Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Kneg—“Vir ons oortreding deurboor”

Jehovah se Kneg—“Vir ons oortreding deurboor”

Jehovah se Kneg—“Vir ons oortreding deurboor”

“Hy is vir ons oortreding deurboor; hy is vir ons ongeregtighede verbrysel. . . . Weens sy wonde was daar vir ons genesing.”—JES. 53:5.

1. Wat moet ons gedurende die Gedenkmaal in gedagte hou, en watter profesie sal ons help om dit te doen?

 ONS hou die Gedenkmaal om Christus se dood te herdenk en om te dink aan alles wat sy dood en opstanding tot stand gebring het. Die Gedenkmaal herinner ons aan die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit, die heiliging van sy naam en die vervulling van sy voorneme, met inbegrip van die redding van die mensdom. Moontlik geen ander profesie in die Bybel beeld Christus se offerande en wat dit tot stand gebring het, beter uit as die een in Jesaja 53:3-12 nie. Jesaja het die Kneg se lyding voorspel en spesifieke besonderhede voorsien oor Christus se dood en oor die seëninge wat sy dood vir sy gesalfde broers en sy “ander skape” sou meebring.—Joh. 10:16.

2. Waarvan lewer Jesaja se profesie bewys, en watter uitwerking sal dit op ons hê?

2 Sewe eeue voor Jesus se geboorte op die aarde het Jehovah Jesaja geïnspireer om te voorspel dat Sy uitverkore Kneg getrou sou bly selfs wanneer hy tot die uiterste beproef word. Hierdie feit lewer bewys van Jehovah se absolute vertroue in sy Seun se lojaliteit. ’n Bespreking van hierdie profesie sal ons hart verbly en ons geloof versterk.

“Verag” en “van geen belang geag nie”

3. Waarom moes die Jode Jesus eintlik verwelkom het, maar hoe het hulle hom ontvang?

3 Lees Jesaja 53:3. Dink net wat dit vir die enigverwekte Seun van God moes beteken het om afstand te doen van die vreugde om aan sy Vader se sy te dien en aarde toe te kom om sy lewe as ’n offerande te gee om die mensdom van sonde en die dood te red! (Fil. 2:5-8). Sy offerande sou ware vergifnis van sondes bewerkstellig, wat die diereoffers onder die Mosaïese Wet bloot voorafgeskadu het (Heb. 10:1-4). ’n Mens sou verwag dat hy ten minste deur die Jode, wat op die beloofde Messias gewag het, verwelkom en vereer sou word (Joh. 6:14). Maar die Christus is deur die Jode “verag”, en hulle het “hom van geen belang geag nie”, soos Jesaja voorspel het. Die apostel Johannes het geskryf: “Hy het na sy eie huis gekom, maar sy eie mense het hom nie ingeneem nie” (Joh. 1:11). Die apostel Petrus het vir die Jode gesê: “Die God van ons voorvaders . . . het sy Kneg, Jesus, verheerlik, wat júlle oorgelewer en voor Pilatus se aangesig verloën het nadat hy besluit het om hom vry te laat. Ja, julle het dié heilige en regverdige verloën.”—Hand. 3:13, 14.

4. Hoe was Jesus bekend met siekte?

4 Jesaja het ook voorspel dat Jesus bestem was om “met siekte bekend te wees”. Gedurende sy bediening het Jesus wel soms moeg geword, maar daar is geen aanduiding dat hy siek geword het nie (Joh. 4:6). Hy was egter bekend met die siektes van diegene vir wie hy gepreek het. Hy het vir hulle innig jammer gevoel en het talle genees (Mark. 1:32-34). So het Jesus die profesie vervul wat sê: “Waarlik, ons siektes het hy gedra; en wat ons pyn betref, hy het dit op hom geneem.”—Jes. 53:4a; Matt. 8:16, 17.

Asof “deur God geslaan”

5. Hoe het baie van die Jode Jesus se dood beskou, en waarom het dit tot sy lyding bygedra?

5 Lees Jesaja 53:4b. Baie van Jesus se tydgenote het nie die rede vir sy lyding en dood verstaan nie. Hulle het geglo dat God hom straf, hom as ’t ware met ’n plaag, ’n walglike siekte, tref (Matt. 27:38-44). Die Jode het Jesus van lastering aangekla (Mark. 14:61-64; Joh. 10:33). Jesus was natuurlik nie ’n sondaar of ’n lasteraar nie. Maar weens sy groot liefde vir sy Vader het die blote gedagte dat hy op aanklag van lastering moet sterf, ongetwyfeld tot sy lyding as Jehovah se Kneg bygedra. Hy was nietemin bereid om hom aan Jehovah se wil te onderwerp.—Matt. 26:39.

6, 7. In watter sin het Jehovah sy getroue Kneg “verbrysel”, en waarom het dit God “behaag”?

6 Dit is een ding vir Jesaja se profesie om te sê dat ander sou meen dat Christus “deur God geslaan” word, maar iets heeltemal anders vir die profesie om te voorspel: “Dit het Jehovah behaag om hom te verbrysel” (Jes. 53:10). Hoe kon dit Jehovah enigsins “behaag [het] om hom te verbrysel”, aangesien Jehovah ook gesê het: “Kyk! My kneg, . . . my uitverkorene, wat my siel goedgekeur het”? (Jes. 42:1). In watter sin kan daar gesê word dat dít Jehovah vreugde verskaf het?

7 Om hierdie deel van die profesie te verstaan, moet ons onthou dat Satan, toe hy Jehovah se soewereiniteit bevraagteken het, twyfel gewek het oor die lojaliteit van al God se knegte in die hemel en op die aarde (Job 1:9-11; 2:3-5). Deur tot in die dood getrou te bly, het Jesus die volmaakte antwoord op Satan se uitdaging voorsien. Hoewel Jehovah dus toegelaat het dat Christus deur sy vyande doodgemaak word, kan daar geen twyfel bestaan dat Jehovah gely het toe Hy gesien het dat sy uitverkore Kneg om die lewe gebring word nie. Maar sy Seun se absolute getrouheid het Jehovah grootliks behaag (Spr. 27:11). Daarbenewens het die wete dat sy Seun se dood voordele vir berouvolle mense sou meebring, Jehovah groot vreugde verskaf.—Luk. 15:7.

“Vir ons oortreding deurboor”

8, 9. (a) Hoe is Jesus “vir ons oortreding deurboor”? (b) Hoe het Petrus dit bevestig?

8 Lees Jesaja 53:6. Net soos verlore skape, het sondige mense rondgedwaal, op soek na verlossing van die siekte en dood wat van Adam oorgeërf is (1 Pet. 2:25). Omdat hulle onvolmaak is, kon nie een van Adam se nakomelinge terugkoop wat Adam verloor het nie (Ps. 49:7). Maar in sy groot liefde het “Jehovah . . . ons almal se oortreding op hom laat neerkom”, dit wil sê op sy geliefde Seun en uitverkore Kneg. Deur in te stem om “vir ons oortreding deurboor” en “vir ons ongeregtighede verbrysel” te word, het Christus ons sondes aan die paal gedra en in ons plek gesterf.

9 Die apostel Petrus het geskryf: “Tot hierdie weg is julle geroep, want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. Hy het ons sondes in sy eie liggaam aan die paal gedra, sodat ons met sondes klaar kan wees en vir regverdigheid kan lewe.” Toe het Petrus uit Jesaja se profesie aangehaal en bygevoeg: “En ‘deur sy wonde is julle genees’” (1 Pet. 2:21, 24; Jes. 53:5). Dit het die weg gebaan vir sondaars om met God versoen te raak, soos Petrus verder gesê het: “Christus het eens en vir altyd aangaande sondes gesterf, ’n regverdige vir onregverdiges, om julle tot God te lei.”—1 Pet. 3:18.

“Net soos ’n lam na die slagplek gelei”

10. (a) Hoe het Johannes die Doper Jesus beskryf? (b) Waarom was Johannes se woorde gepas?

10 Lees Jesaja 53:7, 8. Toe Johannes die Doper Jesus sien nader kom het, het hy uitgeroep: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Toe hy van Jesus as ’n Lam gepraat het, het Johannes moontlik gedink aan Jesaja se woorde: “Hy is net soos ’n lam na die slagplek gelei” (Jes. 53:7, vtn. in NW). “Hy [het] sy siel in die dood uitgestort”, het Jesaja voorspel (Jes. 53:12). Interessant genoeg, die aand toe Jesus die Herdenking van sy dood ingestel het, het hy ’n beker wyn aan die 11 getroue apostels gegee en gesê: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes.”—Matt. 26:28.

11, 12. (a) Wat toon Isak se gewilligheid om geoffer te word, omtrent Christus se offerande? (b) Wat moet ons omtrent die Grotere Abraham, Jehovah, in gedagte hou wanneer ons die Gedenkmaal hou?

11 Soos Isak van ouds, was Jesus gewillig om as ’n offerande op die altaar van Jehovah se wil vir hom geoffer te word (Gen. 22:1, 2, 9-13; Heb. 10:5-10). Isak was wel gewillig om geoffer te word, maar dit was Abraham wat die offerande probeer bring het (Heb. 11:17). So ook het Jesus gewillig aanvaar dat hy moet sterf, maar Jehovah is die Een wat die losprysreëling ingestel het. Die offerande van sy Seun was ’n blyk van God se innige liefde vir die mensdom.

12 Jesus self het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Die apostel Paulus het geskryf: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Terwyl ons Christus eer deur sy dood te herdenk, moet ons dus nooit vergeet dat dit die Grotere Abraham, Jehovah, is wat die offerreëling moontlik gemaak het nie. Ons hou die Gedenkmaal tot sy lof.

Die kneg bring “baie in ’n regverdige posisie”

13, 14. Hoe het Jehovah se Kneg “baie in ’n regverdige posisie” gebring?

13 Lees Jesaja 53:11, 12. Jehovah het aangaande sy uitverkore Kneg gesê: “Die regverdige, my kneg, [sal] baie in ’n regverdige posisie bring.” Hoe? Die einde van vers 12 gee ons ’n leidraad. “En vir die oortreders het hy [die Kneg] tussenbeide getree.” Al Adam se nakomelinge word as sondaars, as “oortreders”, gebore en ontvang gevolglik “die loon wat die sonde betaal”, naamlik die dood (Rom. 5:12; 6:23). Versoening tussen Jehovah en sondige mense is nodig. Hoofstuk 53 van Jesaja se profesie gee ’n pragtige beskrywing van hoe Jesus ten behoewe van die sondige mensdom “tussenbeide getree” het en sê: “Die tugtiging wat vir ons vrede bedoel was, was op hom, en weens sy wonde was daar vir ons genesing.”—Jes. 53:5.

14 Deur ons sondes op hom te neem en vir ons te sterf, het Christus “baie in ’n regverdige posisie” gebring. Paulus het geskryf: “God het dit goedgevind om die hele volheid in hom [Christus] te laat woon en om deur hom alle ander dinge weer met homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed wat hy aan die folterpaal vergiet het, ongeag of hulle die dinge op die aarde of die dinge in die hemele is.”—Kol. 1:19, 20.

15. (a) Wie is “die dinge in die hemele” wat Paulus gemeld het? (b) Wie alleen is daarop geregtig om van die Gedenkmaalembleme te gebruik, en waarom?

15 “Die dinge in die hemele” wat deur middel van Christus se vergote bloed met Jehovah versoen word, is die gesalfde Christene, wat geroep word om saam met Christus in die hemele te regeer. Christene wat “deelgenote van die hemelse roeping” is, word ‘regverdig verklaar vir die lewe’ (Heb. 3:1; Rom. 5:1, 18). Jehovah verwek hulle dan as geestelike seuns. Die heilige gees getuig aan hulle dat hulle “mede-erfgename met Christus” is, geroep om konings en priesters in sy hemelse Koninkryk te word (Rom. 8:15-17; Op. 5:9, 10). Hulle word deel van geestelike Israel, “die Israel van God”, en hulle word in die “nuwe verbond” opgeneem (Jer. 31:31-34; Gal. 6:16). As lede van die nuwe verbond is hulle daarop geregtig om van die Gedenkmaalembleme te gebruik, met inbegrip van die beker rooiwyn, waarvan Jesus gesê het: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word.”—Luk. 22:20.

16. Wat is “die dinge op die aarde”, en hoe word hulle ’n regverdige posisie voor Jehovah gegee?

16 “Die dinge op die aarde” is Christus se ander skape, wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Jehovah se uitverkore Kneg bring hulle ook in ’n regverdige posisie voor Jehovah. Omdat hulle geloof stel in Christus se losprysoffer en sodoende “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”, verklaar Jehovah hulle regverdig, nie as geestelike seuns nie, maar as sy vriende en gee hy hulle die wonderlike vooruitsig om “die groot verdrukking” te oorleef (Op. 7:9, 10, 14; Jak. 2:23). Omdat hierdie ander skape nie in die nuwe verbond is nie en derhalwe nie die hoop het om in die hemel te lewe nie, gebruik hulle nie van die embleme by die Gedenkmaal nie, maar woon hulle dit by as eerbiedige waarnemers.

Alle dank kom Jehovah en sy goedgekeurde Kneg toe!

17. Hoe het ’n studie van die profesieë in Jesaja wat oor die Kneg handel, ons gehelp om ons verstand vir die Gedenkmaal voor te berei?

17 Die bespreking van die profesieë in Jesaja wat oor die Kneg handel, was ’n goeie manier om ons verstand vir die Herdenking van Christus se dood voor te berei. Dit het ons gehelp om “die blik stip gerig [te] hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof” (Heb. 12:2). Ons het geleer dat God se Seun nie opstandig is nie. In teenstelling met Satan skep hy behae daarin om deur Jehovah geleer te word, terwyl hy Hom as die Soewereine Heer erken. Ons het gesien dat Jesus gedurende sy aardse bediening medelye betoon het met die mense vir wie hy gepreek het en talle van hulle fisies sowel as geestelik genees het. Sodoende het hy getoon wat hy as Messiaanse Koning in die nuwe stelsel van dinge sal doen wanneer ‘hy geregtigheid op die aarde vestig’ (Jes. 42:4). Die ywer wat hy as “’n lig van die nasies” in die verkondiging van die Koninkryk getoon het, is ’n herinnering vir sy volgelinge om die goeie nuus ywerig regoor die aarde te verkondig.—Jes. 42:6.

18. Waarom vervul Jesaja se profesie ons hart met dankbaarheid teenoor Jehovah en sy getroue Kneg?

18 Jesaja se profesie gee ons ook ’n beter begrip van die groot opoffering wat Jehovah gemaak het toe hy sy geliefde Seun aarde toe gestuur het om vir ons te ly en te sterf. Dit het Jehovah vreugde verskaf, nie om sy Seun te sien ly nie, maar om Jesus se absolute getrouheid tot in die dood te sien. Ons moet in Jehovah se vreugde deel, terwyl ons erken wat Jesus alles gedoen het om te bewys dat Satan ’n leuenaar is en om Jehovah se naam te heilig en so die regmatigheid van Sy soewereiniteit te regverdig. Daarbenewens het Christus ons sondes op hom geneem en namens ons gesterf. Sodoende het hy dit moontlik gemaak vir die klein kuddetjie van sy gesalfde broers en vir die ander skape om ’n regverdige posisie voor Jehovah te geniet. Mag ons hart vervul wees met dankbaarheid teenoor Jehovah en sy getroue Kneg wanneer ons vir die Gedenkmaal vergader.

Ter hersiening

• In watter sin het dit Jehovah “behaag” dat sy Seun “verbrysel” word?

• Hoe is Jesus “vir ons oortreding deurboor”?

• Hoe het die Kneg “baie in ’n regverdige posisie” gebring?

• Hoe het ’n studie van die profesieë oor die Kneg jou verstand en hart vir die Gedenkmaal voorberei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

“Hy is verag, en ons het hom van geen belang geag nie”

[Prent op bladsy 28]

‘Hy het sy siel in die dood uitgestort’

[Prent op bladsy 29]

Die “ander skape” woon die Gedenkmaal by as eerbiedige waarnemers