Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Put vreugde uit die dissipelmaakwerk

Put vreugde uit die dissipelmaakwerk

Put vreugde uit die dissipelmaakwerk

“Gaan dus en maak dissipels.”—MATT. 28:19.

1-3. (a) Hoe voel baie oor die voorreg om Bybelstudies te hou? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

 “EK STUDEER die afgelope 11 weke met ’n gesin uit Pakistan”, het ’n suster geskryf wat saam met ’n Hindi-sprekende groep in die Verenigde State dien. “Ons het natuurlik vriende geword”, sê sy verder. “Ek kry trane in my oë as ek daaraan dink dat hierdie gesin binnekort teruggaan Pakistan toe. Ek wil nie net huil omdat ek hartseer voel om van hulle afskeid te neem nie, maar ook omdat dit my soveel vreugde verskaf het om hulle van Jehovah te leer.”

2 Het jy al ooit, soos hierdie suster, die vreugde gesmaak om die Bybel met iemand te studeer? Jesus en sy eerste-eeuse dissipels het groot vreugde uit die dissipelmaakwerk geput. Toe die 70 dissipels wat deur Jesus opgelei is, met ’n vreugdevolle verslag teruggekeer het, het Jesus ook begin “oorloop van vreugde in die heilige gees” (Luk. 10:17-21). Baie put vandag eweneens groot vreugde daaruit om dissipels te maak. Trouens, in 2007 het hardwerkende, vreugdevolle verkondigers elke maand gemiddeld ses en ’n half miljoen Bybelstudies gehou!

3 Party verkondigers het egter nog nie die genot gesmaak om ’n Bybelstudie te hou nie. Ander het miskien nie in onlangse jare ’n Bybelstudie gehou nie. Voor watter uitdagings kan ons te staan kom in ons strewe om ’n Bybelstudie te hou? Hoe kan ons hierdie uitdagings oorkom? En watter belonings ontvang ons wanneer ons alles in ons vermoë doen om Jesus se bevel: “Gaan dus en maak dissipels” te gehoorsaam?—Matt. 28:19.

Uitdagings wat ons van vreugde kan beroof

4, 5. (a) Hoe reageer baie mense in party wêrelddele? (b) Voor watter uitdagings kom verkondigers op ander plekke te staan?

4 In sekere wêrelddele neem mense graag ons lektuur en is hulle gretig om die Bybel saam met ons te studeer. ’n Australiese egpaar wat tydelik in Zambië gedien het, het geskryf: “Die berigte is waar. Zambië is ’n paradys wat die predikingswerk betref. Straatwerk is ongelooflik! Mense kom na ons toe, en party vra selfs vir spesifieke nommers van die tydskrifte.” In ’n onlangse jaar het die broers en susters in Zambië meer as 200 000 Bybelstudies gehou—dit is gemiddeld meer as een Bybelstudie per verkondiger.

5 Maar op ander plekke is dit dalk vir verkondigers moeilik om lektuur te versprei en gereeld Bybelstudies te hou. Waarom? Mense is dikwels nie tuis wanneer ’n verkondiger aan hulle deur klop nie, en dié wat wel tuis is, stel miskien nie in godsdiens belang nie. Hulle het moontlik in ’n niegodsdienstige huis grootgeword of word dalk afgestoot deur die huigelary wat duidelik in valse godsdiens gesien kan word. Baie mense is deur valse herders geestelik beseer—gestroop en rondgegooi (Matt. 9:36). Dit is te verstane dat sulke persone dalk skrikkerig sal wees om by Bybelbesprekings betrokke te raak.

6. Met watter beperkings worstel party dalk?

6 Party getroue verkondigers het te kampe met ’n ander uitdaging wat hulle van vreugde kan beroof. Hoewel hulle vroeër baie bedrywig was in die dissipelmaakwerk, kan hulle nou weens swak gesondheid of die beperkings van bejaardheid nie meer soveel doen nie. Dink ook aan party van die beperkings wat ons onsself dalk oplê. Voel jy byvoorbeeld nie bekwaam genoeg om ’n Bybelstudie te hou nie? Jy voel miskien soos Moses gevoel het toe Jehovah hom die opdrag gegee het om met Farao te praat. Moses het gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar ek is nie ’n vlot spreker nie, nie sedert gister of daarvóór [nie]” (Eks. 4:10). Iets wat ten nouste verband hou met gevoelens van onbekwaamheid, is ’n vrees vir mislukking. Ons is dalk bekommerd dat iemand nie ’n dissipel sal word nie omdat ons nie die volmaakte onderrigter is nie. Hierdie vrees laat ons dalk die geleentheid verbeur om ’n studie te hou. Hoe kan ons die voorgemelde uitdagings die hoof bied?

Berei jou hart voor

7. Wat het Jesus in sy bediening aangespoor?

7 Een van die eerste stappe is om ons hart voor te berei. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart praat [die] mond” (Luk. 6:45). Hartgrondige besorgdheid oor die welsyn van ander het Jesus in sy bediening aangespoor. Toe hy byvoorbeeld die ellendige geestelike toestand van mede-Jode gesien het, “het hy vir hulle innig jammer gevoel”. Hy het vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot . . . Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”—Matt. 9:36-38.

8. (a) Waaroor kan ons gerus nadink? (b) Wat kan ons uit die kommentaar van een Bybelstudent leer?

8 Terwyl ons aan die dissipelmaakwerk deelneem, kan ons gerus diep nadink oor hoeveel óns daarby baat gevind het omdat iemand die tyd geneem het om die Bybel met ons te studeer. Dink ook aan die mense wat ons in die bediening sal ontmoet en hoe hulle daarby sal baat vind om die boodskap te hoor wat ons verkondig. ’n Vrou het aan die takkantoor van die land waarin sy woon, geskryf: “Ek wil graag vir julle sê hoeveel ek die Getuies waardeer wat my by my huis kom leer. Ek weet dat ek hulle soms frustreer omdat ek soveel vrae het en hulle altyd langer laat bly as wat hulle wou. Maar hulle is geduldig met my en is gretig om my te vertel wat hulle geleer het. Ek dank Jehovah en Jesus dat hierdie mense in my lewe gekom het.”

9. Waarop het Jesus gekonsentreer, en hoe kan ons hom navolg?

9 Nie almal het natuurlik gunstig gereageer op Jesus se pogings om hulle te help nie (Matt. 23:37). Party het hom ’n ruk lank gevolg, maar toe beswaar gemaak teen sy leringe en “nie meer saam met hom gewandel nie” (Joh. 6:66). Jesus het egter nie toegelaat dat die ongunstige reaksie van party hom laat voel dat sy boodskap waardeloos is nie. Hoewel baie van die saad wat hy gesaai het, geen vrug gedra het nie, het Jesus gekonsentreer op die goeie wat hy vermag het. Hy het gesien dat die lande wit is vir die oes en het groot vreugde daaruit geput om met daardie oes te help. (Lees Johannes 4:35, 36.) Kan ons nie ook eerder op die potensiële oes in ons toegewese gebied konsentreer as net op die kaal grond tussen die graanhalms nie? Kom ons ondersoek hoe ons so ’n positiewe gesindheid kan behou.

Saai met die doel om te maai

10, 11. Wat kan jy doen om jou vreugde te behou?

10 ’n Boer saai saad met die doel om ’n oes in te samel. Net so moet ons preek met die doel om Bybelstudies te begin. Maar gestel jy bring gereeld tyd in die veldbediening deur, maar vind min mense tuis of sukkel om weer met jou herbesoeke in aanraking te kom. Dit kan frustrerend wees. Moet jy ophou om aan die deur-tot-deur-bediening deel te neem? Beslis nie! Baie mense word nog steeds deur middel van hierdie beproefde predikingsmetode bereik.

11 Kan jy egter jou predikingsmetodes uitbrei en mense dalk op ander maniere probeer bereik sodat jy jou vreugde kan behou? Byvoorbeeld, het jy al vir mense op straat of by hulle werksplek probeer getuig? Kan jy mense per telefoon bereik of die telefoonnommers kry van diegene met wie jy reeds oor die Koninkryksboodskap gepraat het sodat jy met hulle in aanraking kan bly? Deur in jou bediening te volhard en aanpasbaar te wees, sal jy die vreugde ervaar om persone te vind wat gunstig op die Koninkryksboodskap sal reageer.

Wanneer mense nie belangstel nie

12. Wat kan ons doen as baie mense in ons gebied blykbaar nie belangstel nie?

12 Sê nou baie mense in julle gebied stel nie in godsdiens belang nie? Kan jy ’n ander benadering gebruik wat hulle belangstelling sal wek? Die apostel Paulus het aan medegelowiges in Korinte geskryf: “Vir die Jode [het ek] soos ’n Jood geword . . . Vir dié sonder wet het ek soos een sonder wet geword, hoewel ek nie sonder wet is ten opsigte van God nie.” Wat was Paulus se beweegrede? “Ek het alles vir alle soorte mense geword”, het hy gesê, “om op elke moontlike manier sommige te red” (1 Kor. 9:20-22). Kan ons eweneens ’n gemeenskaplike grondslag met diegene in ons gebied vind? Talle niegodsdienstige mense wil hulle gesinsverhoudinge verbeter. Hulle soek moontlik ook na ’n doel in die lewe. Kan ons die Koninkryksboodskap op so ’n wyse aan hierdie mense oordra dat dit by hulle byval sal vind?

13, 14. Hoe kan ons moontlik ons vreugde in die dissipelmaakwerk vergroot?

13 Al hoe meer verkondigers het hulle vreugde in die dissipelmaakwerk vergroot, selfs in gebiede waar die meeste mense blykbaar nie belangstel nie. Hoe? Deur ’n ander taal te leer. ’n Egpaar in hulle sestigerjare het uitgevind dat duisende Chinese studente en hulle gesinne in die gemeente se toegewese gebied woon. “Dit het ons aangespoor om Chinees te leer”, sê die man. “Hoewel dit beteken het dat ons elke dag tyd daaraan moes bestee om die taal te bestudeer”, sê hy verder, “het dit tot talle Bybelstudies met Chinese mense in ons gebied gelei.”

14 Selfs as jy nie ’n ander taal kan leer nie, kan jy goed gebruik maak van die boekie Good News for People of All Nations wanneer jy mense ontmoet wat ’n ander taal praat. Jy kan gewoonlik ook lektuur kry in die taal van die mense wat jy ontmoet. Dit vereis weliswaar ekstra tyd en inspanning om met mense van ’n ander taal en kultuur te kommunikeer. Maar moenie die beginsel in God se Woord oor die hoof sien nie: “Wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai.”—2 Kor. 9:6.

Die hele gemeente is betrokke

15, 16. (a) Waarom is die dissipelmaakwerk ’n gemeentelike poging? (b) Watter rol speel bejaardes?

15 Om dissipels te maak, hang egter nie af van die pogings van net een persoon nie. Dit is eerder ’n gemeentelike poging. Waarom? Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). En wanneer Bybelstudente vergaderinge bywoon, is dit dan ook so dat hulle dikwels beïndruk is deur die liefdevolle atmosfeer by ons vergaderinge. ’n Bybelstudent het geskryf: “Ek geniet dit baie om die vergaderinge by te woon. Die mense laat jou so welkom voel!” Jesus het gesê dat diegene wat sy volgelinge word, moontlik deur hulle letterlike familie teëgestaan sal word. (Lees Matteus 10:35-37.) Maar hy het belowe dat hulle in die gemeente talle geestelike “broers en susters en moeders en kinders” sal kry.—Mark. 10:30.

16 Ons bejaarde broers en susters in die besonder speel ’n baie belangrike rol daarin om Bybelstudente te help om vordering te maak. Hoe? Al kan party bejaardes nie self ’n Bybelstudie hou nie, versterk hulle opbouende kommentare by gemeentelike vergaderinge die geloof van almal wat dit hoor. Hulle rekord van getrouheid in “die weg van regverdigheid” dra by tot die prag van die gemeente en trek opregtes van hart na God se organisasie.—Spr. 16:31.

Hoe om ons vrese te oorkom

17. Wat kan ons doen om gevoelens van onbekwaamheid te oorkom?

17 Gestel jy voel dat jy onbekwaam is. Onthou dat Jehovah Moses gehelp het deur vir hom heilige gees en ’n metgesel, sy broer, Aäron, te gee (Eks. 4:10-17). Jesus het belowe dat God se gees ons getuieniswerk sal steun (Hand. 1:8). Verder het Jesus werkers uitgestuur om twee-twee te gaan preek (Luk. 10:1). As dit dus vir jou moeilik is om ’n Bybelstudie te hou, moet jy bid dat God se gees jou wysheid gee en dan saam met ’n velddiensmaat werk wat jou selfvertroue kan gee en by wie se ondervinding jy kan baat vind. Dit is geloofversterkend om te onthou dat Jehovah gekies het om gewone mense—“die swak dinge van die wêreld”—te gebruik om hierdie buitengewone werk te verrig.—1 Kor. 1:26-29.

18. Hoe kan ons vrees vir mislukking oorkom?

18 Hoe kan ons vrees vir mislukking oorkom? Ons kan gerus die volgende onthou: Om ’n dissipel te maak, is nie soos om ’n dis te maak waarvan die sukses of mislukking hoofsaaklik van een persoon—die kok—afhang nie. Wanneer ’n dissipel gemaak word, is ten minste drie partye betrokke. Jehovah speel die belangrikste rol, naamlik om die persoon na hom toe te trek (Joh. 6:44). Ons en ander in die gemeente doen ons bes om die onderrigkuns te gebruik om die student te help om vordering te maak. (Lees 2 Timoteus 2:15.) En die student moet toepas wat hy leer (Matt. 7:24-27). Dit kan vir ons teleurstellend wees as iemand besluit om sy Bybelstudie stop te sit. Ons hoop dat Bybelstudente die regte besluit sal neem, maar elkeen moet “vir homself aan God rekenskap gee”.—Rom. 14:12.

Wat is die belonings?

19-21. (a) Watter voordele ontvang ons wanneer ons Bybelstudies hou? (b) Hoe beskou Jehovah almal wat aan die predikingswerk deelneem?

19 Wanneer ons Bybelstudies hou, bly ons aandag daarop toegespits om eers die Koninkryk te soek. Dit prent ook die waarhede van God se Woord dieper in ons verstand en hart in. Hoe so? ’n Pionier met die naam Barak verduidelik: “Wanneer jy Bybelstudies hou, dwing dit jou om ’n beter student van God se Woord te wees. Ek vind dat ek eers my persoonlike oortuiging moet versterk voordat ek iemand anders goed kan onderrig.”

20 Beteken dit dat jou diens vir God van geen waarde is as jy nie ’n Bybelstudie hou nie? Natuurlik nie! Jehovah het groot waardering vir ons pogings om hom te loof. Almal wat aan die predikingswerk deelneem, is “God se medewerkers”. Maar as ons ’n Bybelstudie hou, vergroot dit ons vreugde wanneer ons sien hoe God die saad wat ons geplant het, laat groei (1 Kor. 3:6, 9). “Wanneer jy sien hoe ’n Bybelstudent vordering maak”, sê ’n pionier met die naam Amy, “vervul dit jou met diepe dankbaarheid teenoor Jehovah omdat hy toelaat dat jy gebruik word om vir daardie persoon ’n wonderlike gawe te gee—die geleentheid om Jehovah te leer ken en die ewige lewe te ontvang.”

21 As ons ons bes doen om Bybelstudies te begin en te hou, sal dit ons help om ons daarop toe te lê om God nou te dien en sal dit ons hoop versterk om tot in die nuwe wêreld behoue te bly. Met Jehovah se steun kan ons ook ’n aandeel daaraan hê om dié te red wat na ons luister. (Lees 1 Timoteus 4:16.) Wat ’n rede tot vreugde sal dit tog wees!

Onthou jy?

• Watter uitdagings kan party verhinder om Bybelstudies te hou?

• Wat kan ons doen as baie mense in ons gebied blykbaar nie belangstel nie?

• Watter belonings ontvang ons wanneer ons ’n Bybelstudie hou?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 9]

Brei jy jou predikingsmetodes uit om opregtes van hart te vind?