Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se soewereiniteit en die Koninkryk van God

Jehovah se soewereiniteit en die Koninkryk van God

Jehovah se soewereiniteit en die Koninkryk van God

“Aan u, o Jehovah, behoort die grootheid en die mag en die luisterrykheid en die voortreflikheid en die waardigheid . . . Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah.”—1 KRONIEKE 29:11.

1. Waarom is Jehovah die regmatige Soewerein van die heelal?

 “JEHOVAH het sy troon stewig gevestig in die hemel; en oor alles het sy koningskap heerskappy gevoer” (Psalm 103:19). Met hierdie woorde het die psalmis op die grondbeginsel van heerskappy gewys. Jehovah God, as die Skepper, is die regmatige Soewereine Heerser van die heelal.

2. Hoe het Daniël Jehovah se geestelike domein beskryf?

2 ’n Heerser kan sy soewereiniteit natuurlik slegs uitoefen as hy onderdane het. Aanvanklik het Jehovah sy heerskappy uitgeoefen oor geesskepsele wat hy geskep het—eers sy eniggebore Seun en toe die engeleleërs (Kolossense 1:15-17). Veel later in die tydstroom is die profeet Daniël ’n kykie gegee in die hemelse hof. Hy het berig: “Ek het bly kyk totdat daar trone neergesit is en die Oue van Dae gaan sit het. . . . Duisend duisende het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het reg voor hom bly staan” (Daniël 7:9, 10). Jehovah, “die Oue van Dae”, het tallose eeue lank as Soewerein geheers oor sy ontsaglike en ordelike gesin geesseuns, “dienaars” wat sy wil doen.—Psalm 103:20, 21.

3. Hoe is Jehovah se soewereiniteit uitgebrei om ook die fisiese heelal in te sluit?

3 Later het Jehovah sy heerskappy uitgebrei deur die ontsaglike en komplekse fisiese heelal, met inbegrip van die aarde, te skep (Job 38:4, 7). Die werking van die hemelliggame is so ordelik en presies dat dit vir ’n waarnemer op aarde lyk of hulle niemand nodig het om hulle te rig of te beheer nie. Tog het die psalmis gesê: “[Jehovah] het bevel gegee, en hulle is geskep. En hy hou hulle vir ewig in stand, tot onbepaalde tyd. ’n Voorskrif het hy gegee, en dit sal nie vergaan nie” (Psalm 148:5, 6). Jehovah het nog altyd sy soewereiniteit uitgeoefen deur die werksaamhede van die geesteryk en die fisiese heelal te rig, te bepaal en te beheer.—Nehemia 9:6.

4. Hoe oefen Jehovah sy soewereiniteit oor mense uit?

4 Met die skepping van die eerste mensepaar het God sy soewereiniteit ook op ’n ander manier uitgeoefen. Jehovah het mense nie net voorsien van alles wat hulle nodig het om ’n doelgerigte en bevredigende lewe te lei nie, maar het hulle ook heerskappy oor die laer skepsele van die aarde gegee—hy het aan hulle gesag oorgedra (Genesis 1:26-28; 2:8, 9). Dit is dus duidelik dat God se heerskappy nie net op ’n welwillende en goedhartige wyse uitgeoefen word nie, maar dat dit ook eer en waardigheid aan sy onderdane verleen. So lank as wat Adam en Eva hulle aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp het, het hulle die vooruitsig gehad om vir ewig in ’n aardse paradystuiste te lewe.—Genesis 2:15-17.

5. Wat kan ons sê oor die manier waarop Jehovah sy soewereiniteit uitoefen?

5 Wat kan ons uit dit alles aflei? Eerstens, Jehovah het nog altyd sy soewereiniteit oor sy hele skepping uitgeoefen. Tweedens, God se heerskappy word op welwillende wyse uitgeoefen en dit verleen waardigheid aan sy onderdane. Laastens, as ons God se heerskappy gehoorsaam en dit ondersteun, sal dit ewige seëninge tot gevolg hê. Dit is geen wonder dat koning Dawid van eertydse Israel beweeg is om te sê nie: “Aan u, o Jehovah, behoort die grootheid en die mag en die luisterrykheid en die voortreflikheid en die waardigheid; want alles in die hemel en op die aarde behoort aan u. Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah, u wat u ook as hoof oor alles verhef.”—1 Kronieke 29:11.

Waarom ’n Koninkryk van God?

6. Wat is die verband tussen God se soewereiniteit en sy Koninkryk?

6 Waarom is die Koninkryk van God nodig, aangesien Jehovah, die Universele Soewerein, nog altyd sy krag en mag uitgeoefen het? ’n Soewerein oefen gewoonlik sy gesag uit deur ’n instelling wat oor sy onderdane geplaas is. Deur middel van die Koninkryk van God word God se universele soewereiniteit dus geopenbaar of uitgeoefen ten opsigte van sy skepsele; dit is ’n middel of instelling wat hy gebruik om sy heerskappy uit te oefen.

7. Waarom het Jehovah sy soewereiniteit op ’n nuwe wyse geopenbaar?

7 Jehovah het sy soewereiniteit op verskillende tye op verskillende maniere uitgeoefen. Hy het in reaksie op ’n nuwe verwikkeling sy soewereiniteit op ’n nuwe wyse geopenbaar. Dit was toe ’n opstandige geesseun van God, Satan, daarin geslaag het om Adam en Eva te beïnvloed om teen Jehovah se heerskappy in opstand te kom. Hierdie opstand was in werklikheid ’n aanval op God se soewereiniteit. Hoe so? Deur vir Eva te sê dat sy ‘sekerlik nie sal sterf’ as sy van die verbode vrug eet nie, het Satan geïnsinueer dat Jehovah oneerlik en gevolglik onbetroubaar is. Satan het verder vir Eva gesê: “God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.” Satan het te kenne gegee dat Adam en Eva beter sou vaar as hulle God se bevel ignoreer en ’n onafhanklike weg inslaan (Genesis 3:1-6). Dit was ’n direkte aanval op die regmatigheid van God se heerskappy. Wat het Jehovah gedoen?

8, 9. (a) Hoe sal ’n menseheerser optree wanneer daar ’n opstand in sy ryk is? (b) Wat het Jehovah in reaksie op die opstand in Eden gedoen?

8 Hoe verwag ons sal ’n heerser optree wanneer daar ’n openlike opstand in sy ryk is? Diegene wat met die geskiedenis vertroud is, sal sulke gevalle kan onthou. ’n Soewerein—selfs ’n goedhartige heerser—sal die saak gewoonlik nie net ignoreer nie, maar sal die opstandelinge veroordeel en hulle skuldig verklaar aan hoogverraad. Dan sal die heerser moontlik iemand aanstel om die opstand te onderdruk en die vrede te herstel. Net so het Jehovah getoon dat hy die situasie heeltemal onder beheer het toe hy onmiddellik opgetree en sy oordeel oor die opstandelinge uitgespreek het. Hy het verklaar dat Adam en Eva nie die gawe van die ewige lewe waardig is nie, en Hy het hulle uit die tuin van Eden gedryf.—Genesis 3:16-19, 22-24.

9 Toe Jehovah sy oordeel oor Satan uitgespreek het, het Jehovah ’n nuwe manier bekend gemaak waarop hy sy soewereiniteit sou uitoefen, ’n middel waardeur hy die vrede en orde in sy hele ryk sou herstel. God het vir Satan gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Sodoende het Jehovah geopenbaar dat dit sy voorneme is om ’n “saad” die mag te gee om Satan en sy magte te verbrysel en om die regmatigheid van Sy soewereiniteit te bewys.—Psalm 2:7-9; 110:1, 2.

10. (a) Wie is die “saad”? (b) Wat het Paulus gesê oor die manier waarop die eerste profesie vervul sou word?

10 Daardie “saad” is Jesus Christus, tesame met ’n spesifieke groep medeheersers. Saam vorm hulle God se Messiaanse Koninkryk (Daniël 7:13, 14, 27; Matteus 19:28; Lukas 12:32; 22:28-30). Dit alles is egter nie onmiddellik geopenbaar nie. Trouens, die manier waarop die eerste profesie vervul sou word, het ’n “heilige geheim [gebly] wat vir lang tye verswyg is” (Romeine 16:25). Manne van geloof het eeue lank uitgesien na die tyd wanneer “die heilige geheim” geopenbaar sou word en die eerste profesie vervul sou word tot die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit.—Romeine 8:19-21.

“Die heilige geheim” word stelselmatig geopenbaar

11. Wat het Jehovah aan Abraham bekend gemaak?

11 Met verloop van tyd het Jehovah aspekte van “die heilige geheim van die koninkryk van God” stelselmatig bekend gemaak (Markus 4:11). Onder diegene aan wie Jehovah aspekte daarvan bekend gemaak het, was die man Abraham, wat “Jehovah se vriend” genoem is (Jakobus 2:23). Jehovah het Abraham belowe dat Hy hom “’n groot nasie [sal] maak”. Later het God ook aan Abraham bekend gemaak: “Konings sal uit jou voortkom”, en “deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën”.—Genesis 12:2, 3; 17:6; 22:17, 18.

12. Hoe het mense ná die Vloed bewys dat hulle deel van Satan se saad is?

12 Teen Abraham se tyd het mense reeds pogings aangewend om oor ander te regeer en hulle te oorheers. Die Bybel sê byvoorbeeld van Nimrod, die agterkleinseun van Noag: “Hy het die eerste magtige op die aarde geword. Hy was ’n magtige jagter in verset teen Jehovah” (Genesis 10:8, 9). Dit is duidelik dat Nimrod en ander selfaangestelde heersers marionette in Satan se hande was. Hulle en hulle ondersteuners het deel geword van Satan se saad.—1 Johannes 5:19.

13. Waarna het Jehovah deur middel van Jakob vooruitgewys?

13 Ten spyte van Satan se pogings om menseheersers voort te bring, beweeg Jehovah se voorneme vooruit. Deur middel van Abraham se kleinseun Jakob het Jehovah sy voorneme geopenbaar: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie die aanvoerderstaf tussen sy voete uit nie, totdat Silo kom; en aan hom sal die gehoorsaamheid van die volke behoort” (Genesis 49:10). Die woord “Silo” beteken “Hy wie s’n dit is; Hy aan wie dit behoort”. Hierdie profetiese woorde het dus aangedui dat iemand sou kom wat die wetlike reg gehad het om “die septer”, of soewereiniteit, en “die aanvoerderstaf”, of heerskappy, oor “die volke”, of die hele mensdom, te ontvang. Wie sou Hy wees?

“Totdat Silo kom”

14. Watter verbond het Jehovah met Dawid gesluit?

14 Die eerste persoon onder die nakomelinge van Juda wat deur Jehovah gekies is om as koning oor sy volk te heers, was die herder Dawid, die seun van Isai (1 Samuel 16:1-13). a Ondanks sy sondes en foute het Dawid guns by Jehovah gevind weens sy lojaliteit aan Jehovah se soewereiniteit. Jehovah het meer lig op die profesie in Eden gewerp toe hy ’n verbond met Dawid gesluit en gesê het: “Ek [sal] beslis jou saad ná jou verwek, wat uit jou liggaam sal voortkom; en ek sal inderdaad sy koninkryk stewig vestig.” Meer was hierby betrokke as Dawid se seun en opvolger, Salomo, want die verbond het gesê: “Ek sal beslis die troon van sy koninkryk tot onbepaalde tyd stewig vestig.” Hierdie Dawidiese verbond het duidelik getoon dat die beloofde ‘Koninkryksaad’ ná verloop van tyd deur die geslagslyn van Dawid sou kom.—2 Samuel 7:12, 13.

15. Waarom kon die koninkryk van Juda as ’n voorbeeld van God se Koninkryk beskou word?

15 ’n Koningshuis het by Dawid begin, waarvan die konings deur die hoëpriester met heilige olie gesalf is. Hierdie konings kon dus gesalfdes, of messiasse, genoem word (1 Samuel 16:13; 2 Samuel 2:4; 5:3; 1 Konings 1:39). Daar is van hulle gesê dat hulle op Jehovah se troon sit en as konings vir Jehovah in Jerusalem heers (2 Kronieke 9:8). In hierdie sin het die koninkryk van Juda God se Koninkryk verteenwoordig, ’n manier waarop Jehovah sy soewereiniteit geopenbaar het.

16. Waarop het die bewind van die Judese konings uitgeloop?

16 Wanneer die koning en die volk hulle aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp het, het hulle Sy beskerming en seën geniet. Veral gedurende die bewind van Salomo het daar onvergelyklike vrede en voorspoed geheers, en dit gee ’n profetiese voorskou van die heerskappy van God se Koninkryk wanneer Satan se invloed heeltemal verwyder en Jehovah se soewereiniteit geregverdig sal wees (1 Konings 4:20, 25). Ongelukkig het die meeste van die konings in die Dawidiese lyn nie aan Jehovah se vereistes voldoen nie, en die volk het in afgodediens en onsedelikheid verval. Uiteindelik het Jehovah toegelaat dat die koninkryk in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig word. Dit het gelyk of Satan se poging om Jehovah se soewereiniteit in onguns te bring, suksesvol was.

17. Wat toon dat Jehovah nog steeds heeltemal in beheer was, al is die Dawidiese koninkryk omvergewerp?

17 Die omverwerping van die Dawidiese koninkryk—en die vroeëre omverwerping van die noordelike koninkryk van Israel—het bewys gelewer, nie van enige gebrek of tekortkoming aan die kant van Jehovah se soewereiniteit nie, maar van die droewige gevolge van Satan se invloed en die mens se onafhanklikheid van God (Spreuke 16:25; Jeremia 10:23). Om te toon dat hy nog steeds sy soewereiniteit uitoefen, het Jehovah deur die profeet Esegiël gesê: “Verwyder die tulband en haal die kroon af. . . . ’n Puinhoop, ’n puinhoop, ’n puinhoop sal ek dit maak. Ook wat dit betref, dit sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee” (Esegiël 21:26, 27). Hierdie woorde toon dat die beloofde “saad”, Hy “wat die wetlike reg het”, nog moes kom.

18. Wat het die engel Gabriël vir Maria gesê?

18 Kom ons gaan nou na omstreeks die jaar 2 v.G.J. Die engel Gabriël is na Maria gestuur, ’n maagd in Nasaret, ’n stad van Galilea in die noorde van Palestina. Hy het gesê: “Kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:31-33.

19. Die tyd vir watter opwindende gebeure het naby gekom?

19 Uiteindelik het die tyd naby gekom om “die heilige geheim” te onthul. Die vernaamste Lid van die beloofde “saad” sou binnekort verskyn (Galasiërs 4:4; 1 Timoteus 3:16). Hy sou deur Satan in die hakskeen gewond word. Hierdie “saad” sal egter op sy beurt Satan se kop vermorsel, deur hom en al sy trawante buite aksie te stel. Hy sou ook getuig dat die Koninkryk van God al die skade wat Satan aangerig het, ongedaan sal maak en Jehovah se soewereiniteit sal regverdig (Hebreërs 2:14; 1 Johannes 3:8). Hoe sou Jesus dit volbring? Watter voorbeeld het hy vir ons gelaat om te volg? Ons sal die antwoorde in die volgende artikel vind.

[Voetnoot]

a Saul, die eerste persoon wat deur God gekies is om oor Israel te regeer, was van die stam Benjamin.—1 Samuel 9:15, 16; 10:1.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is Jehovah die regmatige Soewerein van die heelal?

• Waarom het Jehovah hom voorgeneem om die Koninkryk tot stand te bring?

• Hoe het Jehovah “die heilige geheim” stelselmatig bekend gemaak?

• Wat toon dat Jehovah heeltemal in beheer was, al is die Dawidiese koninkryk omvergewerp?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Waarna het Jehovah deur middel van Abraham vooruitgewys?

[Prent op bladsy 25]

Waarom is die omverwerping van die Dawidiese koninkryk geensins ’n bewys dat Jehovah se soewereiniteit te kort geskiet het nie?