Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Op pad na ’n nuwe wêreld

Op pad na ’n nuwe wêreld

Lewensverhaal

Op pad na ’n nuwe wêreld

Soos vertel deur Jack Pramberg

Buite Arboga, ’n prentjiemooi dorpie in Sentraal-Swede, het Jehovah se Getuies ’n takkantoor met meer as 80 vrywilligers. Dit is waar ek en my vrou, Karin, woon en werk. Hoe het dit gekom dat ons hier is?

TEEN die einde van die 19de eeu het ’n 15-jarige Sweedse meisie na die Verenigde State geïmmigreer. By ’n herberg vir immigrante in New York-stad het sy ’n Sweedse matroos ontmoet. Dit het gelei tot ’n romanse, ’n troue en die geboorte van ’n seun—ek. Dit was in 1916, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, in Bronx, New York, VSA.

Kort daarna het ons na Brooklyn getrek, net ’n paar blokke van Brooklyn Heights af. My pa het my later vertel dat ek en hy met ’n modelskippie gespeel het naby die Brooklyn-brug, wat ’n mens maklik van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies af kan sien. Min het ek besef hoe die bedrywighede in daardie gebou my lewe sou raak.

In 1918 het die Eerste Wêreldoorlog geëindig, en vir eers was die sinlose slagting in Europa verby. Soldate wat teruggekeer het huis toe, het met ’n nuwe soort vyand te kampe gehad—werkloosheid en armoede. My pa het gereken dat dit beter sou wees om na Swede terug te keer, en in 1923 is ons terug. Ons het uiteindelik gaan woon in Erikstad, ’n dorpie naby ’n treinstasie, in die Dalsland-gebied. Daar het my pa ’n ingenieurswerkswinkel oopgemaak, en dit is waar ek grootgeword en skoolgegaan het.

’n Saadjie is gesaai

My pa se sakeonderneming het nie goed gevaar nie. In die vroeë 1930’s het hy dus weer ’n matroos geword. Ons het alleen agtergebly—my ma met baie bekommernisse en ek met die verantwoordelikheid om na die werkswinkel om te sien. Op ’n dag het my ma haar swaer, my oom Johan, gaan besoek. Sy was baie bekommerd oor wêreldtoestande en het gevra: “Johan, gaan dinge vir altyd so bly?”

“Nee, Ruth”, het hy gesê. Toe het hy haar vertel van God se belofte om ’n einde te maak aan goddeloosheid en om ’n regverdige heerskappy oor die aarde tot stand te bring deur middel van ’n Koninkryk met Jesus Christus as Koning (Jesaja 9:6, 7; Daniël 2:44). Hy het verduidelik dat die Koninkryk waarvoor Jesus ons leer bid het, die regverdige heerskappy, of regering, is wat die aarde in ’n paradys gaan omskep.—Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4.

Hierdie Bybelbeloftes het onmiddellik my ma se hart geraak. Op pad huis toe het sy God gedank met elke tree wat sy gegee het. Maar nie ek of my pa het daarvan gehou dat my ma godsdienstig word nie. Om en by hierdie tyd, in die middel-1930’s, het ek na Trollhättan in die weste van Swede verhuis, waar ek in ’n groot werkswinkel werk gekry het. Kort daarna het my ma saam met my pa, wat kort tevore van die lewe op see teruggekeer het, na dieselfde plek getrek. Ons gesin was dus weer verenig.

Om haar geestelike honger te stil, het my ma Jehovah se Getuies in die gebied opgesoek. Hulle het destyds in mekaar se huise bymekaargekom, net soos die eerste Christene (Filemon 1, 2). Eendag was dit my ma se beurt om die vergadering by ons huis te hê. Sy het my pa senuweeagtig gevra of sy haar vriende kan nooi. Hy het geantwoord: “Jou vriende is my vriende.”

So is ons huis dan beskikbaar gestel. Toe mense by die deur instap, het ek uitgestap. Maar dit was nie lank voordat ek besluit het om te bly nie. Die hartlikheid van die Getuies en hulle realistiese, eenvoudige redenasies het al my vooroordeel uit die weg geruim. In my hart het ’n saadjie begin groei—’n hoop vir die toekoms.

Ek word ’n matroos

Ek moes seewater in my are gehad het, want ek het, soos my pa, ’n matroos geword. Ek het ook al hoe meer bewus geword van my geestelike behoefte. Wanneer ons skip by ’n hawe aangedoen het, het ek altyd probeer om met Jehovah se Getuies in aanraking te kom. In Amsterdam, Holland (nou Nederland), het ek na ’n poskantoor gegaan om te vra waar ek hulle kon vind. Ná ’n kort gesprek het ek ’n adres gekry, en ek het onmiddellik soontoe gegaan. ’n Tienjarige meisie het my hartlik by die deur verwelkom. Ek was ’n vreemdeling, maar ek het nogtans onmiddellik ’n band met haar en haar gesin gevoel—’n voorsmakie van ’n wonderlike internasionale broederskap!

Ons het nie dieselfde taal gepraat nie, maar toe die gesin ’n kalender en ’n treinrooster uithaal en ’n kaart begin teken, het ek verstaan dat ’n byeenkoms in die nabygeleë dorp Haarlem gehou sou word. Ek het gegaan, en al het ek nie ’n woord verstaan nie, het ek dit terdeë geniet. Toe ek sien hoe die Getuies ná die openbare toespraak op Sondag uitnodigings uitdeel, wou ek graag daaraan deelneem. Ek het dus die uitnodigings wat mense weggegooi het, opgetel en weer uitgedeel.

Eenkeer het ons in Buenos Aires, Argentinië, vasgemeer, en daar het ek die takkantoor van Jehovah se Getuies gevind. Binne was daar ’n kantoor en ’n stoorkamer. ’n Vrou het by ’n lessenaar gesit en brei, en ’n dogtertjie, waarskynlik haar kind, het met ’n pop gespeel. Dit was laat in die nag, en ’n man het boeke van ’n rak afgeneem, insluitende die boek Creation in Sweeds. Toe ek hulle gelukkige, vriendelike gesigte sien, het ek geweet dat ek een van hierdie mense wou wees.

Op pad huis toe het ons skip die bemanning van ’n Kanadese militêre vliegtuig opgepik wat naby die kus van Newfoundland geval het. ’n Paar dae later was ons naby Skotland, waar ’n Engelse vlootskip op ons skip beslag gelê het. Ons is na Kirkwall op die Orkney-eilande geneem om ondersoek te word. Die Tweede Wêreldoorlog het begin, en Hitler se Nazi-troepe het Pole in September 1939 binnegeval. Ons is ná ’n paar dae vrygelaat en het sonder teëspoed na Swede teruggekeer.

Ek het in twee opsigte tuisgekom—fisies en geestelik. Nou wou ek werklik deel wees van God se volk, en ek wou nie nalaat om saam met hulle te vergader nie (Hebreërs 10:24, 25). Dit maak my hart baie bly om te dink dat ek as ’n matroos altyd vir ander matrose getuig het, en ek weet van een wat ook ’n Getuie geword het.

’n Spesiale vorm van diens

Vroeg in 1940 het ek die takkantoor van Jehovah se Getuies in Stockholm besoek. Ek is verwelkom deur Johan H. Eneroth, wat destyds toesig gehou het oor die predikingswerk in Swede. Toe ek vir hom sê dat ek voltyds as ’n pionierbedienaar aan die predikingswerk wil deelneem, het hy my reg in die oë gekyk en gevra: “Glo jy dat hierdie organisasie God s’n is?”

“Ja”, het ek geantwoord. Dit het tot my doop op 22 Junie 1940 gelei, en ek het by die tak begin dien, in daardie lieflike omgewing en saam met dierbare medewerkers. Ons het ons naweke in die bediening deurgebring. In die somer het ons dikwels op fietse na verafgeleë gebiede gery en ’n hele naweek aan die predikingswerk gewy, terwyl ons snags in hooimiede geslaap het.

Maar ons het meestal in en om Stockholm van huis tot huis getuig. Eenkeer het ek ’n man gesien wat hard besig was om ’n geiser in sy kelder reg te maak. Ek het dus my moue opgerol en hom gehelp. Toe die lek herstel is, het die man dankbaar na my gekyk en gesê: “Ek neem aan jy is hier vir ’n ander rede. Kom ons gaan boontoe en was ons hande, en dan drink ons ’n koppie koffie.” Ons het dit gedoen, en terwyl ons die koffie gedrink het, het ek vir hom getuig. Na verloop van tyd het hy ’n mede-Christen geword.

Al het Swede hom amptelik neutraal verklaar, is die Sweedse volk tog deur die oorlog geraak. Al hoe meer mans is vir militêre diens opgeroep, ek inkluis. Toe ek geweier het om militêre driloefeninge te doen, is ek vir kort tydperke tronk toe gestuur. Later is ek gevonnis om in ’n werkkamp te werk. Jong Getuies moes dikwels voor regters verskyn, en ons kon oor God se Koninkryk getuig. Dit het ooreengestem met Jesus se profesie: “Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies.”—Matteus 10:18.

My lewe verander

In 1945 het die oorlog in Europa opgehou. Later daardie jaar het Nathan H. Knorr, wat destyds die leiding geneem het in die wêreldwye werk, van Brooklyn gekom om ons te besoek, saam met sy sekretaris, Milton Henschel. Hulle besoek was baie belangrik vir die herorganisasie van die predikingswerk in Swede—en vir my persoonlik. Toe ek hoor dat ek moontlik die Wagtoring-Bybelskool Gilead kon bywoon, het ek onmiddellik aansoek gedoen.

Die volgende jaar het ek in ’n klaskamer by die skool gesit, wat destyds net buite South Lansing, New York, geleë was. Gedurende die vyf maande lange kursus het ek opleiding ontvang wat my waardering vir die Bybel en vir God se organisasie vergroot het. Ek het gevind dat diegene wat die leiding in die wêreldwye predikingswerk neem, genaakbaar en bedagsaam is. Hulle het hard gewerk saam met die res van ons (Matteus 24:14). Hoewel dit my nie verbaas het nie, was ek bly om dit met my eie oë te sien.

Die tyd vir die graduering van die agtste klas van die Gileadskool—9 Februarie 1947—het gou aangebreek. Broer Knorr het aangekondig na watter lande ons studente gestuur sou word. Toe my beurt gekom het, het hy gesê: “Broer Pramberg gaan terug na Swede om sy broers daar te dien.” Ek moet erken dat ek nie baie entoesiasties was om huis toe te gaan nie.

Ek aanvaar die groot uitdaging

Toe ek na Swede teruggekeer het, het ek gehoor van ’n nuwe werk wat in baie lande regoor die wêreld sou begin—die streekwerk. Ek is aangestel om as die eerste streekopsiener in Swede te dien, en my toewysing was om die hele land te bedien. Ek het byeenkomste, wat later kringbyeenkomste genoem is en in stede en dorpe deur die hele Swede gehou is, gereël en daaroor toesig hou. Aangesien hierdie reëling heeltemal nuut was, het ek baie min instruksies ontvang. Ek en broer Eneroth het gaan sit en tot die beste van ons vermoë ’n program saamgestel. Die toewysing was oorweldigend, en ek het Jehovah baie, baie keer in gebed genader. Ek het 15 jaar lank die voorreg gehad om in die streekwerk te dien.

Dit was destyds moeilik om gepaste vergaderplekke te vind. Ons moes maar gebruik maak van danssale en dies meer, wat soms in ’n slegte toestand was en waarvan die verhitting dikwels onvoldoende was. ’n Byeenkoms in Rökiö, Finland, is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die saal was ’n ou gemeenskapsaal wat ’n tyd lank nie meer in gebruik was nie. ’n Sneeustorm het gewoed, en dit was minus 20 grade Celsius. Ons het dus vuur gemaak in die twee kaggelstowe wat van oliedromme gemaak is. Maar min het ons geweet dat voëls neste in die skoorsteen gebou het. Daar was oral rook! Nogtans het almal bly sit, toegewikkel in jasse en met brandende oë. Dit het daardie byeenkoms besonder onvergeetlik gemaak.

Een van die instruksies vir die organisering van hierdie driedaagse kringbyeenkomste was dat voedsel vir die byeenkomsgangers voorsien moes word. Aan die begin het ons nie die toerusting of die ondervinding gehad om so ’n taak uit te voer nie. Maar ons het wonderlike broers en susters gehad wat die uitdaging blymoedig aanvaar het. Op die dag voor die byeenkoms kon ’n mens hulle gebukkend oor ’n groot kom sien staan en aartappels skil terwyl hulle ondervindinge vertel en die assosiasie geniet het. Talle blywende vriendskappe is by daardie geleenthede gesmee terwyl die broers en susters hard saam gewerk het.

Destyds het ons werk ook behels dat ons met plakkate stap om hierdie kringbyeenkomste te adverteer. Ons het in ’n ry deur ’n dorp gestap en die inwoners na die openbare toespraak genooi. Oor die algemeen was mense vriendelik en respekvol. Eenkeer in die dorp Finspång was die straat vol werkers wat uit ’n fabriek gekom het. Skielik het een van hulle uitgeroep: “Ouens, hier sien julle die klomp wat Hitler nie kon onderkry nie!”

’n Belangrike gebeurtenis in my lewe

My lewe as ’n reisende bedienaar sou weldra verander nadat ek Karin, ’n wonderlike jong vrou, ontmoet het. Ons is albei genooi om die internasionale byeenkoms in Julie 1953 by die Yankee-stadion, New York-stad, by te woon. Daar het Milton Henschel ons tussen die sessies op Maandag die 20ste getrou. Dit was ’n buitengewone geleentheid in hierdie sentrum van die bofbalwêreld. Nadat ek en Karin tot 1962 saam in die reisende werk gedien het, is ons genooi om by die Sweedse Bethelgesin aan te sluit. Aanvanklik het ek in die Tydskrifafdeling gewerk. Toe is ek, weens my opleiding as ’n werktuigkundige, die toewysing gegee om na die drukperse en ander masjiene by die tak om te sien. Karin het etlike jare in die wassery gewerk. Sy werk nou al jare lank in die Proefleesafdeling.

Wat ’n opwindende, betekenisvolle en gelukkige lewe het ons tog geniet in die meer as 54 jaar dat ons Jehovah saam as ’n egpaar dien! Jehovah het waarlik sy organisasie van liefdevolle, hardwerkende knegte geseën. In 1940, toe ek by die tak begin dien het, was daar net 1 500 Getuies in Swede. Maar nou is daar meer as 22 000. Daar was selfs groter vermeerdering in ander dele van die wêreld, sodat ons nou meer as ses en ’n half miljoen Getuies wêreldwyd is.

Jehovah se gees steun ons werk en vul as’ t ware ons seile. Met oë van geloof kyk ons uit oor die onstuimige see van die mensdom, maar ons is nie verontrus nie. Reguit vorentoe op ons weg sien ons duidelik God se nuwe wêreld. Ek en Karin dank God vir al sy goedheid en bid elke dag vir die krag om ons onkreukbaarheid te handhaaf en uiteindelik ons doel te bereik—God se goedkeuring en die ewige lewe!—Matteus 24:13.

[Prent op bladsy 12]

Op my ma se skoot

[Prent op bladsy 13]

Waar ek en my pa in die vroeë 1920’s met ’n modelskippie gespeel het

[Prent op bladsy 15]

Saam met Herman Henschel (Milton se pa) by Gilead, 1946

[Prente op bladsy 16]

Ons is op 20 Julie 1953 by die Yankee-stadion getroud