Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Betoon “tere medelye”

Betoon “tere medelye”

Betoon “tere medelye”

NOG nooit tevore het soveel van ons medemense so ’n groot behoefte aan medelydende hulp gehad terwyl hulle hongersnood, siekte, armoede, misdaad, burgerlike onrus en natuurrampe ondervind nie. Medelye dui op ’n simpatieke bewustheid van iemand anders se lyding of teëspoed asook ’n begeerte om dit te verlig. Soos die warm strale van die helder son, kan medelye ’n gekwelde siel vertroos, pyn verlig en ’n geteisterde persoon opbeur.

Ons kan medelye in woord en daad betoon—deur besorgd te wees oor ander en daar te wees wanneer hulle ons nodig het. Dit is goed om medelye nie net tot familie, vriende en kennisse te beperk nie. Ons kan verruim word in ons betoning hiervan deur mense in te sluit wat ons nie eers ken nie. “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter beloning het julle?” het Jesus Christus in die Bergpredikasie gevra. Hierdie medelydende man het ook gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 5:46, 47; 7:12.

Jy kan hierdie woorde—wat die Gulde Reël genoem word—in die Heilige Skrif lees. Baie is dit eens dat die Bybel die beste rigsnoer is wat die betoning van medelye betref. Die Skrif noem herhaaldelik ons verpligting om diegene te help wat, om watter rede ook al, hulleself nie kan help nie. Die Bybel beeld sy Outeur en ons Skepper, Jehovah God, uit as die een wat by uitstek medelydend is.

Ons lees byvoorbeeld: “[God] laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere” (Deuteronomium 10:18, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Jehovah God word beskryf as “die Een wat reg verskaf aan dié wat te kort gedoen is, die Een wat brood gee aan dié wat honger is” (Psalm 146:7). Aangaande minder bevoorregte immigrante het Jehovah beveel: “Die inwonende vreemdeling . . . moet vir julle soos ’n boorling onder julle word; en jy moet hom liefhê soos jouself.”—Levitikus 19:34.

Die betoning van medelye is egter nie altyd maklik nie. Die apostel Paulus het aan die Christene in Kolosse geskryf: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het . . . Beklee julle . . . as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye.”—Kolossense 3:9, 10, 12.

Dit verg dus inspanning om ’n medelydende gesindheid aan te kweek. So ’n gesindheid is deel van “die nuwe persoonlikheid” waarmee Christene hulle moet beklee. Paulus het in die wrede wêreld van eertydse Rome gelewe. Hy het sy medegelowiges aangespoor om drastiese veranderinge in hulle persoonlikheid aan te bring sodat hulle simpatieker, of medelydender, kon word.

Die krag van medelye

Party mense meen dat diegene wat medelye betoon, swak en kwesbaar is. Is so ’n beskouing reg?

Glad nie! Die ware krag agter opregte medelye is innige liefde, wat sy oorsprong by God het, die verpersoonliking van hierdie eienskap. “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Jehovah word tereg “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” genoem (2 Korintiërs 1:3). Die uitdrukking wat met “tere barmhartighede” weergegee word, beteken basies “innige jammerte, medelye met die beproewinge van ander”. Dink net, Jehovah “is goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses”!—Lukas 6:35.

Ons Skepper verwag ook van ons om liefdevolle eienskappe, soos medelye, te betoon. Ons lees in Miga 6:8: “Hy het jou vertel, o mens, wat goed is. En wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê?” In Spreuke 19:22 lees ons: “Wat begeerlik is in die mens, is sy liefderyke goedhartigheid.” God se Seun, Jesus Christus, wat die persoonlikheid van sy Vader volmaak weerspieël het, het sy volgelinge eweneens vermaan: “Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is” (Lukas 6:36). The Jerusalem Bible gee hierdie vermaning soos volg weer: “Wees medelydend soos julle Vader medelydend is.”

Daar is goeie rede om so te wees, aangesien medelye ryk seëninge kan meebring. Ons sien dikwels die waarheid van die woorde in Spreuke 11:17: “’n Man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel.” Wanneer ons medelye betoon aan iemand wat dit nodig het, beskou God dit as ’n guns wat aan Hom bewys word. Hy aanvaar die verantwoordelikheid om enige medelye wat sy aanbidders betoon, met goedhartigheid te beloon. Koning Salomo het onder inspirasie gesê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spreuke 19:17). En Paulus het geskryf: “Julle weet dat elkeen . . . al die goeie wat hy doen, van Jehovah sal terugontvang.”—Efesiërs 6:8.

Medelye het die krag om eenheid te bewaar en konflik of wrywing uit die weg te ruim. Dit help om misverstande op te klaar, en dit baan die weg vir vergifnis. Misverstande kan ontstaan omdat ons nie altyd ons gedagtes of gevoelens uitspreek soos ons graag wou nie, of ons optrede word dalk verkeerd vertolk. Dan is medelye die antwoord en help dit om die vrede te bewaar. Dit is maklik om iemand te vergewe wat daarvoor bekend is dat hy medelydend is. Medelye help ons om Paulus se raad aan Christene toe te pas: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”—Kolossense 3:13.

Medelye—’n daadwerklike betoning van simpatie

Medelye het ook die krag om lyding te verlig. Soos ons gesien het, dui dit op ’n simpatieke gees teenoor diegene wat in die nood verkeer en laat dit ons ly saam met diegene wat ly. Medelye behels tere geneentheid vir mense wat in ellende verkeer asook positiewe optrede om hulle te help.

Deur simpatiek te wees, volg Christene Jesus na. Hy was nooit te besig om materiële sowel as geestelike hulp aan ander te verleen nie. Wanneer hy gesien het dat ander in die nood verkeer, het hy uit medelye ’n manier gevind om te help.

Dink aan hoe Jesus gereageer het toe hy ’n skare mense gesien het wat geestelik arm was: “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Volgens ’n Bybelgeleerde dui die woord wat hier vertaal word met “innig jammer gevoel”, op “’n emosie wat iemand tot in sy diepste wese raak”. Trouens, daar is al na hierdie woord verwys as een van die sterkste Griekse woorde vir die gevoel van medelye.

Medelydende Christene reageer eweneens gou op die materiële en geestelike behoeftes van ander. Die apostel Petrus het geskryf: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê” (1 Petrus 3:8). Toe ’n behoeftige Christengesin byvoorbeeld om gesondheidsredes na ’n ander gebied moes trek, het medegelowiges daar hulle toegelaat om ses maande lank verniet in ’n huis te bly. Die man vertel: “Hulle het elke dag kom kyk hoe dit met ons gaan, en hulle aanmoedigende kommentare het ons tuis laat voel.”

Ware Christene is ook besorg oor die behoeftes van vreemdelinge. Hulle gebruik met graagte hulle tyd, energie en middele om mense te help wat hulle nie ken nie. Die vrywilligers wat in die vorige artikel genoem is en wat volslae vreemdelinge gehelp het, was Jehovah se Getuies.

In die Christengemeente heers daar dus ’n atmosfeer van medelye en liefderyke goedhartigheid. Gemeentelede word deur liefde aangedryf, wat hulle beweeg om maniere te vind om te dien. Weens verskeie persoonlike probleme het wese en weduwees in die gemeente moontlik ’n behoefte aan jou besorgdheid en empatie. Kan jy hierdie persone help om armoede, onvoldoende mediese sorg, ’n gebrek aan geskikte huisvesting of ander persoonlike probleme die hoof te bied?

Beskou die voorbeeld van ’n egpaar in Griekeland. Die man het ’n beroerte gekry. Hy en sy vrou is na ’n hospitaal honderde kilometers van hulle huis af geneem. Hulle lemoenboord het hulle van ’n skamele inkomste voorsien, maar dit moes geoes word. Wie sou dit doen terwyl hulle by die hospitaal was? Die plaaslike gemeente het aan die werk gespring. Hulle het die lemoene geoes en verkoop, wat die behoeftige egpaar ’n inkomste sowel as gemoedsrus gegee het.

Medelye kan op baie maniere betoon word. Medelydende Christene besef byvoorbeeld dat party wat onder probleme gebuk gaan, soms hoofsaaklik ’n behoefte het aan vriendelike besoeke van mense wat met ’n simpatieke oor sal luister, empatie sal betoon en skriftuurlike vertroosting sal voorsien.—Romeine 12:15.

Geniet ’n medelydende atmosfeer

Die wêreldwye Christengemeente is ’n hawe van vrede en vertroosting waar medelye en goedhartigheid betoon word. Ware Christene besef dat medelye mense aantrek, terwyl hardvogtigheid hulle afstoot. In hulle strewe om hulle hemelse Vader na te volg, probeer hulle dus om op praktiese maniere “tere medelye” te betoon.

Jehovah se Getuies nooi jou hartlik uit om die medelydende, liefdevolle, goedhartige atmosfeer te geniet wat oral in hulle Christengemeenskap gevind word. Hulle is oortuig dat jy hierdie milieu verwelkomend en aangenaam sal vind.—Romeine 15:7.

[Prent op bladsy 5]

Paulus het Christene in Kolosse aangespoor om hulle met die tere geneenthede van medelye te beklee

[Prente op bladsy 7]

Wanneer Jesus ’n behoefte gesien het, het hy uit medelye ’n manier gevind om te help