Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kom word my volgeling”

“Kom word my volgeling”

“Kom word my volgeling”

“As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my . . . volg.”—LUK. 9:23.

1, 2. (a) Watter vriendelike uitnodiging het Jesus gerig? (b) Hoe het jy op Jesus se uitnodiging gereageer?

 TEEN die einde van sy bediening het Jesus getuig in Perea, ’n gebied oorkant die Jordaan, noordoos van Judea. ’n Jong man het na hom toe gekom en gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërf. Nadat Jesus vasgestel het dat die jong man die Mosaïese Wet getrou onderhou, het hy ’n uitsonderlike uitnodiging aan hom gerig. Hy het gesê: “Gaan, verkoop wat jy het en gee vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling” (Mark. 10:21). Dink net—’n uitnodiging om Jesus, die enigverwekte Seun van die Allerhoogste God, te volg!

2 Hierdie jong man het die uitnodiging van die hand gewys, maar ander het dit aanvaar. Jesus het vroeër vir Filippus gesê: “Word my volgeling” (Joh. 1:43). Filippus het die uitnodiging aanvaar en later ’n apostel geword. Jesus het die uitnodiging aan Matteus herhaal, en ook hy het dit aanvaar (Matt. 9:9; 10:2-4). Trouens, Jesus het dieselfde uitnodiging aan alle liefhebbers van regverdigheid gerig toe hy gesê het: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Luk. 9:23). Enigiemand kan dus Jesus se volgeling word as hy werklik wil. Het jy hierdie begeerte? Die meeste van ons het reeds positief gereageer op Jesus se vriendelike uitnodiging, en in die veldbediening dra ons hierdie uitnodiging aan ander oor.

3. Hoe kan ons voorkom dat ons daarvan wegdryf om Jesus te volg?

3 Maar ongelukkig hou party wat belangstelling in Bybelwaarheid getoon het, nie daarmee vol nie. Inteendeel, hulle word traag, en uiteindelik ‘dryf hulle weg’ daarvan om Jesus te volg (Heb. 2:1). Hoe kan ons voorkom dat ons in hierdie strik trap? Dit sal help as ons ons afvra: ‘Waarom het ek in die eerste plek besluit om Jesus te volg? Wat beteken dit om hom te volg?’ As ons die antwoorde op hierdie twee vrae in gedagte hou, sal dit ons help om meer vasbeslote te wees om op die goeie weg te bly wat ons gekies het. Dit sal ons ook help om ander aan te spoor om Jesus te volg.

Waarom Jesus volg?

4, 5. Waarom is Jesus bevoeg om ons te lei?

4 Die profeet Jeremia het gesê: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jer. 10:23). Die geskiedenis het bewys dat Jeremia se woorde waar is. Dit word al hoe duideliker dat onvolmaakte mense nie met sukses oor hulleself kan regeer nie. Ons het die uitnodiging aanvaar om Jesus te volg omdat ons geleer het dat hy bevoeg is om ons Leier te wees op ’n manier wat geen mens dit ooit kan wees nie. Kyk na party van Jesus se kwalifikasies.

5 Eerstens, Jesus is deur Jehovah self as Messias die Leier gekies. Wie weet beter as ons Skepper wie om as ons Leier aan te stel? Tweedens, Jesus het eienskappe wat ons kan bewonder en navolg. (Lees Jesaja 11:2, 3.) Hy is ’n volmaakte voorbeeld (1 Pet. 2:21). Derdens, Jesus het groot liefde vir dié wat hom volg, en hy het dit getoon toe hy sy lewe vir hulle afgelê het. (Lees Johannes 10:14, 15.) En hy toon dat hy ’n liefdevolle herder is terwyl hy ons lei na ’n lewe wat nou geluk meebring en ’n wonderlike toekoms tot gevolg sal hê (Joh. 10:10, 11; Op. 7:16, 17). Om hierdie en ander redes het ons ’n wyse besluit gemaak toe ons gekies het om hom te volg. Maar wat behels so ’n weg?

6. Wat behels dit om Jesus te volg?

6 Om volgelinge van Christus te wees, behels meer as om net te sê dat ons Christene is. Sowat tweemiljard mense beweer vandag dat hulle Christene is, maar hulle dade openbaar dat hulle “werkers van wetteloosheid” is. (Lees Matteus 7:21-23.) Wanneer mense belangstelling toon in die uitnodiging om Jesus te volg, verduidelik ons aan hulle dat ware Christene sy leringe en voorbeeld in alle aspekte van hulle lewe volg—en hulle doen dit elke dag van hulle lewe. Ter toeligting van wat dit beteken, kan ons ’n paar dinge bespreek wat ons omtrent Jesus weet.

Volg Jesus se voorbeeld van wysheid

7, 8. (a) Wat is wysheid, en waarom het Jesus dit in so ’n oorvloedige mate gehad? (b) Hoe het Jesus wysheid geopenbaar, en hoe kan ons hom navolg?

7 Jesus het talle uitsonderlike eienskappe geopenbaar, maar ons gaan konsentreer op vier: sy wysheid, sy nederigheid, sy ywer en sy liefde. Beskou eerstens sy wysheid—sy vermoë om kennis en begrip prakties toe te pas. Die apostel Paulus het geskryf: “In [Jesus] is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” (Kol. 2:3). Waar het Jesus sulke wysheid gekry? Hy het self gesê: “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge” (Joh. 8:28). Sy wysheid het van Jehovah gekom, en daarom is ons nie verbaas oor die feit dat Jesus gesonde oordeel aan die dag gelê het nie.

8 Jesus het byvoorbeeld goeie oordeel aan die dag gelê toe hy op sy lewensweg besluit het. Hy het besluit om sy lewe eenvoudig te hou deur hom op ’n enkele doel toe te spits: om God se wil te doen. Hy het sy tyd en energie wyslik aan die bevordering van Koninkryksbelange gewy. Ons volg Jesus se voorbeeld deur ’n ‘eenvoudige oog’ te probeer behou en ons sodoende nie te belas met onnodige dinge wat ons energie en aandag in beslag neem nie (Matt. 6:22). Baie Christene het stappe gedoen om hulle lewe te vereenvoudig sodat hulle meer tyd aan die bediening kan wy. Party kon die pionierdiens betree. As jy een van hulle is, is dit baie prysenswaardig. “Om eers die koninkryk . . . te soek”, bring groot geluk en tevredenheid mee.—Matt. 6:33.

Wees nederig soos Jesus

9, 10. Hoe het Jesus sy nederigheid geopenbaar?

9 Die tweede aspek van Jesus se persoonlikheid wat ons sal bespreek, is sy nederigheid. Wanneer onvolmaakte mense gesag ontvang, ontwikkel hulle dikwels ’n oordrewe gevoel van belangrikheid. Hoe anders was Jesus tog! Ten spyte van sy sleutelposisie in die verwesenliking van Jehovah se voorneme was Jesus vry van selfs die geringste sweempie van hoogmoed. En ons word aangespoor om hom hierin na te volg. Die apostel Paulus het geskryf: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword” (Fil. 2:5-7). Wat het dit behels?

10 Jesus het die glorieryke voorreg geniet om in sy Vader se hemelse teenwoordigheid te wees, maar hy het homself gewillig “ontledig”. Sy lewe is oorgeplaas na die baarmoeder van ’n Joodse maagd, waar dit nege maande lank ontwikkel het totdat hy as ’n hulpelose baba in die huisgesin van ’n nederige timmerman gebore is. In Josef se huis het Jesus ’n kleuter, ’n seuntjie en later ’n tiener geword. Hy was sondeloos. Maar hy het dwarsdeur sy jeug onderdanig gebly aan ouers wat onvolmaakte sondaars was (Luk. 2:51, 52). Watter buitengewone nederigheid!

11. Op watter maniere kan ons Jesus se nederigheid navolg?

11 Ons volg Jesus se nederigheid na wanneer ons toewysings wat miskien nederig lyk, gewillig aanvaar. Dink byvoorbeeld aan die opdrag om die goeie nuus te verkondig. Dit lyk dalk na ’n nederige werk, veral wanneer mense nie belangstel nie, ons bespot of vyandiggesind is. Maar deur in die predikingswerk te volhard, help ons ander om te reageer op Jesus se uitnodiging om hom te volg. So help ons om lewens te red. (Lees 2 Timoteus 4:1-5.) Nog ’n voorbeeld is werk by ons Koninkryksaal. Dit behels dinge soos om asblikke leeg te maak, vloere te was en toilette skoon te maak—alles nederige take! Maar ons besef dat die instandhouding van ons Koninkryksaal—die sentrum van ware aanbidding in die omgewing—deel is van ons heilige diens. Deur take wat dalk nederig lyk, gewillig te verrig, lê ons nederigheid aan die dag, en sodoende volg ons in die voetstappe van Christus.

Wees ywerig soos Jesus

12, 13. (a) Hoe het Jesus ywer geopenbaar, en waardeur is hy beweeg? (b) Wat sal ons beweeg om ywerig in die bediening te wees?

12 Beskou Jesus se ywer in die bediening. Jesus het baie dinge gedoen toe hy op die aarde was. In sy jeug het hy waarskynlik saam met sy pleegvader, Josef, as ’n timmerman gewerk. Gedurende sy bediening het Jesus wonderwerke verrig, soos om die siekes gesond te maak en die dooies op te wek. Maar sy vernaamste werk was om die goeie nuus te verkondig en diegene te leer wat wou luister (Matt. 4:23). As sy volgelinge moet ons dieselfde werk doen. Hoe kan ons sy voorbeeld volg? Om maar een ding te noem, ons kan dieselfde beweegredes as Jesus aankweek.

13 Jesus is bowenal deur liefde vir God beweeg om te preek en te onderrig. Maar Jesus was ook lief vir die waarhede wat hy ander geleer het. Vir hom was hierdie waarhede kosbare skatte, en hy was gretig om ander daarvan te vertel. As ‘openbare onderrigters’ voel ons ook so. Dink net aan party van die kosbare waarhede wat ons uit God se Woord geleer het! Ons weet van die geskil oor universele soewereiniteit en hoe dit besleg gaan word. Ons het ’n goeie begrip van wat die Skrif leer oor die toestand van die dooies en die komende seëninge in God se nuwe wêreld. Hetsy ons hierdie waarhede onlangs of lank gelede geleer het, hulle waarde neem nooit af nie. Oud of nuut, hierdie waarhede is inderdaad kosbare skatte. (Lees Matteus 13:52.) Deur met opregte geesdrif te preek, help ons ander om, soos ons, ’n liefde te ontwikkel vir wat Jehovah ons geleer het.

14. Hoe kan ons Jesus navolg in die manier waarop hy onderrig het?

14 Let ook op hoe Jesus onderrig het. Hy het sy toehoorders heeltyd na die Skrif verwys. Hy het dikwels ’n belangrike punt ingelei deur te sê: “Daar staan geskrywe” (Matt. 4:4; 21:13). In sy opgetekende woorde het hy direk aangehaal uit of indirek verwys na meer as die helfte van die boeke van die Hebreeuse Geskrifte. Soos Jesus, vertrou ons grootliks op die Bybel in ons bediening en probeer ons, wanneer moontlik, om die Skrif te gebruik. Sodoende help ons regskapenes om self te sien dat ons God se gedagtes oordra, nie ons eie nie. Hoe bly maak dit ons tog wanneer iemand instem om uit die Bybel te lees en om die waarde en betekenis van God se Woord te bespreek! En wanneer sulke persone die uitnodiging aanvaar om Jesus te volg, ken ons vreugde geen perke nie.

Volgelinge van Jesus moet ander liefhê

15. Watter uitsonderlike eienskap het Jesus gehad, en watter uitwerking kan dit op ons hê wanneer ons daaroor nadink?

15 Die laaste aspek van Jesus se lewe wat ons gaan bespreek, is uiters bemoedigend—sy liefde vir sy medemens. Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons” (2 Kor. 5:14). Wanneer ons nadink oor die liefde wat Jesus vir die mensdom oor die algemeen en vir ons as individue het, raak dit ons hart en spoor dit ons aan om sy voorbeeld te volg.

16, 17. Op watter maniere het Jesus sy liefde vir ander getoon?

16 Hoe het Jesus liefde vir ander getoon? Sy bereidwilligheid om van sy siel afstand te doen ten behoewe van die mensdom, was die grootste blyk van sy liefde (Joh. 15:13). Maar gedurende sy bediening het Jesus ook op ander maniere liefde betoon. Hy het byvoorbeeld meegevoel gehad met diegene wat gely het. Toe hy gesien het hoe Maria en dié wat by haar was, oor die dood van Lasarus huil, het hulle droefheid hom diep getref. Al het Jesus op die punt gestaan om Lasarus op te wek, is hy so ontroer dat hy “trane gestort” het.—Joh. 11:32-35.

17 Vroeg in Jesus se bediening het ’n melaatse na Jesus toe gekom en gesê: “As u net wil, kan u my rein maak.” Hoe het Jesus gereageer? Die verslag sê dat hy “beweeg [is] deur innige jammerte”. Toe het hy iets buitengewoons gedoen. “Hy [het] sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: ‘Ek wil. Word gereinig.’ En onmiddellik het die melaatsheid van hom verdwyn, en hy het rein geword.” Onder die Mosaïese Wet was melaatses onrein, en Jesus kon die man beslis genees het sonder om hom aan te raak. Maar terwyl Jesus die melaatse genees het, het hy hom die aanraking van ’n ander mens laat voel, dalk vir die eerste keer in jare. Wat ’n tere blyk van medelye!—Mark. 1:40-42.

18. Hoe kan ons “meegevoel” betoon?

18 Daar word van ons as volgelinge van Christus verwag om ons liefde te openbaar deur “meegevoel” te betoon (1 Pet. 3:8). Dit is dalk nie maklik om die gevoelens te verstaan van ’n medegelowige wat aan ’n chroniese siekte of ernstige depressie ly nie—veral as ons sulke dinge nog nooit self deurgemaak het nie. Maar Jesus het empatie met die siekes betoon al was hy self nooit siek nie. Hoe kan ons sulke empatie aankweek? Deur geduldig te luister wanneer dié wat ly, hulle hart teenoor ons uitstort. Ons kan ons ook afvra: ‘Hoe sou ek voel as ek in hulle situasie was?’ As ons leer om meer bewus te wees van ander se gevoelens, sal ons beter in staat wees om “vertroostend [te praat] met die terneergedrukte siele” (1 Tess. 5:14). As ons dit doen, sal ons Jesus volg.

19. Watter uitwerking het Jesus se voorbeeld op ons?

19 Wat ’n opwindende studieveld is die woorde en dade van Jesus Christus tog! Hoe meer ons van hom leer, hoe meer wil ons soos hy wees—en hoe meer wil ons ander help om dit ook te doen. Laat ons dus vreugde daaruit put om die Messiaanse Koning te volg—nou en tot in alle ewigheid!

Kan jy verduidelik?

• Hoe kan ons, soos Jesus, wysheid aan die dag lê?

• Op watter maniere kan ons nederigheid openbaar?

• Hoe kan ons ywer vir die bediening aankweek?

• Op watter maniere kan ons Jesus navolg deur liefde vir ander te toon?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 5]

’N PUBLIKASIE WAT ONS HELP OM CHRISTUS NA TE VOLG

Gedurende die streekbyeenkomsprogram vir 2007 is ’n boek met 192 bladsye, “Kom word my volgeling”, vrygestel. Hierdie publikasie is saamgestel om Christene te help om hulle oë op Jesus en in die besonder op sy eienskappe en dade gerig te hou. Ná twee inleidende hoofstukke gee die eerste deel ’n oorsig van Jesus se uitsonderlike eienskappe—sy nederigheid, sy moed, sy wysheid, sy gehoorsaamheid en sy volharding.

Daarna volg dele wat handel oor Jesus se bedrywighede as ’n onderrigter en as ’n verkondiger van die goeie nuus en oor party van die maniere waarop sy groot liefde geopenbaar is. Die boek bevat deurgaans inligting wat ’n Christen sal help om Jesus na te volg.

Ons is vol vertroue dat hierdie publikasie ons almal sal beweeg om onsself te ondersoek en ons af te vra: ‘Volg ek Jesus werklik? Hoe kan ek hom noukeuriger volg?’ Dit sal ook “almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe [het]”, help om volgelinge van Christus te word.—Hand. 13:48.

[Prent op bladsy 4]

Jesus het ingestem om aarde toe te kom en as ’n mensebaba gebore te word. Watter eienskap het dit geverg?

[Prent op bladsy 6]

Wat sal ons beweeg om ywerig in die bediening te wees?