Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Maleagi

Glanspunte uit die boek Maleagi

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Maleagi

DIE herboude tempel in Jerusalem is meer as 70 jaar gelede voltooi. Maar met verloop van tyd het die Jode se geestelikheid baie agteruitgegaan. Selfs die priesters het korrup geword. Wie sal hulle bewus maak van hulle ware toestand en hulle help om geestelik te herstel? Jehovah gee hierdie taak aan die profeet Maleagi.

Die laaste boek van die Hebreeuse Geskrifte, wat in ’n kragtige styl deur Maleagi geskryf is, bevat goddelik geïnspireerde profesieë. As ons op die profetiese woord van Maleagi ag slaan, kan dit ons help om voor te berei vir “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”, wanneer die teenswoordige goddelose stelsel van dinge tot ’n einde kom.—Maleagi 4:5.

PRIESTERS ‘HET BAIE LAAT STRUIKEL’

(Maleagi 1:1–2:17)

Jehovah spreek sy gevoelens teenoor Israel uit en sê: “Ek het julle liefgehad.” Maar die priesters het God se naam verag. Hoe? “Deur op [sy] altaar verontreinigde brood aan te bied” en deur “’n kreupel of ’n siek dier” as ’n offerande te bring.—Maleagi 1:2, 6-8.

Die priesters “het baie in die wet laat struikel”. Die volk “handel . . . verraderlik met mekaar”. Party het met uitlandse vrouens getrou. Ander het verraderlik gehandel met “die vrou van [hulle] jeug”.—Maleagi 2:8, 10, 11, 14-16.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

2:2—Hoe het Jehovah die afvallige priesters se “seëninge vervloek”? God het dit gedoen in die sin dat die seëning wat hierdie priesters uitgespreek het, ’n vloek sou word.

2:3—Wat het dit beteken om ‘mis te strooi’ op die priesters se gesigte? Volgens die Wet moes die mis van ’n offerdier buite die kamp geneem en verbrand word (Levitikus 16:27). Om mis op die priesters se gesigte te strooi, het beteken dat Jehovah die offerandes verwerp het en dat dié wat dit geoffer het, vir hom veragtelik was.

2:13—Met wie se trane is die altaar van Jehovah bedek? Dit was die trane van die vroue wat na die tempelheiligdom gekom het en hulle hart voor Jehovah uitgestort het. Wat het vir hulle soveel hartseer veroorsaak? Hulle Joodse mans het egskeidings om ongeldige redes verkry en hulle verlaat, waarskynlik om met jonger, uitlandse vroue te trou.

Lesse vir ons:

1:10. Jehovah het geen behae geskep in die offergawes van die gierige priesters nie, wat geld gevra het selfs vir eenvoudige dienste soos om deure te sluit of altaarvure aan te steek. Hoe belangrik is dit tog dat ons dade van aanbidding, insluitende wat ons in die Christelike bediening doen, gemotiveer word deur onselfsugtige liefde vir God en vir naaste en nooit met die oog op geldelike gewin nie!—Matteus 22:37-39; 2 Korintiërs 11:7.

1:14; 2:17. Jehovah duld nie huigelary nie.

2:7-9. Dié wat die voorreg gegee is om in die gemeente te onderrig, moet seker maak dat wat hulle leer, in ooreenstemming is met God se Woord, die Heilige Skrif, sowel as met Bybelpublikasies van “die getroue bestuurder”.—Lukas 12:42; Jakobus 3:11.

2:10, 11. Jehovah verwag dat sy aanbidders die raad om “net in die Here” te trou, ernstig opneem.—1 Korintiërs 7:39.

2:15, 16. Ware aanbidders moet getrou bly aan die huweliksverbond met die vrou van hulle jeug.

‘DIE WARE HEER SAL NA SY TEMPEL KOM’

(Maleagi 3:1–4:6)

“Skielik sal die ware Heer [Jehovah God] na Sy tempel kom” saam met “die boodskapper van die verbond [Jesus Christus]”. God “sal nader kom na [sy volk] toe vir die oordeel” en sal ’n haastige getuie word teen allerhande oortreders. Bowendien sal “’n gedenkboek” geskryf word vir dié wat Jehovah vrees.—Maleagi 3:1, 3, 5, 16.

Die dag wat “soos die oond brand”, sal kom en al die goddeloses verslind. Voordat daardie dag kom, sal ’n profeet gestuur word om “die hart van vaders terug [te] bring tot kinders, en die hart van kinders tot vaders”.—Maleagi 4:1, 5, 6.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

3:1-3—Wanneer het “die ware Heer” en “die boodskapper van die verbond” na die tempel gekom, en wie is voor hulle uit gestuur? Jehovah het op 10 Nisan 33 G.J. deur middel van ’n verteenwoordiger na sy tempel gekom en dit gereinig. Dit was toe Jesus in die tempel ingegaan het en dié wat koop en verkoop, uitgedryf het (Markus 11:15). Dit was drie en ’n half jaar nadat Jesus as aangewese Koning gesalf is. Dit wil eweneens voorkom asof Jesus drie en ’n half jaar nadat hy as Koning in die hemel gekroon is, Jehovah na die geestelike tempel vergesel het en gevind het dat God se volk gereinig moes word. In die eerste eeu is Johannes die Doper gestuur om die Jode vir die koms van Jesus Christus voor te berei. In hedendaagse tye is ’n boodskapper vooruitgestuur om die weg voor te berei vir Jehovah se koms na sy geestelike tempel. ’n Groep Bybelstudente het al in die 1880’s begin deelneem aan ’n Bybelonderrigtingswerk om talle basiese Bybelwaarhede in die harte van opregte mense te herstel.

3:10—Verteenwoordig “al die tiendes” wat ingebring moet word, die feit dat ons ons ten volle aan Jehovah moet gee? Aangesien die Mosaïese Wet op grond van Jesus se dood tot niet gemaak is, is die geldelike tiende nie ’n vereiste nie. Die gee van ’n tiende het eerder ’n simboliese betekenis (Efesiërs 2:15). Dit verteenwoordig nie die feit dat ons ons ten volle aan Jehovah moet gee nie. Hoewel die tiende jaar ná jaar ingebring is, gee ons onsself net een keer ten volle aan Jehovah—wanneer ons ons aan hom toewy en ons toewyding deur waterdoop simboliseer. Van daardie tydstip af behoort alles wat ons het, aan Jehovah. Hy laat ons egter toe om ’n deel van wat ons het—’n simboliese tiende—te kies om in sy diens te gebruik. Dit is wat ook al ons omstandighede ons toelaat en ons hart ons beweeg om te gebruik. Die offergawes wat ons aan Jehovah bring, sluit die tyd, energie en middele in wat in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk gebruik word. Die bywoning van Christelike vergaderinge, besoeke aan siek en bejaarde medegelowiges en finansiële ondersteuning van ware aanbidding word ook hierby ingesluit.

4:3—Hoe sal Jehovah se aanbidders “die goddeloses vertrap”? God se volk op die aarde sal nie letterlik “die goddeloses vertrap”, oftewel ’n deel daaraan hê om sy oordeel aan hulle te voltrek nie. Dit gee eerder te kenne dat Jehovah se aardse knegte dit in figuurlike sin sal doen deur heelhartig deel te neem aan die oorwinningsviering wat op die einde van Satan se wêreld sal volg.—Psalm 145:20; Openbaring 20:1-3.

4:4—Waarom moet ons “dink aan die wet van . . . Moses”? Daardie Wet is nie bindend vir Christene nie, maar het gedien as “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” (Hebreërs 10:1). Wanneer ons dus aandag skenk aan die Mosaïese Wet, kan dit ons help om te sien hoe die dinge wat daarin geskryf staan, vervul is (Lukas 24:44, 45). Wat meer is, die Wet bevat “sinnebeeldige voorstellings van die dinge in die hemele”. Dit is noodsaaklik dat ons dit bestudeer as ons ’n begrip van Christelike leringe en gedrag wil verkry.—Hebreërs 9:23.

4:5, 6—Wie word verteenwoordig deur “die profeet Elia”? Daar is voorspel dat “Elia” ’n herstellingswerk sou doen, naamlik om die harte van mense voor te berei. In die eerste eeu G.J. het Jesus Christus Johannes die Doper as “Elia” geïdentifiseer (Matteus 11:12-14; Markus 9:11-13). Sy hedendaagse eweknie word gestuur “voordat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah kom”. Vandag is Elia niemand anders nie as “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45). Hierdie klas van gesalfde Christene doen pligsgetrou die geestelike herstellingswerk.

Lesse vir ons:

3:10. As ons versuim om ons beste vir Jehovah te gee, verbeur ons sy seën.

3:14, 15. Weens die priesters se slegte voorbeeld het die Jode hulle diens aan God as onbelangrik begin beskou. Diegene in ’n posisie van verantwoordelikheid in die Christengemeente moet voorbeeldig wees.—1 Petrus 5:1-3.

3:16. Jehovah hou verslag van dié wat hom vrees en getrou is aan hom. Hy onthou hulle en sal hulle behoue laat bly wanneer hy ’n einde aan Satan se goddelose wêreld bring. Laat ons dus nooit verslap in ons vasbeslotenheid om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf nie.—Job 27:5.

4:1. Op die dag dat rekenskap aan Jehovah gegee sal word, sal “tak” sowel as “wortel” dieselfde lot hê—jong kinders sal dieselfde oordeel as hulle ouers ontvang. Wat ’n verantwoordelikheid het ouers tog teenoor hulle minderjarige kinders! Christenvaders en -moeders moet hard werk om God se goedkeuring te verkry en ’n goeie posisie voor hom te behou.—1 Korintiërs 7:14.

“Vrees die ware God”

Wie sal gered word in “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”? (Maleagi 4:5). “Vir julle wat my naam vrees”, sê Jehovah, “sal die son van regverdigheid beslis skyn, met genesing in sy vleuels; en julle sal uitgaan en die grond soos vetgemaakte kalwers omwoel.”—Maleagi 4:2.

“Die son van regverdigheid”, Jesus Christus, skyn op dié wat God se naam eerbiedig vrees, en hulle geniet Jehovah se guns (Johannes 8:12). Vir hulle is daar ook ’n “genesing in sy vleuels”—geestelike genesing nou en volkome fisiese, verstandelike en emosionele genesing in God se nuwe wêreld (Openbaring 22:1, 2). Hulle is opgewonde en verheug en tree “soos vetgemaakte kalwers” op. Laat ons, met sulke seëninge in die vooruitsig, koning Salomo se vermaning ter harte neem: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13.

[Prent op bladsy 26]

Die profeet Maleagi, ’n ywerige en toegewyde kneg van God

[Prent op bladsy 29]

Wat ons ander leer, moet in ooreenstemming met die Bybel wees

[Prent op bladsy 29]

Jehovah se knegte bly getrou aan hulle huweliksverbond