Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beïnvloed Jesus se woorde jou gebede?

Beïnvloed Jesus se woorde jou gebede?

Beïnvloed Jesus se woorde jou gebede?

“Toe Jesus klaar was met hierdie woorde, was die uitwerking dat die skare verstom was oor die manier waarop hy geleer het.”—MATT. 7:28.

1, 2. Waarom was die skare verstom oor die manier waarop Jesus geleer het?

 ONS moet die woorde van God se enigverwekte Seun, Jesus Christus, aanvaar en dit in ons lewe toepas. Hy het beslis soos geen ander mens gepraat nie. Die mense was selfs verstom oor die manier waarop hy in die Bergpredikasie geleer het!—Lees Matteus 7:28, 29.

2 Jehovah se Seun het ander nie geleer soos die skrifgeleerdes, wat hulle omslagtige toesprake op die leringe van onvolmaakte mense gegrond het nie. Christus het geleer “soos iemand wat gesag het” omdat die dinge wat hy gespreek het, van God gekom het (Joh. 12:50). Kom ons kyk dus hoe Jesus se verdere woorde in die Bergpredikasie ons gebede kan en moet beïnvloed.

Moet nooit soos die huigelaars bid nie

3. Gee ’n opsomming van Jesus se woorde in Matteus 6:5.

3 Gebed is ’n belangrike deel van ware aanbidding, en ons moet gereeld tot Jehovah bid. Maar ons gebede moet deur Jesus se woorde in die Bergpredikasie beïnvloed word. Hy het gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die huigelaars wees nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die breë strate te staan en bid om deur die mense gesien te word. Voorwaar, ek sê vir julle: Hulle ontvang reeds hulle volle beloning.”Matt. 6:5.

4-6. (a) Waarom het die Fariseërs daarvan gehou om “in die sinagoges en op die hoeke van die breë strate te staan” en bid? (b) Hoe het sulke huigelaars ‘reeds hulle volle beloning ontvang’?

4 Wanneer Jesus se dissipels gebid het, moes hulle nie “huigelaars” soos die selfvoldane Fariseërs navolg nie, wie se openbare vertoon van vroomheid niks anders as skyn was nie (Matt. 23:13-32). Daardie huigelaars het daarvan gehou om “in die sinagoges en op die hoeke van die breë strate te staan” en bid. Waarom? Om “deur die mense gesien te word”. Die eerste-eeuse Jode het gewoonlik as ’n gemeente gebid gedurende die tyd dat die brandoffers by die tempel gebring is (omstreeks negeuur in die oggend en drie-uur in die middag). Baie inwoners van Jerusalem het saam met ’n skare aanbidders in die tempelgebied gebid. Buite die stad het vroom Jode dikwels twee keer per dag gebid terwyl hulle ‘in die sinagoges gestaan het’.—Vergelyk Lukas 18:11, 13.

5 Aangesien die meeste mense nie naby die tempel of ’n sinagoge was vir hierdie gebede nie, het hulle moontlik gebid waar hulle ook al op daardie tye was. Party het daarvan gehou om “op die hoeke van die breë strate” te wees wanneer die gebedstye aanbreek. Hulle wou ‘gesien word deur die mense’ wat by hierdie hoeke verbygestap het. Hierdie vroom huigelaars het “vir die skyn lang gebede [gedoen]” om deur omstanders bewonder te word (Luk. 20:47). Dit is nie die gesindheid wat ons moet hê nie.

6 Jesus het verklaar dat sulke huigelaars ‘reeds hulle volle beloning ontvang het’. Hulle wou baie graag erkenning en lof van ander mense ontvang—en dit was al wat hulle sou kry. Dit sou hulle volle beloning wees, want Jehovah sou nie hulle huigelagtige gebede verhoor nie. Daarenteen sou God die gebede van Christus se ware volgelinge verhoor, soos Jesus se verdere woorde oor hierdie onderwerp toon.

7. Wat word bedoel met die raad om in ons “binnekamer” te bid?

7 “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader wat in die geheim is; dan sal jou Vader wat in die geheim toekyk, jou beloon” (Matt. 6:6). Jesus se vermaning om in ’n binnekamer te bid nadat die deur toegemaak is, het nie beteken dat iemand die gemeente nie in gebed kan verteenwoordig nie. Hierdie raad was bedoel om openbare gebede te ontmoedig wat gedoen is om die aandag te vestig op die persoon wat bid en om lof van ander uit te lok. Ons moet dit onthou as ons die voorreg het om God se knegte in openbare gebed te verteenwoordig. Laat ons ook gehoor gee aan Jesus se verdere vermaning oor gebed.

8. Watter misbruik van gebed moet ons volgens Matteus 6:7 vermy?

8 “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik” (Matt. 6:7). Hier het Jesus nog ’n misbruik van gebed genoem—herhaling. Hy het nie bedoel dat ons nooit hartgrondige smekinge en dankbetuigings in gebed moet herhaal nie. Die nag voor sy dood het Jesus in die tuin van Getsemane herhaaldelik “dieselfde woord” in gebed gebruik.—Mark. 14:32-39.

9, 10. In watter sin moet ons nie herhalende gebede opsê nie?

9 Dit sal verkeerd wees van ons om die herhalende gebede van “mense van die nasies” na te boots. Hulle herhaal gememoriseerde frases wat ’n klomp onnodige woorde bevat, “oor en oor”. Dit het Baälaanbidders niks gehelp om die naam van daardie valse god “van die oggend tot die middaguur” aan te roep en te sê: “O Baäl, antwoord ons!” nie (1 Kon. 18:26). Miljoene sê vandag omslagtige, herhalende gebede op en dink tevergeefs dat hulle “verhoor sal word”. Maar Jesus help ons om te besef dat die ‘gebruik van baie woorde’ in lang en herhalende gebede vir Jehovah van geen waarde is nie. Jesus het verder gesê:

10 “Moet dan nie soos hulle word nie, want God, julle Vader, weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra” (Matt. 6:8). Talle Joodse godsdiensleiers het soos die nie-Jode met groot omhaal van woorde gebid. Hartgrondige gebed wat lof, danksegging en smeking insluit, is ’n belangrike deel van ware aanbidding (Fil. 4:6). Maar dit sal verkeerd wees van ons om dieselfde dinge oor en oor te sê met die idee dat herhaling nodig is om God van ons behoeftes te vertel. Wanneer ons bid, moet ons onthou dat ons met die Een praat wat ‘weet wat ons nodig het nog voordat ons hom vra’.

11. Wat moet ons onthou as ons die voorreg het om ’n openbare gebed te doen?

11 Jesus se woorde oor onaanneemlike gebede moet ons daaraan herinner dat God nie beïndruk word deur hoogdrawende spraak en ’n oorvloed van woorde nie. Ons moet ook besef dat openbare gebede nie ’n geleentheid is om toehoorders te probeer beïndruk of hulle te laat wonder hoe lank dit gaan neem voordat ons “Amen” sê nie. Om gebed te gebruik om aankondigings te maak of vir die gehoor raad te gee, sal ook in stryd wees met die gees van Jesus se woorde in die Bergpredikasie.

Jesus leer ons hoe om te bid

12. Hoe sal jy die betekenis verduidelik van die versoek “laat u naam geheilig word”?

12 Hoewel Jesus gewaarsku het teen die misbruik van die wonderlike voorreg van gebed, het hy wel sy dissipels geleer hoe om te bid. (Lees Matteus 6:9-13.) Die modelgebed moenie gememoriseer word sodat dit oor en oor opgesê kan word nie. Dit voorsien eerder ’n patroon vir ons eie gebede. Byvoorbeeld, Jesus het God eerste gestel met die inleidende woorde: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Ons spreek Jehovah gepas as “ons Vader” aan, want hy is ons Skepper, wat “in die hemele”, ver bo die aarde, woon (Deut. 32:6; 2 Kron. 6:21; Hand. 17:24, 28). Die gebruik van die meervoud “ons” moet ons daaraan herinner dat ons medegelowiges ook ’n hegte verhouding met God het. “Laat u naam geheilig word”, is ’n versoek dat Jehovah moet optree om homself te heilig deur sy naam te reinig van al die oneer wat dit sedert die opstand in Eden aangedoen is. In antwoord op hierdie gebed sal Jehovah goddeloosheid van die aarde verwyder en homself sodoende heilig.—Eseg. 36:23.

13. (a) Hoe sal die versoek “laat u koninkryk kom”, vervul word? (b) Wat is nodig sodat God se wil op die aarde geskied?

13 “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:10). In verband met hierdie versoek in die modelgebed moet ons onthou dat die “koninkryk” die hemelse Messiaanse regering is in die hande van Christus en die verrese “heiliges” wat saam met hom regeer (Dan. 7:13, 14, 18; Jes. 9:6, 7). Om te bid dat dit “kom”, is ’n versoek dat God se Koninkryk kom om teen alle aardse teenstanders van goddelike heerskappy op te tree. Dit sal binnekort gebeur en die weg baan vir ’n aardwye paradys van regverdigheid, vrede en voorspoed (Ps. 72:1-15; Dan. 2:44; 2 Pet. 3:13). Jehovah se wil word in die hemel gedoen, en die versoek dat dit op die aarde moet geskied, is ’n pleidooi dat God sy voornemens ten opsigte van ons planeet uitvoer, onder andere dat hy sy hedendaagse teenstanders verwyder, soos hy ook in die ou tyd gedoen het.—Lees Psalm 83:1, 2, 13-18.

14. Waarom is dit gepas om “ons brood vir hierdie dag” te vra?

14 “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag” (Matt. 6:11; Luk. 11:3). Met hierdie biddende versoek vra ons God om die nodige voedsel “vir hierdie dag” te voorsien. Dit dui aan dat ons geloof het in Jehovah se vermoë om elke dag in ons behoeftes te voorsien. Dit is nie ’n gebed vir ’n oormaat lewensmiddele nie. Hierdie versoek dat daar in ons daaglikse behoeftes voorsien word, herinner ons dalk daaraan dat God die Israeliete beveel het om “dag na dag elkeen sy hoeveelheid” manna op te tel.—Eks. 16:4.

15. Verduidelik wat bedoel word met die versoek “vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het”.

15 Die volgende versoek in die modelgebed vestig ons aandag op iets wat ons moet doen. Jesus het gesê: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matt. 6:12). Lukas se Evangelie toon dat hierdie “skulde” “sondes” is (Luk. 11:4). Slegs as ons persone wat teen ons sondig, reeds “vergewe het”, kan ons vergifnis van Jehovah verwag. (Lees Matteus 6:14, 15.) Ons moet ander vryelik vergewe.—Ef. 4:32; Kol. 3:13.

16. Hoe moet ons die versoeke aangaande versoeking en verlossing van die bose verstaan?

16 “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matt. 6:13). Hoe moet ons hierdie twee verwante versoeke in Jesus se modelgebed verstaan? Een ding is seker: Jehovah bring ons nie in versoeking om te sondig nie. (Lees Jakobus 1:13.) Satan—“die bose”—is die eintlike “Versoeker” (Matt. 4:3). Maar die Bybel sê dat God dinge doen wanneer hy dit bloot toelaat (Rut 1:20, 21; Pred. 11:5). “Bring ons nie in versoeking nie”, is dus ’n versoek dat Jehovah ons nie toelaat om te swig wanneer ons in die versoeking kom om ongehoorsaam aan hom te wees nie. Laastens is die smeking “verlos ons van die bose”, ’n versoek dat Jehovah Satan nie toelaat om die oorhand oor ons te kry nie. En ons kan vol vertroue wees dat ‘God nie sal toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie’.—Lees 1 Korintiërs 10:13.

‘Hou aan vra, soek, klop’

17, 18. Wat beteken dit om ‘aan te hou vra, soek en klop’?

17 Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor: “Hou vol met gebed” (Rom. 12:12). Jesus het ’n kragtige punt in dié verband gestel toe hy gesê het: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Matt. 7:7, 8). Dit is gepas om ‘aan te hou vra’ vir enigiets wat met God se wil strook. In ooreenstemming met Jesus se woorde het die apostel Johannes geskryf: “Dít is die vertroue wat ons teenoor [God] het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra.”—1 Joh. 5:14.

18 Jesus se raad om ‘aan te hou vra en soek’, beteken dat ons opreg moet bid en nie moet tou opgooi nie. Ons moet ook ‘aanhou klop’ om toegang tot die Koninkryk te verkry en die seëninge, voordele en belonings daarvan te geniet. Maar kan ons seker wees dat God ons gebede sal verhoor? Ja, ons kan as ons aan Jehovah getrou is, want Christus het gesê: “Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Baie ondervindinge wat Jehovah se knegte geniet, bewys dat God waarlik die “Hoorder van die gebed” is.—Ps. 65:2.

19, 20. Hoe is Jehovah, met die oog op Jesus se woorde in Matteus 7:9-11, soos ’n liefdevolle vader?

19 Jesus het God met ’n liefdevolle vader vergelyk wat goeie dinge aan sy kinders voorsien. Stel jou voor dat jy daar was vir die Bergpredikasie en Jesus hoor sê het: “Wie is die mens onder julle vir wie sy seun brood vra—hy sal hom tog nie ’n klip gee nie, of hoe? Of miskien sal hy ’n vis vra—hy sal hom tog nie ’n slang gee nie, of hoe? As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan dié wat hom vra!”Matt. 7:9-11.

20 Hoewel ’n mensevader betreklik “goddeloos” is weens oorgeërfde sonde, het hy natuurlike geneentheid vir sy kinders. Hy sal sy kind nie bedrieg nie, maar sal “goeie gawes” aan hom probeer gee. Met ’n vaderlike gesindheid teenoor ons voorsien ons liefdevolle hemelse Vader “goeie dinge”, soos sy heilige gees (Luk. 11:13). Dit kan ons versterk om aanneemlike diens te verrig aan Jehovah, die Voorsiener van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”.—Jak. 1:17.

Hou aan om by Jesus se woorde baat te vind

21, 22. Wat is merkwaardig omtrent die Bergpredikasie, en hoe voel jy oor hierdie woorde van Jesus?

21 Die Bergpredikasie is inderdaad die voortreflikste toespraak wat nog op die aarde gehou is. Dit is merkwaardig weens die geestelike inhoud en duidelikheid daarvan. Soos blyk uit die punte in hierdie reeks artikels wat daaruit geneem is, kan ons grootliks daarby baat vind as ons die raad in hierdie toespraak toepas. Hierdie woorde van Jesus kan ons lewe nou reeds verbeter en ons die hoop op ’n gelukkige toekoms gee.

22 In hierdie artikels het ons net ’n paar van die geestelike juwele in Jesus se Bergpredikasie ondersoek. Geen wonder dat dié wat sy toespraak gehoor het, “verstom was oor die manier waarop hy geleer het” nie (Matt. 7:28). Ons sal ongetwyfeld ook so reageer wanneer ons ons verstand en hart vul met hierdie en ander kosbare woorde van die Groot Leermeester, Jesus Christus.

Wat is jou antwoorde?

• Wat het Jesus oor huigelagtige gebede gesê?

• Waarom moet ons ’n herhaling van woorde vermy wanneer ons bid?

• Watter versoeke bevat Jesus se modelgebed?

• Hoe kan ons ‘aanhou vra, soek en klop’?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Jesus het die huigelaars veroordeel wat gebid het net om gesien en gehoor te word

[Prent op bladsy 17]

Weet jy waarom dit gepas is om vir ons daaglikse brood te bid?