Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg die Groot Dissipelmaker na

Volg die Groot Dissipelmaker na

Volg die Groot Dissipelmaker na

“Skenk . . . aandag aan hoe julle luister.”—LUKAS 8:18.

1, 2. Waarom moet jy aandag skenk aan die manier waarop Jesus met mense in sy bediening gehandel het?

 JESUS CHRISTUS was besig om sy rol as die Groot Leermeester en Dissipelmaker te vervul toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:16-18). Hierdie beginsel is op jou bediening as ’n Christen van toepassing. As jy aandag skenk aan geestelike onderrigting, sal jy in ooreenstemming daarmee optree en ’n suksesvolle Koninkryksverkondiger wees. Jy kan Jesus se stem natuurlik nie vandag hoor nie, maar jy kan lees wat hy gesê en gedoen het, soos dit in die Skrif geopenbaar word. Wat toon dit oor die manier waarop Jesus met mense in sy bediening gehandel het?

2 Jesus was ’n uitstekende prediker van die goeie nuus en ’n uitsonderlike onderrigter van skriftuurlike waarheid (Lukas 8:1; Johannes 8:28). Die werk om dissipels te maak, behels dat ons preek sowel as onderrig, maar sommige Christene wat prysenswaardige predikers is, vind dit moeilik om mense doeltreffend te onderrig. Om te preek behels die verkondiging van ’n boodskap, maar om mense oor Jehovah en sy voornemens te leer, vereis gewoonlik dat ’n dissipelmaker ’n verhouding met hulle opbou (Matteus 28:19, 20). Dit kan gedoen word deur Jesus Christus, die Groot Leermeester en Dissipelmaker, na te volg.—Johannes 13:13.

3. Watter uitwerking kan dit op jou pogings hê om dissipels te maak as jy Jesus navolg?

3 As jy Jesus se onderrigmetodes navolg, slaan jy ag op die apostel Paulus se vermaning: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop. Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:5, 6). Dit verg inspanning om Jesus in die dissipelmaakwerk na te volg, maar dit sal jou onderrigting doeltreffend maak, want dit sal jou help om ‘elkeen te antwoord’ na gelang van sy individuele behoefte.

Jesus het ander aangemoedig om te praat

4. Waarom kan daar gesê word dat Jesus ’n goeie luisteraar was?

4 Jesus het van sy kinderdae af die gewoonte gehad om na mense te luister en hulle aan te moedig om hulle menings te lug. Toe hy 12 jaar oud was, het sy ouers hom byvoorbeeld tussen leermeesters in die tempel gevind, “waar hy . . . na hulle geluister en hulle uitgevra het” (Lukas 2:46). Jesus het nie na die tempel gegaan om sy kennis te gebruik om die leermeesters in die verleentheid te stel nie. Hy het daarheen gegaan om te luister, hoewel hy ook vrae gevra het. Sy geneigdheid om ’n goeie luisteraar te wees, was moontlik een eienskap wat hom guns by God en die mense laat verkry het.—Lukas 2:52.

5, 6. Hoe weet ons dat Jesus geluister het na diegene wat hy geleer het?

5 Nadat Jesus gedoop en as die Messias gesalf is, het hy nog steeds daarin belanggestel om na mense te luister. Hy het nie so verdiep geraak in wat hy ander geleer het dat hy vergeet het van diegene wat na hom kom luister het nie. Hy het dikwels gepouseer, hulle gevra wat hulle dink en geluister na hulle antwoord (Matteus 16:13-15). Ná die dood van Marta se broer, Lasarus, het Jesus byvoorbeeld vir haar gesê: “Elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie.” Toe het hy vir haar gevra: “Glo jy dit?” En Jesus het beslis geluister toe Marta geantwoord het: “Ja, Here; ek het geglo dat u die Christus is, die Seun van God” (Johannes 11:26, 27). Hoe bevredigend moes dit tog gewees het om te hoor hoe Marta haar geloof op hierdie wyse uitspreek!

6 Toe talle dissipels Jesus verlaat het, wou hy graag hoor wat sy apostels daarvan dink. Hy het dus gevra: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” Simon Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Johannes 6:66-69). Hoe bly moes daardie woorde Jesus tog gemaak het! As ’n Bybelstudent sy geloof op ’n soortgelyke wyse uitspreek, sal dit jou ongetwyfeld ook verheug.

Jesus het met respek geluister

7. Waarom het baie Samaritane geloof in Jesus begin stel?

7 Nog ’n rede waarom Jesus ’n suksesvolle dissipelmaker was, is omdat hy vir mense omgegee het en met respek na hulle geluister het. By een geleentheid het Jesus byvoorbeeld vir ’n Samaritaanse vrou naby Jakob se fontein by Sigar getuig. Tydens daardie bespreking het Jesus nie al die praatwerk gedoen nie; hy het geluister na wat sy te sê gehad het. Terwyl Jesus na haar geluister het, het hy haar belangstelling in aanbidding opgemerk en vir haar gesê dat God mense soek wat Hom met gees en waarheid sal aanbid. Jesus het respek vir en besorgdheid oor hierdie vrou getoon, waarna sy ander van hom vertel het, en “baie van die Samaritane uit daardie stad het geloof in hom gestel weens die woord van die vrou”.—Johannes 4:5-29, 39-42.

8. Hoe kan die feit dat mense geneig is om hulle opinies te gee, jou help om gesprekke in die bediening te begin?

8 Mense hou gewoonlik daarvan om hulle menings te lug. Die inwoners van eertydse Atene het byvoorbeeld daarvan gehou om hulle opinies te gee en na iets nuuts te luister. Dit het aanleiding gegee tot die apostel Paulus se doeltreffende toespraak op die Areopagus in daardie stad (Handelinge 17:18-34). Wanneer jy vandag ’n gesprek met ’n huisbewoner in die bediening begin, kan jy sê: “Ek besoek jou omdat ek belangstel in jou opinie oor [’n sekere onderwerp].” Luister na die persoon se mening en lewer kommentaar daarop, of vra ’n vraag daaroor. Wys dan op ’n vriendelike manier vir die persoon wat die Bybel oor die onderwerp sê.

Jesus het geweet wat om te sê

9. Wat het Jesus gedoen voordat hy “die Skrif ten volle . . . geopen” het vir Kleopas en sy metgesel?

9 Jesus het altyd geweet hoe om mense te antwoord. Behalwe dat hy ’n goeie luisteraar was, was hy dikwels bewus van wat mense dink, en hy het presies geweet wat om te sê (Matteus 9:4; 12:22-30; Lukas 9:46, 47). Ter toeligting: Kort ná Jesus se opstanding was twee van sy dissipels van Jerusalem af op pad na Emmaus. “Terwyl hulle gepraat en gedagtes gewissel het”, sê die Evangelieverslag, “het Jesus self nader gekom en saam met hulle begin loop; maar hulle oë is verhinder om hom te herken. Hy het vir hulle gesê: ‘Watter sake is dit wat julle so druk met mekaar loop en bespreek?’ En hulle het met droewige gesigte gaan staan. Die een met die naam Kleopas het geantwoord en vir hom gesê: ‘Woon u as ’n vreemdeling alleen in Jerusalem en weet u daarom nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?’ En hy het vir hulle gesê: ‘Watter dinge?’” Die Groot Leermeester het geluister terwyl hulle verduidelik het dat Jesus die Nasarener mense geleer het, wonderwerke verrig het en tereggestel is. Nou het sommige gesê dat hy uit die dode opgewek is. Jesus het Kleopas en sy metgesel laat klaar praat. Toe het hy aan hulle verduidelik wat hulle moes weet en “die Skrif ten volle vir [hulle] geopen”.—Lukas 24:13-27, 32.

10. Hoe kan jy uitvind wat die godsdiensbeskouing is van iemand wat jy in jou bediening ontmoet?

10 Jy weet dalk niks omtrent die godsdiensbeskouing van ’n sekere huisbewoner nie. Om uit te vind wat dit is, kan jy sê dat jy daarvan hou om te hoor wat mense van gebed dink. Dan kan jy vra: “Dink jy dat enigiemand werklik na gebede luister?” Die antwoord kan heelwat oor die persoon se beskouing en godsdiensagtergrond openbaar. As hy godsdienstig is, sal jy hom dalk verder kan uitlok deur te vra: “Dink jy dat God na alle gebede luister, of is daar dalk gebede wat hy nie goedkeur nie?” Sulke vrae kan tot ’n ontspanne gesprek lei. Wanneer dit gepas is om vir die persoon ’n skriftuurlike gedagte te wys, moet jy dit op taktvolle wyse doen, sonder om wat die persoon glo, aan te val. As hy dit geniet om na jou te luister, sal hy dalk nie omgee dat jy terugkom nie. Maar gestel hy vra ’n vraag wat jy nie kan beantwoord nie? Jy kan navorsing doen en voorbereid teruggaan om ‘’n rede vir jou hoop te gee en dit met sagmoedigheid en diep respek doen’.—1 Petrus 3:15.

Jesus het verdienstelikes geleer

11. Wat sal jou help om diegene te vind wat verdien om geleer te word?

11 Die volmaakte man Jesus het onderskeidingsvermoë gehad wat hom in staat gestel het om dié te identifiseer wat verdien het om geleer te word. Vir ons is dit baie moeiliker om diegene te vind wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Handelinge 13:48). Dit was ook die geval met die apostels vir wie Jesus gesê het: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is” (Matteus 10:11). Soos Jesus se apostels, moet jy na mense soek wat bereid is om te luister en skriftuurlike waarheid te leer. Jy kan verdienstelikes vind deur aandagtig te luister na elkeen met wie jy praat en te let op die gesindheid van elkeen.

12. Hoe kan jy voortgaan om ’n belangstellende te help?

12 Nadat jy by iemand was wat ’n mate van belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het, sal dit goed wees as jy aanhou om oor sy geestelike behoeftes te dink. As jy, nadat jy met iemand oor die goeie nuus gepraat het, neerskryf wat jy uitgevind het, sal dit jou help om voort te gaan om die persoon geestelik te help. Tydens herbesoeke moet jy aandagtig luister sodat jy meer kan uitvind oor die persoon se oortuigings, gesindheid of omstandighede.

13. Wat kan jou help om uit te vind hoe iemand oor die Bybel voel?

13 Hoe kan jy mense aanmoedig om vir jou te sê hoe hulle oor God se Woord voel? In party gebiede werk dit om te vra: “Vind jy dit moeilik om die Bybel te verstaan?” Die antwoord op hierdie vraag openbaar dikwels ’n persoon se gesindheid teenoor geestelike sake. Nog ’n manier is om ’n teks te lees en te vra: “Hoe klink dit vir jou?” Soos Jesus, kan jy heelwat in jou bediening bereik deur goeie vrae te gebruik. Maar ’n woordjie van waarskuwing is gepas.

Jesus het vrae doeltreffend gebruik

14. Hoe kan jy belangstelling in mense se beskouing toon sonder om hulle onder kruisverhoor te neem?

14 Toon belangstelling in ander se beskouing sonder om hulle ongemaklik te laat voel. Volg Jesus se metode na. Hy het mense nie op taktlose wyse onder kruisverhoor geneem nie, maar hy het wel gedagteprikkelende vrae gebruik. Jesus was ook ’n goedhartige luisteraar wat opregte mense verkwik het en hulle op hulle gemak laat voel het (Matteus 11:28). Allerhande soorte mense het die vrymoedigheid gehad om hom met hulle probleme te nader (Markus 1:40; 5:35, 36; 10:13, 17, 46, 47). As jy wil hê dat mense die vrymoedigheid moet hê om vir jou te sê wat hulle omtrent die Bybel en die leringe daarvan dink, moet jy hulle nie onder kruisverhoor neem nie.

15, 16. Hoe kan jy mense by gesprekke oor godsdienssake betrek?

15 Behalwe om vrae doeltreffend te gebruik, kan jy iemand aan die praat kry deur iets interessants te sê en dan na die antwoord te luister. Jesus het byvoorbeeld vir Nikodemus gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Daardie woorde was so gedagteprikkelend dat Nikodemus nie anders kon as om daarop te reageer en na Jesus te luister nie (Johannes 3:4-20). Jy sal mense dalk op ’n soortgelyke wyse by gesprekke kan betrek.

16 Vandag is die feit dat soveel nuwe godsdienste op die toneel verskyn ’n gesprekspunt in plekke soos Afrika, Oos-Europa en Latyns-Amerika. In sulke plekke kan ’n mens dikwels ’n gesprek begin deur te sê: “Dit bekommer my dat daar soveel godsdienste is. Maar ek hoop om binnekort te sien hoe mense van alle nasies in ware aanbidding verenig sal wees. Klink dit vir jou goed?” Deur iets onverwags oor jou hoop te sê, sal jy mense moontlik kry om hulle mening te lug. En vrae is makliker om te beantwoord wanneer daar twee moontlike antwoorde is (Matteus 17:25). Nadat ’n huisbewoner kommentaar gelewer het op jou vraag, kan jy dit self met een of twee tekste beantwoord (Jesaja 11:9; Sefanja 3:9). Deur aandagtig te luister en te let op die persoon se reaksie, sal jy dalk kan bepaal wat om tydens jou volgende besoek te bespreek.

Jesus het na kinders geluister

17. Wat toon dat Jesus in kinders belanggestel het?

17 Jesus het nie net in volwassenes belanggestel nie, maar ook in kinders. Hy was bewus van die speletjies wat kinders gespeel het en die dinge wat hulle gesê het. Soms het hy kinders gevra om na hom toe te kom (Lukas 7:31, 32; 18:15-17). Daar was baie kinders in die skares wat na Jesus geluister het. Toe jong seuns die Messias luidkeels geprys het, het Jesus daarvan kennis geneem en gesê dat die Skrif dit voorspel het (Matteus 14:21; 15:38; 21:15, 16). Vandag word baie kinders dissipels van Jesus. Hoe kan jy hulle dus help?

18, 19. Hoe kan jy jou kind geestelik help?

18 As jy jou kind geestelik wil help, moet jy na hom luister. Jy moet verstaan watter idees hy het wat dalk in stryd is met Jehovah se denke. Ongeag wat jou kind sê, dit is verstandig om eers met ’n positiewe opmerking te reageer. Dan kan jy gepaste tekste gebruik om jou kind te help om Jehovah se beskouing van sake te verstaan.

19 Vrae het hulle plek. Maar kinders hou net so min daarvan om onder kruisverhoor geneem te word as volwassenes. In plaas daarvan om vir jou kind ’n aantal moeilike vrae te vra, kan jy eerder kortliks iets omtrent jouself sê. Afhangende van wat julle bespreek, kan jy sê dat jy voorheen ’n sekere beskouing omtrent iets gehad het en verduidelik waarom. Dan kan jy vra: “Voel jy ook so?” Jou kind se reaksie sal heel moontlik tot ’n leersame en bemoedigende skriftuurlike bespreking lei.

Hou aan om die Groot Dissipelmaker na te volg

20, 21. Waarom moet jy ’n goeie luisteraar wees in jou werk as ’n dissipelmaker?

20 Hetsy jy ’n onderwerp met jou kind of enigiemand anders bespreek, dit is noodsaaklik om goed te luister. Trouens, dit is ’n blyk van liefde. Deur te luister, lê jy nederigheid aan die dag, en jy toon respek en liefdevolle bedagsaamheid teenoor die een wat praat. Om te luister, vereis natuurlik dat jy aandag skenk aan wat die persoon sê.

21 Terwyl jy aan die Christelike bediening deelneem, moet jy aanhou om aandagtig na die huisbewoners te luister. As jy noukeurig aandag skenk aan wat hulle sê, sal jy waarskynlik onderskei watter aspekte van Bybelwaarheid veral by hulle sal byval vind. Probeer hulle dan help deur Jesus se verskillende onderrigmetodes te gebruik. Wanneer jy dit doen, sal jy beloon word met vreugde en tevredenheid omdat jy die Groot Dissipelmaker navolg.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het Jesus ander aangemoedig om hulle gedagtes uit te spreek?

• Waarom het Jesus geluister na diegene wat hy geleer het?

• Hoe kan jy vrae in jou bediening gebruik?

• Wat kan jy doen om kinders geestelik te help?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Dit is noodsaaklik om te luister wanneer ons vir ander getuig

[Prent op bladsy 30]

Ons volg Jesus na wanneer ons kinders geestelik help