Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kind om vredeliewend te wees

Leer jou kind om vredeliewend te wees

Leer jou kind om vredeliewend te wees

Die agtjarige Nicole was baie opgewonde omdat hulle gesin na ’n ander deel van die land sou trek, en sy het haar beste maatjie Gabrielle gereeld op hoogte gehou van alles wat gebeur. Eendag het Gabrielle skielik vir Nicole gesê dat sy glad nie omgee dat sy wegtrek nie. Nicole was diep seergemaak en kwaad, en sy het vir haar ma gesê: “Ek wil Gabrielle nooit weer sien nie!”

WANNEER kinders krisisse in hulle lewe ervaar, soos in die geval van Nicole en Gabrielle, moet ouers dikwels ingryp—nie net om die kind te troos as hy seergemaak voel nie, maar ook om vir hulle te wys hoe die saak hanteer moet word. Jong kinders openbaar van nature “die eienskappe van ’n klein kindjie”, en hulle is dikwels onbewus van die skade wat hulle woorde en dade kan veroorsaak (1 Korintiërs 13:11). Hulle het hulp nodig om die eienskappe aan te kweek wat kan bydra tot vreedsame verhoudinge met ander in die gesin en elders.

Christenouers stel intens daarin belang om hulle kinders te leer om ‘vrede te soek en dit na te streef’ (1 Petrus 3:11). Die geluk wat dit meebring om ’n vredemaker te wees, is al die inspanning werd wat dit verg om wantroue, frustrasie en vyandigheid te oorkom. Hoe kan jy, as jy ’n ouer is, jou kinders leer om vredeliewend te wees?

Wek ’n begeerte om “die God van vrede” te behaag

Jehovah word “die God van vrede” genoem en word geïdentifiseer as die een wat “vrede gee” (Filippense 4:9; Romeine 15:33). Daarom gebruik wyse ouers God se Woord, die Bybel, op vaardige wyse om by hulle kinders die begeerte te wek om God te behaag en sy eienskappe na te volg. Help jou kinders byvoorbeeld om hulle voor te stel wat die apostel Johannes in ’n treffende visioen gesien het—’n pragtige smaraggroen reënboog rondom die troon van Jehovah (Openbaring 4:2, 3). a Verduidelik dat hierdie reënboog die vrede en kalmte voorstel wat Jehovah omring en dat almal wat hom gehoorsaam, hierdie seëninge sal ontvang.

Jehovah voorsien ook leiding deur sy Seun, Jesus, wat die “Vredevors” genoem word (Jesaja 9:6, 7). Lees en bespreek dus met jou kinders Bybelverslae waarin Jesus kosbare lesse geleer het oor hoe om bakleiery en stryery te vermy (Matteus 26:51-56; Markus 9:33-35). Verduidelik waarom Paulus, wat eens “’n vermetele man” was, sy weë verander het en geskryf het dat ‘’n slaaf van die Here nie hoef te stry nie, maar teer moet wees teenoor almal, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou’ (1 Timoteus 1:13; 2 Timoteus 2:24). Jy sal dalk aangenaam verras word deur jou kind se reaksie.

Evan onthou nog hoe ’n seun op ’n skoolbus hom gespot het toe hy sewe was. “Ek het so kwaad geword vir die seun dat ek hom wou terugkry!” sê hy. “Toe het ek ’n les onthou wat ek by die huis geleer het oor mense wat probeer skoorsoek. Ek het geweet dat Jehovah wil hê dat ek ‘niemand kwaad vir kwaad moet vergeld nie’ en dat ek ‘vreedsaam teenoor alle mense’ moet wees” (Romeine 12:17, 18). Evan het toe die krag en moed gevind om daardie plofbare situasie te ontlont deur op ’n sagmoedige wyse te antwoord. Hy wou die God van vrede behaag.

Wees ’n vredeliewende ouer

Heers daar ’n vreedsame atmosfeer in jou huis? Indien wel, sal jou kinders baie oor vrede leer selfs wanneer jy nie ’n woord sê nie. Die sukses wat jy daarin sal behaal om jou kinders te leer om vredeliewend te wees, word grootliks bepaal deur die mate waarin jý die vreedsame weë van God en Christus navolg.—Romeine 2:21.

Russ en Cindy werk hard om hulle twee seuns op te lei, en hulle spoor hulle aan om op ’n liefdevolle manier op te tree wanneer ander hulle irriteer. Cindy sê: “Die gesindheid wat ek en Russ teenoor die seuns en ander openbaar wanneer probleme ontstaan, speel ’n groot rol in die manier waarop ons seuns op die ou end soortgelyke situasies hanteer.”

Selfs wanneer jy ’n fout maak—en watter ouer maak nie foute nie?—kan jy nog steeds die geleentheid gebruik om kosbare lesse te leer. “Daar was tye toe ek en my vrou, Terry, oorreageer het en ons drie kinders gedissiplineer het voordat ons al die feite gehad het”, erken Stephen. “Wanneer dit gebeur het, het ons om verskoning gevra.” Terry voeg by: “Ons laat ons kinders weet dat ons ook glad nie volmaak is nie en dat ons foute maak. Ons voel dat dit nie net tot die vrede in ons gesin bygedra het nie, maar dat dit ook die kinders gehelp het om te leer hoe om vrede na te streef.”

Leer jou kinders uit die manier waarop jy hulle behandel, om vredeliewend te wees? Jesus het gemaan: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Ten spyte van enige tekortkominge aan jou kant kan jy seker wees dat die liefde en geneentheid wat jy aan jou kinders betoon, goeie resultate sal oplewer. Jou kinders sal geredeliker reageer wanneer riglyne op ’n liefdevolle manier gegee word.

Wees stadig om toornig te word

Spreuke 19:11 sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.” Hoe kan jy jou kinders help om sulke insig aan te kweek? David beskryf ’n praktiese benadering wat hy en sy vrou, Mariann, nuttig gevind het met hulle seun en dogter. Hy sê: “Wanneer hulle kwaad word vir iemand wat iets sê of doen wat hulle seermaak, help ons hulle om meegevoel te hê. Ons vra hulle eenvoudige vrae soos: ‘Het die persoon miskien ’n moeilike dag gehad? Is hy dalk jaloers? Het iemand hom seergemaak?’” Mariann voeg by: “Dit kalmeer die kinders gewoonlik, sodat hulle nie negatiewe gedagtes het of stry oor wie reg of verkeerd is nie.”

Sulke opleiding kan wonderlike resultate oplewer. Let op hoe Nicole, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, deur haar ma, Michelle, op ’n manier gehelp is wat meer gedoen het as om net haar vriendskap met Gabrielle te herstel. “Ek en Nicole het hoofstuk 14 van die boek Leer by die Groot Onderwyser gelees”, sê Michelle. b “Toe het ek verduidelik wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat ons iemand ‘tot sewe-en-sewentig keer’ moet vergewe. Nadat ek aandagtig geluister het terwyl Nicole haar gevoelens uitgespreek het, het ek haar gehelp om te voel hoe hartseer en gefrustreerd Gabrielle moes gewees het omdat haar beste maatjie so ver weg trek.”—Matteus 18:21, 22.

Nicole se nuwe insig in die moontlike rede vir Gabrielle se uitbarsting het haar gehelp om meegevoel te ontwikkel en haar beweeg om Gabrielle te bel en om verskoning te vra. “Van toe af”, sê Michelle, “maak dit Nicole gelukkig om ander se gevoelens in ag te neem en om goeie dinge vir hulle te doen sodat hulle beter kan voel.”—Filippense 2:3, 4.

Help jou kinders om nie geïrriteerd te raak deur foute en misverstande nie. Dalk sal jy die bevrediging ervaar om te sien hoe jou kinders opregte welwillendheid en tere geneentheid aan ander betoon.—Romeine 12:10; 1 Korintiërs 12:25.

Leer hulle dat dit mooi is om te vergewe

“Dit is mooi . . . om die oortreding oor te sien”, sê Spreuke 19:11. Jesus het in sy pynlikste oomblik sy Vader nagevolg en vergewensgesindheid geopenbaar (Lukas 23:34). Jou kinders kan leer dat dit mooi is om te vergewe wanneer hulle self ondervind hoe vertroostend dit is wanneer jy hulle vergewe.

Byvoorbeeld, die vyfjarige Willy kleur graag prentjies saam met sy ouma in. Eenkeer het sy ouma skielik opgehou, met Willy geraas en toe weggeloop. Willy was ontsteld. Sy vader, Sam, sê: “Willy se ouma ly aan Alzheimer se siekte. Ons het dit dus aan Willy verduidelik op ’n manier waarop hy dit kon verstaan.” Nadat hulle Willy herinner het dat hy by baie geleenthede vergewe is en dat hy dieselfde aan ander moet doen, was Sam verbaas deur Willy se reaksie. “Kan jy jou indink hoe ek en my vrou gevoel het”, sê Sam, “toe ons sien hoe ons klein seuntjie na sy 80-jarige ouma toe gaan, op ’n mooi manier met haar praat en haar toe aan die hand na die tafel toe terugbring?”

Dit is beslis mooi wanneer kinders leer om aan te hou om ander se tekortkominge en foute te “verdra” en hulle te vergewe (Kolossense 3:13). Selfs wanneer mense moedswillig probeer skoorsoek, moet jy jou kind verseker dat ’n vreedsame reaksie kragtig kan wees, want “wanneer Jehovah behae skep in die weë van ’n man, laat hy selfs sy vyande in vrede met hom verkeer”.—Spreuke 16:7.

Hou aan om jou kind te help om vredeliewend te wees

Wanneer ouers God se Woord gebruik om hulle kinders te onderrig “onder vreedsame toestande” en as “diegene wat vrede maak”, is hulle ’n ware seën vir hulle kinders (Jakobus 3:18). Sulke ouers rus hulle nageslag toe met wat hulle nodig het om geskille op te los en om vredeliewend te wees. Dit sal grootliks bydra tot hulle geluk en tevredenheid in die lewe.

Dan en Kathy het drie tieners wat almal geestelik goed vorder. “Hoewel dit gedurende hulle vroeë jare soms moeilik was om hulle op te lei”, sê Dan, “is ons verheug dat ons kinders nou goed doen in Jehovah se diens. Hulle kom nou goed oor die weg met ander en vergewe ander vryelik wanneer iets die vrede bedreig.” Kathy sê: “Dit is vir ons besonder aanmoedigend, aangesien vrede deel is van die vrug van God se gees.”—Galasiërs 5:22, 23.

As Christenouers het julle dus goeie rede om nie ‘op te hou’ of ‘moeg te word’ om julle kinders te leer om vredeliewend te wees nie—selfs as dit aanvanklik lyk of hulle stadig vorder. As jy dit doen, kan jy verseker wees dat “die God van liefde en van vrede [met jou sal] wees”.—Galasiërs 6:9; 2 Korintiërs 13:11.

[Voetnote]

[Voetnote]

a Sien die prent op bladsy 75 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 20]

’N POSITIEWE INVLOED?

’n Verhandeling wat deur die Media Awareness Network gepubliseer is, met die titel “Gewelddadige vermaak” sê: “Die idee dat geweld probleme kan oplos, word versterk deur vermaak waarin boewe sowel as helde voortdurend geweld gebruik.” Slegs omtrent 10 persent van die TV-programme, rolprente en musiekvideo’s wat ontleed is, het die gevolge van geweld in ag geneem. Die res, meld die verhandeling, “beeld die geweld eenvoudig uit as geregverdig, natuurlik en onvermydelik—die maklikste oplossing vir die probleem”.

Dink jy dat dit nodig is om veranderinge te maak wat TV-kykery in jou huis betref? Moenie toelaat dat die media jou pogings ondermyn om jou kinders te leer om vredeliewend te wees nie.

[Prent op bladsy 17]

Wek by jou kinders ’n begeerte om “die God van vrede” te behaag

[Prent op bladsy 18]

Neem die tyd om woorde en dade wat seermaak, reg te stel

[Prent op bladsy 19]

Jou kinders moet leer om om verskoning te vra en ander te vergewe