Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dit is die weg. Wandel daarop”

“Dit is die weg. Wandel daarop”

“Dit is die weg. Wandel daarop”

Die verhaal van Emilia Pederson

Soos vertel deur Ruth E. Pappas

MY MA, Emilia Pederson, is in 1878 gebore. Hoewel sy ’n onderwyseres geword het, wou sy eintlik haar lewe daaraan wy om mense te help om nader aan God te kom. ’n Bewys van my ma se begeerte was ’n groot trommel in ons huis in die dorpie Jasper, Minnesota, VSA. Sy het dit aangeskaf om haar besittings na China te vervoer, waar sy as ’n sendeling wou dien. Maar toe haar ma oorlede is, moes sy haar planne laat vaar en by die huis bly om vir haar jonger broer en susters te sorg. Sy is in 1907 met Theodore Holien getroud. Ek is op 2 Desember 1925 gebore—die laaste van sewe kinders.

My ma het Bybelvrae gehad en ywerig na die antwoorde gesoek. Een vraag was oor die leerstelling dat die hel ’n plek van vurige foltering vir die goddeloses is. Sy het ’n besoekende opsiener van die Lutherse Kerk gevra waar sy in die Bybel bevestiging vir hierdie leerstelling kon vind. Hy het as ’t ware vir haar gesê dat dit nie saak maak wat die Bybel sê nie—mense moet geleer word dat daar ’n hel is, ’n plek van vurige foltering.

Haar geestelike honger word gestil

Kort ná 1900 het my ma se suster, Emma, na Northfield, Minnesota, gegaan om musiek te studeer. Sy het in die huis gebly van Milius Christianson, haar onderwyser, wie se vrou ’n Bybelstudent was, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Emma het gemeld dat sy ’n suster het wat ’n ywerige Bybelleser is. Kort daarna het mev. Christianson ’n brief aan my ma geskryf met antwoorde op haar Bybelvrae.

Eendag het ’n Bybelstudent met die naam Lora Oathout met die trein van Sioux Falls, Suid-Dakota, gekom om in Jasper te preek. My ma het die Bybellektuur bestudeer wat sy ontvang het, en in 1915 het sy ander van Bybelwaarhede begin vertel en die lektuur versprei wat Lora voorsien het.

In 1916 het my ma gehoor dat Charles Taze Russell by ’n byeenkoms in Sioux City, Iowa, sou wees. Sy wou dit bywoon. Teen dié tyd het my ma vyf kinders gehad, en Marvin, die jongste, was net vyf maande oud. Sy het nietemin, met kinders en al, die treinreis van omtrent 160 kilometer na Sioux City onderneem om die byeenkoms by te woon. Sy het broer Russell se toesprake gehoor en die “Fotodrama van die Skepping” gesien en is gedoop. Toe sy terug was by die huis, het sy ’n artikel oor die byeenkoms geskryf, wat in die Jasper Journal verskyn het.

In 1922 was my ma een van die sowat 18 000 mense wat die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, bygewoon het. Ná hierdie byeenkoms het sy nooit opgehou om God se Koninkryk te adverteer nie. Trouens, sy het ons aangespoor om ag te slaan op die vermaning: “Dit is die weg. Wandel daarop.”—Jes. 30:21.

Vrugte van die Koninkryksbediening

In die vroeë 1920’s het my ouers na ’n huis buite Jasper getrek. My pa het ’n suksesvolle besigheid gehad, asook ’n groot gesin om voor te sorg. Hy het die Bybel nie so baie bestudeer soos my ma nie, maar hy het die predikingswerk heelhartig ondersteun en ons huis oopgestel vir reisende bedienaars, wat destyds pelgrims genoem is. Wanneer een van die reisende broers ’n toespraak in ons huis gehou het, is dit dikwels deur ongeveer honderd mense bygewoon—hulle het ons sitkamer, eetkamer en slaapkamer volgesit.

Toe ek omtrent sewe jaar oud was, het my tant Lettie gebel en gesê dat haar bure, Ed Larson en sy vrou, die Bybel wil studeer. Hulle het Bybelwaarhede geredelik aangeneem en het later nog een van die bure, Martha van Daalen, ’n ma van agt kinders, genooi om by die studie aan te sluit. Martha en haar hele gesin het ook Bybelstudente geword. a

Omstreeks hierdie tyd het Gordon Kammerud, ’n jong man wat ’n paar kilometer van ons af gewoon het, vir my pa begin werk. Gordon is gewaarsku: “Pasop vir die baas se dogters. Hulle het ’n vreemde godsdiens.” Maar Gordon het die Bybel begin studeer en was weldra oortuig dat hy die waarheid gevind het. Drie maande later is hy gedoop. Sy ouers het ook gelowiges geword, en ons gesinne—die Holiens, die Kammeruds en die Van Daalens—het goeie vriende geword.

Versterk deur byeenkomste

My ma is so aangemoedig deur die byeenkoms in Cedar Point dat sy nooit ’n byeenkoms wou misloop nie. My vroeë herinneringe is dus van lang reise om hierdie samekomste by te woon. Die een in Columbus, Ohio, in 1931 was onvergeetlik, want die naam Jehovah se Getuies is daar aangeneem (Jes. 43:10-12). Nog ’n byeenkoms wat ek goed onthou, is die een wat in 1935 in Washington, DC, gehou is, waar ’n geskiedkundige toespraak gelewer is wat die “groot menigte” van Openbaring geïdentifiseer het (Op. 7:9). My susters Lilian en Eunice was onder die meer as 800 wat daar gedoop is.

Ons gesin het na byeenkomste gereis in Columbus, Ohio, in 1937; Seattle, Washington, in 1938; en die stad New York, in 1939. Die Van Daalen- en Kammerud-gesinne en ander het ons vergesel, en ons het langs die pad gekampeer. Eunice het in 1940 met Leo van Daalen getrou, en hulle het pioniers geword. Lilian het daardie selfde jaar met Gordon Kammerud getrou, en hulle het ook pioniers geword.

Die byeenkoms wat in 1941 in St. Louis, Missouri, gehou is, was spesiaal. Duisende jongmense het die boek Kinders daar ontvang. Daardie byeenkoms was vir my ’n keerpunt. Kort daarna, op 1 September 1941, het ek, my broer Marvin en sy vrou, Joyce, begin pionier. Ek was 15 jaar oud.

In ons plaasgemeenskap was dit moeilik vir al die broers om die byeenkomste by te woon omdat dit dikwels gedurende die oestyd gehou is. Ná elke byeenkoms het ons dus in ons agterplaas vergader en die byeenkoms hersien ter wille van dié wat dit nie kon bywoon nie. Dit was vreugdevolle samekomste.

Gilead en buitelandse toewysings

Die Gileadskool is in Februarie 1943 gestig om pioniers vir sendingdiens op te lei. Die eerste klas het ses lede van die Van Daalen-gesin ingesluit—die broers Emil, Arthur, Homer en Leo; hulle neef Donald; en Leo se vrou, my suster Eunice. Ons het met gemengde gevoelens van hulle afskeid geneem, aangesien ons nie geweet het wanneer ons hulle weer sou sien nie. Nadat hulle gegradueer het, is al ses na Puerto Rico gestuur, waar daar destyds net sowat tien Getuies was.

’n Jaar later het Lilian en Gordon sowel as Marvin en Joyce die derde klas van Gilead bygewoon. Hulle is ook na Puerto Rico gestuur. Toe, in September 1944, het ek op die ouderdom van 18 die vierde klas van Gilead bygewoon. Nadat ek in Februarie 1945 gegradueer het, het ek by my broer en susters in Puerto Rico aangesluit. Wat ’n interessante lewe het tog op my gewag! Hoewel dit ’n uitdaging was om Spaans te leer, het party van ons gou meer as 20 Bybelstudies elk gehou. Jehovah het die werk geseën. Vandag is daar omtrent 25 000 Getuies in Puerto Rico!

Tragedies tref ons familie

Leo en Eunice het ná die geboorte van hulle seun, Mark, in 1950, in Puerto Rico aangebly. In 1952 het hulle ’n vakansie beplan om vir familie in die Verenigde State te gaan kuier. Op 11 April het hulle per vliegtuig vertrek. Ongelukkig het die vliegtuig, kort nadat dit opgestyg het, in die see neergestort. Leo en Eunice het gesterf. Die tweejarige Mark is gevind waar hy in die see gedryf het. Hy is deur ’n oorlewende in ’n reddingsboot gesit, en kunsmatige asemhaling is op hom toegepas—en hy het gelewe. b

Vyf jaar later, op 7 Maart 1957, het my ma en pa op pad Koninkryksaal toe ’n pap wiel gekry. Terwyl my pa die wiel langs die pad omgeruil het, het ’n verbygaande motor hom getref, en hy is op slag dood. Omtrent 600 mense het die begrafnistoespraak bygewoon, en die gemeenskap, wat groot respek vir my pa gehad het, het ’n goeie getuienis ontvang.

Nuwe toewysings

Kort voor my pa se dood het ek ’n toewysing ontvang om in Argentinië te dien. In Augustus 1957 het ek in die stad Mendoza in die voetheuwels van die Andesgebergte aangekom. In 1958 is George Pappas, wat aan die 30ste klas van Gilead gegradueer het, na Argentinië gestuur. Ek en George het goeie vriende geword, en ons is in April 1960 getroud. My ma is in 1961 op 83-jarige ouderdom oorlede. Sy het getrou gewandel op die weg van ware aanbidding en het talle ander gehelp om dieselfde te doen.

Ek en George het tien jaar lank saam met ander sendelinge in verskeie sendinghuise gedien. Daarna het ons sewe jaar lank kringwerk gedoen. Ons het in 1975 na die Verenigde State teruggekeer om siek familielede te help. In 1980 is my man genooi om kringwerk in die Spaanse veld te doen. Destyds was daar omtrent 600 Spaanse gemeentes in die Verenigde State. Ons het 26 jaar lank baie van hulle besoek en die aantal gemeentes tot ver oor die 3 000 sien toeneem.

Hulle het op “die weg” gewandel

My ma het ook die vreugde gehad om te sien hoe jonger lede van haar familie die voltydse bediening betree. Byvoorbeeld, Carol, ’n dogter van my oudste suster, Ester, het in 1953 begin pionier. Sy het met Dennis Trumbore getrou, en hulle is nog altyd in die voltydse bediening. Ester se oudste dogter, Lois, het met Wendell Jensen getrou. Hulle het die 41ste klas van Gilead bygewoon en het 15 jaar lank as sendelinge in Nigerië gedien. Mark, wie se ouers in die vliegongeluk gesterf het, is deur Leo se suster, Ruth la Londe, en haar man, Curtiss, aangeneem en grootgemaak. Mark en sy vrou, Lavonne, het jare lank gepionier en hulle vier kinders in “die weg” grootgemaak.—Jes. 30:21.

My broer Orlen, die enigste van my broers en susters wat nog lewe, is in sy middelnegentigerjare. Hy dien Jehovah nog steeds getrou. Ek en George geniet dit nog altyd om in die voltydse bediening te wees.

My ma se nalatenskap

Ek het nou een van my ma se kosbare besittings—haar lessenaar. Dit was ’n trougeskenk van my pa. In een van die laaie is haar ou plakboek, wat briewe bevat sowel as koerantartikels wat sy geskryf het en wat ’n goeie Koninkryksgetuienis gegee het. Party daarvan dateer uit die vroeë 1900’s. In die lessenaar is daar ook kosbare briewe van my ma se sendelingkinders. Hoe geniet ek dit tog om hierdie briewe oor en oor te lees! En haar briewe aan ons was altyd baie bemoedigend, vol positiewe gedagtes. My ma het nooit haar begeerte vervul om ’n sendeling te wees nie. Maar sy het ’n ywer vir sendingdiens gehad wat die harte van ander, geslagte ná haar, geraak het. Hoe sien ek tog uit na ’n groot familiereünie met my ma en pa op die Paradysaarde!—Op. 21:3, 4.

[Voetnote]

a Vir die lewensverhaal van Emil H. van Daalen, sien Die Wagtoring van 1 September 1983, bladsye 26-30.

b Sien Ontwaak! van 22 September 1952, bladsye 3-4.

[Prent op bladsy 17]

Emilia Pederson

[Prent op bladsy 18]

1916: My ma, pa (met Marvin); onder, van links na regs: Orlen, Ester, Lilian, Mildred

[Prent op bladsy 19]

Leo en Eunice, kort voor hulle dood

[Prent op bladsy 20]

1950: Van links na regs, bo: Ester, Mildred, Lilian, Eunice, Ruth; onder: Orlen, my ma, pa en Marvin

[Prent op bladsy 20]

George en Ruth Pappas in die kringwerk, 2001