Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kyk! Jehovah se goedgekeurde Kneg

Kyk! Jehovah se goedgekeurde Kneg

Kyk! Jehovah se goedgekeurde Kneg

“Kyk! My kneg, . . . wat my siel goedgekeur het!”—JES. 42:1.

1. Wat word Jehovah se volk aangespoor om te doen, veral namate die Gedenkmaal nader kom, en waarom?

 NAMATE die tyd nader kom om Christus se dood te herdenk, is dit verstandig van God se volk om die apostel Paulus se raad te volg om “die blik stip gerig [te] hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus”. Paulus het bygevoeg: “Ja, let noukeurig op die een wat sulke teëspraak deur sondaars teen hulle eie belange verduur het, sodat julle nie moeg word en in julle siel beswyk nie” (Heb. 12:2, 3). As gesalfde Christene sowel as hulle metgeselle, die ander skape, die blik stip gerig hou op Christus se weg van getrouheid, wat op sy offerande uitgeloop het, sal dit hulle help om Jehovah getrou te bly dien en nie ‘in hulle siel te beswyk’ nie.—Vergelyk Galasiërs 6:9.

2. Wat kan ons leer uit die profesieë van Jesaja wat met God se Seun verband hou?

2 Deur die profeet Jesaja het Jehovah ’n reeks profesieë geïnspireer wat regstreeks met sy Seun verband hou. Hierdie profesieë sal ons help om “die blik stip gerig [te] hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof”, Christus Jesus. a Dit werp lig op sy persoonlikheid, sy lyding en sy verheerliking as ons Koning en Verlosser. Dit sal ons begrip van die Gedenkmaal vergroot, wat ons vanjaar op Donderdag 9 April, ná sononder, sal hou.

Die Kneg word geïdentifiseer

3, 4. (a) Op wie slaan die woord “kneg” in die boek Jesaja? (b) Hoe identifiseer die Bybel self die Kneg wat in Jesaja hoofstukke 42, 49, 50, 52 en 53 genoem word?

3 Die woord “kneg” kom baie keer in die boek Jesaja voor. Dit slaan by tye op die profeet self (Jes. 20:3; 44:26). Soms word dit op die hele nasie Israel, of Jakob, toegepas (Jes. 41:8, 9; 44:1, 2, 21). Maar wat van die uitsonderlike profesieë oor die Kneg in Jesaja hoofstukke 42, 49, 50, 52 en 53? Die Christelike Griekse Geskrifte laat geen twyfel oor die identiteit van die Kneg van Jehovah wat in hierdie hoofstukke beskryf word nie. Interessant genoeg, die Etiopiese amptenaar wat in die boek Handelinge gemeld word, was besig om een van hierdie profesieë te lees toe Filippus, die evangeliedienaar, deur die gees gerig is om na hom toe te gaan. Die amptenaar, wat die Bybelgedeelte gelees het wat ons nou in Jesaja 53:7, 8 vind, het vir Filippus gevra: “Ek smeek u, van wie sê die profeet dit? Van homself of van iemand anders?” Filippus het dadelik verduidelik dat Jesaja van die Messias, Jesus, gepraat het.—Hand. 8:26-35.

4 Toe Jesus nog ’n baba was, het ’n regverdige man met die naam Simeon onder die krag van die heilige gees gesê dat “die jong kindjie Jesus . . . ’n lig [sou word] om die sluier te verwyder van die nasies”, soos voorspel is in Jesaja 42:6 en 49:6 (Luk. 2:25-32). Verder is die vernederende behandeling wat Jesus die nag van sy verhoor ontvang het, in die profesie van Jesaja 50:6-9 voorspel (Matt. 26:67; Luk. 22:63). Ná Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus Jesus duidelik as Jehovah se “Kneg” geïdentifiseer. (Jes. 52:13; 53:11; lees Handelinge 3:13, 26.) Wat kan ons uit hierdie Messiaanse profesieë leer?

Jehovah lei sy Kneg op

5. Watter opleiding het die Kneg ontvang?

5 Een van Jesaja se profesieë oor God se Kneg werp lig op die hegte verhouding tussen Jehovah en sy eersgebore Seun gedurende die Seun se voormenslike bestaan. (Lees Jesaja 50:4-9.) Die Kneg self openbaar dat Jehovah hom voortdurend opgelei het en sê: “Hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is [“dissipels”, vtn. in NW]” (Jes. 50:4). Gedurende al hierdie tyd het Jehovah se Kneg na sy Vader geluister en by hom geleer en ’n onderdanige dissipel geword. Wat ’n unieke voorreg is dit tog om deur die Skepper van die heelal geleer te word!

6. Hoe het die Kneg sy volmaakte onderdanigheid aan sy Vader geopenbaar?

6 In hierdie profesie praat die Kneg van sy Vader as “die Soewereine Heer Jehovah”. Dit toon dat die Kneg die grondwaarheid omtrent Jehovah se universele soewereiniteit geleer het. Hy het sy volmaakte onderdanigheid aan sy Vader geopenbaar deur te sê: “Die Soewereine Heer Jehovah het my oor geopen, en ek was nie opstandig nie. Ek het my nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie” (Jes. 50:5). Hy het “’n meesterwerker naas [Jehovah] geword” in die skepping van die stoflike heelal en die mens. Hierdie “meesterwerker” was “die hele tyd voor [Jehovah] verheug . . . , verheug oor die vrugbare land van sy aarde, en die dinge waarvoor [God se Seun] lief was, was by die mensekinders”.—Spr. 8:22-31.

7. Wat toon dat die Kneg seker was van sy Vader se ondersteuning gedurende sy beproewinge?

7 Hierdie opleiding wat die Kneg ontvang het sowel as sy liefde vir die mens, het hom goed te pas gekom toe hy aarde toe gekom en hewige teenstand verduur het. Hy het steeds behae daarin geskep om sy Vader se wil te doen, ten spyte van bittere vervolging (Ps. 40:8; Matt. 26:42; Joh. 6:38). Gedurende al sy beproewinge op die aarde was Jesus seker van sy Vader se goedkeuring en ondersteuning. Soos in Jesaja se profesie voorspel is, kon Jesus sê: “Die Een wat my regverdig verklaar, is naby. Wie kan met my twis? . . . Kyk! Die Soewereine Heer Jehovah sal my help” (Jes. 50:8, 9). Jehovah het beslis sy getroue Kneg dwarsdeur sy bediening op die aarde gehelp, soos nog ’n profesie van Jesaja toon.

Die Kneg se bediening op die aarde

8. Wat bewys dat Jesus Jehovah se “uitverkorene” was, soos voorspel is in Jesaja 42:1?

8 Die Bybelverslag vertel ons wat gebeur het toe Jesus in 29 G.J. gedoop is: “Die heilige gees [het] op hom neergedaal, en ’n stem het uit die hemel gekom: ‘Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur’” (Luk. 3:21, 22). So het Jehovah sy “uitverkorene”, wat in Jesaja se profesie gemeld word, duidelik geïdentifiseer. (Lees Jesaja 42:1-7.) Jesus het hierdie profesie gedurende sy aardse bediening op ’n merkwaardige wyse vervul. Matteus het in sy Evangelieverslag die woorde in Jesaja 42:1-4 aangehaal en dit op Jesus toegepas.—Matt. 12:15-21.

9, 10. (a) Hoe het Jesus Jesaja 42:3 gedurende sy bediening vervul? (b) Hoe het Christus ‘geregtigheid voortgebring’ terwyl hy op die aarde was, en wanneer sal hy ‘geregtigheid op die aarde vestig’?

9 Die gewone mense onder die Jode is deur die Joodse godsdiensleiers verag (Joh. 7:47-49). Die mense is sleg behandel en kon vergelyk word met ‘geknakte riete’ of ‘vlaspitte’ net voordat dit uitgaan. Maar Jesus het medelye met die armes en geteisterdes betoon (Matt. 9:35, 36). Hy het ’n vriendelike uitnodiging aan hierdie persone gerig en gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik” (Matt. 11:28). Daarbenewens het Jesus ‘geregtigheid voortgebring’ deur mense Jehovah se standaarde van reg en verkeerd te leer (Jes. 42:3). En hy het getoon dat God se Wet met redelikheid en barmhartigheid toegepas moet word (Matt. 23:23). Jesus het ook geregtigheid aan die dag gelê deur onbevooroordeeld vir armes sowel as rykes te preek.—Matt. 11:5; Luk. 18:18-23.

10 Jesaja se profesie voorspel ook dat Jehovah se “uitverkorene” ‘geregtigheid op die aarde sal vestig’ (Jes. 42:4). Hy sal dit binnekort doen wanneer hy as Koning van die Messiaanse Koninkryk alle politieke koninkryke vernietig en hulle met sy regverdige heerskappy vervang. Hy sal ’n nuwe wêreld tot stand bring, waarin ‘regverdigheid sal woon’.—2 Pet. 3:13; Dan. 2:44.

“’n Lig” en “’n verbond”

11. In watter sin was Jesus in die eerste eeu “’n lig van die nasies”, en hoe is hy dit vandag nog?

11 Jesus was inderdaad “’n lig van die nasies”, ter vervulling van Jesaja 42:6. Gedurende sy aardse bediening het hy hoofsaaklik vir die Jode geestelike lig gebring (Matt. 15:24; Hand. 3:26). Maar Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld” (Joh. 8:12). Hy het ’n lig vir die Jode sowel as die nasies geword deur nie net geestelike verligting te bring nie, maar deur ook sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir die hele mensdom op te offer (Matt. 20:28). Ná sy opstanding het hy sy dissipels die opdrag gegee om getuies van hom te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Paulus en Barnabas het gedurende hulle bediening die uitdrukking “lig van die nasies” aangehaal en dit op hulle predikingswerk onder die nie-Jode toegepas. (Hand. 13:46-48; vergelyk Jesaja 49:6.) Hierdie werk word nog steeds gedoen deurdat Jesus se gesalfde broers op die aarde en hulle metgeselle geestelike lig versprei en mense help om geloof te stel in Jesus, die “lig van die nasies”.

12. Hoe het Jehovah sy Kneg “as ’n verbond van die volk” gegee?

12 In dieselfde profesie het Jehovah vir sy uitverkore Kneg gesê: “Ek sal jou bewaar en jou gee as ’n verbond van die volk” (Jes. 42:6). Satan het voortdurend pogings aangewend om Jesus te vernietig en hom te verhinder om sy bediening op die aarde te volbring, maar Jehovah het hom bewaar tot die vasgestelde tyd dat hy moes sterf (Matt. 2:13; Joh. 7:30). Daarna het Jehovah Jesus opgewek en hom as “’n verbond”, of waarborg, aan mense op die aarde gegee. Hierdie plegtige belofte het die versekering verskaf dat God se getroue Kneg sou voortgaan om “’n lig van die nasies” te wees en diegene in geestelike duisternis te bevry.—Lees Jesaja 49:8, 9. b

13. Hoe het Jesus “dié wat in die duisternis sit”, gedurende sy aardse bediening verlos, en hoe doen hy dit nog steeds?

13 In ooreenstemming met hierdie waarborg sou Jehovah se uitverkore Kneg ‘die blinde oë open’, ‘die gevangene uit die kerker lei’ en “dié wat in die duisternis sit”, verlos (Jes. 42:7). Gedurende sy aardse bediening het Jesus dit gedoen deur valse godsdienstradisies bloot te lê en die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matt. 15:3; Luk. 8:1). So het hy Jode wat sy dissipels geword het, uit geestelike slawerny verlos (Joh. 8:31, 32). Jesus het op soortgelyke wyse geestelike verlossing vir miljoene nie-Jode bewerkstellig. Hy het sy volgelinge die opdrag gegee: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”, en hy het belowe dat hy “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met sy volgelinge sal wees (Matt. 28:19, 20). Vanuit sy hemelse posisie hou Christus Jesus toesig oor die wêreldwye predikingswerk.

Jehovah het die “Kneg” verhoog

14, 15. Waarom en hoe het Jehovah sy Kneg verhoog?

14 In nog ’n profesie oor sy Messiaanse Kneg sê Jehovah: “Kyk! My kneg sal met insig optree. Hy sal ’n hoë posisie beklee en sal beslis verhoog en grootliks verhef word” (Jes. 52:13). As gevolg van sy Seun se lojale onderdanigheid aan Sy soewereiniteit en sy getrouheid onder die allermoeilikste toets het Jehovah hom verhoog.

15 Die apostel Petrus het van Jesus geskryf: “Hy is aan God se regterhand, want hy het na die hemel gegaan; en engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp” (1 Pet. 3:22). Die apostel Paulus het eweneens geskryf: “Hy [het] homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal. Juis daarom het God hom ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader.”—Fil. 2:8-11.

16. Hoe is Jesus in 1914 “grootliks verhef”, en wat het hy sedertdien bereik?

16 In 1914 het Jehovah Jesus selfs verder verhoog. Hy is “grootliks verhef” toe Jehovah hom as Koning van die Messiaanse Koninkryk gekroon het (Ps. 2:6; Dan. 7:13, 14). Sedertdien het Christus ‘te midde van sy vyande gaan oorwin’ (Ps. 110:2). Hy het eers Satan en sy demone oorwin en hulle na die omgewing van die aarde neergewerp (Op. 12:7-12). Toe het Christus, as die Grotere Kores, die oorblyfsel van sy gesalfde broers op die aarde uit die greep van “Babilon die Grote” verlos (Op. 18:2; Jes. 44:28). Hy rig ’n wêreldwye predikingswerk wat eers tot die insameling van “die oorblywendes” van sy geestelike broers gelei het en daarna tot die insameling van miljoene “ander skape”, die lojale metgeselle van die “klein kuddetjie”.—Op. 12:17; Joh. 10:16; Luk. 12:32.

17. Wat het ons tot dusver geleer uit die studie van Jesaja se profesieë oor die “kneg”?

17 Die studie van hierdie merkwaardige profesieë in die boek Jesaja het beslis ons waardering vergroot vir ons Koning en Verlosser, Christus Jesus. Sy onderdanigheid aan sy Vader gedurende sy aardse bediening het die opleiding weerspieël wat hy aan sy Vader se sy ontvang het voordat hy aarde toe gekom het. Hy het deur sy eie bediening en deur die predikingswerk waaroor hy tot vandag toe toesig hou, bewys dat hy die “lig van die nasies” is. Soos ons vervolgens sal sien, toon nog ’n profesie oor die Messiaanse Kneg dat hy sou ly en sy lewe ten behoewe van ons sou uitstort, sake waarop ons ‘noukeurig moet let’ namate die Herdenking van sy dood nader kom.—Heb. 12:2, 3.

[Voetnote]

a Jy kan hierdie profesieë vind in Jesaja 42:1-7; 49:1-12; 50:4-9 en 52:13–53:12.

b Vir ’n bespreking van die profesie in Jesaja 49:1-12, sien Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II, bladsye 136-145.

Ter hersiening

• Wie is die “kneg” wat in Jesaja se profesieë gemeld word, en hoe weet ons dit?

• Watter opleiding het die Kneg van Jehovah ontvang?

• Hoe is Jesus “’n lig van die nasies”?

• Hoe is die Kneg verhoog?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Filippus het die “kneg” wat deur Jesaja gemeld word, duidelik as Jesus, die Messias, geïdentifiseer

[Prent op bladsy 23]

As Jehovah se uitverkore Kneg het Jesus medelye met die armes en geteisterdes betoon

[Prent op bladsy 24]

Jesus is deur sy Vader verhef en as Koning van die Messiaanse Koninkryk gekroon