Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geen wapen wat teen jou gesmee word, sal sukses hê nie

Geen wapen wat teen jou gesmee word, sal sukses hê nie

Geen wapen wat teen jou gesmee word, sal sukses hê nie

“Geen wapen wat teen jou gesmee . . . word, sal enige sukses hê nie.”—JESAJA 54:17.

1, 2. Hoe lig die ondervindinge van Jehovah se Getuies in Albanië die waarheid van Jesaja 54:17 toe?

 DEKADES gelede, in ’n klein bergagtige landjie in die suidooste van Europa, was daar ’n vreeslose groep Christene. ’n Ateïstiese Kommunistiese regering het alles probeer om hulle te vernietig. Tog kon marteling, strafkampe en media-aanvalle hulle nie uitwis nie. Wie was hulle? Jehovah se Getuies in Albanië. Hoewel dit uiters moeilik was om saam te vergader en aan die predikingswerk deel te neem, het hulle volharding deur dekades heen die Christelike godsdiens verheerlik en tot eer gestrek, asook lof gebring aan Jehovah se naam. Verlede jaar by die toewyding van hulle nuwe takfasiliteite het ’n Getuie wat al jare lank getrou dien, gesê: “Ongeag hoe hard Satan probeer, hy bly verloor, en Jehovah hou aan om te wen!”

2 Al hierdie dinge is ’n lewende bewys van die waaragtigheid van God se belofte aan sy volk, soos opgeteken in Jesaja 54:17: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel.” Die geskiedenis bevestig dat niks wat Satan se wêreld kan doen, ooit sal keer dat Jehovah God se toegewyde knegte hom aanbid nie.

Satan se onsuksesvolle pogings

3, 4. (a) Wat is van die wapens wat Satan gebruik? (b) In watter opsig was die Duiwel se wapens onsuksesvol?

3 Wapens wat teen ware aanbidders gebruik word, het al verbooie, gepeupelgeweld, tronke en die ‘beraming van moeilikheid deur die wet’ ingesluit (Psalm 94:20). Trouens, terwyl Jehovah se Getuies hierdie artikel bestudeer, word hierdie ware Christene in sommige lande “op die proef gestel” wat hulle onkreukbaarheid teenoor God betref.—Openbaring 2:10.

4 Byvoorbeeld, een takkantoor van Jehovah se Getuies het berig dat daar gedurende net een jaar 32 gevalle was waar God se knegte fisies aangerand is terwyl hulle aan die bediening deelgeneem het. Daarbenewens was daar 59 voorvalle waar Getuies—jonk en oud, mans en vroue—deur die polisie in hegtenis geneem is omdat hulle in die openbaar gepreek het. Vingerafdrukke en foto’s is van party geneem, en hulle is soos misdadigers opgesluit. Ander is met fisiese geweld gedreig. In ’n ander land is daar nou meer as 1 100 gedokumenteerde gevalle waar Jehovah se Getuies in hegtenis geneem, beboet of geslaan is. Meer as 200 van hierdie gevalle het plaasgevind op die dag toe hulle bymekaargekom het om Jesus se dood te herdenk! Jehovah se gees het nietemin sy knegte in staat gestel om, in hierdie en ander lande, ondanks ’n oorweldigende oormag staande te bly (Sagaria 4:6). Die gloed van die vyand se toorn sal nie die monde snoer van diegene wat Jehovah loof nie. Ja, ons is oortuig dat geen wapen God se voorneme kan verydel nie.

Valse tonge word veroordeel

5. Watter valse tonge het in die eerste eeu teen Jehovah se knegte opgestaan?

5 Jesaja het geprofeteer dat God se volk enige tong sal veroordeel wat teen hulle opstaan. In die eerste eeu was Christene dikwels die voorwerp van wanvoorstellings, deurdat hulle as kwaaddoeners uitgebeeld is. Die woorde in Handelinge 16:20, 21 is tipies van sulke aantygings: “Hierdie mense bring ons stad in groot beroering, . . . en hulle verkondig gebruike wat ons nie mag aanvaar of beoefen nie, aangesien ons Romeine is.” By ’n ander geleentheid het godsdiensteenstanders die stadsheersers probeer oorreed om teen Christus se volgelinge op te tree deur te beweer: “Hierdie mense wat die bewoonde aarde omgekeer het, is ook hier teenwoordig, [en hulle] handel in stryd met die verordeninge van die keiser” (Handelinge 17:6, 7). Die apostel Paulus is bestempel as “’n pes” en die leier van ’n sekte wat opstande verwek “in die hele bewoonde aarde”.—Handelinge 24:2-5.

6, 7. Wat is een manier waarop ware Christene mondelinge aanvalle teen hulle veroordeel?

6 Dit verbaas ons dus nie dat ware Christene vandag te kampe het met skreiende wanvoorstellings, kwaadwillige laster en smeerveldtogte nie. Hoe veroordeel ons sulke mondelinge aanvalle?—Jesaja 54:17.

7 Sulke aantygings en propaganda word dikwels weerlê deur die goeie gedrag van Jehovah se Getuies (1 Petrus 2:12). Wanneer Christene bewys dat hulle wetsgehoorsame burgers is asook mense met hoë sedes wat opregte besorgdheid toon oor die welsyn van hulle medemens, word die aantygings wat teen hulle geslinger word, vals bewys. Ons goeie gedrag op sigself is ’n getuienis. Wanneer waarnemers sien hoe ons in goeie werke volhard, word hulle dikwels beweeg om ons hemelse Vader te verheerlik en die verhewe lewenswyse van sy knegte te erken.—Jesaja 60:14; Matteus 5:14-16.

8. (a) Wat kan soms nodig wees om ons skriftuurlike posisie te verdedig? (b) Hoe veroordeel ons vyandige tonge, in navolging van Christus?

8 Buiten ons godvrugtige gedrag sal dit dalk soms nodig wees om ons skriftuurlike standpunt met vrymoedigheid te verdedig. Een manier is om ons op regerings en howe te beroep vir beskerming (Ester 8:3; Handelinge 22:25-29; 25:10-12). Toe Jesus op aarde was, het hy sy kritici soms openlik berispe en hulle valse aantygings weerlê (Matteus 12:34-37; 15:1-11). In navolging van Jesus verwelkom ons die geleentheid om vir ander ’n deeglike verduideliking te gee van ons hartgrondige oortuigings (1 Petrus 3:15). Mag ons nooit toelaat dat bespotting by die skool, die werk of van ongelowige familielede ons keer om die waarheid van God se Woord bekend te maak nie.—2 Petrus 3:3, 4.

Jerusalem—“’n swaar klip”

9. Watter Jerusalem word deur die “swaar klip” van Sagaria 12:3 afgebeeld, en wie verteenwoordig dit op aarde?

9 Sagaria se profesie werp lig op die rede waarom die nasies hulle standpunt teen ware Christene inneem. Let op wat Sagaria 12:3 sê: “In dié dag sal ek Jerusalem ’n swaar klip vir al die volke maak.” Na watter Jerusalem verwys hierdie profesie? Sagaria se profesie aangaande Jerusalem is van toepassing op “hemelse Jerusalem”, die hemelse Koninkryk waartoe gesalfde Christene geroep is (Hebreërs 12:22). ’n Klein oorblyfsel van hierdie erfgename van die Messiaanse Koninkryk is nog op die aarde. Saam met hulle metgeselle, die “ander skape”, spoor hulle mense aan om hulle aan die kant van God se Koninkryk te skaar terwyl daar nog tyd is (Johannes 10:16; Openbaring 11:15). Hoe het die nasies op hierdie uitnodiging gereageer? En watter soort ondersteuning gee Jehovah vandag aan ware aanbidders? Kom ons vind uit terwyl ons die betekenis van Sagaria hoofstuk 12 verder ondersoek. Dit sal ons die versekering gee dat ‘geen wapen sukses sal hê’ teen God se gesalfdes en hulle toegewyde metgeselle nie.

10. (a) Waarom word God se volk aangeval? (b) Hoe vaar diegene wat die “swaar klip” probeer verwyder?

10 Sagaria 12:3 toon dat die nasies “ernstige skrape” opdoen. Hoe gebeur dit? God het beveel dat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig moet word. Jehovah se Getuies neem hulle verpligting om dit te doen ernstig op. Die verkondiging van die Koninkryk as die mensdom se enigste hoop het egter “’n swaar klip” vir die nasies geword. Hulle probeer dit verwyder deur met die Koninkryksverkondigers in te meng. So doen die inmengerige nasies “ernstige skrape” op en word hulle vol snye. Selfs hulle reputasie word geskaad wanneer hulle vernederende mislukkings ondervind. Hulle kan nie ware aanbidders stilmaak, wat die voorreg koester om die “ewige goeie nuus” van God se Messiaanse Koninkryk te verkondig voor die einde van hierdie stelsel van dinge aanbreek nie (Openbaring 14:6). Toe ’n tronkbewaarder in ’n Afrikaland die geweld sien wat Jehovah se knegte aangedoen word, het hy basies gesê: ‘Julle pogings om hierdie mense te vervolg, is tevergeefs. Hulle sal nooit hulle geloof prysgee nie. Hulle word net meer.’

11. Hoe het God sy belofte nagekom wat in Sagaria 12:4 opgeteken is?

11 Lees Sagaria 12:4. Jehovah belowe dat hy diegene wat teen sy moedige Koninkryksboodskappers veg, in figuurlike sin sal verblind en hulle in “verwarring” sal bring. Hy het sy woord gehou. Byvoorbeeld, in een land waar ware aanbidding verbied is, was teenstanders nie in staat om geestelike voedsel uit die hande van God se knegte te hou nie. ’n Koerant het selfs beweer dat Jehovah se Getuies ballonne gebruik om Bybellektuur in die land in te kry! God se belofte aan sy lojale knegte was waar: “Ek [sal] my oë oopmaak, en al die perde van die volke sal ek met blindheid slaan.” Omdat hulle blind van woede is, weet vyande van die Koninkryk nie watter rigting om in te slaan nie. Ons is egter oortuig dat Jehovah sy knegte as ’n groep behoue sal laat bly en na hulle welsyn sal omsien.—2 Konings 6:15-19.

12. (a) In watter sin het Jesus ’n vuur gemaak toe hy op aarde was? (b) Hoe het die gesalfde oorblyfsel dinge in geestelike sin aan die brand gesteek, en met watter resultate?

12 Lees Sagaria 12:5, 6. “Die sjeiks van Juda” verwys na diegene wat die leiding neem onder God se volk. Jehovah vervul hulle met ’n vurige ywer vir die aardse belange van sy Koninkryk. By een geleentheid het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde te maak” (Lukas 12:49). En hy het beslis ’n vuur aangesteek. Jesus het deur sy ywerige predikingsbedrywighede God se Koninkryk die vernaamste geskil voor die mense gemaak. Dit het ’n vurige twispunt in daardie hele Joodse nasie geword (Matteus 4:17, 25; 10:5-7, 17-20). “Soos ’n vuurpot tussen die bome en soos ’n vuurfakkel in ’n ry pas gesnyde graan”, steek voetstapnavolgers van Christus eweneens in ons dag dinge in geestelike sin aan die brand. Die boek The Finished Mystery a van 1917 het die huigelary van die Christendom duidelik oopgevlek. Dit het ’n bittere reaksie van die geestelikes ontlok. In onlangser tye het Koninkryksnuus Nr. 37, “Die einde van valse godsdiens is op hande!” baie mense beweeg om hulle standpunt vir of teen God se Koninkryk in te neem.

“Die tente van Juda” word gered

13. Wat word te kenne gegee deur die uitdrukking “die tente van Juda”, en waarom red Jehovah dié wat daarin woon?

13 Lees Sagaria 12:7, 8. In eertydse Israel was tente algemeen in die land, en dit is soms deur herders en landbouers gebruik. Hierdie mense sou eerste daardeur geraak word en sou beskerming nodig hê as ’n vyandige nasie gekom het om die stad Jerusalem aan te val. Die uitdrukking “die tente van Juda” gee te kenne dat die gesalfde oorblyfsel in ons tyd as ’t ware in die oop veld is, nie in versterkte stede nie. Daar verdedig hulle vreesloos die belange van die Messiaanse Koninkryk. Jehovah van die leërs sal “die tente van Juda eerste” red, want hulle is in Satan se direkte aanvalslyn.

14. Hoe verdedig Jehovah diegene in “die tente van Juda” en keer hy dat hulle struikel?

14 Trouens, die geskiedenisverslag bewys dat Jehovah hierdie gesalfde ambassadeurs van die Koninkryk in hulle “tente” daar in die veld verdedig. b Hy keer dat hulle “struikel” deur hulle sterk en dapper te maak soos Dawid, die stryder-koning.

15. Waarom ‘soek Jehovah daarna om al die nasies te verdelg’, en op watter stadium gaan hy dit doen?

15 Lees Sagaria 12:9. Waarom ‘soek Jehovah daarna om al die nasies te verdelg’? Omdat hulle die Messiaanse Koninkryk onophoudelik teëstaan. Hulle word veroordeel omdat hulle God se knegte teister en vervolg. Satan se aardse agente sal binnekort ’n laaste aanval op God se ware aanbidders loods, wat tot die wêreldsituasie sal lei wat in die Bybel beskryf word as Har–Magedon (Openbaring 16:13-16). In reaksie op daardie aanval sal die Opperregter sy knegte verdedig en sy naam onder die nasies heilig.—Esegiël 38:14-18, 22, 23.

16, 17. (a) Wat is “die erfbesitting van die knegte van Jehovah”? (b) Waarvan is ons volharding ondanks Satan se aanvalle ’n bewys?

16 Satan het geen wapen wat die geloof van God se knegte regoor die wêreld kan verswak of hulle ywer kan demp nie. Ons geestelike vrede, wat die gevolg is van Jehovah se reddingskrag, is “die erfbesitting van die knegte van Jehovah” (Jesaja 54:17). Niemand kan ons met geweld van ons vrede en geestelike voorspoed beroof nie (Psalm 118:6). Satan sal voortgaan om die vlamme van teenstand aan te blaas en verdrukking te probeer veroorsaak. Ons lojale volharding ten spyte van smaad is ’n bewys dat God se gees op ons rus (1 Petrus 4:14). Die goeie nuus van Jehovah se opgerigte Koninkryk word wêreldwyd verkondig. Talle simboliese “slingerklippe” van teenstand is al teen God se volk geslinger om hulle heeltemal van stryk te bring. Maar in Jehovah se krag weer sy knegte hierdie klippe af, sodat dit geen uitwerking het nie (Sagaria 9:15). Die gesalfde oorblyfsel en hulle lojale metgeselle sal nie buite aksie gestel word nie!

17 Ons sien daarna uit om heeltemal van die Duiwel se aanvalle verlos te word. Watter vertroosting put ons tog uit die versekering dat ‘geen wapen wat teen ons gesmee word, enige sukses sal hê nie, en dat ons elke tong wat in die gereg teen ons sal opstaan, sal veroordeel’!

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Vir meer besonderhede, sien die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 675-6, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat toon dat Satan se wapens onsuksesvol is?

• Hoe word hemelse Jerusalem “’n swaar klip”?

• Hoe red Jehovah “die tente van Juda”?

• Waarvan is jy oortuig terwyl Armageddon nader kom?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 21]

Jehovah se knegte in Albanië het getrou gebly ondanks Satan se aanvalle

[Prent op bladsy 23]

Jesus het valse aantygings weerlê

[Prente op bladsy 24]

Geen wapen wat gesmee word teen diegene wat die goeie nuus verkondig, sal sukses hê nie