin werk. Duisende Christene het ’n nuwe taal aangeleer sodat hulle sekere etniese groepe in hulle gebied kan bereik. Ander dissipelmakers het na ’n ander gebied of land verhuis om ’n groter aandeel aan die oes te hê (Matteus 9:37, 38). Dit alles vereis ’n selfopofferende gees. Maar meer as dit is nodig om ’n suksesvolle dissipelmaker te wees.

Wees geduldig sonder om tyd te mors

12, 13. Waarom is geduld so belangrik om dissipels te maak?

12 Geduld is nog ’n eienskap wat ons help om dissipels te maak. Ons Christelike boodskap vereis dringende optrede, maar dit neem dikwels heelwat tyd en verg geduld om dissipels te maak (1 Korintiërs 7:29). Jesus was nie ongeduldig met sy halfbroer Jakobus nie. Hoewel Jakobus blykbaar goed vertroud was met Jesus se predikingsbedrywighede, het iets hom ’n tyd lank verhinder om ’n dissipel te word (Johannes 7:5). Maar in die kort rukkie tussen Christus se dood en Pinkster 33 G.J. het Jakobus klaarblyklik ’n dissipel geword, want die Skrif toon dat hy moontlik saam met sy moeder, sy broers en die apostels bymekaargekom het om te bid (Handelinge 1:13, 14). Jakobus het goeie geestelike vordering gemaak, en hy het later gewigtige verantwoordelikhede in die Christengemeente gehad.—Handelinge 15:13; 1 Korintiërs 15:7.

13 Soos boere, kweek Christene dinge wat dikwels stadig groei—’n begrip van God se Woord, liefde vir Jehovah en ’n Christelike gees. Dit verg geduld. Jakobus het geskryf: “Beoefen . . . geduld, broers, tot die teenwoordigheid van die Here. Kyk! Die boer wag vir die kosbare vrug van die aarde en beoefen geduld ten opsigte daarvan totdat hy die vroeë reën en die laat reën kry. Julle moet ook geduld beoefen; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom” (Jakobus 5:7, 8). Jakobus het medegelowiges aangemoedig om ‘tot die teenwoordigheid van die Here geduld te beoefen’. As die dissipels iets nie verstaan het nie, het Jesus dit geduldig verduidelik of geïllustreer (Matteus 13:10-23; Lukas 19:11; 21:7; Handelinge 1:6-8). Noudat die Here teenwoordig is, is dit net so nodig om geduldig te wees terwyl ons dissipels probeer maak. Diegene wat in ons dag Jesus se volgelinge word, het geduldige onderrigting nodig.—Johannes 14:9.

14. Hoe kan ons, hoewel ons geduldig is, ons tyd wyslik gebruik as dissipelmakers?

14 Hoewel ons geduldig is, bring die woord nie vrug voort in die meeste mense met wie ons die Bybel begin studeer nie (Matteus 13:18-23). Nadat ons dus redelike pogings aangewend het om hulle te help, hou ons wyslik op om tyd saam met sulke mense deur te bring en probeer ons om diegene te vind wat dalk meer geneig sal wees om Bybelwaarheid te waardeer (Prediker 3:1, 6). Natuurlik sal selfs waarderende mense moontlik heelwat hulp nodig hê om hulle beskouings, gesindhede en prioriteite in die lewe te verander. Ons is dus geduldig, net soos Jesus geduldig was met die dissipels wat dit moeilik gevind het om die regte gesindheid aan te kweek.—Markus 9:33-37; 10:35-45.

Ontwikkel die onderrigkuns

15, 16. Waarom is eenvoud en goeie voorbereiding belangrik wanneer ons dissipels maak?

15 Liefde vir God, besorgdheid oor mense, ’n selfopofferende gees en geduld is belangrike faktore om sukses te behaal in die dissipelmaakwerk. Onderrigvaardighede moet ook ontwikkel word, want dit stel ons in staat om sake op ’n duidelike, eenvoudige manier te verduidelik. Baie van wat die Groot Leermeester, Jesus Christus, byvoorbeeld gesê het, was besonder kragtig weens die eenvoud daarvan. Jy onthou waarskynlik van die volgende stellings wat deur Jesus gemaak is: “Gaar . . . vir julle skatte in die hemel op.” “Moenie wat heilig is, vir die honde gee nie.” “Die wysheid word deur sy werke geregverdig.” “Betaal . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 6:20; 7:6; 11:19; 22:21). Jesus het natuurlik nie net kort stellings gemaak nie. Sy onderrigting was duidelik, en hy het dinge verduidelik wanneer dit gepas was. Hoe kan jy Jesus se onderrigstyl navolg?

16 Deeglike voorbereiding is die sleutel tot eenvoud en duidelikheid. ’n Onvoorbereide bedienaar is geneig om te veel te praat. Hy sal moontlik die hoofgedagtes as ’t ware onder te veel woorde begrawe en alles sê wat hy van ’n onderwerp weet. In teenstelling hiermee dink die goed voorbereide bedienaar oor die persoon wat hy onderrig, peins hy oor die onderwerp en dra hy duidelik oor net wat nodig is (Spreuke 15:28; 1 Korintiërs 2:1, 2). Hy neem in ag hoeveel die student reeds weet en watter punte gedurende die studie beklemtoon moet word. Die bedienaar is dalk vertroud met talle interessante besonderhede oor die onderwerp, maar hy laat onnodige inligting weg om met duidelikheid te onderrig.

17. Hoe kan ons mense help om oor die Skrif te redeneer?

17 Jesus het mense ook gehelp om te redeneer en nie net vir hulle feite gegee nie. By een geleentheid het hy byvoorbeeld gevra: “Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?” (Matteus 17:25). Ons geniet dit dalk soveel om die Bybel te verduidelik dat ons selfbeheersing aan die dag moet lê sodat die student sy gedagtes kan uitspreek of ’n punt kan verduidelik wat tydens ’n tuisbybelstudie bespreek word. Ons moet mense natuurlik nie met vrae oorweldig nie. Ons kan hulle eerder met takt, goeie illustrasies en weldeurdagte vrae help om die skriftuurlike punte te verstaan wat in ons Bybelpublikasies uiteengesit word.

18. Wat is daarby betrokke om die “onderrigkuns” te ontwikkel?

18 Die Skrif praat van die “onderrigkuns” (2 Timoteus 4:2; Titus 1:9). Hierdie onderrigvermoë behels baie meer as om iemand te help om feite te memoriseer. Ons moet ’n Bybelstudent probeer help om die verskil te verstaan tussen wat waar en vals, goed en sleg, verstandig en dwaas is. Wanneer ons dit doen en liefde vir Jehovah in die persoon se hart probeer kweek, sal hy dalk verstaan waarom hy Hom moet gehoorsaam.

Neem ywerig aan die dissipelmaakwerk deel

19. Hoe help alle Christene om dissipels te maak?

19 Die Christengemeente is ’n organisasie wat dissipels maak. Wanneer ’n nuweling ’n dissipel word, is die Getuie van Jehovah wat hom gevind het en hom gehelp het om uit te vind wat die Bybel leer, nie die enigste een wat rede het om bly te wees nie. Wanneer mense ’n soekgeselskap organiseer om ’n verlore kind op te spoor, sal slegs een lid van die groep die kind dalk vind. Maar wanneer die kind met sy ouers herenig word, is almal wat help soek het, bly (Lukas 15:6, 7). Net so is die dissipelmaakwerk ’n spanpoging. Alle Christene soek saam na diegene wat moontlik Jesus se dissipels sal word. En wanneer ’n nuweling vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon, help elke Christen wat teenwoordig is, om sy waardering vir ware aanbidding op te bou (1 Korintiërs 14:24, 25). Alle Christene kan hulle dus verbly dat daar elke jaar honderdduisende nuwe dissipels gemaak word.

20. Wat moet jy doen as jy ander Bybelwaarheid wil leer?

20 Talle getroue Christene sal verheug wees om iemand omtrent Jehovah en ware aanbidding te leer. Maar ondanks hulle beste pogings kon hulle dit dalk nie doen nie. As dit die geval is met jou, gaan voort om jou liefde vir Jehovah te versterk, wees besorg oor mense, wees selfopofferend, beoefen geduld en probeer jou onderrigvaardighede verbeter. Maak bowenal jou begeerte om ander die waarheid te leer ’n saak van gebed (Prediker 11:1). Put vertroosting uit die wete dat alles wat jy in Jehovah se diens doen, tot die dissipelmaakwerk bydra wat God verheerlik.

Kan jy verduidelik?

• Waarom toets die dissipelmaakwerk ons liefde vir God?

• Watter eienskappe het dissipelmakers nodig?

• Wat behels die “onderrigkuns”?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Christene openbaar hulle innige liefde vir God deur dissipels te maak

[Prent op bladsy 23]

Waarom moet dissipelmakers in ander belangstel?

[Prent op bladsy 24]

Wat is van die eienskappe wat dissipelmakers nodig het?

[Prent op bladsy 25]

Alle Christene is verheug om die goeie resultate van die dissipelmaakwerk te sien