Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy gereed vir Jehovah se dag?

Is jy gereed vir Jehovah se dag?

Is jy gereed vir Jehovah se dag?

“Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.” —SEFANJA 1:14.

1-3. (a) Wat sê die Bybel oor Jehovah se dag? (b) Voor watter “dag van Jehovah” staan ons?

 JEHOVAH se groot dag is nie 24 uur lank nie. Dit is ’n lang tydperk waartydens goddelike oordeel aan die goddeloses voltrek word. Die goddeloses het rede om daardie dag van duisternis, grimmigheid, brandende toorn, benoudheid en verwoesting te vrees (Jesaja 13:9; Amos 5:18-20; Sefanja 1:15). “Ag, die dag”, sê Joël se profesie, “want die dag van Jehovah is naby, en soos ’n plundering van die Almagtige sal dit kom!” (Joël 1:15). Maar op daardie groot dag sal God die Redder wees van die “opregtes van hart”.—Psalm 7:10.

2 Die uitdrukking “dag van Jehovah” is van toepassing op die voltrekking van goddelike oordeel op verskillende tye. Byvoorbeeld, ’n “dag van Jehovah” het in 607 v.G.J. deur die hand van die Babiloniërs oor Jerusalem se inwoners gekom (Sefanja 1:4-7). ’n Soortgelyke voltrekking van God se oordeel het in 70 G.J. plaasgevind toe God die Romeine gebruik het om sy oordeel aan die Joodse nasie te voltrek wat sy Seun verwerp het (Daniël 9:24-27; Johannes 19:15). Die Bybel voorspel ook ’n “dag van Jehovah” wanneer hy ‘teen al die nasies sal oorlog voer’ (Sagaria 14:1-3). Onder inspirasie het die apostel Paulus daardie dag verbind met Christus se teenwoordigheid, wat in 1914 begin het toe Jesus as hemelse Koning op die troon geplaas is (2 Tessalonisense 2:1, 2). Met die dag van Jehovah wat voor die deur staan, was die jaarteks van Jehovah se Getuies vir 2007 uiters gepas. Dit is uit Sefanja 1:14 geneem en lui: “Die groot dag van Jehovah is naby.”

3 Aangesien God se groot dag naby is, is dit nou die tyd om gereed te wees. Hoe kan jy jou vir daardie dag voorberei? Moet jy bykomende stappe doen om jou vir Jehovah se dag voor te berei?

Ons moet gereed wees

4. Vir watter groot toets het Jesus hom voorberei?

4 In sy profesie aangaande die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus Christus vir sy dissipels gesê: ‘Julle moet gereed wees’ (Matteus 24:44). Toe Jesus hierdie woorde gesê het, was hy self gereed vir ’n groot toets—sy dood as ’n losprysoffer (Matteus 20:28). Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus hom voorberei het?

5, 6. (a) Hoe help liefde vir God en vir mense ons om voorbereid te wees vir Jehovah se dag? (b) Watter voorbeeld het Jesus gestel met betrekking tot liefde vir ons medemens?

5 Jesus het heelhartige liefde vir Jehovah en vir Sy regverdige standaarde gehad. Aangaande Jesus sê Hebreërs 1:9: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u met vreugdeolie gesalf, meer as u metgeselle.” Omdat Jesus sy hemelse Vader liefgehad het, het hy sy onkreukbaarheid teenoor hom gehandhaaf. As ons soortgelyke liefde vir God het en sy vereistes nakom, sal hy ons beskerm (Psalm 31:23). Sulke liefde en gehoorsaamheid sal ons help om gereed te wees vir die groot dag van Jehovah.

6 Liefde vir mense kon duidelik in Jesus se persoonlikheid gesien word. Trouens, ‘hy het innig jammer vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder’ (Matteus 9:36). Gevolglik het Jesus die goeie nuus aan die mense verkondig, net soos liefde ons beweeg om die Koninkryksboodskap aan ons medemens bekend te maak. Liefde vir God en vir ons medemens laat ons bedrywig bly as Christenbedienaars en help ons sodoende om ons voor te berei vir die groot dag van Jehovah.—Matteus 22:37-39.

7. Waarom kan ons vreugdevol wees terwyl ons op Jehovah se dag wag?

7 Jesus het daarin behae geskep om Jehovah se wil te doen (Psalm 40:8). As ons dieselfde gesindheid het, sal ons vreugde daaruit put om heilige diens aan God te verrig. Soos Jesus, sal ons onselfsugtige gewers wees, en dit sal ons waarlik gelukkig maak (Handelinge 20:35). Ja, “die vreugde van Jehovah is [ons] vesting”. As ons dit het, sal ons beter voorbereid wees vir God se groot dag.—Nehemia 8:10.

8. Waarom moet ons nader aan Jehovah kom deur gebed?

8 Vurige gebed tot God het gehelp om Jesus vir toetse van geloof voor te berei. Hy het gebid terwyl Johannes hom gedoop het. Jesus het ’n hele nag lank gebid toe hy sy apostels gekies het (Lukas 6:12-16). En watter Bybelleser word nie beïndruk deur Jesus se hartgrondige gebede op die laaste aand van sy aardse lewe nie? (Markus 14:32-42; Johannes 17:1-26). Is jy ’n man of vrou van gebed, soos Jesus was? Nader Jehovah dikwels, vertoef in gebed, soek die leiding van die heilige gees en wees gou om daardie leiding te aanvaar wanneer dit duidelik word. ’n Sterk verhouding met ons hemelse Vader is noodsaaklik in hierdie kritieke tyd, terwyl God se groot dag vinnig nader kom. Dit is dus baie belangrik om steeds nader aan Jehovah te kom deur gebed.—Jakobus 4:8.

9. Hoe belangrik is besorgdheid oor die heiliging van Jehovah se naam?

9 Besorgdheid oor die heiliging van Jehovah se naam het Jesus ook gehelp om voorbereid te wees vir beproewinge waarvoor hy te staan gekom het. Trouens, hy het sy volgelinge geleer dat hulle gebede tot God die volgende versoek moet insluit: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). As dit ons innige begeerte is dat Jehovah se naam geheilig, of as heilig geag, moet word, sal ons enigiets probeer vermy wat dit oneer sal aandoen. Gevolglik sal ons beter voorbereid wees vir die groot dag van Jehovah.

Moet jy veranderinge aanbring?

10. Waarom is dit gepas om ons lewe te ondersoek?

10 As Jehovah se dag môre kom, sal jy werklik gereed wees daarvoor? Dit sal goed wees as elkeen van ons sy of haar lewe ondersoek om te sien of enige gedrag of gesindhede verander moet word. Aangesien die mens se lewe vandag so kort en onseker is, moet elkeen van ons elke dag geestelik wakker wees (Prediker 9:11, 12; Jakobus 4:13-15). Kom ons kyk dus na ’n paar faktore in ons lewe wat dalk aandag nodig het.

11. Wat is jou doelwit wat Bybellees betref?

11 ’n Sleutelfaktor is die vermaning van ‘die getroue slaaf’ om die Bybel elke dag te lees (Matteus 24:45). Jy kan vir jou ’n doelwit stel om die Skrif van Genesis tot Openbaring een keer elke jaar peinsend deur te lees. Deur ongeveer vier hoofstukke per dag te lees, kan jy die Bybel se 1 189 hoofstukke in een jaar deurlees. Elke koning van Israel moes Jehovah se Wet “al die dae van sy lewe” lees. Josua het klaarblyklik iets soortgelyks gedoen (Deuteronomium 17:14-20; Josua 1:7, 8). Hoe belangrik is dit tog dat geestelike herders God se Woord elke dag lees, want dit help hulle om die “gesonde leer” oor te dra!—Titus 2:1.

12. Wat moet die nabyheid van Jehovah se dag jou beweeg om te doen?

12 Die nabyheid van Jehovah se dag moet jou beweeg om Christelike vergaderinge gereeld by te woon en in die volste mate moontlik daaraan deel te neem (Hebreërs 10:24, 25). As jy dit doen, sal dit jou help om jou vaardighede te slyp as ’n Koninkryksverkondiger wat diegene met die regte gesindheid vir die ewige lewe probeer vind en help (Handelinge 13:48). Miskien kan jy ook op ander maniere meer in die gemeente doen, soos om die bejaardes te help en die jonges aan te moedig. Hoe bevredigend kan sulke pogings tog wees!

Jou verhouding met ander

13. Watter vrae kan ons ons in verband met die nuwe persoonlikheid vra?

13 Moet jy, aangesien Jehovah se dag op hande is, meer doen om jou “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”? (Efesiërs 4:20-24). Namate jy godvrugtige eienskappe aankweek, sal ander heel moontlik sien dat jy ‘deur God se gees wandel’ en die vrug daarvan aan die dag lê (Galasiërs 5:16, 22-25). Kan jy na spesifieke dinge verwys wat toon dat jy en jou gesin julle met die nuwe persoonlikheid beklee het? (Kolossense 3:9, 10). Is jy byvoorbeeld bekend vir jou dade van goedhartigheid teenoor medegelowiges en ander? (Galasiërs 6:10). ’n Gereelde studie van die Skrif sal jou help om godvrugtige eienskappe aan te kweek wat jou vir Jehovah se dag sal voorberei.

14. Waarom moet ’n mens vir heilige gees bid terwyl jy daaraan werk om selfbeheersing aan te kweek?

14 Sê nou jy het ’n slegte humeur en besef dat jy meer selfbeheersing nodig het? Hierdie eienskap is deel van die vrug wat God se heilige gees in jou kan voortbring. Bid dus vir heilige gees in ooreenstemming met Jesus se woorde: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. . . . As julle, hoewel julle goddeloos is, . . . weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:9-13.

15. Wat moet gedoen word as die verhouding tussen jou en ’n medegelowige gespanne is?

15 Gestel die verhouding tussen jou en ’n sekere medegelowige is gespanne. In so ’n geval moet jy alles in jou vermoë doen om die breuk te heel en sodoende die vrede en eenheid van die gemeente bevorder (Psalm 133:1-3). Pas Jesus se raad in Matteus 5:23, 24 of Matteus 18:15-17 toe. As jy gewoonlik die son laat ondergaan het terwyl jy nog in ’n ergerlike gemoedstemming was, moet jy sake onmiddellik regstel. Dikwels is ’n gewilligheid om te vergewe al wat nodig is. Paulus het geskryf: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:25, 26, 32.

16. In watter opsigte is medelye nodig in die huwelik?

16 Die huweliksverhouding vereis tere medelye en soms ook vergifnis. As jy liefdevoller en meer medelydend teenoor jou huweliksmaat moet wees, moet jy jou daarop toelê om hierdie doel met behulp van God en sy Woord te bereik. Is iets van jou kant af nodig om in ooreenstemming met 1 Korintiërs 7:1-5 op te tree sodat spanning verminder en ontrouheid vermy kan word? Dit is ongetwyfeld ’n aspek van die lewe wat “tere medelye” van ’n man of vrou verg.

17. Wat moet ’n mens doen as jy ernstig gesondig het?

17 Sê nou jy het ’n ernstige sonde gepleeg? Doen so gou as moontlik iets om die saak reg te stel. Vra Christen- ouer manne om jou te help. Hulle gebede en raad sal help om jou weer geestelik gesond te maak (Jakobus 5:13-16). Bid met ’n berouvolle gesindheid tot Jehovah. As jy dit nie doen nie, sal dit jou met skuldgevoelens en ’n gekwelde gewete laat. Dit is wat met Dawid gebeur het, maar hoe goed was dit tog om verligting te kry nadat hy sy sondes aan Jehovah bely het! Dawid het geskryf: “Gelukkig is hy wie se opstandigheid vergewe word, wie se sonde bedek word. Gelukkig is die mens aan wie Jehovah die oortreding nie toereken nie, en in wie se gees daar geen bedrog is nie” (Psalm 32:1-5). Jehovah vergewe dié wat sondig, maar wat opreg berouvol is.—Psalm 103:8-14; Spreuke 28:13.

Bly geen deel van die wêreld

18. Hoe moet jy die wêreld beskou?

18 Jy sien ongetwyfeld uit na die wonderlike nuwe wêreld wat ons hemelse Vader ons belowe het. Maar hoe beskou jy die wêreld van onregverdige mense wat van God vervreemd is? Satan, “die heerser van die wêreld”, het geen houvas op Jesus Christus gehad nie (Johannes 12:31; 14:30). Jy wil beslis nie hê dat die Duiwel en sy wêreld ’n houvas op jou moet hê nie, en daarom moet jy die apostel Johannes se woorde ter harte neem: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie.” Dit is die verstandige weg, want “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Johannes 2:15-17.

19. Watter soort doelwitte word Christenjongmense aangespoor om te hê?

19 Help jy jou kinders om hulle “sonder vlek van die wêreld te bewaar”? (Jakobus 1:27). Satan sou graag jou kinders wou vang soos ’n man vis vang. Die doel van verskeie klubs en ander organisasies is om jongmense by Satan se wêreld te laat inpas. Maar Jehovah se knegte behoort reeds aan die enigste organisasie wat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge sal oorleef. Christenjongmense moet dus aangemoedig word om “baie . . . in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Godvrugtige ouers moet hulle kinders help om doelwitte te stel wat tot ’n gelukkige en bevredigende lewe sal lei wat God tot eer strek en hulle help om vir Jehovah se dag gereed te wees.

Kyk verder as Jehovah se groot dag

20. Waarom moet ons die ewige lewe voor oë hou?

20 Jy sal met ’n kalm hart op Jehovah se dag kan wag as jy die ewige lewe voor oë hou (Judas 20, 21). Jy sien uit na ewige lewe in die Paradys, en gevolglik het jy die hoop om weer jeugdige krag te hê, sowel as onbeperkte tyd om heilsame doelwitte na te streef en meer oor Jehovah te leer. Jy kan in werklikheid vir ewig voortgaan om oor God te leer omdat mense nou slegs “die rande van sy weë” ken (Job 26:14). Watter opwindende vooruitsigte tog!

21, 22. Watter interaksie sal daar dalk tussen jou en verresenes wees?

21 In die Paradys sal verresenes sommige leemtes in ons kennis van die verlede kan aanvul. Henog sal daar wees om te verduidelik hoe hy die nodige moed bymekaargeskraap het om Jehovah se boodskap aan die goddeloses te verkondig (Judas 14, 15). Noag sal ongetwyfeld vertel hoe dit was om die ark te bou. Abraham en Sara sal kan verduidelik hoe hulle daaroor gevoel het om die geriewe in Ur te verlaat en in tente te woon. Dink aan die besonderhede wat Ester sal kan voorsien oor hoe sy die belange van haar volk verdedig het en Haman se komplot teen hulle gefnuik het (Ester 7:1-6). Stel jou voor hoe Jona vertel van sy drie dae in die buik van die groot vis of hoe Johannes die Doper beskryf hoe hy gevoel het toe hy Jesus gedoop het (Lukas 3:21, 22; 7:28). Watter interessante dinge tog om te leer!

22 Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal jy dalk bevoorreg wees om verresenes te help om “die kennis van God” te verkry (Spreuke 2:1-6). Vandag is dit waarlik ’n vreugde om te sien hoe mense kennis van Jehovah God inneem en daarop reageer! Maar dink aan die vreugde wat jy in daardie tyd sal ervaar wanneer Jehovah jou pogings seën om mense uit vergange tye te leer en hulle met dankbare harte daarop reageer!

23. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

23 Weens ons onvolmaaktheid kan ons nie die voordele wat ons nou as Jehovah se volk geniet, tel of die waarde daarvan bereken nie (Psalm 40:5). Ons is veral dankbaar vir God se geestelike voorsienings (Jesaja 48:17, 18). Laat ons, ongeag ons omstandighede, heelhartig heilige diens verrig terwyl ons op die groot dag van Jehovah wag.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is “die dag van Jehovah”?

• Hoe kan jy toon dat jy gereed is vir Jehovah se dag?

• Watter veranderinge moet ons dalk aanbring, aangesien God se groot dag so naby is?

• Waarna sien jy uit wanneer Jehovah se dag verby is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 12]

Jesus was gereed vir beproewinge

[Prent op bladsy 15]

Wat ’n voorreg sal dit tog wees om verresenes te help om kennis van Jehovah op te doen!