Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy ’n geestelike mentor?

Het jy ’n geestelike mentor?

Het jy ’n geestelike mentor?

USSIA was maar 16 toe hy koning van die suidelike koninkryk van Juda geword het. Hy het meer as 50 jaar lank regeer, van die laat negende tot die vroeë agtste eeu v.G.J. Van jongs af het Ussia “bly doen wat reg was in Jehovah se oë”. Wat het hom beïnvloed om ’n regskape weg te volg? Die geskiedkundige verslag sê: “[Ussia] het voortdurend daarna gestreef om God te soek in die dae van Sagaria, die onderrigter in die vrees van die ware God; en in die dae dat hy Jehovah gesoek het, het die ware God hom voorspoedig gemaak.”—2 Kronieke 26:1, 4, 5.

Ons weet nie baie omtrent Sagaria, die koning se raadgewer nie, buiten wat in hierdie verslag in die Bybel opgeteken staan. Tog het Sagaria, as “die onderrigter in die vrees van die ware God”, ’n goeie invloed op die jong heerser uitgeoefen om te doen wat reg is. The Expositor’s Bible sê dat Sagaria klaarblyklik “’n man was wat met die heilige leringe vertroud was, ryk aan geestelike ervaring en in staat om sy kennis oor te dra”. Een Bybelgeleerde het tot hierdie slotsom omtrent Sagaria gekom: “Hy was goed vertroud met profesie en . . . was ’n intelligente, vroom, goeie man; en dit wil voorkom asof hy ’n groot invloed op Ussia gehad het.”

Ussia se getroue weg het vir hom baie seëninge meegebring, en hy het “buitengewone sterkte geopenbaar”, want “die ware God het hom voortdurend gehelp”. Ja, sukses op sekulêre gebied het gevolg op sy geestelike sukses “in die dae van Sagaria” (2 Kronieke 26:5-8). Nadat Ussia suksesvol geword het, het hy die dinge wat hy by Sagaria, sy mentor, geleer het, die rug toegekeer. Ussia se “hart [het] so hoogmoedig geword dat dit verderf aangerig het, sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah”. As gevolg van ’n besonder oneerbiedige daad is hy met ’n afstootlike velsiekte gestraf, wat hom onbevoeg gemaak het om verder in die volste sin as koning te dien.—2 Kronieke 26:16-21.

Het jy iemand in jou lewe wat ’n onderrigter, ’n mentor, genoem kan word wat jou beïnvloed “om God te soek”? Dit kan die geval wees hetsy jy jonk of verby die dae van jou jeug is, hetsy jy ’n man of ’n vrou is. Waardeer so ’n mentor, want sy of haar vermaning kan jou help om aan te hou doen wat reg is in Jehovah se oë. Luister na hierdie geestelike ryp Christen en dink ernstig na oor die raad wat hy gee. Mag jy nooit afdwaal van die wyse woorde van so ’n “onderrigter in die vrees van die ware God” nie.—Spreuke 1:5; 12:15; 19:20.