Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Staan vas en sien die redding van Jehovah”

“Staan vas en sien die redding van Jehovah”

“Staan vas en sien die redding van Jehovah”

“Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?”—PSALM 118:6.

1. Watter kritieke gebeure lê vir die mensdom voor?

 GEBEURE wat ongeëwenaard is in die geskiedenis, lê vandag vir die mensdom voor. Toe Jesus dit vir ons dag voorspel het, het hy sy volgelinge gewaarsku: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie. Trouens, as daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Matteus 24:21, 22.

2. Wat keer dat die groot verdrukking uitbreek?

2 Hemelse magte wat onsigbaar is vir mense-oë, hou tans daardie groot verdrukking terug. Die apostel Johannes het, in ’n openbaring wat Jesus aan hom gegee het, die voorreg gehad om te sien waarom dit teruggehou word. Die bejaarde apostel het dit soos volg beskryf: “Ek [het] op die vier hoeke van die aarde vier engele sien staan, wat die vier winde van die aarde styf vashou . . . En ek het ’n ander engel van die sonsopgang af sien opkom, met ’n seël van die lewende God; en hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele . . . ‘Moenie die aarde of die see of die bome beskadig tot ná ons die slawe van ons God op hulle voorkoppe verseël het nie.’”—Openbaring 7:1-3.

3. Wat sal die eerste aspek van die groot verdrukking wees?

3 Die finale verseëling van die gesalfde “slawe van ons God” nader voltooiing. Die vier engele is gereed om daardie verwoestende winde los te laat. Wat vind eerste plaas wanneer hulle dit doen? ’n Engel beantwoord hierdie vraag: “Babilon, die groot stad, [sal] met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie” (Openbaring 18:21). Hoe sal die hemele tog juig wanneer dit gebeur, wanneer die wêreldryk van valse godsdiens vernietig is!—Openbaring 19:1, 2.

4. Watter verwikkelinge lê nog voor?

4 Al die nasies van die aarde sal hulle teen Jehovah se volk opstel. Sal die nasies daarin slaag om daardie getroue Christene uit te wis? Dit sal miskien lyk of hulle kan. Maar kyk! Hemelse leërs wat Christus Jesus volg, sal toesien dat hierdie mensemagte vernietig word (Openbaring 19:19-21). Uiteindelik sal die Duiwel en sy engele in ’n afgrond van onbedrywigheid gewerp word. Hulle sal nie meer die mens kan mislei nie, omdat hulle duisend jaar lank gebind sal wees. O, wat ’n verligting sal dit tog wees vir die groot skare oorlewendes!—Openbaring 7:9, 10, 14; 20:1-3.

5. Watter vreugde wag op diegene wat lojaal bly aan Jehovah?

5 Ons staan op die punt om hierdie wonderlike en ontsagwekkende gebeure te ondervind. Dit alles het te doen met die regverdiging van Jehovah se reg om te heers, sy universele soewereiniteit. En dink hieraan: As ons lojaal bly aan Jehovah en as ons ferm standpunt inneem vir sy soewereiniteit, sal ons ’n aandeel kan hê aan die heiliging van Jehovah se naam en die vervulling van sy voorneme. Wat ’n onbeskryflike vreugde sal dit tog wees!

6. Waarna gaan ons kyk in die lig van naderende gebeure?

6 Is ons voorbereid op daardie betekenisvolle gebeure? Het ons geloof in Jehovah se reddingskrag? Vertrou ons dat hy op die regte tyd en op die beste manier tot ons redding sal kom? Wanneer ons sulke persoonlike vrae beantwoord, kan ons die apostel Paulus se woorde aan mede-Christene in Rome in gedagte hou: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Onder die dinge wat tot ons onderrigting geskryf is, wat ons vertroosting en hoop gee, is die verslag van hoe Jehovah die Israeliete verlos het uit die ystergreep van hulle Egiptiese onderdrukkers. ’n Noukeurige ondersoek van daardie opwindende gebeure toe Jehovah die redding van die kinders van Israel bewerk het, behoort ons grootliks te bemoedig terwyl ons uitsien na die vinnig naderende groot verdrukking.

Jehovah red sy volk

7. Watter gespanne situasie ontstaan in 1513 v.G.J. in Egipte?

7 Dit is die jaar 1513 v.G.J. Jehovah het reeds nege rampe oor die Egiptenaars gebring. Ná die laaste een stuur Farao Moses summier weg met die woorde: “Gaan weg van my af! Pas op! Moet my aangesig nie weer probeer sien nie, want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterf.” Moses antwoord: “So het u gesê. Ek sal u aangesig nie weer probeer sien nie.”—Eksodus 10:28, 29.

8. Watter bevele vir oorlewing word aan die Israeliete gegee, en met watter resultaat?

8 Nou openbaar Jehovah aan Moses dat daar nog een ramp, ’n beslissende een, oor Farao en al die Egiptenaars gaan kom. Op 14 Abib (Nisan) sal die eersgeborene van elke Egiptiese man en van elke dier sterf. Maar Israelitiese huisgesinne kan gespaar bly as hulle God se bevele aan Moses nougeset volg. Hulle moet van die bloed van ’n ramlam teen die twee deurposte en die boonste deel van die deuropening van hulle huise spat, en hulle moet binnenshuis bly. Wat gebeur daardie nag? Laat Moses ons self vertel: “Om middernag het Jehovah elke eersgeborene in Egipteland getref.” Farao reageer onmiddellik. Hy laat Moses en Aäron roep en sê vir hulle: “Staan op, trek weg onder my volk uit, . . . en gaan, dien Jehovah, net soos julle gesê het.” Die Israeliete gaan dan ook onmiddellik, moontlik meer as driemiljoen van hulle asook ’n ongetelde “groot gemengde geselskap” van nie-Israeliete.—Eksodus 12:1-7, 29, 31, 37, 38.

9. Met watter roete lei God Israel uit Egipte uit, en waarom?

9 Die kortste roete wat die Israeliete kan neem, is al met die Middellandse See langs en deur die land van die Filistyne. Maar dit is vyandelike gebied. Waarskynlik om te voorkom dat sy volk oorlog moet voer, lei Jehovah hulle dus deur die wildernis van die Rooi See. Hoewel miljoene mense aan die trek is, is dit allesbehalwe ’n wanordelike menigte. Die Bybelverslag sê: “Die kinders van Israel het . . . in slagorde uit Egipteland opgetrek.”—Eksodus 13:17, 18.

“Sien die redding van Jehovah”

10. Waarom sê God vir Israel om voor Pi-Hagirot kamp op te slaan?

10 Vervolgens is daar ’n verbasende wending in sake. Jehovah sê vir Moses: “Sê vir die kinders van Israel dat hulle moet terugdraai en voor Pi-Hagirot kamp moet opslaan, tussen Migdol en die see voor Baäl-Sefon.” Wanneer hulle hierdie bevele uitvoer, vind hierdie groot skare dat hulle vasgekeer is tussen die berge en ’n sydeel van die Rooi See. Dit lyk of daar geen uitweg is nie. Jehovah weet egter wat hy doen. Hy sê vir Moses: “Ek sal Farao se hart inderdaad onversetlik laat word, en hy sal hulle beslis agternasit, en ek sal vir my heerlikheid verkry deur middel van Farao en sy hele krygsmag; en die Egiptenaars sal beslis weet dat ek Jehovah is.”—Eksodus 14:1-4.

11. (a) Wat doen Farao, en hoe reageer die Israeliete? (b) Hoe reageer Moses op Israel se klagtes?

11 Farao, wat meen dat hy ’n fout gemaak het om die Israeliete toe te laat om Egipte te verlaat, sit hulle haastig agterna met 600 uitgesoekte strydwaens. Wanneer die Israeliete die Egiptiese leër sien, raak hulle vreesbevange en roep hulle tot Moses uit: “Is dit omdat daar hoegenaamd geen grafte in die hele Egipte is nie dat u ons hierheen gebring het om in die wildernis te sterf?” Moses is vol vertroue dat Jehovah hulle sal red en antwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas en sien die redding van Jehovah, wat hy vandag vir julle sal bewerk. . . . Jehovah sal vir julle veg, en julle moet stil wees.”—Eksodus 14:5-14.

12. Hoe kom Jehovah tot sy volk se redding?

12 In ooreenstemming met Moses se woorde dat Jehovah self vir die Israeliete sal veg, neem bomenslike kragte nou oor. Op wonderdadige wyse verskuif Jehovah se engel die wolkkolom wat die kamp van Israel gelei het, na hulle agterhoede. Terwyl dit duisternis veroorsaak vir die Egiptenaars, gee daardie selfde kolom lig aan die Israeliete (Eksodus 13:21, 22; 14:19, 20). In gehoorsaamheid aan God se bevel strek Moses nou sy hand uit. Die verslag sê voorts: “Jehovah het die see deur ’n sterk oostewind laat wegvloei, die hele nag deur . . . Eindelik het die kinders van Israel op droë grond deur die see getrek, terwyl die waters vir hulle ’n muur aan hulle regter- en aan hulle linkerkant was.” Die Egiptenaars sit hulle weer agterna, maar Jehovah is aan sy volk se kant. Hy bring die kamp van die Egiptenaars in verwarring, en dan sê hy vir Moses: “Steek jou hand oor die see uit, sodat die waters oor die Egiptenaars, hulle strydwaens en hulle ruiters kan terugvloei.” Dit is so ’n algehele vernietiging van Farao se leër dat nie ’n enkele soldaat dit oorleef nie!—Eksodus 14:21-28; Psalm 136:15.

Leer uit Israel se redding

13. Hoe het die kinders van Israel op hulle verlossing gereageer?

13 Watter uitwerking het hierdie wonderdadige verlossing op die oorlewendes gehad? Moses en die kinders van Israel het spontaan begin sing tot lof van Jehovah! Hulle het gesing: “Laat my tot Jehovah sing, want hy het hoog verhewe geword. . . . Jehovah sal as koning heers tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Eksodus 15:1, 18). Ja, hulle eerste gedagte was om God te verheerlik. In daardie situasie is Jehovah se soewereiniteit geopenbaar.

14. (a) Wat kan ons uit Israel se ondervinding aangaande Jehovah leer? (b) Wat is die jaarteks vir 2008?

14 Wat leer ons uit hierdie opwindende gebeure, en watter vertroosting en hoop bied dit ons? Ons kan duidelik sien dat Jehovah gereed is vir enige beproewing waarvoor sy volk te staan mag kom. Hy is opgewasse teen enige situasie waarmee hulle te kampe het. Die Rooi See was geen versperring vir Israel toe Jehovah daardie sterk oostewind laat waai het nie. En hy was in staat om daardie selfde Rooi See ’n watergraf vir Farao se leër te maak. As ons hieroor nadink, kan ons die woorde beaam van die psalmis wat gesê het: “Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Psalm 118:6). Ons kan ook vertroosting put uit Paulus se woorde wat in Romeine 8:31 opgeteken is: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” Hoeveel vertroue gee hierdie geïnspireerde woorde ons tog! Dit verdryf enige vrese en twyfelgedagtes wat ons mag hê en vul ons met hoop. Hoe gepas is ons jaarteks vir 2008 dus: “Staan vas en sien die redding van Jehovah”!—Eksodus 14:13.

15. Hoe belangrik was gehoorsaamheid toe Israel uit Egipte verlos is, en hoe belangrik is dit vandag?

15 Wat anders kan ons leer uit Israel se uittog uit Egipte? Dat ons Jehovah moet gehoorsaam ongeag wat hy ons vra om te doen. Die Israeliete het die uitvoerige voorbereidings vir die Pasga gehoorsaam uitgevoer. Hulle het uit gehoorsaamheid in hulle huise gebly gedurende die nag van 14 Nisan. Toe hulle Egipte uiteindelik verlaat, het hulle “in slagorde” uitgetrek (Eksodus 13:18). Hoe belangrik is dit tog dat ons vandag die leiding volg wat ons deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” ontvang! (Matteus 24:45). Ons moet aandagtig luister na God se woord wat agter ons sê: “‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan” (Jesaja 30:21). Terwyl ons die groot verdrukking nader, sal ons heel moontlik uitvoerige instruksies ontvang. Ons veilige reis deur daardie moeilike dae heen sal daarvan afhang dat ons na aan ander lojale knegte van Jehovah bly.

16. Wat kan ons leer uit die manier waarop God sake bewerk het toe hy die Israeliete verlos het?

16 Onthou ook dat Jehovah die Israeliete in ’n situasie laat kom het waar dit gelyk het of hulle vasgekeer is tussen die berge aan die een kant en die Rooi See aan die ander kant. Dit het eenvoudig nie na die regte strategie gelyk nie. Maar Jehovah het alles onder beheer gehad en alles het tot sy lof en tot die redding van sy volk uitgewerk. Vandag verstaan ons dalk nie presies waarom sekere organisatoriese sake op ’n sekere manier hanteer word nie, maar ons het alle rede om te vertrou op die leiding wat Jehovah deur sy getroue kommunikasiekanaal gee. Soms lyk dit dalk of ons vyande die oorhand kry. Vanuit ons beperkte perspektief kan ons moontlik nie die hele prentjie sien nie. Jehovah is nietemin in staat om sake op die regte oomblik ’n ander wending te laat neem, net soos hy dit destyds vir die kinders van Israel gedoen het.—Spreuke 3:5.

Vertrou op Jehovah

17. Waarom kan ons algehele vertroue hê in God se leiding?

17 Kan jy jou indink hoeveel vertroue dit in die Israeliete moes gewek het wanneer hulle teruggedink het aan die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag? Dit was ’n bewys dat “die engel van die ware God” hulle op hulle reis gelei het (Eksodus 13:21, 22; 14:19). Ons kan vandag vol vertroue wees dat Jehovah met sy volk is om hulle te lei, te beskerm en te verlos. Ons kan die belofte ter harte neem: “[Jehovah] sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word” (Psalm 37:28). Laat ons nooit daardie kragtige engelemagte vergeet wat vandag God se knegte onderskraag nie. Met hulle steun kan ons ‘vasstaan en die redding van Jehovah sien’.—Eksodus 14:13.

18. Waarom moet ons “die volle wapenrusting van God” aantrek?

18 Wat sal ons almal in staat stel om ‘vas te staan’ in die weg van die waarheid? Ons moet die geestelike wapenrusting dra wat Paulus in sy brief aan die Efesiërs beskryf het. Let daarop dat die apostel ons maan om “die volle wapenrusting van God aan [te trek]”. Dra ons al die dele van hierdie geestelike wapenrusting? In die komende kalenderjaar sal dit goed wees as elkeen homself ondersoek om seker te maak dat hy elke deel van daardie wapenrusting aanhet en dat dit goed pas. Ons vyand, Satan die Duiwel, ken ons swakhede en hy probeer om ons onverhoeds te betrap of ’n kwesbare plek aan te val. Ons het “’n worstelstryd” teen bose geesmagte. Nogtans kan ons, in Jehovah se krag, die oorwinning behaal!—Efesiërs 6:11-18; Spreuke 27:11.

19. Watter voorreg kan ons hê as ons volhard?

19 Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf” (Lukas 21:19). Mag ons onder diegene wees wat enige ontbering waarvoor hulle dalk te staan kom, getrou verduur en so deur God se onverdiende goedhartigheid die voorreg hê om ‘vas te staan en die redding van Jehovah te sien’.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter opwindende gebeure is reg voor die deur?

• Hoe het Jehovah sy reddingskrag in 1513 v.G.J. getoon?

• Wat is jy vasbeslote om in die toekoms te doen?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 20]

Die jaarteks vir 2008 sal wees: “Staan vas en sien die redding van Jehovah.”—Eksodus 14:13.

[Prent op bladsy 17]

“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf”

[Prent op bladsy 18]

Farao se onversetlikheid het rampspoed oor Egipte gebring

[Prent op bladsy 19]

Israel is bewaar wanneer hulle alles gedoen het wat Jehovah beveel het