Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Sinvolle lewe is moontlik!

’n Sinvolle lewe is moontlik!

’n Sinvolle lewe is moontlik!

BAIE mense lewe vir geld en wat hulle daarmee kan koop. Party lewe om ’n naam te maak in die wêreld. Ander lewe om hulle kunsvaardighede te vervolmaak. Daar is ook dié wat lewe om ander te help. Maar baie mense weet nie waarvoor hulle lewe of waarom hulle hier is nie.

Wat van jou? Het jy al ernstig nagedink oor die rede waarom jy hier is? Kyk gerus na ’n paar menslike strewes en sien of dit werklik ’n gevoel van voldoening en tevredenheid meebring. Wat maak ’n mens se lewe sinvol?

Geld en genot het hulle plek

In Prediker 7:12 sê die Bybel: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou.” Ja, geld is nuttig. Jy het geld nodig om te lewe, veral as jy die verantwoordelikheid het om vir ’n gesin te sorg.—1 Timoteus 5:8.

Wat is die lewe sonder party van die genietinge wat geld kan koop? Hoewel Jesus Christus, die Stigter van die Christelike godsdiens, erken het dat hy geen plek gehad het om sy kop neer te lê nie, het hy wel soms van die beste kos en wyn geniet. En hy het selfs ’n duur kledingstuk gedra.—Matteus 8:20; Johannes 2:1-11; 19:23, 24.

Tog het Jesus nie gelewe vir die najaging van genot nie. Sy prioriteite was in orde. Jesus het gesê: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.” Daarna het hy ’n illustrasie vertel oor ’n sekere ryk man wat ’n rekordoes gehad het en by homself geredeneer het: “Wat sal ek doen, noudat ek geen plek het om my oes te versamel nie? . . . Ek sal my voorraadskure afbreek en groteres bou, en daar sal ek al my graan en al my goeie dinge versamel; en ek sal vir my siel sê: ‘Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik.’” Wat was fout met die man se denke? Die illustrasie gaan voort: “God het vir [die ryk man] gesê: ‘Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?’” Al het die man sy oes opgeberg, sou hy, wanneer hy sterf, nie die rykdom kon geniet wat hy bymekaargemaak het nie. Jesus het sy gehoor ten slotte hierdie les geleer: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:13-21.

Ja, ons het wel geld nodig, en genot het sy plek. Maar nie geld óf genot is die belangrikste ding in die lewe nie. Om ryk te wees teenoor God, dit wil sê om ’n lewe te lei wat God se guns meebring, is verreweg die belangrikste ding om na te streef.

Is dit belangrik om ’n naam te maak?

Baie mense lewe om vir hulleself ’n naam te maak. Die begeerte om ’n naam te maak, om deur ander onthou te word, is nie noodwendig iets slegs nie. “’n Naam is beter as goeie olie,” sê die Bybel, “en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word.”—Prediker 7:1.

Op iemand se sterfdag is die verslag van sy hele lewe as ’t ware reeds opgeteken. As hy goeie dinge gedoen het, is daardie persoon se sterfdag baie beter as sy geboortedag, toe daar nog niks opgeteken was nie.

Koning Salomo het die Bybelboek Prediker geskryf. Salomo se ouer halfbroer Absalom wou vir homself ’n naam maak. Maar sy drie seuns, deur wie hy sy naam aan latere geslagte kon oordra, het blykbaar jonk gesterf. Wat het Absalom dus gedoen? Die Skrif sê: “Absalom het . . . ’n pilaar geneem en dit vir hom opgerig—dit staan in die Laagvlakte van die Koning—want hy het gesê: ‘Ek het geen seun om my naam in gedagtenis te hou nie.’ Daarom het hy die pilaar na sy eie naam genoem” (2 Samuel 14:27; 18:18). Die oorblyfsels van hierdie pilaar is nog nie ontdek nie. Wat Absalom betref, hy is aan Bybelstudente bekend as ’n berugte rebel wat saamgesweer het om sy vader, Dawid, se troon wederregtelik in besit te neem.

Vandag probeer baie mense om iets te bereik waarvoor hulle onthou sal word. Hulle streef daarna om vereer te word deur mense wie se smaak met elke verbygaande seisoen verander. Maar wat gebeur met sulke roem? In die boek The Culture of Narcissism skryf Christopher Lasch: “In ons tyd, wanneer sukses tot so ’n groot mate afhang van jeugdigheid, glans en nuwigheid, is roem meer vlietend as ooit tevore, en diegene wat die aandag van die publiek verkry, is voortdurend bekommerd dat hulle dit gaan verloor.” Gevolglik wend baie beroemdes hulle tot dwelms en alkohol, wat dikwels hulle lewe verkort. Ja, dit is sinloos om roem na te streef.

In wie se oë moet ons dan ’n goeie reputasie verkry? Jehovah het aangaande sekere persone wat sy Wet onderhou het, deur sy profeet Jesaja gesê: “Ek sal aan hulle ’n monument en ’n naam in my huis en binne my mure gee . . . ’n Naam tot onbepaalde tyd sal ek aan hulle gee, een wat nie uitgeroei sal word nie” (Jesaja 56:4, 5). Weens hulle gehoorsaamheid aan God sal diegene wat vir hom aanneemlik is, “’n monument en ’n naam” hê. God sal hulle naam “tot onbepaalde tyd” onthou sodat hulle nie uitgeroei sal word nie. Dit is die soort naam wat die Bybel ons aanmoedig om te maak—’n goeie reputasie in die oë van Jehovah, ons Skepper.

Jesaja het geprofeteer oor die tyd wanneer getroue mense ewige lewe in die Paradys op aarde sal ontvang. “Ewige lewe” in daardie Paradys is “die werklike lewe”—die soort lewe wat God vir die mens in gedagte gehad het toe hy hulle geskep het (1 Timoteus 6:12, 19). Behoort ons nie die ewige lewe na te streef eerder as om ’n lewe te lei wat vlietend en onbevredigend is nie?

Kuns of liefdadigheidswerk nie genoeg nie

Baie kunstenaars het ’n begeerte om hulle werk te verbeter sodat hulle kan bereik wat hulle as volmaaktheid in hulle kuns beskou. Die teenswoordige lewe is te kort hiervoor. Toe hy in sy negentigerjare was, het Hideo, die kunstenaar wat in die vorige artikel genoem is, gewerk om sy kunsvaardighede te verbeter. Al bereik ’n kunstenaar die punt waar hy met sy eie werk tevrede is, sal hy teen daardie tyd dalk nie meer soveel kan doen as toe hy in sy fleur was nie. Maar sê nou hy kon vir ewig lewe? Dink aan al die moontlikhede om sy kuns te vervolmaak!

Wat kan gesê word omtrent liefdadigheidswerk? Dit is prysenswaardig as iemand aan die armes begin aandag skenk en sy middele gebruik om hulle te help. Die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Om besorgdheid oor die welsyn van ander te toon, kan inderdaad bevredigend wees. Maar hoeveel kan een mens vermag, al sou hy sy hele lewe aan hierdie strewe wy? As mense is ons beperk in wat ons kan doen om ander se lyding te verlig. Ongeag hoeveel iemand op materiële gebied gee, dit sal nie ’n basiese behoefte bevredig wat deur die meeste mense geïgnoreer word en dus nie vervul word nie. Watter behoefte is dit?

Die bevrediging van ’n ingebore behoefte—’n moet

In sy Bergpredikasie het Jesus verwys na ’n ingebore, fundamentele behoefte toe hy gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matteus 5:3). Volgens die Bybel hang ware geluk dus nie van rykdom, roem, prestasies op kunsgebied of liefdadigheidswerk af nie. Dit hang eerder daarvan af dat ons ons geestelike behoefte bevredig—die behoefte om God te aanbid.

Die apostel Paulus het diegene wat die Skepper nie geken het nie, aangemoedig om hom te soek. Paulus het gesê: “[God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon, en hy het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden, sodat hulle God sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie. Want deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons.”—Handelinge 17:26-28.

Die bevrediging van ons behoefte om die ware God te aanbid, is die sleutel tot ware geluk in die lewe. Wanneer ons in ons geestelike behoefte voorsien, kom ons ook in aanmerking om “die werklike lewe” te ontvang. Kyk na die voorbeeld van Teresa, wat televisiegeskiedenis in haar land gemaak het toe sy die eerste swart Amerikaanse aktrise geword het wat die hoofrol in haar eie een uur lange dramareeks vertolk het. Maar kort daarna het sy dit alles agtergelaat. Waarom? Sy het gesê: “Ek is daarvan oortuig dat om ag te slaan op die raad van God se Woord die beste manier is om te lewe.” Teresa wou nie haar verhouding met God in gevaar stel deur ’n rol te speel in ’n televisiereeks wat seks en geweld verheerlik nie. Sy het haar aan die openbare lewe onttrek, maar het ’n waarlik bevredigende lewe begin lei, want sy het as ’n voltydse prediker van die goeie nuus van God se Koninkryk gedien en ander probeer help om ’n goeie verhouding met God op te bou.

Aangaande Teresa se besluit om haar lewe as ’n aktrise prys te gee, het een van haar voormalige kennisse volgens berig gesê: “Dit het my hart gebreek om te sien dat sy alles weggooi wat ek gedink het sy bereik het. Maar dit was duidelik dat sy iets groters en beters gevind het.” Teresa is later in ’n ongeluk dood. Ná haar dood het dieselfde voormalige kennis egter gesê: “Sy was gelukkig, en dis al waarvoor ’n mens in die lewe kan vra. Hoeveel van ons kan dieselfde sê?” Vir diegene wat hulle verhouding met God eerste in die lewe stel, maar sterf, is daar die wonderlike vooruitsig om ’n opstanding te kry onder Koninkryksheerskappy.—Johannes 5:28, 29.

Die Skepper het ’n voorneme vir die aarde en vir die mensdom wat daarop woon. Hy wil hê dat jy hierdie voorneme moet verstaan en die ewige lewe in die Paradys op aarde moet geniet (Psalm 37:10, 11, 29). Dit is nou die tyd om meer te leer oor Jehovah, die Skepper van die hemel en die aarde, en sy voorneme vir jou. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help om daardie kennis op te doen. Jy kan gerus met hulle in aanraking kom of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.

[Prent op bladsy 5]

Wat was fout met die redenasie van die ryk man in Jesus se illustrasie?

[Prent op bladsy 7]

Wil jy graag die ewige lewe in die Paradys op aarde geniet?