Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is dit gepas vir een van Jehovah se Getuies om die troue by te woon van ’n familielid of kennis wat nie ’n Getuie is nie?

Troues is vreugdevolle geleenthede, en dit is verstaanbaar dat ’n Christen in daardie vreugde wil deel. Minderjariges moet natuurlik gehoorsaam wees aan hulle ouers of voogde, wat die finale sê in die saak het (Efesiërs 6:1-3). Maar gestel ’n man wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, vra sy Christenvrou om saam met hom na ’n huweliksplegtigheid in ’n kerk te gaan. Haar gewete sal haar moontlik toelaat om bloot as ’n waarnemer saam te gaan wat vasbeslote is om nie aan enige godsdiensdade deel te neem wat met die geleentheid gepaardgaan nie.

Elkeen moet dus self besluit of hy ’n sekere troue gaan bywoon of nie. Maar elke Christen moet bewus wees van sy aanspreeklikheid teenoor Jehovah en moet ’n aantal skriftuurlike beginsels in ag neem wanneer hy besluit of hy die troue gaan bywoon van iemand wat nie ’n Getuie is nie.

Van die allergrootste belang vir ’n Christen behoort die begeerte te wees om God se goedkeuring te hê. Jesus het gesê: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Jehovah se Getuies neem dus nie deel aan bedrywighede wat geloofsvermenging behels nie, soos gebede, rituele of seremonies wat teenstrydig is met Bybelwaarheid nie.—2 Korintiërs 6:14-17.

’n Christen besef ook dat sy of haar besluit ’n invloed op ander kan hê. Indien jy besluit om die troue by te woon, sal jou familielede aanstoot neem as jy nie ten volle aan die feestelikhede deelneem nie? Die uitwerking wat dit op medegelowiges kan hê, moet ook in ag geneem word (Romeine 14:13). Sal dit dalk ’n nadelige uitwerking op jou geestelike broers en susters hê, al kom jy of ander lede van jou huisgesin tot die slotsom dat dit nie verkeerd is om die troue van iemand by te woon wat nie ’n Getuie is nie? Kan dit die gewete van party skaad?

Huwelikseremonies waarby familielede wat nie Getuies is nie, betrokke is, kan moeilike situasies laat ontstaan. Sê nou jy word gevra om ’n strooijonker of strooimeisie te wees? Of sê nou jou huweliksmaat is nie ’n Getuie nie en hy of sy wil aan al die verrigtinge deelneem? As die huweliksplegtigheid ’n siviele seremonie is wat deur ’n landdros of ’n ander staatsamptenaar behartig word, behels die bywoning daarvan moontlik nie veel meer as om ’n wetlike seremonie waar te neem nie.

Maar ’n huwelikseremonie wat in ’n kerkgebou gehou word of deur ’n geestelike gelei word, laat bykomende kwessies ontstaan. Dalk besluit jy om dit nie by te woon nie omdat jy jou Bybelopgeleide gewete wil volg en nie jou godsdiensoortuigings wil prysgee of iets wil doen wat die trougeselskap in die verleentheid sal stel nie (Spreuke 22:3). Jy kan dit vir jou familie en vir jouself baie makliker maak deur jou Bybelse oortuigings voor die tyd te verduidelik en vir hulle te sê tot watter mate jy bereid is om aan die verrigtinge deel te neem, of dalk kan jy voorstel dat dinge op ’n ander manier gedoen word.

Party Christene sal, nadat hulle al die faktore oorweeg het, dalk besluit dat dit nie onvanpas sou wees om as ’n stil waarnemer ’n troue by te woon van iemand wat nie ’n Getuie is nie. Maar as ’n Christen redeneer dat hy dalk in die versoeking sal kom om goddelike beginsels prys te gee as hy die geleentheid bywoon, sal hy dalk die gevolgtrekking maak dat die risiko’s groter is as die moontlike voordele. As hy besluit om nie na die huweliksplegtigheid te gaan nie, maar om die onthaal wat daarna gehou word, as ’n genooide gas by te woon, moet hy vasbeslote wees om “alles tot heerlikheid van God” te doen (1 Korintiërs 10:31). Wanneer dit by sulke besluite kom, ‘sal elkeen sy eie vrag [van verantwoordelikheid] dra’ (Galasiërs 6:5). Ongeag wat jy dus besluit, onthou dat dit noodsaaklik is om ’n goeie gewete voor Jehovah God te behou.