Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat maak ’n mens se lewe sinvol?

Wat maak ’n mens se lewe sinvol?

Wat maak ’n mens se lewe sinvol?

KENNY het vir ’n topmakelaarsfirma gewerk, ’n duur ingevoerde motor bestuur en ’n dakwoonstel in ’n rykmansbuurt van ’n groot stad besit. As ’n meestervalskermspringer het hy die opwinding geniet om van ’n hoogte van duisende meter na die aarde toe te val. Het hy ’n vol lewe gehad? Volgens The Wall Street Journal het hy gesê: “Hier’s ek nou, 45 jaar oud, sonder enige rigting in my lewe . . . My lewe is leeg.”

Elyn het hard gewerk om ’n eersteklas-ysskaatser te word. Sy het uiteindelik bo uitgekom. Elyn het die roem verwerf wat sy wou hê. “Maar waar was al die geluk wat ek veronderstel was om te ervaar?” het sy gevra. “Ek het net vreeslik eensaam gevoel. Die ouderdom sou my uiteindelik inhaal en hoewel ek finansiële sekuriteit gehad het, sou die lewe nogal sinloos gewees het as dit al was om voor te lewe.”

Hideo, wat bekend was vir sy vaardige gebruik van kleure, het vir sy kuns gelewe. Hy het nie sy kunswerke verkoop nie; hy het gedink dat hy sodoende sy integriteit as kunstenaar sou prysgee. Na aan die einde van sy lewe van 98 jaar het hy die meeste van sy kunswerke aan ’n museum geskenk. Hy het sy lewe aan kuns gewy. Tog was hy nie tevrede nie, want hy het gedink dat dit hom ’n ewigheid sou neem om sy kuns te vervolmaak.

Party mense raak diep daarby betrokke om ander te help. Neem as voorbeeld een filmbaas in Hollywood. As ’n visepresident van een van die grootste rolprentmaatskappye in die Verenigde State het hy met beroemdes omgegaan en in ’n eksklusiewe buurt gewoon. Toe hy in Kambodja met vakansie was, het ’n meisie geld by hom kom bedel terwyl hy by ’n restaurant in Phnom Penh geëet het. Hy het haar ’n dollar en ’n koeldrank gegee. Die meisie was bly oor wat sy gekry het. Maar die volgende aand was sy weer daar, en sy het nog steeds gebedel. Hy het besef dat meer as oppervlakkige hulp nodig is.

’n Jaar later het hierdie filmbaas besluit om van loopbaan te verander—hy het die vermaaklikheidsbedryf verlaat en die armes in Kambodja begin help. Hy het ’n skool gestig wat behuising, maaltye en opvoeding voorsien. Tog lewe hy voortdurend met teenstrydige emosies—vreugde en tevredenheid oor wat hy vermag tesame met wanhoop en frustrasie weens die toenemende probleme waarmee hy te kampe het.

Al vier mense wat hierbo genoem word, het gedink dat hulle weet waarvoor hulle lewe. Hulle het nogtans leeg gevoel toe hulle uiteindelik hulle doelwit ná veel inspanning bereik het. Waarvoor lewe jy? Wat kom eerste in jou lewe? Is jy seker dat jy nie later spyt sal wees oor hoe jy nou jou lewe lei nie?