Vrae van lesers
Vrae van lesers
Hoe moet ’n Christen jag en visvang beskou?
Die Bybel veroordeel nie jag of visvang nie (Deuteronomium 14:4, 5, 9, 20; Matteus 17:27; Johannes 21:6). Nogtans moet Christene wat wel jag of visvang, verskeie skriftuurlike beginsels in ag neem.
God het Noag en sy nakomelinge toegelaat om diere dood te maak en te eet, mits hulle die diere se bloed laat uitloop het voordat hulle die vleis geëet het (Genesis 9:3, 4). Hierdie voorskrif het beklemtoon dat dierelewe gerespekteer moes word as iets wat van God af kom. Christene maak dus nie diere dood net vir sport of vir pret en sonder enige agting vir lewe nie.—Spreuke 12:10.
Daar is nog ’n aspek hier ter sprake, een wat ons gesindheid behels. Die apostels wat vissermanne was, was heel moontlik baie in hulle skik met ’n goeie vangs. Maar daar is niks wat toon dat hulle grootgepraat het oor hulle vaardighede as vissermanne of jagters nie; of dat hulle gaan visvang of jag het om met ander te wedywer, om hulle manlikheid te bewys of om die opwinding van die jag self, die gespook van ’n vis aan die lyn of die doodskoot te beleef nie.—Psalm 11:5; Galasiërs 5:26.
Ons kan ons dus afvra: ‘Stel ek ’n voorbeeld daarin om respek te toon vir Jehovah se beskouing van lewe? Oorheers jag of visvang my denke en gesprekke? Weerspieël my lewenswyse dat ek ’n jagter is, of toon dit dat ek ’n bedienaar van God is? Bring jag of visvang my in noue omgang met ongelowiges of veroorsaak dit dat ek my gesin verwaarloos?’—Lukas 6:45.
Iemand wat jag of visvang vir voedsel, meen dalk dat hy tydens jag- en visvangseisoene goeie rede het om geestelike sake opsy te skuif. Maar ons toon dat ons geloof en vertroue in God het as ons nie toelaat dat enigiets voorkeur geniet bo sy belange nie (Matteus 6:33). Christene gehoorsaam ook al “die keiser” se wette in verband met jag en visvang, of die owerheid nou die wette toepas of nie.—Matteus 22:21; Romeine 13:1.
Party sal hulle denke dalk by Jehovah se standaarde moet aanpas om sy beskouing van jag en visvang te verkry (Efesiërs 4:22-24). Aan die ander kant moet ons die besluite wat ander in ooreenstemming met hulle gewete neem, respekteer. Die apostel Paulus se raad is in hierdie geval gepas: “Laat ons mekaar . . . nie langer oordeel nie, maar neem liewer hierdie besluit: om ’n broer nie ’n struikelblok of iets wat hom kan laat val, in die weg te lê nie” (Romeine 14:13). Wanneer ons sulke onselfsugtige liefde en respek toon, bevorder dit vrede in die gemeente en behaag dit ons Maker, die Bron van alle lewe.—1 Korintiërs 8:13. a
[Voetnoot]
a Sien ook “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 1990.