Mense regoor die wêreld word verenig—Hoe?
Mense regoor die wêreld word verenig—Hoe?
HOE sal jy “eenheid” omskryf? Vir sommige beteken die woord bloot die afwesigheid van onenigheid of konflik. As twee of meer nasies byvoorbeeld ’n vredesverdrag onderteken en saamstem oor die voorwaardes daarvan, word daar dalk gesê dat daar eenheid is tussen hulle. Maar is dit werklik die geval? Nie noodwendig nie.
Dink hieraan: Deur die geskiedenis heen is duisende vredesverdrae gesluit en verbreek. Waarom? Dikwels is dit omdat wêreldleiers meer besorg is oor hulle eie oppergesag as oor vrede of eenheid. En party nasies is ook bang vir wat kan gebeur as hulle nie bybly wat militêre mag betref nie.
Die feit dat twee nasies nie in ’n oorlog gewikkel is nie, beteken dus nie dat hulle in vrede verenig is nie. Dink ’n bietjie: Verkeer twee mans wat pistole op mekaar rig, werklik in vrede met mekaar bloot omdat nie een van die twee die sneller getrek het nie? Dit sal onsinnig wees om so te dink! Dit is egter die situasie waarin baie nasies hulle vandag bevind. Toenemende wantroue het die vrees laat ontstaan dat wapens eendag afgevuur sal word. Wat is al gedoen om so ’n ramp te voorkom?
Kernwapenvrese—’n bedreiging vir eenheid
Baie vertrou op die Kernsperverdrag (KSV). Hierdie verdrag, wat in 1968 goedgekeur is, verbied die ontwikkeling van kernwapens in lande wat dit nie het nie en beperk die verspreiding daarvan in lande wat dit wel het. Die doelwit van die KSV, wat nou al deur meer as 180 nasies onderteken is, is om uiteindelik algehele ontwapening teweeg te bring.
Hoe prysenswaardig hierdie oogmerk ook al klink, sommige kritici beskou die KSV bloot as ’n poging om sekere lande uit die “kernklub” te hou—om te keer dat daardie nasies wat nie wapens het nie, dit ontwikkel. Daar word gevolglik gevrees dat party wat die verdrag onderteken het, hulle sal bedink. Trouens, party nasies beskou dit as uiters onregverdig dat hulle verbied word om wapens te ontwikkel, wapens wat hulle meen hulle in staat sal stel om hulleself te beskerm.
Iets wat sake verder kompliseer—en moontlik selfs gevaarliker maak—is die feit dat geen nasie verbied word om
kernenergie te ontwikkel nie. Gevolglik vrees sommige dat nasies wat kwansuis kernenergie vir vreedsame doeleindes gebruik, dalk in die geheim kernwapens ontwikkel.Selfs nasies wat reeds kernwapens het, verontagsaam moontlik die KSV. Kritici sê dat dit naïef sal wees om te verwag dat swaar gewapende nasies hulle voorraadstapel tot niet sal maak of selfs sal verminder. Een bron sê: “Dit vereis so ’n vlak van vriendskap en vertroue tussen lande wat mekaar tans vyandiggesind is, [dat dit moeilik is om te glo dat] dit ooit kan gebeur.”
Mensepogings om eenheid te bewerk—ongeag hoe opreg—het geen sukses behaal nie. Dít verbaas Bybelstudente glad nie, want God se Woord sê: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die Bybel sê ook reguit: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spreuke 16:25). Menseregerings is beperk in wat hulle kan doen om eenheid te bewerkstellig. Ons word nogtans nie sonder hoop gelaat nie.
Die Bron van ware eenheid
Die Bybel bevat God se belofte dat die wêreld verenig sal word, maar nie deur mensepogings nie. Die Skepper, wie se voorneme dit is dat mense oor die hele wêreld in vrede moet lewe, sal tot stand bring wat die mens nie kan nie. Vir party lyk dit alles dalk vergesog. Tog was dit van die begin af God se voorneme dat die mens in vrede en harmonie moet lewe. a Talle tekste in die Bybel toon dat dit steeds God se voorneme is om die mensdom in ’n verenigde toestand te bring. Kyk na net ’n paar voorbeelde:
• “Kom, aanskou die dade van Jehovah, hoe hy verbasende dinge op die aarde tot stand gebring het. Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”—PSALM 46:8, 9.
• “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—JESAJA 11:9.
• “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee. En die smaad van sy volk sal hy van die hele aarde af wegneem, want Jehovah het dit gespreek.”—JESAJA 25:8.
• “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 PETRUS 3:13.
• “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—OPENBARING 21:4.
Hierdie beloftes is betroubaar. Waarom? Omdat Jehovah God as die Skepper die mag Lukas 18:27). Hy het ook die begeerte om dit te doen. Trouens, die Bybel praat van God se “welbehae . . . om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde”.—Efesiërs 1:8-10.
en die vermoë het om eenheid vir die mensdom mee te bring (God se belofte van “’n nuwe aarde” waarin “regverdigheid [sal] woon”, is nie net wensdenkery nie (2 Petrus 3:13). Jehovah God sê oor wat hy belowe het: “Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.
Verenig deur God se Woord
Soos in die voorgaande artikel gemeld is, het godsdiens dikwels ’n rol daarin gespeel om die mensdom te verdeel in plaas van te verenig. Dit is stof tot ernstige nadenke, want as ons aanvaar dat daar ’n Skepper is, is dit net redelik om te verwag dat sy aanbidders in vrede en eenheid met mekaar sal lewe, nie waar nie? Beslis!
Godsdiens se verdelende invloed op die mensdom is glad nie ’n ware weerspieëling van Jehovah God en sy Woord nie. Dit stel eerder godsdienste aan die kaak wat mensgemaakte planne vir eenheid bevorder pleks van God se voorneme te ondersteun. Jesus het die godsdiensleiers van sy dag “huigelaars” genoem en vir hulle gesê: “Jesaja het gepas oor julle geprofeteer toe hy gesê het: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.’”—Matteus 15:7-9.
Ware aanbidding daarenteen het ’n verenigende uitwerking op mense. Die profeet Jesaja het voorspel: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom. En hy sal beslis oordeel tussen die nasies en sake regstel met betrekking tot baie volke. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:2, 4.
In meer as 230 lande gehoorsaam Jehovah se Getuies vandag die voorskrifte wat Jehovah God aangaande die weë van eenheid voorsien. Wat is die grondslag van hulle eenheid? Die apostel Paulus het geskryf: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Die woord wat Paulus in die oorspronklike taal vir “band” gebruik het, kan na die ligamente van die menseliggaam verwys. Hierdie ligamente is so sterk soos ’n tou, en hulle dien twee noodsaaklike funksies. Hulle hou die liggaam se organe in posisie en verbind bene met mekaar.
Dit is baie dieselfde met liefde. Hierdie eienskap voorkom nie net dat mense mekaar doodmaak nie. Christelike liefde laat individue van verskillende agtergronde op ’n vreedsame manier saamwerk. Dit stel mense byvoorbeeld in staat om te lewe in ooreenstemming met wat algemeen bekend staan as die Gulde Reël. Jesus Christus het volgens Matteus 7:12 gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.” Deur hierdie riglyn te volg, is baie mense gehelp om vooroordeel te bowe te kom.
“Liefde onder mekaar”
Jehovah se Getuies is vasbeslote om te bewys dat hulle Christus se dissipels is deur ag te slaan op wat Jesus gesê het: “Almal [sal] weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Hierdie liefde is op ’n merkwaardige manier getoon in tye van rasseonluste en politieke konflikte. Byvoorbeeld, gedurende die volksmoord in Rwanda in 1994 het Jehovah se Getuies hulle liefde vir mekaar getoon. Getuies van die Hutu-stam het hulle eie lewe in gevaar gestel om hulle Tutsi-broers te beskerm!
Dit is natuurlik onrealisties om te verwag dat die nasies van die wêreld naasteliefde in so ’n mate sal ontwikkel dat dit wêreldeenheid sal meebring. Volgens die Bybel sal God dit op sy bestemde tyd bewerkstellig. Individue kan hulle egter nou reeds met liefde beklee en eenheid teweegbring.
Gedurende die afgelope jaar het Jehovah se Getuies meer as ’n miljard uur daaraan bestee om mense te besoek en met hulle te praat oor die Bybel en die nut wat dit in vandag se lewe het. Juiste kennis van God se Woord het miljoene verenig, waarvan party mekaar vroeër gehaat het. Onder hulle is Arabiere en Jode, Armeniërs en Turke, Duitsers en Russe, om maar net ’n paar te noem.
Sal jy graag meer wil leer oor die verenigende uitwerking van God se Woord, die Bybel? Indien wel, kom gerus in aanraking met Jehovah se Getuies in jou omgewing, of skryf na die gepaste adres op bladsy 2.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor God se voorneme vir die mens, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 4]
Duisende vredesverdrae is al gesluit en verbreek
[Lokteks op bladsy 7]
Die toepassing van Bybelbeginsels het vermag wat menseregerings nie kan nie
[Prent op bladsy 5]
God se Woord wys na die Bron van ware eenheid
[Prent op bladsy 7]
Jehovah se Getuies van Hutu- en Tutsi-agtergrond bou saam ’n plek van aanbidding